“O, o!” roep Kaninu uit, sy oë yslik groot. “Sal ek, Kaninu, soveel krag hê?”
“Ja,” sê die bongo. “Maar jy moet jou krag net gebruik om goed te doen, en jy mag die klip net in tye van droogte en hongersnood wegskuif om die water te laat vloei, om jou mense te red. Maar as jy met woede in jou hart kom om die klip te kom wegskuif, sal die vloed al die mense in die wêreld doodmaak, en jy, Kaninu, sal eensaam en in groot droefheid sterf, want die mense vir wie jy lief is, sal nooit weer terugkom nie. Die toorn van Ngai, God, sal vir altyd met jou wees.”
“O, dit is werklik verskriklik,” sê Kaninu. “Dit is ’n baie groot geheim wat jy my vertel het, bongo van die woud. Dit maak my bang.”
“Dit is goed om bang te wees vir sulke wonderlike dinge,” sê die bongo. “En tog behoort jy ook bly te wees. Volg nou die stroom bergaf deur die woud en jy sal jou pad terug na jou dorpie toe kry. En as jou voete weer die pad hierheen volg, eendag wanneer jy ’n man is, laat jou hart dan bly en vol vrede wees. Moet nooit in woede hierheen kom nie. Vaarwel.”
En sonder dat Kaninu mooi weet hoe, smelt die bongo weg teen die pers hange van die hoë berg, en Kaninu bly daar staan met oë en mond wyd oop op soek na hom.
Maar die bongo kom nie terug nie. En oplaas, toe die son begin ondergaan, vat Kaninu die paadjie wat al langs die stroompie loop, dwarsdeur die woud en tot by sy tuiste, waar die vrouens pap kook oor die aandvure en die bokke na die krale gelei word.
“En waar was jy vandag heeldag, Kaninu?” vra sy ma en pa en broers en susters waar hulle in die hut sit en kyk hoe die vlamme onder die swart pot lek.
“Ek het na die woud toe gegaan,” sê Kaninu.
“Hu, wat is daar te sien in die woud?” sê Wamai. “Hoekom was jy so lank weg?”
“Ek het ’n wonderlike dier gesien,” sê Kaninu.
“Vertel vir ons hoe hy gelyk het,” sê sy pa en hou sy hande na die vuur toe uit om dit warm te maak.
“Groter as ’n groot koei, en bont asof hy vir ’n dansparty geverf is, Pa,” sê Kaninu.
“Ai-ai-ai!” sê sy pa en hy kyk Kaninu met ontsag aan. “Dit moet ’n bongo gewees het. My seun, jy is gelukkig. Baie min mense het al die bongo gesien – ’n pragtige dier, groot en baie skugter. Ai-ai-ai! Om te dink dat ’n kind van my die bongo gesien het. Vertel vir my, hoe lyk sy hoewe, en hoe groot is sy ore, en is sy oë regtig rooi?”
“Hulle sê daar is towerkrag in die hart van die bongo,” sê Kaninu se ma, en sy vergeet om die pap op te skep. “Goeie towerkrag, en baie sterk.”
“Ha,” lag Wamai, “dis die stories van ou vrouens wat nie meer tande het nie. Towerkrag in ’n dier, nou toe nou.”
Maar Kaninu se ma kyk vir hom. “Is jy seker jy het geen towerwoord by die bongo gehoor nie?” vra sy met ’n fluisterstem.
En Kaninu lag met hulle almal, daar in die lig van die vuur, en hy sê nóg ja, nóg nee. En hy los hulle dat hulle maar wonder en wonder en wonder. Want dit is die heel lekkerste daarvan om uiteindelik jou eie geheim te hê.
Woordverklarings
byekorf – beehive
geslepenheid – slyness
kolibrie – hummingbird
krygsman – warrior
laat spaander – take to one’s heels
lawe – refreshed
nietigheid – insignificance
skuifel – shuffle
slingerplant – creeper
sog – sow
Postlees: Beantwoord die onderstaande vrae in jou werkboek (pas leesstrategieë toe). | |
1. | Waaroor gaan Kaninu se vrae? Skryf net een korrekte antwoord neer: krygsmanne / die natuur / olifante / die bongo. |
2. | Die beroemde Suid-Afrikaanse pottebakker Esias Bosch het geleef van 1950 tot 2010. Kaninu se tante lag egter en sê potte maak is nie ’n werk vir seuns nie. Wat is die verskil tussen Kaninu en Esias Bosch? Skryf net een korrekte antwoord neer: Kaninu se verhaal speel af in ’n tradisie waarin slegs vroue potte bak / Esias Bosch was ’n vrou. |
3. | Kaninu het nie ’n towerwoord by die bongo geleer nie. Maar hy het wel ’n lewensles geleer. Skryf in een sin wat hierdie les is. |
4. | Wat beteken “cio irogea thaai”? Jy hoef nie hierdie taal te kan praat om uit te vind nie; die antwoord is in die verhaal. |
5. | Die meeste van ons weet nie eens wanneer die lande in ons omgewing geoes word nie en party van ons kan die lande nie eens sien nie. Waarom is die oes in Kaninu se wêreld so belangrik? Skryf net die korrekte antwoord neer: Kaninu se mense woon in ’n woestyn / Kaninu se mense is tradisioneel en plant self hulle kos / Daar is soveel stakings dat daar nie meer kos in die winkels is nie. |
6. | Die bongo het ook ’n wetenskaplike naam, naamlik Tragelaphus eurycerus. Beteken dit “Kaninu se geheim” is wetenskapsfiksie? |
7. | Die bongo is in hierdie verhaal ’n soort bok. Maar daar is ook ’n taal en ’n tradisionele voorwerp wat ’n bongo genoem word. Raadpleeg die internet of ’n woordeboek om die antwoorde te vind. |
a) | Wat is die tradisionele voorwerp? |
b) | In watter land word Bongo gepraat? |
8. | Het jy van hierdie verhaal gehou? Skryf in een sin hoekom / hoekom nie. |
Die groot dors
Pieter W. Grobbelaar
Prelees – groepbespreking
Kyk na die illustrasie van olifantsgras. Waar dink jy kom hierdie benaming vandaan?
Dink jy mens sal sulke gras in ’n land kry waar daar droogte heers? Verduidelik hoekom jy ja of nee sê.
Die verhaal
Ver, ver terug toe Kaggen die diere gemaak het, was daar geen fonteine of riviere of watergate op die aarde nie. Al wat hulle te drinke gehad het, was mekaar se bloed, en hulle het die vleis van mekaar se bene afgeëet. Ja, dit was rooi dae, en geeneen was sy lewe seker nie.
Toe sê Olifant, die grote: “Nee, so kan dit nie aangaan nie. Ek wens ek was liewers dood. Dan kan my bene vrugtebome word, en my senings sal oor die grond rank en tsammas dra, en my hare sal ’n grasveld wees.”
En die diere vra: “Hoe lank moet ons nog wag, Olifant? Hoe lank moet ons wag? Want jou soort word baie oud.”
“Nee, dit weet ek nie,” sê Olifant. “Ons moet maar kyk.”
Maar Slang sê: “Ek sal jou help!” En voor Olifant nog ’n voet kan verroer, slaan Slang sy giftande in hom vas, en hy laat nie los voor Olifant dood neerslaan nie.
Nou storm die diere! Dis Leeu en Luiperd, dis Jakkals en Hasie, en ou Skilpad kom ook krombeen by. En hulle eet en eet Olifant se vleis, en hulle lek sy bloed, en hulle hou nie op voor net sy bene en senings en hare oorbly nie. Toe gaan hulle slaap, want nou was almal weer gelawe.
Maar toe hulle die volgende oggend wakker word, begin die diere weer kla: “Nou is Olifant dood en opgeëet. Waarvan gaan ons lewe?” En hulle sou seker gehuil het as daar trane was, maar die son drink hulle lywe droog, en hulle oë bly dof.
“Toe maar,” sê Slang. “Olifant het mos belowe.”
“Olifant het belowe as hy sélf doodgaan,” sê die diere. “Maar nou het jý hom doodgemaak.”
“Moenie so kerm nie,” sê Slang. “Laat ons nie te haastig wees nie. Wag en kyk. Of is daar iemand wat mý bloed wil drink?”
Maar die diere is bang vir sy giftande en bly