Goue gerf
Tryna du Toit
HUMAN & ROUSSEAU
Die Goue Gerf
DIE GOUE GERF
Hoofstuk 1
“Dames en here, dis al vir vandag. Goeiemiddag.”
Professor George Marais, professor in chirurgie, sluit die hele saal met sy groet in en stap dan haastig uit. Met sy regop, forse gestalte, ruie wit hare en deurdringende blou oë is hy ’n imponerende en dikwels vreesinboesemende figuur. Hy is ’n briljante chirurg wat die agting en bewondering afdwing van alle studente wat bevoorreg is om sy lesings by te woon of toe te kyk wanneer hy ’n delikate en ingewikkelde operasie uitvoer.
In groepies verlaat die studente die lesingsaal. Dit is Vrydagmiddag, die laaste lesing is verby, en daar is die heerlike vooruitsig van die naweek wat voorlê. In ’n lang streep stap hulle die breë hospitaalgang af, ’n interessante en opvallende groepie in hulle wit jasse. Party gesels nog oor die lesing, ander bespreek druk hulle planne vir die naweek.
’n Hospitaalkruier, oud en effens geboë, trek sy trollie ’n bietjie opsy sodat die studente kan verbykom.
“Hallo, Isak,” groet die jong mense in die verbygaan en hy groet vriendelik terug terwyl hy hulle met ’n glimlaggie betrag. Dis al baie jare dat hy hulle sien kom en gaan, jong mediese studente in die fleur van hulle lewens, besiel met hoë ideale en ambisies vir die toekoms, die dokters en professors van môre.
Feitlik aan die end van die streep stap Ryk Muller, half ingedagte, nog vol van die lesing wat so pas verby is. Hy is lank en skralerig gebou met mooi breë skouers. Sy gesig is sterk maar sensitief en hy het lewendige groenbruin oë en kort, donker hare.
Twee jong verpleegsters kom haastig die gang af. Ryk kyk op en hy glimlag toe hy die rooikop herken.
“Haai, Winnie! Waarheen so haastig?”
Die meisie se glimlag is warm. “Ons gaan tennis speel. Het jy nie lus om saam te kom speel nie?”
“Jammer, maar ek gaan ’n bietjie huis toe die naweek.”
“Gelukkige, bevoorregte mense wat elke naweek huis toe kan gaan sonder om eens een keer te dink aan die arme ouens wat hulle afsloof in diens van die mensdom.”
Haar opgewekte glimlag weerspreek haar woorde en Ryk glimlag ook. “Pas op dat jy jou nie doodwerk nie.”
“Ek sal! Tot siens, Rykie! Geniet die naweek.”
Ryk stap glimlaggend weg terwyl die twee verpleegsters hom nog ’n oomblik agterna kyk.
“Ryk Muller, ’n vyfdejaar,” sê Winnie aan haar maat, ’n betreklike nuweling by die hospitaal. “’n Oulike ou. Was verlede jaar kaptein van Tuks se eerste rugbyspan. Hy speel heelagter. Maar ek hoor hy speel nie weer vanjaar nie.”
“Waarom nie?”
“Weet nie. Hy het verlede jaar sy skouer seergemaak, maar hy het daarna weer gespeel. Miskien is hy te besig; die vyfdejaars werk hard.” Sy kyk die donkerkop met ’n glimlaggie agterna en herhaal: “’n Oulike ou en ’n doring op die rugbyveld. Nie ’n bang haar op sy kop nie, behalwe wanneer dit by vroumense kom. Vir hulle is ou Rykie glo maar versigtig.”
Net voor Ryk stap een van die meisiestudente, ’n blonde meisie, Elizabeth Bornman. Selfs die los wit jas kan nie die slanke lyne van haar mooi jong liggaam verberg nie. Haar hare is ’n diep, suiwer goud, haar oë ’n helder, treffende blou en haar mooi vel is goud getint deur die son. Haar houding is grasieus, maar die uitdrukking op haar gesig is effens hard en die mooi blou oë is koel, dikwels spottend.
Ryk versnel sy pas en val langs Elizabeth in. Sy kyk op en daar is ’n glinstering in haar oë.
“Haai, Rykie,” sê sy spottend.
Ryk grinnik. Dan het sy gehoor! Hy kan hom so vervies as die meisiekinders hom Rykie noem, en Elizabeth Bornman weet dit baie goed.
“Interessante lesing,” merk hy op.
“Puik,” antwoord sy bondig.
In stilte stap hulle saam na hulle motors, wat so ’n entjie van die hoofgebou af geparkeer is. Daar is ’n fronsie op Elizabeth se gesig en Ryk wonder waaraan sy dink.
“Ek begin Maandag met kraamwerk,” sê hy. “’n Hele drie weke voordat julle my weer sien.”
Die blou oë glimlag. “Sal ons dit oorleef?”
“Ek dink so. Bêre vir my jou notas, sal jy?”
“Graag, aangesien jy dieselfde vir my gedoen het.”
Ryk kyk af na die meisie wat langs hom stap. Hy is bewus van haar skoonheid, maar ook van haar stille afgetrokkenheid. Hy en Elizabeth Bornman loop die laaste drie en ’n half jaar saam klas en hulle het al dikwels saam gaan dans en gaan fliek of spesiale lesings bygewoon. Tog bly die meisiekind vir hom ’n raaisel en ken hy haar nie veel beter as aan die begin nie.
“Wil jy nie vanaand saam met my gaan fliek nie?” vra hy skielik. “Jy weet self hoe dit gaan; daar sal die volgende paar weke nie veel kans vir rondloop wees nie.”
“Gaan jy nie die naweek huis toe nie?”
“Ek kan môre gaan. Of selfs vanaand ná die fliek. Johannesburg is nie so baie ver nie.”
Sy skud haar kop. “Jammer, ek het reeds ’n afspraak.”
Sy klink nie baie jammer nie, dink hy. “Oswald Pienaar?”
“Maak dit saak wie dit is?” vra sy liefies.
“Nee. Natuurlik nie,” antwoord hy koel, vies vir homself omdat hy gevra het.
Sy glimlag effens. “Gaan jy nie môreaand na Julian se verlowingspartytjie toe nie?”
“Nee. Ek gaan liewer huis toe. Gaan jy?”
“Nee.” Sy aarsel ’n oomblik. “Ek gaan ook die naweek huis toe. My pa is in die hospitaal; hy het onlangs ’n hartaanval gehad.”
Ryk kyk vinnig af na haar. Dis die eerste keer dat sy uit haar eie van haar huis of familie melding maak. Haar gesig is stil en geslote en verraai nie haar gedagtes nie.
“Ek is jammer om dit te hoor,” sê hy simpatiek. “Jou huis is êrens in die Noord-Transvaal, nie waar nie?”
“Oudendal.”
“Hoe gaan jy? Met die Fiat?”
Sy knik.
“Alleen?”
“Dis nie ver nie. Bietjie meer as ’n honderd myl.”
“Dink jy die Fiat sal dit maak?”
“Ek dink so!” Sy klink geamuseerd en hy kyk effens onseker na haar.
Dan sê hy bruusk: “Dis nie nodig dat ek die naweek huis toe gaan nie. As jy wil, sal ek jou graag na jou pa toe neem.”
Sy kyk verras op na hom, ’n oomblik van stryk gebring deur die onverwagte aanbod. Dan skud sy haar kop. “Nee dankie, Ryk. Ek . . . ek verkies om alleen te gaan.”
Hy dring nie verder aan nie. Hy stap saam met haar tot by haar motor, ’n klein swart Fiat van onsekere jare, en maak die deur vir haar oop. Sy klim in en kyk op na hom. Weer glimlag die blou oë.
“Geniet die naweek. En sterkte vir die kraam. Ek hoop jy kry ’n halfdosyn tweelinge.”
“Dankie, ek waardeer jou goeie wense,” antwoord hy onverstoord. “Veilig ry.”
“Dankie, Rykie! Ek sal. Auf wiedersehen.”
Ryk glimlag effens, maar daar is ’n frons tussen sy donker wenkbroue toe hy na sy eie motor toe stap. Moedswillige, onbegryplike vroumens! Hy het hom al meermale voorgeneem om haar te ignoreer, maar Elizabeth Bornman is nie iemand wat mens maklik kan ignoreer nie. Sy is ’n briljante student en daarby is sy een van die mooiste meisies wat hy ken. Maar ’n man soek tevergeefs na vroulike sagtheid en warmte by haar. Sy is so hard en blink soos ’n diamant en net so koud.