DIE WIT RINGMUUR
Tryna du Toit
HUMAN & ROUSSEAU
Hoofstuk 1
Die opstal lê ’n entjie van die pad af: ’n groot wit gewelhuis met koel luike en netjiese buitegeboue tussen wingerde en reuse-eike, omsluit deur ’n wit ringmuur met stewige houthekke. Dit het ’n soldertrap en ’n breë stoep met versierde pilare, en daar is ’n ou slaweklok en ’n kelder waarin vorige eienaars hulle eie wyn en brandewyn gemaak het. Sommige van die eikebome is al ’n paar honderd jaar oud.
’n Geskiedkundige huis wat beelde oproep van ’n grasieuse verlede, van beeldskone jong dames in wye hoepelrokke en galante jong here in kniebroeke en satynbaadjies wat saam in die koelte van die aand onder die eike kuier. Van deftige koetse, van onthale by die Kasteel, van seilskepe wat die Kaap aandoen op pad na die Verre-Ooste. Van tye toe die wit ringmuur ’n verskansing was teen roofdiere en ander gevare wat daar buite geskuil het.
Maar daardie dae is lank verby. In die koetshuis staan daar vandag ’n blink, moderne motor. As die dogter van die huis besoek ontvang, kom kuier haar jong ridder nie met ’n vosperd nie, maar met ’n lawaaierige motorfiets of ’n vinnige sportmotor. Vandag is die ringmuur, soos die slaweklok en kelder, net ’n herinnering aan daardie vervloë romantiese dae.
Dit is ’n sonnige lenteoggend teen die einde van Oktober. Die eikebome is ’n sagte groen en in die vleie en oral langs die paaie staan die aronskelke vol in die blom. Vanuit die hoë bome langs die huis klink die sagte gekoer van duiwe.
Professor Pieter Joubert, die huidige eienaar van Mon Désir, en sy vrou sit nog aan die ontbyttafel. Die son stroom by die eetkamervenster in en die geur van rose en kanferolie vul die vertrek. Die professor is agter sy koerant versteek terwyl Elsabé Joubert vir die hoeveelste keer die gastelys nagaan vir hulle dogter, Cathy, se troue oor net meer as ’n maand.
Professor Joubert is ’n lang, effens geboë man van omtrent sestig met ’n kaalkop en sagte, dromerige blou oë. Hy is ’n professor in klassieke tale en gedurig verdiep in boeke en geskrifte oor die antieke Griekse geskiedenis en mitologie. ’n Paar maande gelede is hy genooi om ’n paar lesings aan Amerikaanse universiteite te gaan gee. Dit was die uiteindelike erkenning van ’n leeftyd van toegewyde studie en navorsing, en hy was so opgewonde soos ’n skoolseun oor die vooruitsig.
As die oudste seun het Pieter Joubert Mon Désir sestien jaar gelede van sy pa geërf. Oorspronklik was Mon Désir ’n groot plaas, met baie morge vrugbare grond, maar met die jare is die ou plaas verdeel en onderverdeel tussen seuns en skoonseuns. Vandag bestaan die landgoed slegs uit die huis en ’n paar morg grond. Die res behoort byna alles aan vreemdelinge. Die opbrengs van die wingerd en vrugtebome is genoeg om die uitgawes van die boerdery te dek en af en toe af te betaal aan die verband wat Pieter moes uitneem om sy jonger broer en twee susters hulle erfdeel uit te betaal.
Elsabé Joubert is ’n aantreklike en energieke vrou, ’n paar jaar jonger as haar man. Oorspronklik ’n Vrystater van geboorte, het sy haar met die jare heeltemal vereenselwig met haar man se familie en agtergrond. Sy is vandag net so trots op Mon Désir en byna net so geheg aan die ou opstal as haar man.
Drie kinders is uit die huwelik gebore: twee seuns wat albei op universiteit presteer het en reeds besig is om hulle merk in die lewe te maak. En Cathy, wat byna tien jaar na haar tweede broer haar verskyning gemaak het en nou op een-en-twintig met die buurman se seun gaan trou. So tussendeur die voorbereidings vir die troue, wat weens haar ouers se oorsese reis ’n bietjie vervroeg is, is sy ook besig met haar eindeksamen vir haar B.A.-graad. Maar sy is net so slim soos haar broers en het hard gewerk, en almal verwag dat sy goed sal presteer.
Elsabé kyk vlugtig op toe Cathy by die eetkamer inkom in ’n kort, verbleikte kamerjas, haar donkerbruin hare in ’n poniestert vasgebind. Sy is effens bleek en daar is skaduwees onder die mooi diepgroen oë, asof sy die nag maar min geslaap het.
Haar ma glimlag effens ingedagte. “Môre, Cathy. Jy’s vroeg op. Goed geslaap, hartjie?”
Sy lui ’n klein silwerklokkie sodat die huishulp Cathy se lemoensap en roosterbrood kan bring. Dan, sonder om vir haar dogter se antwoord te wag, vervolg sy: “Ek sê nou net vir Pappa ons sal vir die Van Blerks ook ’n uitnodiging moet stuur.” Cathy wil praat, maar haastig vervolg haar ma: “Ja, ek weet ons het besluit om hulle nie te nooi nie, maar mevrou Van Blerk en ek dien saam in baie komitees. Sy is altyd so belangstellend en ’n mens wil nie onnodig aanstoot gee nie. Ons stuur maar vir hulle ook ’n uitnodiging. Ek het ook so byna-byna van nig Ragie Verster vergeet. Ek hoop maar die ou siel kan nie kom nie, maar sy vergewe ons nooit as ons haar oorslaan nie. Sy skimp reeds heeldag oor die hoogmoedige Jouberts wat nie meer elke dag hulle eie familie ken nie.”
Cathy kyk ’n oomblik onseker na haar ma, onwillig om die rustigheid van die vreedsame lenteoggend te verbreek. Maar haar ma het haar ’n uitstekende aanknopingspunt gegee en sy kan nie langer wag nie. Sy haal ’n slag diep asem en sê dan: “Dis nie nodig om Mamma langer oor die Van Blerks of nig Ragie te bekommer nie!” Sy probeer liggies praat, maar haar stem dreig om in haar keel vas te steek. “Ek en Andries het besluit om die troue af te stel.”
Die professor laat sy koerant vinnig sak. Elsabé Joubert kyk na haar dogter en sien nou eers hoe bleek en gespanne Cathy lyk. In die skielike stilte klink die gekoer van die duiwe helder op.
“Afstel of uitstel?” vra professor Joubert.
“Afstel. Ek . . . ek is jammer, Mamma,” verbreek Cathy stamelend die gespanne stilte. “Ek . . . dis seker ’n groot skok en teleurstelling, maar ek kan net nie daarmee aangaan nie.”
Elsabé kyk haar dogter sprakeloos aan. Alles is reeds gereël. Maande lank al beplan sy die tuin sodat dit op die dag ’n weelde van kleure en geure moet wees. Die kaartjies is gedruk en lê gereed om uitgestuur te word. Die kerk en die orrelis is bespreek, die spyseniers bevestig. Cathy se trourok is klaar – sy het dit die vorige dag finaal aangepas – en die wittebrood is gereël. Elsabé Joubert is ’n goeie organiseerder en geen moeite is gespaar om Cathy se troue ’n heuglike geleentheid te maak nie.
Cathy self wou oorspronklik ’n klein, stil troue gehad het, maar dit was natuurlik buite die kwessie. Vandat Cathy gebore is, droom Elsabé Joubert al van die bruilof wat hulle eendag teen die skilderagtige agtergrond van Mon Désir sal hou. Kort nadat Cathy en Andries de Wet verloof geraak het, het sy haar planne agtermekaar begin sit. Dit sal ’n troue wees wat die mense nog lank sal onthou. Hulle is dit verskuldig teenoor Andries se familie sowel as hulle eie familie en vriende. En aangesien sy en Pieter ’n paar dae later lank oorsee gaan, sal dit sommer ook vir hulle ’n kans gee om vir hulle vriende tot siens te sê.
Cathy het ná ’n bietjie teëstribbeling ingestem, en nou dit! Maar die kind bedoel dit natuurlik nie ernstig nie. Sy en Andries het seker rusie gemaak, en in haar gespanne toestand het sy haarself allerhande dinge wysgemaak. Cathy is ’n fynbesnaarde kind – daar aard sy so reg na haar pa – en al die voorbereidings vir die troue saam met haar finale eksamen was seker te veel. Sy sal al haar takt en wysheid moet gebruik om haar dogter te kalmeer.
“Kom sit, Cathy,” sê sy stil. “Eet jou ontbyt, dan bespreek ons die saak kalm. Ek is seker dis maar net ’n klein misverstand wat maklik uit die weg geruim kan word.”
Maar Cathy skud heftig haar kop.
“Ek is doodernstig, Mamma. En niemand gaan my dwing om met Andries of enigiemand anders te trou nie!”
Daar is ’n effens histeriese klank in haar stem en professor Joubert sê gerusstellend: “Niemand sal jou dwing nie, Cathy. Kom sit en vertel ons wat gebeur het. Het jy en Andries rusie gemaak?”
“Nee.” Cathy is bewus van haar ma se ontsteltenis en is baie na aan trane. Sy gaan sit in die stoel wat haar pa vir haar uitgetrek het en vervolg: “Ons het nie rusie gemaak nie. Ek het Andries nie lief nie – daarom wil ek nie met hom trou nie.”
“Jy het Andries nie lief nie?” Haar ma staar haar onbegrypend aan. “Onsin, Cathy! Jy is verlief op Andries vandat jy sestien jaar oud is.”
Cathy bloos verleë.
“Ek was verlief, maar dit was meer heldeverering