Op laerskool het sy en Mandie gereeld by mekaar gaan speel en oorgeslaap. Maar kort nadat hulle albei hoërskool toe is, het Amber verskonings begin uitdink oor hoekom Mandie nie by haar in die pastorie kon oornag nie. Amber wou voorkom dat Mandie agterkom die atmosfeer in hulle huis is kil en koud in vergelyking met die Van Edens se idilliese en warm huislike lewe. Gmf, asof sy Mandie kon flous, maar haar vriendin het die ordentlikheid gehad om nooit te laat blyk dat sy weet wat aangaan nie.
Dis nou amper nege jaar later, maar sy sal daardie dag nooit vergeet nie, die dag waarop sy vir die eerste keer agtergekom het wat die werklike rede vir haar ma en pa se aanhoudende bakleiery is.
“Jy moenie eendag met ’n mooi man trou nie,” het haar ma gesê toe sy haar die middag by die hoërskool kom oplaai het.
Amber het haar vlegsel vorentoe gevat en moedeloos tussen die ligbruin hare na denkbeeldige gesplete punte gesoek, want sy wou nie langer haar ma se rooi gehuilde oë sien nie. Dit het haar ontstel soos telkens in die afgelope weke wanneer sy haar ma gehoor huil het. Sy’t al soveel kere op haar onbeholpe manier probeer om haar ma te troos, maar niks het gehelp nie. Sy’t gewens sy weet hoekom haar ma so hartseer is.
“Ag, Mamma, wat is verkeerd met ’n mooi man?” het sy gevra. Sy was verlief op Mandie se aantreklike ouer broer Alex en sy wou nie negatiewe dinge oor ’n mooi ou hoor nie.
Amber het opgekyk toe haar ma snuif en trane afvee. “ ’n Mooi man sal nooit joune alleen wees nie, of hy nou ’n predikant is of nie. Hy gaan elke ander vrou se man ook wees. Glo wat ek vandag vir jou sê: ’n Aantreklike man sal jou hele lewe net opfoeter. Hy gaan jou hart in stukkies breek.”
Amber het fyner opgelet en geluister, en besef haar pa verneuk haar ma met ’n onbekende vrou. Die atmosfeer in hulle huis het drasties en onomkeerbaar verander, en Amber se gemoedstoestand het oornag getuimel. Sy was ’n sensitiewe tiener wat die lewe sterk en emosioneel ervaar het. Sy’t met haar een voet in die kinder- en die ander in die grootmenswêreld gestaan, en geworstel om staande te bly in die traumatiese situasie waarin haar ma haar maande lank bevind het. Sy was só teleurgesteld in haar pa dat sy ’n afkeer in kerk toe gaan ontwikkel het. Hy’t haar egter gedwing om ten minste die oggenddienste by te woon. Eers ’n jaar later het sy begin om openlik teen sy gesag te rebelleer.
Amber spring op en stap kombuis toe. Nee wag, sy is darem nou lus vir ’n lekker groot beker koffie. ’n Rukkie later gaan staan sy op die agterstoep en tuur die donker in.
Haar ouers is nooit geskei nie. Haar pa sou voor ’n tugkomitee moes verskyn het en van sy amp onthef word indien sy verhouding aan die lig sou kom, so het hy te kenne gegee, en dan sou hulle almal van ellende gekrepeer het. Haar pa was soos altyd dominerend en haar ma ondergeskik aan sy gesag. Dit was dus nie vir Amber vreemd dat sy gebly het nie.
Later het daar ’n stilte tussen haar ouers kom lê wat net verbreek is wanneer hulle nie anders kon as om voor gemeentelede met mekaar te praat nie. Dit was aaklig; en daarom het Amber haar al hoe meer emosioneel van haar ouers begin afsluit, stilswyend haar gang gegaan en haar meer as voorheen toegewy aan haar skoolwerk en musiekstudies.
Toe sterf haar pa baie skielik aan ’n hartaanval.
In die hele stryd om selfbehoud het Amber dit reggekry om Alex uit haar gedagtes te kry, veral toe Kobus alleen begin opdaag het om Mandie by die skool te kom haal.
Haar ma se alewige waarskuwings oor aantreklike mans het Amber versigtig vir mooi mans gemaak, maar toe nie versigtig genoeg nie, moes sy later ontdek.
Dis haar eiesinnige geaardheid wat voorkom het dat sy haar ma se waarskuwings tot die letter gevolg het daar aan die stylvolle East Coast tussen al die mense met die ou geld. Sy’s immers nie net landuit om aan haar huislike lewe te ontvlug nie, maar ook om haar vlerke te sprei en die lewe daar anderkant te gaan ontdek en ondersoek. Sy was lankal nie meer die onsekere meisietjie van graad agt nie. En dis waar sy toe haar moses in die aantreklike Spencer teëgekom het. Maar, nee wag, sy gaan nié nou aan hom dink nie.
Amber gaan sit die beker in die wasbak neer, skakel hier en daar ligte af en gaan loer eers by Lindie en Dewan in voor sy vir haar badwater loop intap.
Nogal vreemd dat Kobus juis die afgelope twee weke later as voorheen huis toe kom, maar hy gee wel naweke kwaliteitaandag aan die kinders, en dis tog die belangrikste.
Amber wil eendag in die behandeling van kinders met emosionele- en leerprobleme spesialiseer en daarná haar eie praktyk begin. Sy móét eenvoudig haar eie inkomste genereer. Sy wil tog nooit geldelik van ’n man afhanklik wees nie.
Amber luier nie in die bad nie, en ná sy tande geborsel en room aangesmeer het, klim sy in die bed en skakel die lig af. Môreoggend is dit weer vroeg opstaan om die kinders gereed te kry vir skool.
Amber kyk na Kobus terwyl hulle Saterdagoggend op pad is na die gedoe by sy ouerhuis. Hy dra sy bruin hare kort en sy gesig is glad geskeer. Die nate van sy langbroek is gestryk dat dit soos die snykante van ’n mes lyk. Sies tog, hy gee die arme Mieta opdraande omdat hy so eksieperfeksie oor sy klere is.
Mandie het vertel Kobus was platgeslaan toe sy vrou drie jaar gelede in ’n motorongeluk oorlede is. Vandat Amber by Kobus begin werk het, het hy nog nie ’n meisie huis toe gebring nie, maar wie weet, dalk kuier hy nou saans by iemand.
“Jy sal van Alex hou,” sê Kobus en voeg by: “Hy’s plat op die aarde en maklik om mee oor die weg te kom.”
Amber knik en glimlag net. Sy’t gisteraand geswot toe sy hoor hoe Kobus en Alex oor die foon gesels. Eintlik het Kobus meer gelag as iets anders. Amber draai om en kyk na die kinders waar hulle op die agtersitplek babbel.
“Ek is lus vir Ouma se pannekoek,” sê Dewan.
Kobus skud sy kop. “Ouma kan nie vandag bak nie. Dis oom Alex se dag en Ouma het lekker kos en poeding gemaak.”
“Jippie, oom Alex is by Ouma en Oupa,” sê-lag Lindie en sing: “Alex-Alex-Alex.”
Amber luister hoe Lindie sing en vang haar onderlip tussen haar tande vas. Sy weet nou glad nie hoekom sy Donderdagaand so uitgefreak het nie. Nee wat, regtig, sy voel vanoggend heeltemal oukei oor die idee om Alex weer te sien. A nee a, g’n man kon tog tot dusver ’n blywende indruk op haar maak nie, Alex inkluis.
Kobus kyk vinnig na haar. “Amber, hoe is dit dat ’n mooi meisie soos jy nie ’n ou op sleeptou het nie?” Hy glimlag verskonend. “Mandie het een of ander tyd so iets genoem, nou wonder ek maar net skielik.”
“Ek’s maar pas terug en ek’s hopeloos te besig om ’n ou te kon losslaan.” Feit is, sy het nog altyd geweier om met aantreklike ouens uit te gaan, met een uitsondering: Spencer, die dosent met die wit tande. En in die twee of drie minder aantreklike mans wat haar later in Boston uitgeneem het, kon sy glad nie sin kry nie.
Spencer was ’n aantreklike man met donker krulhare, spitsvondig, goed gemanierd en boonop ’n skerpsinnige sakeman. Hulle het warm gevry, maar hy’t haar nooit probeer dwing om saam met hom bed toe te gaan nadat sy die eerste keer geweier het nie. Vir agt maande kon sy darem gereeld uitgaan en sê sy het wel ’n ou. Boonop kon sy haar ma mos verkeerd bewys: dat ’n aantreklike man nie noodwendig ontrou sal wees nie.
As sy toe maar geweet het hoe verkeerd sy was. Tot haar ontnugtering moes sy ontdek dat Spencer, nes haar pa, voete van klei het. Die arme meisie met ’n boepmagie het haar voor Spencer kom konfronteer. Hy’t die meisie in ’n taxi gesit, teruggekom en ontken dat dit sy kind is.
Toe Amber vir hom gesê het dis verby tussen hulle, het die swaap so wragtig gesê hy verdien ’n tweede kans. Sommige mans is soos klitsgras – jy kry hulle net nie afgeskud nie. Gelukkig het sy ’n beter besoldigde pos gekry en getrek.
Kobus draai by die groot huis in en kyk rond vir parkering. “Magtig, my ma-hulle het omtrent ’n spul mense genooi.”
Toe die deure ontsluit is, klim die kinders holderstebolder uit en hardloop jillend