Wag-’n-bietjie-
liefde
Susan Pienaar
Satyn
1
“Jy onthou seker nog my broer Alex?”
Amber klem haar selfoon stywer vas, huiwer dan asof sy eers moet nadink. “Ek onthou hom so vaagweg. Maar wát van hom?”
“Wow! Ek’s só opgewonde. Alex kom huis toe.”
Amber voel hoe haar hart bons. Sy haal ’n slag diep asem. “Vir hoe lank kom jou broer dié keer kuier?”
Mandie sug hardop. “Hoor jy nie wat ek sê nie? ‘Huis toe’ beteken mos Alex kom vir altyd terug.” Daar’s ’n duidelike klikgeluid aan die ander kant, soos dié van ’n blikkie wat oopgemaak word. “Meerdyk! Ek het vergeet die Coke het geval. Dit kook! Ek kry net gou ’n lap.”
Amber knyp haar oë toe. As sy ses weke gelede geweet het Alex kom permanent terug Suid Afrika toe, sou sy mos nóóit vir Kobus kom au pair het nie. Plaas sy liewer by daardie ander gesin gaan werk het, nie by Alex se flippen broer nie! Sy was pas terug uit die Verenigde State waar sy vier jaar lank as au pair gewerk het – eers in Cambridge, Massachusetts, en later in die Boston-omgewing – toe die egpaar met haar ’n onderhoud gevoer het. Hulle wou haar onmiddellik aanstel, maar toe kom vra Kobus dieselfde aand mooi dat sy hom moet kom help omdat sy vorige au pair vier-en-twintig uur kennis gegee het. Amber het vir Kobus gesê sy hét reeds ’n pos, maar toe bel Kobus se ma en vra of sy dit nie maar groot asseblief weer sal oorweeg nie. En vir tannie Sophia kan Amber nou eenmaal niks weier nie.
“Haai, Amber, is jy nog daar?”
“Ja, maar sê my, wanneer verwag julle Alex?”
“Sommer môreoggend al. Is dit nie great nie? Ek gaan hom voor skool op die lughawe haal, dus moet jy weet dis ’n beplanning vir ’n vale hier by ons. My ma-hulle het ’n klompie mense genooi en sy’t gevra ek moet jou bel en seker maak dat jy Saterdag saam met Kobus en die kinders vir die gemeste kalf kom aansit.”
Amber probeer vinnig aan ’n verskoning dink, maar haar brein is skielik traag. Sy praat ingedagte hardop terwyl sy aan ’n geloofwaardige verskoning probeer dink. “So oukei, dis vandag Donderdag . . . en Alex land môreoggend –”
“Meerdyk, vriendin, is jy gerook of wat? Dis môre Vrydag, ja, en die ete is Saterdag.”
“Ag, jou dinges, man. Ek was tot ’n paar minute gelede nog aan’t swot, oukei? Ek glo buitendien nie ek sal Saterdag kan kom nie. Ek moet saam met my ma dorp toe, vir kruideniersware en so aan, en daarna moet ek my wasgoed kom was.”
Mandie sug teatraal. “Los jou wasgoed vir Sondag, en gaan doen môremiddag inkopies. Die winkels is Vrydagaande tot seweuur oop. My ma-hulle het jou nog net ’n paar keer gesien vandat jy terug is uit Amerika. Los jou nonsens en kom.”
Amber trek ’n gesig. Sy wens haar blindederm bars voor Saterdag . . . Of nee, dit sal darem te erg wees, sy wil nie nou al doodgaan nie. Hy moet dalk net erg genoeg pyn sodat sy dokter toe kan gaan, want ná haar flou verskonings van flussies sal Mandie niks minder ernstig as maaggriep aanvaar nie.
“Weet Kobus dat Alex terugkom?”
“Dis mos obvious dat hy weet. Het hy dan niks gesê nie?”
“Nee, maar dis nie snaaks nie. Kobus werk lang ure en wanneer hy saans van sy rondtes by die kliniek terug is, is ek lankal in my kamer.” Amber het aspris so uitdruklik verduidelik, want Mandie dink sowaar sy en Kobus kan dalkies verlief raak en dan sal hulle skoonsusters wees. Amber hou van Kobus, maar daar’s geen vonk tussen hulle nie. Sy kyk na sy twee kinders en hulle is vriende, dis al.
Nou hoekom is Mandie so lank stil? “Mandie, is jy nog daar?”
“Sorry, ek het gou ’n paar slukke koeldrank gedrink. Moenie vir Kobus verskoning maak net omdat hy ’n vrot vryer is nie.”
Mandie moet ophou met haar stuitigheid. “Luister, ás ek wel die dag besluit dat ek meer as vriendskap vir ’n man voel, gaan dit beslis nie in ses weke gebeur nie. Dit sal my maklik ’n jaar of langer neem om ’n ou deeglik deur te kyk voor ek sal kan besluit of ek die vriendskap verder sal wil voer, of nie.”
Mandie slurp die laaste koeldrank roggelend deur ’n strooitjie, natuurlik om op dié manier vir haar wat Amber is te sê wat sy van haar tirade dink.
“Vriendin, jy gaan nooit ’n man kry as hy so lank vir jou moet wag om te besluit of hy troumateriaal is of nie.” Mandie sug. “Maar kom ons vergeet nou eers van al jou hang-ups. Julle moet Saterdagoggend halftwaalf hier wees sodat almal darem ’n bietjie kan kuier voor ons eet. Ek het klaar met Kobus gepraat, hy weet jy ry saam met hom en die kinders.”
Heerlikheid, sy kan haar darem so vir Mandie vervies. Sy behoort mos teen hierdie tyd te weet sy verpes dit dat iemand namens haar besluite neem.
“Oukei dan tog, ek sal my ma bel en sê ek slaap nie Vrydagaand by die pastorie nie.”
“Sorry, ek sit jou net vir ’n minuut op hold. Ek dink dis Paul wat probeer deurkom.”
Amber draai ’n lok hare om ’n voorvinger en staar onsiende na die rekenaarskerm. Sy is skoon simpel om ná al die jare skrikkerig te wees oor ’n kinderagtige verliefdheid op ’n man wat sy in ’n stuk of ses of sewe jaar nie gesien het nie.
Ook maar goed dat Alex haar nie sal onthou nie. Amber was seker die enigste meisie wat nie probeer het om Alex se aandag te trek wanneer hy en Kobus Vrydae van die universiteit gery het om Mandie by die hoërskool te kom oplaai nie. Om die waarheid te sê, die paar keer dat sy Alex wel van naby gesien het, kon sy skaars haar mond oopmaak. Kobus was vir haar meer toeganklik – dalk omdat hy minder aantreklik as sy broer is – maar selfs hý het haar ses weke gelede nie eens onthou nie.
“Haai, Amber?”
“Ek’s nog hier. Maar sê my, wie kyk na jou graadeen-klas as jy môre so vroeg moet lughawe toe?”
“Dis voordelig dat my boyfriend ook ’n onnie is, en boonop is sy klas langs myne, so Paul sal ’n ogie oor hulle hou. Die skoolhoof weet van ons reëling. Die skool sluit buitendien mos môre; daar word dus nie juis gewerk nie.”
“O gats, ek moenie vergeet om Lindie en Dewan ’n uur vroeër by die kleuterskool te gaan haal nie.” Amber luister nog afgetrokke na Mandie se relaas oor hoe wonderlik Paul is, groet en sit haar selfoon op die lessenaar neer.
Sy frons vir die rekenaarskerm. Sy voel nou so opgeklits oor Mandie se oproep . . . asof sy miere onder haar vel het. Maar sy kan nie dat persoonlike dinge haar swottery kortwiek nie, haar sielkundetaak moet klaar. Sy moet dit môreaand na die universiteit se webtuiste pos. Sy wil nie jare en jare aaneen swot nie; sy moet haar voorgraadse studie so gou moontlik afhandel.
Haar oë glip oor die opskrif wat sy getik het voor Mandie gebel het. ‘Effect of Emotional Issues on Relationships’.
“Yeah, right. Asof ek nie weet watter effek emosionele bagasie op verhoudings het nie,” mor sy en rol ondertoe om haar besonderhede in te tik: Amber Young, student number 301877. En ná ’n oop spasie: ‘Throughout this paper I shall be referring to Erik Erikson’s theory of psychosocial development.’
Amber lees ’n paragraaf in haar boek oor die werkstuk en sug. Sy sukkel om te konsentreer. Dalk moet sy eerder môreoggend ná sy die kinders by die kleuterskool afgelaai het, verder kom werk. Sy stoor haar werk en skakel die rekenaar af.
Moes Mandie haar nou wragtig dié tyd van die aand met die nuus oor Alex bel? Amber sit agteroor en tik met die agterkant van ’n potlood teen haar tande. Sy giggel skielik toe sy onthou hoe Mandie haar troetelrot in hulle graadvier-jaar op laerskool onder haar skoolrok die klaskamer ingesmokkel het. Dit sou seker oukei gewees het as die rot nie op een of ander manier in haar skoolbroekie ingeglip het nie. Mandie het net daar opgevlieg, haar skoolrok voor die klas opgelig en ’n ruk gesukkel om die rot raak te vat.
Mandie is miskien ’n bietjie té baasspelerig en uitgesproke, maar wat sou sy op hoërskool sonder dié vriendin van haar gedoen het? Sý, Amber, wat in graad agt in die mure wou insmelt sodat sy nie die