Die kind kyk haar ’n oomblik aan, dan sê sy stroef: “Jessie was in die kajuit. Ek het dit reeds vir haar gegee.”
“Ek is jammer,” sê Emma sag. “Maar dis net my verdiende loon, nè?”
“Gelukkig het jy ander presente ook gekry. Verskoon my,” sê Aletta en stap terug na waar haar pa vir haar wag.
Emma se gemoedsrus is daarmee heen, sy is wawyd wakker. Sy hoop hulle sal voortaan uit haar pad bly! Sy hou vakansie, sy wil haar nie met ander mense se sake bemoei nie. Sy sal nie toelaat dat hulle haar verder ontstig nie. Met ’n suggie tel sy die boek op haar skoot op en begin daarin blaai.
Daar kry Phil de Klerk haar ’n halfuur later.
“Is dit wat jy die hele oggend gedoen het? ’n Sterk, gesonde meisiekind soos jy?”
“En wat het jy gedoen dat jy so vol van jouself is?”
“Ek het twee uur gewerk, daarna het ek gaan swem en toe het ek ’n halfuur in die gimnasium geoefen. Ek wou jou nooi om saam te gaan swem, maar dis nog ’n bietjie koud. Julle Wes-Transvalers is seker nie heeltemal so taai as wat julle voorgee nie. Kom, ’n bietjie oefening sal jou goed doen. ’n Paar rondtes om die dek, dan gaan drink ons ’n drankie.”
Hy steek sy hand na haar uit en trek haar gemaklik langs hom op.
“Waaraan het jy so hard gewerk?” vra sy. “Of is dit ’n staatsgeheim?”
“Ek is besig met ’n reeks artikels wat ek wil klaarmaak voor ons in Southampton kom.” Hy kyk glimlaggend af na haar. “Maar hier is afleidings waarop ek nie gereken het nie.”
Lig loop, Emma Conradie, sê sy vir haarself. Jy het gehoor wat jou tannie Bettie gesê het.
“Dis tog seker die eerste ding wat ’n ambisieuse man leer – om hom nie sommer deur afleidings van stryk te laat bring nie,” sê sy liggies.
“Ons Kapenaars het al sag geword,” terg hy. “Vir ons is die stryd verby. Ons het nie die weerstand teen versoekings van ons landgenote anderkant die Grootrivier nie.”
“Ons is weer terug by die politiek, nè? Wel, ek gaan nie byt nie.”
’n Aankondiging word oor die luidsprekers gemaak en hulle staan stil om te luister. ’n Finse tenkskip is op die horison aan bakboord sigbaar. Saam met ’n paar nuuskieriges haas hulle hulle na die kant van die skip, waar ’n donker vlek soos ’n skaduwee teen die blou oggendlug lê. ’n Paar oomblikke is die buitelyne van die skip self sigbaar en dan verdwyn dit weer agter die horison.
“Is jy ’n vryskutjoernalis?” vra sy toe hulle verder stap. “Of werk jy vir ’n koerant?”
“Vryskutjoernalis, deeltydse radioman, en tussenin werk ek aan die groot Afrikaanse roman.” Hy is ’n rukkie stil, dan sê hy: “Voor ons in Southampton aankom, moet ek ’n belangrike besluit neem. Ek is ’n redakteurskap aangebied en ek moet voor dan besluit of ek dit gaan aanvaar.”
Emma kyk hom met nuwe respek aan.
“Dis ’n groot eer, is dit nie? En seker nie ’n aanbod wat ’n ernstige joernalis maklik van die hand kan wys nie?”
“Dis ’n wonderlike aanbod. Miskien die droom van elke koerantman. Maar dit hang af wat ’n mens uit die lewe wil hê. As ek ja sê, kan dit tot groot dinge lei, maar terselfdertyd lewer ek myself uit aan die dwingelandy van die pers en die politiek. Nou ja, Southampton lê nog ver. Praat asseblief net nie hiervan nie. Dis nie juis ’n geheim nie; Markus weet – hy is in die direksie van die koerant en voel baie sterk dat ek die pos moet aanvaar. Maar ek wil nie hê dit moet nou al hier op die skip rugbaar word nie.”
Sy knik. “Ek sal niks sê nie.” Sy wens sy het die moed gehad om te vra: Hoe voel jou vrou oor die saak? Maar sy sê niks nie. Miskien wil sy liewer nie die antwoord op haar vraag hoor nie?
Конец ознакомительного фрагмента.
Текст предоставлен ООО «ЛитРес».
Прочитайте эту книгу целиком, купив полную легальную версию на ЛитРес.
Безопасно оплатить книгу можно банковской картой Visa, MasterCard, Maestro, со счета мобильного телефона, с платежного терминала, в салоне МТС или Связной, через PayPal, WebMoney, Яндекс.Деньги, QIWI Кошелек, бонусными картами или другим удобным Вам способом.