Danda
OP OUDEUR
Chris Barnard
Tafelberg
Vir Stephan
1
Danda klim stadig teen die lendelam houttrap uit. Hy is moeg. Die hele middag het hy en die diere op die strand rondgeloop en vir Vetvoet gewag, en Vetvoet het weer nie gekom nie.
Dis nou die derde Dinsdag.
Die eerste middag was hy teleurgesteld toe die ou grootprater nie opdaag nie; die tweede Dinsdag was hy kwaad; maar vanmiddag weet Danda daar is iewers ’n groot skroef los. Vetvoet sal nie weke lank sommer verniet wegbly nie.
Bo by die deur gaan Danda eers ’n slag staan. Hy leun teen die reling en kyk oor die dokke. Die son is net-net onder en die hyskrane werk nie meer nie. Sy pa is seker al op pad terug.
Hy kyk af op die klein agterwerfie, maar die sinkheining se skaduwee is al te donker en hy kan nie meer die diere se hok uitmaak nie. Hy haal die sleutel onder die vensterbank uit en sluit die deur oop. Dis bedompig binne. Hy maak die venster oop, skuif die gordyne opsy, steek die olielamp op en begin vuur maak in die stoof.
Hierdie tyd van die dag is altyd vir hom die lekkerste. Dis die enigste kans wat hy en sy pa kry om ’n bietjie te gesels. Hulle maak soms kos, eet, was saam die skottelgoed. Dan gaan sit hy en leer, en sy pa – wat soggens vieruur weer moet opstaan – gaan slaap.
Daar is ’n gefladder op die stoep. Dis Kiki wat op die dakbalke kom sitplek soek. Deesdae pla hy nie meer om in die huis in te kom nie, maar daardie eerste maand of twee was dit ’n gesukkel. Hulle moes die deur en al die vensters toemaak om hom buite te hou, en dan het die drie vertrekke te bedompig geword. Maar nou ken die kraai al die storie. Hy sal dit soms tot op die vensterbank waag, maar nie nader nie; en saans slaap hy onder die stoepdak op een van die balke.
Met Vlooi was dit maklik, want Vlooi is ’n gehoorsame hond, maar vir Ratel en Sindo moes hy en sy pa ten einde raad ’n hok bou, en nou slaap die ratel en die nagaap saans agter ogiesdraad.
Daardie opsigter. Tant Let. Sy is kastig so heilig op hierdie ou kasarm van ’n plek. En waarvoor? Die dak lek en die mure is plek-plek al deurgeroes en die vloer is vol splinters. Hy het vir sy pa gesê hulle moet ’n ander blyplek gaan soek, maar sy pa sê al die beter blyplekke is duur, en buitendien sal hulle die diere daar nie eens op die wérf toelaat nie!
Danda sit die groot paraffienblik op die stoof en dra dit vol water. Oor ’n uur of so, net voor ete, sal die water warm genoeg wees vir sy pa om te bad.
Vetvoet. Wat sou van Sarel Vetvoet geword het? Is hy dalk siek? Of is hy weer iewers in die moeilikheid? Wie weet, dalk moes hy vlug! Danda het hom al lankal gewaarsku hy moet die spul matrose in die hawe uitlos; hulle soek tog net heeltyd skoor. Veral daardie ellendige Pontak en sy trawante.
Danda was sy hande en voete sommer in die skottel by die kraan op die stoep, en heeltyd terwyl hy besig is, gesels die kraai met hom bo van die dakbalk af. Danda gesels kastig saam, maar sy gedagtes is op ander plekke. Hy kry die ongerustheid oor Vetvoet maar net nie afgeskud nie.
Sê nou net …
Die werfhekkie piep oop, en dis sy pa. Hy kom oor die halfdonker agterplaas gestap en klim teen die trap uit.
“Naand, Pa.”
Sy pa vat hom aan die hare en trek sy kop nader, klap hom speels op die maag. “Naand, Daniël. Het jy die diere toegemaak?”
Danda ruik sy pa se sweet en daardie groot hande wat altyd souterig is soos ’n skulp wat pas uit die water gekom het. “Ja, Pa,” sê hy. “En die water is al op die stoof.”
Hulle gaan saam die kombuis binne en sy pa haal sy pet af en hang dit oor die deur se hoek, trek ’n stoel uit, gaan sit by die tafel.
“Is Pa moeg?”
“Bietjie,” sê sy pa. “Hoe lyk jou huiswerk?”
“Ek moet nog begin, Pa.” Hy kan sommer sien – sommer aan sy pa se skouers kan Danda sien hy ís moeg vanaand. Die gespook – veertien uur per dag in die dokke – dis nie speletjies nie. En as sy pa saans terugkom, en sy skouers lyk so half lam, en hy maak nie grappies nie, dan was dit ’n harder dag as gewoonlik.
“Pa onthou mos nog vir Sarel Vetvoet?” vra Danda later toe die kos al op die stoof is en die blik badwater begin sing.
“Daardie ou skelm?”
Danda kyk vinnig op. “Hy’s nie ’n skelm nie, Pa.”
“Wel, al sy vriende is. ’n Spul drinkers en smokkelaars, dis wat hulle is.”
“Sy vriende, ja.” Danda knik. “Maar nie hy nie. Hy raas altyd met hulle. Rêrig.”
Sy pa glimlag net.
Danda roer die bredie ’n bietjie en die geur van die vleis laat hom ineens honger voel. Hy besef nou eers hy het vanmôre laas geëet. Vanmiddag ná skool was daar nie tyd nie; hy was te haastig om op die strand te kom, gretig om te sien of Vetvoet daar is.
“Wanneer laas het Pa hom gesien?”
“Sarel Vetvoet? Lank laas. Weke laas. Hoekom?”
“Nee, ek vra sommer.”
Dis ’n koel aand. En dis stil. Al wat ’n mens kan hoor, is die sagte singgeluid van die water op die stoof, en af en toe ’n sleepboot se toeter of sy pa se stewels wat op die plankvloer skuif. Die stilte begin lekker voel as hulle saans aan weerskante van die tafel sit en sy pa gesels met hom. Dit laat hom belangrik voel. Maar die afgelope tyd gebeur dit al hoe minder. Soms is sy pa moeg, en soms lyk hy sommer net ingedagte.
Hulle eet en was die skottelgoed sonder dat daar juis gesels word. Daarna bad sy pa en Danda loop skep die bietjie oorskietkos in Vlooi se bak. Hy gaan sit by die hond, sy rug gestut teen die sinkplaatheining wat nog effens lou is van die dag se son. Vlooi is bly oor die kos en ruik kort-kort aan hom en swaai sy stert en eet dan verder.
Doer eenkant in die donker hoek waar die ogiesdraadhok moet wees, hoor hy Ratel-hulle roer. Hy weet hy moet nog eers vir hulle gaan nag sê voordat hy teruggaan boontoe, maar hy stel dit uit. Dis elke aand vir hom ’n hartseer-ding om te sien hoe die klein nagapie aan die draad vashou en met sy groot oë kyk en kyk omdat hy hierdie toesluitery nie kan verstaan nie. Elke aand voel hy asof hy hulle in die steek laat as hy omdraai en teruggaan huis toe.
Maar dit gaan nog verander, eendag. Al hierdie dinge. Dit gaan nog verander, dit weet hy.
Vlooi het klaar geëet en wil by Danda kom lê, soos hy altyd saans maak sodra sy bak leeg is. Maar die hond steek skielik vas en spits sy ore. Danda luister saam en hoor ná ’n rukkie die voetstappe nader kom, en saam met die voetstappe ’n sagte geneurie. Maar daar skort iets met die voetstappe; hoe nader hulle kom, hoe sekerder word Danda: dit moet ’n kreupel man wees.
Vlooi knor, maar Danda maak hom stil en klim versigtig op die steenkooldrom. Hy loer oor die heining en kyk straat af. Eers is daar net ’n swart vlek wat sukkel-sukkel op die sypaadjie aangeskuifel kom; dan kan Danda twee bene, ’n kop, arms onderskei. Die man rus elke paar treë, dan sukkel hy weer nader, en heeltyd neurie hy aan ’n wysielose deuntjie.
Danda staan vasgenael en kyk na die vreemde figuur, staan en kyk hoe hy al nader kom, steunend, singend, en skielik vlak by die werfhekkie tot stilstand kom. Vlooi begin blaf en Danda is nie meer seker of hy die hond moet stilmaak nie. Die man vroetel in sy sakke rond en haal vuurhoutjies uit. “Toe maar, hondjie,” sê hy, nog steeds sangerig, “toe maar, my brak. Toe maar.” Hy sukkel om ’n vuurhoutjie aan die brand te kry; die goed breek of is almal al klaar gebruik, want hy gooi die een ná die ander weg. Vlooi word al kwater en spring teen die hek op, maar deins terug toe die soveelste vuurhoutjie skielik vlam vat. Die man hou die vuurhoutjie by die nommer op die hekkie en bring sy gesig nader – en Danda voel hoe sy vel skielik yskoud word. Die hand wat die vuurhoutjie bewerig vashou, is gebreklik; dit lyk soos ’n valk se poot. En die gesig wat langs die vlammetjie verskyn, is vol stoppelbaard en moesies, en die neus is benerig en baie krom en vol