“Geen Amerikaanse kliënte of vriende of vyande waarvan sy weet nie.” Dit is ’n stelling, hy ken reeds die antwoord.
Die vet speurder praat met ’n vol mond, maar slaag daarin om elke woord duidelik uit te kry. “Not a one. I mean, with the rifle and the dollars, it just makes sense that there is some kind of a Yank involvement.”
“Haar prokureur sê sy is onskuldig.”
“Is that your new employer?”
“Tydelik.”
“At least get her into bed. Because that is all you’re going to get from this one. It’s a dead end. I mean, where’s the fucking motive for her? Without the will, she apparently gets nothing.”
“Behalwe as die ooreenkoms was dat sy haar deel van die buit later kry. ’n Jaar of twee. As die ding afgekoel het.”
“Maybe …”
“En sonder haar was daar geen ander verdagtes nie.”
“Zilch. Nothing.”
“Ek sal baie graag die dossier wil sien, Nougat.” Hoe haat hy dit nie om verleë te wees nie.
O’Grady kyk stip na hom.
“Ek weet jy is ’n goeie poliesman, Nougat. I have to go through the motions.”
“You can’t take it with you. You’ll have to read it here.”
6
Die aardbewing het my wakker gemaak, laat in die nag. Die diep, rollende donder uit die dieptes het die vensters laat bewe en die sinkdak van die mynhuis laat kraak. Ek het gehuil en my pa het kom troos, my in die donker in sy arms geneem en gesê dit is maar net die grond daar onder wat homself regskuif om gemakliker te lê.
Ek het reeds weer geslaap toe die telefoon ’n uur of wat later gelui het. Om hom weg te roep.
Die res van die gebeure is soos deur my ma aan my oorvertel, saamgeflanste brokkies uit die amptelike verklarings, die vertellinge van sy kollegas en haar eie verbeelding.
Hy was leier van een van die reddingspanne wat die veertien mans ’n kilometer onder die grond moes gaan uithaal nadat ’n tonnel in die laatnag ineengestort het.
Dit was warm en deurmekaar daar onder. Ander reddingspanne was al besig toe hulle daar aankom, diep in die skag afgesak in die ratelende, sidderende hysbak met hul grawe en pikke en noodhulptassies en bottels water. Niemand het die regulasie-hardehoed gedra nie, dit was net in die pad. Almal, swart en wit, het die oorpakke afgevou om kaalbolyf in die hitte te werk. Hul torso’s het geblink in die skerp elektriese kolligte wat hier helder skyn en daar sterk skadu gooi. Die swart mans se ritmiese gesing het die universele tempo verskaf waarteen almal gewerk het – die grawers, die grondverwyderaars, sy aan sy, die skerp skeidslyn wat gewoonlik daar onder tussen rasse en pligte getrek word skielik vergete. Want vier van die vasgekeerdes was wit en tien was swart.
Uur na uur in die ewige donker om ’n berg te verskuif.
Bo het die gesinslede van die wittes al begin vergader, wagtend op nuus, met die gewone steun van die gemeenskap, ook vriende en kollegas en familie van die reddingspanne, want ook hulle was nie veilig nie.
My ma het geskilder, in daardie ure, met Schubert se Lieder wat blikkerig op die radiogram draai, kalm.
Ek het niks geweet van die spanning van ’n hele dorp nie.
Net voor sy span sou opkom vir die einde van hul skof het hulle die dowwe noodkrete gehoor, moeë uitroepe van pyn en vrees en hy het hulle aangespoor, die dun punt van die wig wat stukkie vir stukkie die rots en klip en grond verskuif om ’n nou tonnel na die oorlewendes te dolwe, die ruskans skielik vergete in die adrenalien van ’n einde wat in sig is. Emile van Heerden heel voor, sy lenige lyf wat nou die fiksheid van ’n leeftyd tap om daar te kom.
Sy span het deurgebreek na die klein opening wat die vier oorlewendes met hul kaal hande, hul bloeiende vingers, gegrawe het,
Die nuus dat daar stemme was daar onder het vinnig die oppervlak bereik en die mense in die klein sportklubsaaltjie het hande geklap en gehuil.
Hy het die eerste drie self uitgetrek en hulle op die hout-en-seil-draagbare gelaai. Die vierde een was vasgeval tot by sy bors, ’n swart man met twee gebreekte bene wat die pyn met bomenslike inspanning onderdruk het, net die sweet wat uit hom pers en die bewing van sy liggaam. Emile van Heerden het krampagtig gegrawe, die grond om die man se bene nou met sy eie vingers beweeg, want ’n graaf was te groot en onhandig.
Toe skuif die aarde homself weer reg om gemakliker te lê. Hy was een van 24 wat hulle drie dae later uit die skag gebring het, in komberse toegedraai.
My ma het eers gehuil toe sy in die lykshuis die kombers oopgetrek en gesien het wat die drukking van ’n duisend ton grond aan haar man se lyf gedoen het.
7
Van Heerden is nie die man wat sy verwag het nie.
Kemp het gesê hy is ’n oudpolisieman. Hoe sal ek sê? So ’n bietjie …anders? Maar hy’s blerrie goed met ondersoeke. Jy moet net ferm wees met hom.
Die Vader weet, sy het goed met ondersoeke nodig.
Sy het nie geweet wat om te verwag nie. Anders. Dalk ’n oorring en ’n poniestert. Nie die … spanning nie. Die manier waarop hy met Wilna van As gepraat het. “Spanning” is nie die regte woord nie. Hy is ’n moeilik hanteerbare man. Soos plofstof.
Hulle het op tweeduisend rand per week ooreengekom. Vooruit. Sy sal dit eers uit haar sak moet betaal as Van Heerden niks kry nie. Te veel geld. Al betaal Wilna van As dit later af. Geld wat die firma nie kan bekostig nie. Sy sal vir Kemp moet bel. Sy steek haar hand na die telefoon uit.
Van Heerden staan in haar deur.
“Ek sal weer met Van As moet praat,” sê hy, sy skraal lyf en sy blou-oog en sy fok-jou-houding. Met ’n bruin koevert in sy hand leun hy teen haar kosyn en sy besef sy het geskrik en hy het dit gesien. Haar weersin in die man is klein en ontkiemend soos ’n saad.
“Ons sal daaroor moet praat,” sê sy. “En jy moet dit dalk oorweeg om te klop voor jy inkom.”
“Hoekom moet ons daaroor praat?” Hy gaan sit weer in die stoel oorkant haar, dié keer vooroor, sy liggaamstaal antagonisties.
Sy haal diep asem, dwing geduld, fermheid in haar stem terug. “Wilna van As is bloot as mens geregtig op ons simpatie en respek. Daarby was sy die afgelope nege maande blootgestel aan meer trauma as wat die meeste van ons in ’n leeftyd ervaar. Ongeag die min tyd tot ons beskikking, het ek vanoggend jou houding teenoor haar ontstellend en onvanpas gevind.”
Hy sit in die stoel, sy oë op die bruin koevert wat ritmies teen sy duimnael tik.
“Ek sien julle is net twee vrouens.”
“Wat?”
“Die firma. Vroueprokureurs.” Hy kyk op, beduie vaagweg na die kantore om hulle.
“Ja.” Sy kan nie die strekking, die verband verstaan nie.
“Hoekom?” vra hy.
“Ek kan nie sien wat dit met jou onsensitiwiteit te doene het nie.”
“Ek kom daarby, Hoop. Is dit doelbewus dat julle net vroue is?”
“Ja.”
“Hoekom?”
“Want die reg is ’n manswêreld. En daar buite is duisende vroue wat die reg het om met deernis en insig behandel te word wanneer hulle wil skei, of vervolg word. Of na testamente soek.”
“Jy is ’n