Annelize Morgan Omnibus 5. Annelize Morgan. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Annelize Morgan
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Короткие любовные романы
Год издания: 0
isbn: 9780624068280
Скачать книгу
neem vier lange dae om die skip te herstel. Nicole was ’n paar keer na die land en dan het sy doelloos tussen die mense van die hawedorp rondgedwaal. Sy probeer Da Silva vermy, maar sy besef gou genoeg dat dit nie nodig is nie. Hy is weer soos wat hy voorheen was en het skynbaar heeltemal van die voorval in sy kajuit vergeet. Hy is styf en formeel teenoor haar en die minagting en sarkasme is terug.

      Dit stel haar op ’n manier gerus. Sy is nog steeds bang vir Consuelo, maar dit lyk nie asof die sigeunerin iets agtergekom het nie. Sy sien Esmara ’n paar keer, maar die ou vrou sien haar skaars raak.

      Eindelik verlaat hulle Sidi Ifni en kies weer hulle weg oor die wye oseaan. ’n Hele paar dae lank vaar hulle sonder voorval en dan gebeur daar iets wat Nicole nog lank sal bybly.

      Een oggend vroeg word sy wakker van uitroepe en ’n geskreeu. Sy verklee haar haastig en verskyn ’n paar minute later op die dek om te sien wat aan die gang is.

      Eenkant op die dek staan ’n klompie matrose en hulle hou ’n ander vas. Die man skreeu aanhoudend op Da Silva wat ’n paar treë van hulle af staan.

      “Jy is ’n vark van die adel!” gil hy woedend en Nicole herken hom as die een wat haar daardie eerste aand probeer vasdruk het.

      Dit lyk nie asof Da Silva hom eens hoor nie.

      “Bring hom na die reling,” beveel hy die matrose kalm.

      “Wat het gebeur?” wil Nicole weet.

      Da Silva draai na haar.

      “Hy het ’n hele klomp vate wyn gesteel en dit in Sidi Ifni verkoop.” Hy frons. “U behoort nie te sien wat nou gaan gebeur nie, señorita.”

      Sy kyk om haar rond en sien Consuelo en Esmara op die voorkasteel staan.

      “Hoekom nie, monsieur?”

      Hy haal sy skouers op.

      “Doen soos jy wil, maar moenie later sê dat ek jou nie gewaarsku het nie.”

      Die matrose het intussen die skuldige een tot by die reling geneem en hou hom daar vas. Da Silva kyk net vlugtig na Nicole voordat hy na die agterkasteel stap. Daar gaan hy by die reling staan.

      “Gooi hom oor!”

      Nicole kyk verskrik na hom en dan na die matroos wat al spartelend oor die rand van die skip in die water verdwyn. Sy begryp nie mooi wat aangaan nie. Links van haar is ’n groep matrose besig om ’n tou uit die water te trek en dan besef sy wat besig is om te gebeur. Sy het al gehoor dat matrose vir oortredings gekielhaal word, maar sy het nooit gedink dat sy so iets self sou sien nie.

      Sy wil die ruim van die skip invlug, maar Consuelo kyk spottend af na haar en sy besluit om te bly. Hoekom sal sy weghardloop van iets waarvoor Consuelo nie bang is nie?

      Dit voel soos ’n ewigheid voordat die matrose eindelik uitroep. Nicole hoor geluide aan die linkerkant van die skip wat haar naar maak. Dit klink nie na ’n mens nie, dink sy ontsteld en bly versteen staan.

      Hulle lig die ellendige matroos oor die reling en hy val op die dek neer. Nicole word bleek. Bloed stroom uit rou wonde oor sy hele lyf, sy broek is in flarde en hy roggel en spoeg om sy asem terug te kry. Tussenin kreun hy hardop of skreeu van pyn. Die soutwater in die wonde help nie juis om verligting te bring nie.

      Sy kyk vinnig op na Da Silva. Sy gesig is ’n grys, geslote masker, sy swart oë twee brokkies graniet. Consuelo kyk met smalende minagting na die matroos wat op die dek lê en worstel om te lewe. Twee matrose buk by hom en sleep hom weg na die ruim van die skip. Sy liggaam laat ’n nat bloedstreep agter.

      Hy sal nie lewe nie, dink Nicole ontsteld. Hy sal dit nooit oorleef nie. Die mossels wat onder die skip se kiel vasgegroei het, het hom soos ’n growwe rasper opgekerf en skeure en wrede skaafplekke nagelaat waaruit die bloed sypel. Daar is nie ’n plek op sy liggaam waar daar nie ’n wond is nie.

      Geskok staar sy na die matroos wat hardhandig weggesleep word en dan kyk sy op na Da Silva. Sy oë glinster koud toe hy na haar kyk. Dan draai sy vinnig weg en volg die matrose na die ruim.

      Sy volg hulle tot diep onder in die ruim van die skip waar hulle die matroos op ’n hoop seile neergooi. Een van die matrose haal die prop van ’n bottel brandewyn uit en gooi dit oor die rou wonde. Die ongelukkige matroos gil dit uit van die pyn en dan verloor hy sy bewussyn.

      Eers toe die matrose omdraai, sien hulle haar raak waar sy na hulle staan en kyk.

      “U moet teruggaan na u kajuit, señorita,” sê ’n ouerige matroos. “Hierdie is nie die plek vir ’n vrou nie.”

      Sy kyk na hom.

      “Bring vir my ’n lantern en vars water.” Dan draai sy om en hardloop na haar kajuit waar sy een van haar minder goeie onderrokke begin opskeur in verbande. Sy kry Pedro in die loopgang en beveel hom om vir haar karbolsuur te bring. Hy skud sy kop oor die bevel, maar gaan tog om die nodige te kry.

      ’n Ruk later sluit hy by haar aan in die ruim van die skip waar sy besig is om die matroos se wonde te versorg.

      “Die kaptein gaan kwaad wees, señorita,” sê hy versigtig.

      “Na die duiwel met jou kaptein! Dit was ’n onmenslike ding om te doen!”

      Hy kyk geskok na haar.

      “U moenie so van hom praat nie. Hy weet wat hy doen.”

      Sy kyk woedend na Pedro.

      “Ek moes hom liewer in die see laat versuip het!”

      “Miskien moes u, señorita,” sê Da Silva agter haar, maar sy draai nie om nie.

      “Niks wat ’n mens doen is erg genoeg om só gestraf te word nie,” sê sy terwyl sy die wonde met karbolsuur ontsmet. “En dan word hy nog hier gelaat om soos ’n hond te vrek!”

      “En wat sou u aangeraai het moet ek met hom doen?” Sy stem is ysig. “Hy kon tien houe met die kats gekry het en hy sou nie beter gelyk het nie. Of ek kon sy hande laat afkap het, maar ons is beskaafde mense.”

      Sy kom vinnig orent en kyk woedend na hom.

      “Beskaafd! Noem jy dít beskaafd?”

      Hy verstyf.

      “Ek moet strawwe maatreëls op die skip toepas, señorita. Die meeste van hierdie mense is wetteloos en sonder enige morele standaarde. Hulle moet met ’n ysterhand regeer word, al wil mens dit nie aldag doen nie.”

      “Bespeur ek ’n sweempie van spyt in u stem, monsieur?” wil sy sarkasties weet.

      Die woede spring in sy oë en sy staan effens onseker terug.

      “Dit kos ’n harde man om matrose in toom te hou, señorita, en ek is hard genoeg om niemand te ontsien nie. Jy sal aan die wette van hierdie skip gehoorsaam bly soos enige matroos. Jy het jou goeie daad vir die dag gedoen en ek beveel jou nou om onmiddellik hierdie ruim te verlaat!”

      Sy kyk onseker na die matroos wat nog bewusteloos op die hoop seile lê en dan kyk sy terug na Da Silva.

      “Hoe weet ek of julle hom nie net sommer so gaan laat lê nie?”

      “Geen man wat op hierdie skip gekielhaal is, het al gesterf nie. Die skeepsdokter sal na hom omsien.”

      Sy draai traag van hom af weg en hy volg haar na die trap. Da Silva sien toe dat sy tot by haar kajuit gaan.

      “Moet my nie dwing om u bewegings tot die kajuit te beperk nie,” sê hy toe sy haar kajuitdeur oopmaak.

      Sy kyk op na hom en kan die afkeur nie uit haar oë hou nie.

      “Is jy altyd so koelbloedig, Da Silva, of is daar iewers in jou ook ’n greintjie menslikheid?”

      Sy maak die deur agter haar toe sonder om op sy antwoord te wag en bly bewend daarteen staan. Die grusame toneel speel weer in haar gedagtes af en sy onthou Da Silva se koue, harde gesig. Dit stuur ’n rilling langs haar ruggraat af. Sy besef dat sy self nie teen die woede gevrywaar