Die vlymskerp snytang byt stukkie vir stukkie deur die kabel se staal. Dan is dit middeldeur en hy buig die punte weg.
’n Nylontou word aan die rooikrans vasgemaak en oor die muur gegooi. Hy spring agterna en land liggies op sy voete in die skaduwee van die versorgde struike. Wanneer hy omkyk, sien hy die tou steek nie af teen die muur nie. Niemand behoort dit raak te sien voor hy dit weer nodig het nie.
Sy volgende besluit is hoe om by die huis te kom. Die grasperke sal sonder trapdrade wees, maar daar kan hy gesien word. Tussen die tuin se ruigtes kan hy wegsmelt, maar net so maklik ’n gestelde draad aftrap.
Die dobermanns is die sleutel. Geen trapdraad sal laer as ’n meter bo die grond wees nie, anders sal die honde dit gereeld ontwrig. Hy sak af op sy knieë en begin hande-viervoet deur die plante beweeg.
Stemme ruk hom tot stilstand. Hy gaan lê op sy maag en luister.
“Ek weet nie. Hulle is daardie kant toe. Haastig. Hulle sal wel blaf as daar moeilikheid is.”
Die sekuriteitsmanne is nog ’n entjie van hom af, op die grasperk. Het hulle besluit om nou te patrolleer? Kan nie wees nie. Dit is gewoonlik hul televisiekyktyd.
“Wil jy gaan kyk?” vra die ander stem.
“Die fokken honde. Jaag seker weer ’n haas of ’n uil. Mal diere.” Die wag steek ’n sigaret op. Dan draai hy om. Hulle stap in die rigting van die wagkamer.
Hy wag tot hy nie meer die kooltjie van die sigaret kan sien nie. Dan begin hy weer sy ongemaklike tog.
Die eerste trapdraad is net tien meter van die huis af. Slim, dink hy. Dit is waar jy ’n trapdraad nodig het. Waar ’n indringer al gerus genoeg is om regop te loop.
Hy liasseer dié inligting. Iewers in sy agterkop is ’n ongemaklikheid besig om te vorm. Spano het die geld om die beste sekuriteitskonsultante te huur. Hoekom was dit tot nou toe so maklik?
Die tweede trapdraad is só slim versteek dat hy skielik ’n dosis adrenalien in sy bloed kry. Dit is net sentimeters van die grond af, reg teen die huis se muur. Waar honde nie sal loop nie. Maar net mooi waar mense sal wil staan om by die venster in te kyk.
Hy begin nou baie versigtig langs die huis af beweeg na die groot stoep toe. Hy weet Spano is nie daar nie. Die werkers is al weg en die wagte kom nooit in die huis nie.
As hy eers in is, is hy veilig. Of is hy? Die brein wat die trapdrade beplan het, ken sy storie. Iewers wag daar nog ’n verrassing.
Tussen die ruim stoep en die tuin is ’n heuphoogte muurtjie. Hy ondersoek dit deeglik voor hy versigtig oorklim. Dan is hy op die koue leiklipvloer. Voor hom is die groot vensters en glasdeure wat na die sitkamer lei – sy ingang tot die huis.
Hy gaan sit by die groot venster en skep asem. Dan steek hy sy hand in die sak en vind die plekkie van die infrarooi-stel. Die kopstuk is Amerikaans. Hy het dit in Denver oor die toonbank gekoop, by ’n oorskotwinkel.
Hy sit dit oor sy oë en stel die helderheid en fokus. Deur die lense sien hy die spookagtige rooi skynsel van die infrastrale wat oor die meubels in die sitkamer speel. Toe die fokus reg is, druk hy sy kop tot byna teen die venster en begin na die alarmstelsels teen die vertrek se mure soek.
Die ultrasoniese sensor sit lewensgroot in een hoek, sy enkele oog aan die gloei. Reg geraai. Een–nul.
Dié sensors kan nie weggesteek word nie. Dit moet juis só geplaas word dat die klankgolwe ’n patroon kan vorm van die vertrek. Maar dit is te maklik.
Net ’n ultrasoniese stelsel? Nie die brein wat die trapdrade geplaas het nie. Hy haal diep asem en voel hoe ’n straaltjie sweet by sy ruggraat afrol.
Wat sou hý gedoen het? Trapplaat teen die venster? Nie in ’n vertrek wat dikwels gebruik word nie. Temperatuursensors? Dan sou hy getuienis daarvan kon sien. Kontakalarm. Dit is wat hy sou gedoen het. Doodgewone breekstroom-kontakalarm. Gaan ’n deur of venster oop, breek die stroom en die alarm loei. Of lui geruisloos by die sekuriteitswagte.
Daar is net een manier om uit te vind. Maar eers moet hy ontslae raak van die ultrasoniese sensor.
Hy het na Smittie toe gery toe hy hoor van die ultrasoniese stelsel.
“Net een ding wat jy kan doen,” het Smittie met sy gewone lesing begin. “Die sensor is die bron van die klankgolwe. Die golwe word deur alles in die vertrek weerkaats, terug na die sensor, wat die patroon registreer. Versteur jy dié patroon, sit jou turf.”
Toe die toets, asof hy Smittie se student is: “Wat is jou oplossing?”
“Ontwrig die elektrisiteitstoevoer van die landgoed – en die sensor werk nie meer nie.”
Smittie het gefrons. “Te maklik. Hulle sal ’n noodstelsel hê. Opwekker iewers.”
Hy het na die dak gestaar, asof hy dink. En deur die ritueel met Smittie gegaan.
“Die oplossing is eenvoudig. Dink.”
Hy was nie lus vir dink nie. Hy wou net die werk klaarkry en teruggaan huis toe. “Ek weet nie, Smittie. Sê my.”
Smittie het gesug en sy kop geskud. “Jy is lui. Dit is so maklik. Al wat jy moet doen, is om die sensor uit te skakel.”
Hy steek sy hand in die sak en haal die glassnyer uit. Die diamantpunt kerf met ’n dun geluid deur die glas. Hy sny ’n gat so groot soos ’n tweerandstuk – net mooi ooghoogte as hy op sy knieë sit.
Dan druk hy die stukkie uitgesnyde glas na binne, waar dit geruisloos op die sitkamermat val. Volgens Smittie kan só ’n klein glasstukkie nie die ultrasoniese patroon versteur nie.
Terwyl hy die pistool uithaal, glimlag hy. Smittie het soos gewoonlik sy neus opgetrek toe hy die .22-Hammerli aan hom wou wys. “Jy weet hoe ek oor instrumente van geweld voel,” het hy met ’n frons gesê. Maar Smittie se wetenskaplike nuuskierigheid kon nie die Switserse vakmanskap of die laservisier weerstaan nie. En hy het die knaldemper met sy gewone presiesheid vervaardig.
“Dit sal nie meer geraas maak as iemand wat saggies hoes nie. Die groot voordeel is dat die ammunisie se lading te klein is om die koeël deur die klankgrens te stoot. Jy het dus min lawaai om mee te begin,” was Smittie se lesing voor hy bereid was om die werking van die laservisier te bespreek.
Hy haal die infrarooi-kopstuk af en sit dit in die borssak. Dan skakel hy die laser aan wat soos ’n parasiet bo-op die lenige lyne van die Hammerli klou. Dit werp ’n dun rooi straal deur die venster en maak ’n klein rooi kolletjie teen die sitkamermuur.
Hy rig die pistool deur die gaatjie in die glas, sodat die laser se kol op die ultrasoniese sensor tot stilstand kom.
Dit is ’n maklike skoot, ’n raps oor die tien meter. En Smittie se knaldemper werk. Die skoot is ’n sagte, dowwe plof. Die sensor se pienk oog knip finaal. Die outomatiese meganisme spoeg die klein doppie tot op die vloer. Hy tel dit versigtig op en bêre dit saam met die pistool.
Hy wonder hoe dit met Carla gaan. Maak sy die manne mal?
Alles is stil. As iemand die skoot gehoor het, is daar geen teken dat hulle reageer nie.
Hy sit weer die infrarooi-kopstuk op en skroef dan Smittie se loerspieël aanmekaar. Dit bestaan uit twee dun metaalstange wat oopvou om ’n hoek van 90 grade te vorm. Aan die een punt is ’n klein spieëltjie, so groot soos ’n muntstuk. Die spieël is van eenrigtingglas, want ’n infrarooi lampie is daaragter aangebring. “Om onder rokke en om hoeke te loer,” was die opdrag vir Smittie. En Smittie se antwoord: “As hulle jou in ’n dameskoshuis vang met hierdie ding, sluit hulle jou toe.”
Die spieëltjie pas net mooi deur die gat van die glas. Dan draai hy die stang sodat dit terugkaats wat hy nie kan sien nie – die boonste lys van die venster aan die binnekant van die vertrek. Hy blaas sy asem met ’n plofslag uit as hy die fyn draadjies van die kontakalarm teen die venster sien. Twee–nul vir die goeie ouens.
’n