Die hoof van GROEN (die Geografiese en Ruimtelike Organisasie vir Ekologiese Navorsing), die agentskap waarvoor Anna se ouers werk. Die doel van die organisasie is om die aarde se ekosisteem te help bewaar.
Uranus Draak
Die slimste wetenskaplike in die wêreld. Hy was ’n kollega van Anna se ouers. Sy plan is om die mensemassa op aarde uit te dun sodat die natuur weer kan herstel van al die nadelige effekte wat die moderne beskawing op ons planeet het.
Darius Draak
Uranus Draak se nefie. Hy is op kosskool in Switserland, maar bring nou sy vakansies op MonPetit deur. Hy het rooi hare soos sy oom, en die gewoonte om altyd deuntjies te loop en fluit.
Hannes Haringblad
’n Junior navorsingsassistent wat werk by die Atoomversnellingsnavorsingsinstituut in Switserland. Hy droom daarvan om ’n belangrike wetenskaplike ontdekking te doen.
Vesuvius Valk
Hy kom van Lapland en het beroemdheid verwerf met sy reeks televisieprogramme oor vulkane.
Doktor Migdol
Die enigste vroulike wetenskaplike op die direksie van GROEN. Sy dra altyd haar hare in ’n stywe bolla en is toegewyd aan haar taak om klimaatsverandering te keer.
Brik en Frik
Twee doodgewone skelms wat vir Uranus Draak werk. Hulle is sterk en gewetenloos en speel graag kaart.
In die middel van die nag
Anna skrik wakker en sit penorent in haar bed.
Alles is doodstil. Brak sit in die hoek van haar kamer en die liggies agter sy ooglense gloei dofweg. Hy is nog in sy slaapprogram. Hy skakel homself elke oggend klokslag sesuur aan, en dan begin hy dadelik in die kamer rondspring.
Dit is bykans stikdonker.
Anna stoot die laken van haar af en swaai haar voete oor die rand van die bed. Iets het haar wakker gemaak, maar alles is nou doodstil afgesien van die see wat sag sug onder in die baai. Sy voel met haar tone na die houtvloer en leun vorentoe. Sy spits haar ore en onderskei die sagte tjr-tjr van die dakwaaier wat die soel naglug deur haar kamer sirkuleer. ’n Muskiet het haar op haar boarm gebyt en sy krap die jeukplek ingedagte.
Hoe laat kan dit wees? Die res van die huismense slaap sekerlik vas. So geruisloos as moontlik stap sy na haar venster. Die maan is so donker dat sy die wasige plasma van die ruimte tussen die sterre van die Melkweg kan sien hang.
“Die ruimte is nie leeg nie!” het Ton haar vertel. “Die spasie tussen die sterre is oorweldigend groot, maar dit is gevul met vrye ione en elektromagnetiese golwe onsigbaar vir die menslike oog.” Vir Anna voel die ruimte onbereikbaar ver, en baie leeg. Iewers daar bo wentel haar pa se RuimteArk, gemaak uit dik, halfdeursigtige materiaal wat geen lig weerkaats nie. Onsigbaar.
Sy wonder wat hy nou doen?
Dan hoor sy dit weer. Is dít die geluid wat haar wakker gemaak het? Dit is ’n veraf gezoem, soos bye wat druk aan die werk is. Sy stoot die houtluik van haar venster verder oop en gaan sit op die vensterbank voor sy haar bene na buite swaai. Geruisloos stap Anna na die rand van die stoep en tuur uit oor MonPetit-eiland.
Die see lê wyd en stil soos ’n donker spieël. ’n Briesie roer die blare van die palmbome langs die huis. ’n Skielike plofgeluid laat haar wip van die skrik. Sy ontspan gou weer, want sy ken daardie geluid – dit is net ’n ryp kokosneut wat val. Maar tog … daar is iets in die lug wat haar pla en sy span haar sintuie in om dit vas te pen. Die strandhut wat die ingang na haar ma se laboratorium versteek, lyk pikdonker. Die sanderige paadjie af na die baai glim dof in die sterlig. Digte plantegroei vou die slapende eiland toe in ’n knus kombers van blare.
Anna hoor ’n paar paddas kwaak vanuit die rigting van die granietspits wat die hoogste punt van hul eiland vorm – daar is ’n krans waar die water altyd drup en die grond klam bly. Sy klap weer na ’n muskiet wat honger naderzoem. Dan vang iets haar oog: ’n vreemde gloed tussen die blare agter die huis. Dit lyk asof dit na die middel van die eiland beweeg. Sy stap om die stoep na die agterkant van die huis om beter te kan sien. Vir ’n oomblik dink sy dat sy haar net verbeel het – alles is donker en stil. Maar dan sien sy dit weer – ’n ligstreep van stippels wat stadig opkruip teen die paadjie na die krans, en dan skielik weer verdwyn.
Anna se nuuskierigheid kry die oorhand. Sy draai om en glip terug oor die vensterbank na haar kamer. Sy vroetel in die laai van haar bedkassie en haar vingers vind haar flits. Sy gebruik dit gewoonlik net om haar plakkies in die chaos van haar hangkas se bodem op te spoor, maar nou kan dit uiteindelik ’n behoorlike doel dien!
Sy skakel nie die lig aan nie. Voor sy nie weet of die ligspikkels dalk net haar verbeelding is nie, gaan sy liewer niemand anders pla nie.
Die tropiese nag is bedompig en gou word die dun T-hemp waarin sy geslaap het klam van die sweet terwyl sy die paadjie wat teen die steil helling na die middel van die eiland kronkel, volg. Daar is ’n uitkykpunt bo-op die spits. Sy en Pip sit graag daar om die skepe wat verbyvaar dop te hou, en soms hou hulle klipgooiwedstryde na die toppe van die bome onder hulle.
Die paadjie is oorgroei met lowerryke tropiese plante, en hier en daar moet sy koes vir die sterk spindrade van palmspinnekoppe se webbe. Sy weet hulle is skadeloos, maar nogtans gril sy vir die reusegediertes, sommige van hulle so groot soos haar hand. In die ligstraal van die flits lyk die spinnekoppe nog meer skrikwekkend, en Anna wonder of dit so ’n slim idee was om haar ondersoek alleen aan te pak.
Maar daar is dit weer, sommer naby haar! Die liggies is nou duideliker, en sy kan sien hoe hulle in ’n reguit lyn saamvlieg voor hulle teen die krans verdwyn. Dit lyk sowaar soos ’n stroom vuurvliegies op pad na ’n geheime vuurvliegvergadering!
Sy het nog nooit ’n regte vuurvliegie gesien nie, maar sy onthou prentjies van hierdie oulike insekte uit ’n boek vol feëverhale waarvoor sy besonder lief was toe sy nog ’n klein dogtertjie was. Die boek het steeds ’n ereplek op haar boekrak: die hoeke van die buiteblad voos gevat en die bladsye geskif van eindelose kyk na die mooi prentjies daarbinne.
Vuurvliegies
Vuurvliegies