Wie met vuur speel. Deon Meyer. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Deon Meyer
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Ужасы и Мистика
Год издания: 0
isbn: 9780624056324
Скачать книгу
baie dinge – ook die telefoonnommer wat nie in die boek is nie. Van Sitterd sou wou wag tot hulle gevestig is. Sy staan op en bedank Maggie Oosthuizen, wat kreunend en steunend uit die stoel opstaan. Ragel groet by die deur. Dan stap sy terug winkel toe en slyp tande vir wanneer Dirk bel. Sy het die reg om te weet as die prokureur wat haar transaksie hanteer, van kantore verwissel.

      By die winkel bel sy haar bank. Snyman verseker haar dat hulle die vorige dag die geld onmiddellik na die prokureurs se rekening laat oorplaas het. Sy bedank hom en leun terug in haar stoel. Dít het ten minste reg afgeloop.

      Die dag gaan traag verby, sonder taal of tyding van Dirk. Die aand skakel Ragel vir die eerste keer in weke die televisiestel aan. Sy wil nie Mignon bel en haar lot bekla nie. Vriendskap is darem nie om net kontak te maak as jy verveeld of ongelukkig is nie. Haar humeurigheid vir Dirk gaan stelselmatig oor in die wete dat sy ’n lang, ernstige gesprek met hom sal moet hê. Sy verstaan dat ’n man sy werk wil doen sonder dat hy kort-kort hoef te bel, maar daar is darem perke. En wanneer sy R750 000 bestee, het sy die reg om ten volle ingelig te wees.

      Sy raak voor die televisie aan die slaap en moet laatnag die trap opstrompel om in haar bed te gaan rondrol.

      Die volgende dag is sy tam en die tyd wil maar net nie verbygaan nie. En Dirk wil maar net nie bel nie. Frikkie kan sien sy is omgekrap en speel al haar gunsteling-operamusiek terwyl hy die een beker koffie na die ander aandra.

      Teen laatmiddag aanvaar sy dat iets moet voorgeval het. Dalk is daar nie ’n telefoon op die wildplaas nie en hul motor het gebreek. Dirk kon selfs in ’n ongeluk betrokke geraak het. Niemand sal dink om haar te laat weet as hy nie by sy bewussyn is nie . . .

      Sy bel vir Mignon net voor sy huis toe gaan.

      “O, jy leef nog?”

      “Ook maar net-net.” Ragel vertel haar van Dirk se werkverpligtinge.

      “Ja-nee, Ragel Bergh, jy kan nie albei kante van jou brood gebotter wil hê nie. Jy het ’n skatryk, suksesvolle, aantreklike man gevang wat boonop ’n tier in die bed is . . .”

      “Mignon!”

      “Praat ek die waarheid of praat ek nié die waarheid nie? En nou raak jy ongelukkig as Meneer Perfek sy werk moet gaan doen.”

      “Jy is reg. Maar hy kan darem wragtig bel . . .”

      “Ragel, as mans saam jag, visvang of drink, is die laaste ding waaraan hulle dink die vroutjie by die huis.”

      Ragel sug. “Ek is nog nie eens die vroutjie by die huis nie. Ek is veronderstel om nuut en opwindend te wees.”

      “Mans redeneer nie so nie. Jy sal sien, hy sal môre druipstert hier aankom met ’n tweedagbaard, ’n skuldige glimlag en daardie ‘kom hier’-trek in sy oë. Ek ken hulle. My pa was so, my broers is so en elke man wat kom vlerksleep, is so.”

      Ragel lag. “Jy moet ’n boek skryf.”

      “Nie vanaand nie. Wat wil jy doen? By die huis lê en jou bekommer of saam met my gaan fliek?”

      “Het jy nie ’n afspraak vir ’n Vrydagaand nie?” vra Ragel gemaak geskok.

      “O, ek ís gevra. Maar ek raak te kieskeurig.”

      “Wil jy nie by my kom eet nie? Ons kan ’n video kry. Jou keuse. Ek is bang Dirk bel.”

      “Ragel Bergh, jy is so verlief dat jy nie reg kan dink nie. Moenie soos ’n moedertjie by die huis sit en wag nie. Laat hy bel en wakker lê omdat hy nie weet waar jy is nie.”

      “Nee. Sê nou maar net hy was in ’n ongeluk?”

      “Dan kan jy vanaand net so min iets daaraan doen as môreoggend. Dit sal jou goed doen om uit te kom en vir ’n verandering goeie geselskap te geniet.”

      “Nogal!”

      “Ek kom haal jou so teen agtuur.”

      Sy huiwer ’n oomblik. “Goed. Ek sal die winkel se antwoordmasjien by die huis gaan koppel.”

      “Bangbroek!”

      “Sien jou later.”

      Daar is geen boodskap op die masjien toe Ragel laataand inkom nie. Sy rol weer rond en droom deurmekaar drome van ongelukke en Dirk wat saam met eksotiese vroue om ’n kampvuur dans.

      Die Saterdagoggend is dit haar beurt om te werk. Dit is ’n reënerige dag en die winkel is stil. Sy mis die gerusstellende teenwoordigheid van Frikkie, wat sy vry naweek gebruik om op die platteland na skaars boeke te gaan soek.

      Die telefoon in die winkel lui net twee keer. Elke keer skrik sy en hardloop net om teleurgesteld met eers ’n kliënt en daarna met Mignon te praat.

      Mignon nooi haar saam na die opening van ’n kunsgalery op Stellenbosch, maar Ragel wil nie gaan nie. Weer praat Mignon haar om. Wanneer sy eenuur die winkel sluit, besluit sy om ’n boodskap by Dirk se woonstel te gaan laat as hy dalk vandag huis toe sou kom.

      In die hysbak herroep sy die vorige keer toe sy en Dirk daarin gery het, en die verlange na hom versprei soos ’n pyn deur haar.

      Sy sien Dirk se woonsteldeur staan oop. Hy het seker nou net teruggekom, dink sy, en die verligting gaan onmiddellik oor in woede omdat hy nie gebel het nie.

      Toe sy die deur oopstoot en sien die woonstel is dolleeg, is die skok so groot dat sy begin huil.

      ’n Man steek sy kop verbaas om een van die binnedeure van die woonstel. “Kan ek help?” Hy kom met ’n besem in die hand aangestap.

      “Is dit Dirk Buchner se woonstel?”

      “Dit wás. Meneer Buchner het Donderdagmiddag sak en pak uitgetrek.”

      Dit tref Ragel soos ’n vuishou in die maag. “Donderdag?” Sy snak na haar asem. Dis asof naalde en spelde in haar hande en voete steek.

      “Donderdag?” herhaal sy.

      “Ja, juffrou. Ek is die opsigter. Hy het die sleutel Donderdag kom teruggee en gesê ek moet net oopsluit as die mense die meubels kom haal. Hy het dit glo gehuur van Cape Interiors. Toe is hy vort. Opbetaal, einde van die kontrak.”

      “Waarheen? Het hy . . .?” Maar in haar agterkop ken sy die antwoord.

      “Hy het nie gesê nie. Maar hy was haastig. Hy het twee groot tasse gehad. Ek het hom nog help dra tot by die kar.”

      Ragel wil sit, maar daar is niks om op te sit nie. Sy wil vlug. Sy wil huil. Sy wil skree. Sy wil iemand se arms om haar hê en ’n stem wat sê dit is net ’n grap, ’n misverstand.

      Sy prewel ’n dankie en stap uit. Sy kan later byna niks van die rit na Mignon se blyplek onthou nie. As Mignon die deur oopmaak, huil Ragel onbeheers.

      “Ek is in die moeilikheid,” is eers al wat sy kan uitkry. Mignon maak tee terwyl Ragel begin vertel – van die geld, die transaksie en die verdwyning van Van Sitterd en Dirk Buchner. Mignon swets soos ’n veteraan wanneer sy besef wat gebeur het. En sy kry Ragel diep en innig jammer, want sy weet hoeveel pyn daar wag.

      Wanneer sy Ragel genoeg gekalmeer het, skakel hulle die polisie. “Dit is beter as julle stasie toe kom,” sê die konstabel op diens.

      In die aanklagkantoor doen Mignon die praatwerk. Die konstabel skrik toe hy hoor watter bedrag betrokke is, en vou die bruin lêer toe waarin hy begin skryf het. “Ek dink dit is beter as ek dadelik die speurders kry.”

      Hulle sit ’n halfuur lank op die koue, harde houtbankie van die aanklagkantoor voor ’n reus by die deur ingestap kom.

      “Naand, kaptein,” groet die konstabel versigtig.

      “Naand,” sê die groot man. Hy was duidelik op pad na ’n rugbywedstryd toe. ’n Laphoedjie waarop staan Ek ♥ WP sit op sy agterkop en hy dra ’n blou sitkussing in sy hand. Hy lyk na ’n seerower – deurmekaar rooi hare, woeste vlamrooi baard, ’n litteken wat van bo sy linkeroog loop tot waar dit onder die baard op sy ken verdwyn. Sy neus is krom en plat, soos