“Vir wat kan jy haar in godsnaam nie uitlos nie?” vra Bartol Boelens en vryf sy oë. Dit maak die gekrap van die fyn sand erger, sy oë seerder.
“Dis my saak.” Tiebout gaan sit op ’n stoel en druk sy voete in sy stewels, nukkerig. “Sy behoort aan my. Ek kan met haar doen wat ek wil.”
Bartol sien die vrees in die wit oë van die jong vrou op die bed, die kombers tot by haar ken opgetrek. Hy stap na sy broer toe en stamp hom teen die bors. Tiebout steier oor die stoel. Hy spring op. Bartol stamp hom weer om. “Dis die laaste keer dat ek jou hier kom uithaal. Sy is nie ’n dier nie, en jy ook nie.”
Bartol draai terug na die katel toe, staar ’n oomblik na die vrou wat haar kop skaam wegdraai na die muur toe en swaai om. “Kom!” beveel hy en stap by die huisie uit. Tiebout slenter traag agterna. Die wind loei en die sand steek in hul oë. Hulle praat nie. By die opstal stap Bartol na die perdestal toe. Sy hand vryf ingedagte oor die perd se hare wat blink van die roskam. Goens, by die trog, loer onderlangs na Bartol, maar vra nie uit nie. Hy het gesien hoe Tiebout agter Bartol aandrentel.
Twee dae ná die aankoms van die wa met die vleis en velle is Bartol besig by die leivoor om water uit te keer vir die hawer. Goens bring die boodskap dat die Guinevere in Tafelbaai anker gegooi het op pad Engeland toe. Die aankoms van ’n skip, enige skip, is altyd goeie nuus wat vinnig versprei. As hulle uit die Ooste kom, van Batavia, Oos-Indië, lê hulle diep in die water van die fyn linne, edelstene en speserye, tee uit Ceylon en peper uit Tika. In die Kaap kom hulle opvul met kos en water vir die vaart Europa toe. Kom hulle uit die ander rigting, van Engeland en Europa af, bring hulle die nuwe setlaars, avontuursoekers, ontdekkingsreisigers, sendelinge, boewe, moordenaars en smokkelaars.
Bartol Boelens wil kontak maak met die koopmanne wat voorraad vir die skip soek. Daarom wil hy douvoordag Kaap toe ry. Sy wa is vol wildsvelle, gesout en gedroog. Hy kan dit verkoop vir die looierye in Engeland. Die volstruisvere is bedoel vir die Europese adel en die balies pekelvleis vir die matrose en passasiers op die lang vaart.
Hy spoel sy gesig in die leivoor af en stap terug huis toe. In die kombuis gooi hy vir hom uit die pot op die swart stoof koffie in ’n beker wat afgeërd is en gaan sit by die growwe houttafel. Hy hoor sy broer se voetstappe op die plankvloer in sy slaapkamer. Hulle woon alleen hier op die Kaapse vlakte, boer met ’n paar beeste en ’n paar volstruise en ’n paar lappies groente en graan wat hulle uit die leivoor water gee. En in die winter gaan hy jag. Dis ’n sukkelbestaan. Snags, alleen in sy bed, verlang hy terug na Londen se besige strate, die winkels van Fleet Street en Covent Garden, die alehouses en die inns.
Tiebout is anders. Die stadige lewe van die Kaap pas hom. Hy hou van die son en see en wind, en van die Kaapse vroue, onderdanig en slaafs. Hy is min op die plaas, te lief vir die tavernes en bordele van Heerestraat en Keisergracht, en sê hy sal nooit teruggaan Europa toe na die somber koue en reën toe nie.
Maar Bartol het genoeg gehad. Hy pes die Kaapse vlakte, die eensaamheid, die stryd om te oorleef. Tiebout kan alleen hier bly. Tiebout en Khoena, totdat Khoena se mense genoeg gehad het van sy katoolsheid en sy peester afsny. Maar dis sý saak. Hul pa het destyds al vir Bartol gesê Tiebout is nie een vir boer nie.
Tiebout se voetstappe word stil. Bartol gaan staan by die deur met die beker in sy hand. Hy blaas oor die warm, swart koffie en tuur oor die vlakte waar die son agter die duineveld sak, en na die wit bokshuisies. Hy staan lank daar in die deur, totdat die koffiedrek koud is onder in die beker en die son lankal onder. Eendag, sommer net eendag, klim hy op ’n skip uit die Ooste en werk sy passasie na Engeland en los vir Tiebout en Khoena en die hele verdomde lot net hier.
Douvoordag, met die seile oor die wa getrek, oor die velle en vere en vleis in die pekelbalies en oor die paar mud hawer en die mandjies groente, vertrek Bartol Boelens na die Kaap, op sy perd, voor die osse en wa uit. Die papiere is in die knapsak, geteken en geseël deur die Independente Fiskaal, vir Bartol se goedkeuring om sy produkte op die Kaap se mark te gaan verkoop aan die kaptein van die Guinevere of sy gevolmagtigdes. Die wapad is oor die Liesbeek, al langs die voet van die Tafelberg en die Windberg, verby die Groote Schuur, ’t Ronde Bosje en Fort Coornhoop, die Tafelvallei in. Dan na die Parade by die Fort de Goede Hoop en die ou pakhuise van die Kompanjie toe. Dit gaan stadig, want wanneer ’n skip inkom en die loodsbote oor die branders stoei, is daar groot opgewondenheid oor wat geruil, gekoop en verkoop gaan word. Die perdekarre en ossewaens is gepak en ingeryg en nuuskieriges en handelaars, boere en dronk matrose en slawesmouse stamp en beur en druk en roep en skree om aandag.
Die mis hang oor die berg, maar die reën bly weg en hulle kan die seile aftrek en die velle uitstal. Die volstruisvere wapper in die ligte bries om die kopers te lok. Hy sit op die wa en skink uit ’n kantien lou koffie in ’n blikbeker, swart en sterk getrek. Hy staar na die Guinevere ver agter die breekwater, die seile gestryk en die boeg gemik op die volgende bestemming, Engeland.
Hy en sy pa en Tiebout het twintig jaar gelede van Engeland af hier aangekom. Bartol se verlange is groot. Tiebout kan maar hier bly en die plasie op die vlakte onder hom uitboer, sonder hom. Hy sal nie omgee nie. Hy sou goed kon leef in Rotterdam of in Londen of enige ander stad in Europa. As dit net nie was vir die ding met hul pa in Rotterdam nie, die bakleiery op die dokke en die matroos wat bly lê het met die mes in sy bors. Sy pa het met die twee seuns sonder ma oor die kanaal Londen toe gevlug. Maar toe kry sy pa plek op ’n skip. Sy plan was om Madagaskar toe te gaan met sy twee seuns. Hy het gehoor van Madagaskar. Dit was ver van Rotterdam en ver van die matroos met die mes in sy bors, en van die dragonders af.
Hulle het in die Kaap aan wal gestap en nie weer op die skip Madagaskar toe geklim nie. Rijckloff Boelens het huurpag gekry op ’n buitepos vir hom en sy twee opgeskote seuns. Hulle het hard gewerk, met hul hande, Tiebout ook. ’n Leningsplasie, Loutersvalleij, is vir hulle afgedeel vir vier en twintig riksdaalder. Rijckloff het sy eerste slawe gekoop, Tammerlaan en Lijs, en later het Wolla bygekom. Die twee kinders, die seun en meisie, het Rijckloff gekry van ’n slawesmous met ’n dik bos baard, vaal van die stof. Dié had te vertelle hulle het die twee kinders in die Gamkamma gevang op ’n strafkampanje en hy, Rijckloff Boelens, kan die twee kry vir agt riksdaalder. Dit was ’n winskoop, want die twee, so twaalf, dertien, kon met die hand mak gemaak en geleer word. Hulle was klein genoeg om ook fluks die Nederlandse spraak aan te leer. Die twee kinders het onderdak gekry en grootgeword in die wit huisies wat Rijckloff vir sy slawe laat bou het.
“Wat is dié?”
Op die wakis skrik Bartol uit sy bepeinsing en kyk af na die man wat na die vel van die kameelperd wys. “So iets kry jy nie aldag nie, nè? Ek het hom self geskiet en afgeslag en ingesout. Dis die beste kwaliteit en baie skaars.”
“Sal hy hou op die skip, drie maande lank, tot in Engeland?”
“Ja, hy sal hou. Is jy van die Guinevere?”
Die man se voorkoms en toenadering is nie soos dié van ’n koopman nie. Op sy kop is ’n swart hoed met ’n ronde bol. Hy lig sy ken sodat hy, deur klein ronde glase van sy bril, na Bartol, bokant hom op die wa, kan kyk. Die dun draadrame van die bril is agter om sy ore gehaak. Om die kraag van sy linnehemp, styf teen sy nek gestysel, is ’n geel kravat geknoop, die sakke van die groen onderbaadjie is versier met borduursel in goue draad en uit die borssak van sy swart wolbaadjie hang ’n fyn doekie van geel satyn in delikate voue. Hy lig sy hoed. “Dokter Peniston Woodcock, skeepchirurgyn van die Guinevere van sy Koninklike Majesteit se handelsvloot.”
Bartol sit die blikbeker op die wakis en spring af op die grond langs die skeepchirurgyn, klap-klap teen sy stowwerige baadjie se verslete molsvel en steek ’n hand uit. “Bartol Boelens, vryburger en jagter van die Kaap de Goede Hoop.”
’n Piepklein stukkie goud blink vir ’n oomblik aan ’n skewe botand voordat ’n duim en voorvinger die snor op die dun bolip plat vryf. “Ek dink ons kan besigheid doen, Mister Boelens.” Hy knik na die vel van die kameelperd.
“Die prys is twintig riksdaalder,” sê Bartol.
Woodcock