Annelize Morgan Omnibus 4. Annelize Morgan. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Annelize Morgan
Издательство: Ingram
Серия: Annelize Morgan-omnibus
Жанр произведения: Короткие любовные романы
Год издания: 0
isbn: 9780624058748
Скачать книгу
moeilikheid gaan soek nie. Sy weet nie of sy haarself sal kan beteuel nie, en as sy opstandig raak, sal sy weer gestraf word.

      Beatrice staan ’n tree of wat nader en beskou haar ingedagte.

      “Jy kan van dié een ontslae raak, Jacques,” sê sy asof sy van ’n perd praat. “Jy weet tog self dat jy nie veel nut vir haar het nie.”

      Leia kyk nie op nie, maar so tussen haar werkery deur loer sy na die graaf wat met ’n strak gesig bly staan.

      “En hoekom moet ek?” wil hy weet.

      “Jy behoort ’n goeie prys vir haar te kan kry,” gaan Beatrice ongeërg voort. “Jy het my tog belowe dat jy vir my daardie pragtige merrie by monsieur Du Toit sal koop.”

      “Ek het nie nodig om my slawe te verkoop om ’n perd te kan bekostig nie, Beatrice.”

      Sy haal haar skouers liggies op. “Ek sou dink dat dit ’n goeie ruil sal wees.”

      Leia veg teen haar woede. Dis vernederend om na dieselfde waarde as ’n perd geskat te word. Haar hande ruk liggies terwyl sy die trosse druiwe uitdun. Ek sal haar nog eendag vermoor! dink sy wrewelrig.

      Beatrice lag. “Het sy dan die plek van jou hanslam ingeneem, Jacques! Ek weet ek het gesê dat jy haar miskien nie moet verkoop nie, maar ek het daaroor nagedink. Sy bring vir jou meer moeilikheid as wat nodig is.”

      “Daaroor sal ek self besluit,” sê hy.

      Beatrice kyk op na hom. “Lantini is terug in die Kaap en hy het na haar verneem. Hy kan ’n enorme bedrag vir haar kry en is bereid om haar by jou terug te koop.”

      “Lantini is ’n vark,” sê hy met gevoel. “Ek onderhandel nie meer met hom nie.”

      Sy betrag hom skewekop. “Dis nie goeie besigheid nie, Jacques. Lantini meen dat haar waarde vermeerder het noudat sy met die beskawing in aanraking was.”

      “Ek dink nie ons hoef verder hieroor te praat nie,” sê hy kortaf en draai om om weg te stap.

      Beatrice volg hom. “Jy kan dit darem net oorweeg,” sê sy vies. “Vierduisend dukate vir een artikel is nie te versmaai nie.”

      Leia kan nie hoor wat hy antwoord nie. Die woede kook in haar. Die vrou se koelbloedigheid maak haar blind van woede. Eendag is eendag …

      Die woede bly kook en borrel in haar. Sy rig dit teen alles en almal om haar. Tot teen Bako wat sy lot met gelatenheid aanvaar. Ook teen die graaf De la Fontaine wat hom aan ’n listige vrou soos Beatrice kan steur.

      Teen sononder loop sy en Bako saam terug na die slawehuisies. Hy ken teen hierdie tyd daardie onnatuurlike glins­tering in haar oë en wonder wat weer gebeur het. Hy het die graaf en Beatrice de Boudelaire by Leia gesien, maar hy kon nie hoor wat hulle praat nie. Daarna was die haat weer vlak in Leia se oë.

      “Die vrou is onbelangrik, Leia,” sê hy paaiend. “Solank die graaf aan jou kant is, is jy veilig.”

      “Sy is listig, Bako,” antwoord Leia bewend. “Sy sal hom nog eendag oortuig dat ek net een van sy … besittings is.”

      “Kan jy nie sien dat sy jou wíl kwaad maak nie? Sy weet baie goed dat, as jy in opstand kom, jy weer gestraf gaan word. Bly net stil en alles sal oorwaai.”

      “Hy kon anders opgetree het,” sê sy bot. “Hy kon my as iets anders as … ’n artikel beskryf het.”

      “Hy het dít sekerlik nie gedoen nie.”

      “Nee, maar hy het dit ook nie weerspreek nie. Hy verskil niks van daardie wyfieslang nie.”

      Bako frons. “Het jy haar teruggeantwoord?”

      “Sy het nie met my gepraat nie. Hy ook nie. Hulle het my gestaan en bespreek asof ek net ’n ding is wat nie kan hoor of sien nie.”

      Bako lyk openlik verlig. “Dis goed dat jy stilgebly het.”

      Die aand by die vuur is Leia rusteloos. Selfs die houtmasker waaraan sy so geduldig sit en kerf, kan nie haar aandag hou nie. Haar hart is nie by haar taak nie, en ná ’n rukkie sit sy die masker op die grond langs haar neer en staan op.

      Sy is al ’n ent weg in die donker toe sy besef dat sy nog die mes waarmee sy gekerf het, in haar hande het. Met ’n skouerophaling steek sy dit in haar gordel en stap verder.

      In die herehuis brand die lampe vrolik. Sy kan mense daar binne sien beweeg en bly roerloos in die donker skaduwees van die struike staan. Sy hoor Beatrice opgewek lag en die suiwer klanke van ’n klavesimbel bereik haar ore.

      Die deur gaan skielik oop, en dan kom die graaf en die meisie uit. Hulle staan lank daar in mekaar se arms terwyl Leia met ’n bonsende hart toekyk.

      Dis hoe dit altyd sal wees, dink Leia. Hy sal altyd daar in die lig en weelde wees, en ek hier buite in die donker en armoede. Hy sal geluk en vreugde ken, en ek net my verlange en hartseer.

      Sy byt op haar tande en draai haar rug op hulle. Haar hart bons versmorend in haar keel. Haat en liefde is baie na aan mekaar, en op hierdie oomblik haat sy die graaf. Sy moes hom lankal vermoor het. Sy moes nooit toegelaat het dat haar emosies haar gesonde verstand oorheers nie. As sy hom doodgemaak het, sou haar eie lewe ook geëindig het, maar dis veel beter as hierdie daaglikse frustrasies en verlange en woede en hartseer. Dit sal beter wees as hierdie sinnelose, hol bestaan wat sy gedwing word om te voer.

      Sy kyk versigtig terug na die huis en sien Beatrice by die deur ingaan. Die graaf bly nog ’n paar sekondes lank op die stoep staan en dan kom hy ingedagte afgestap na die tuin.

      Leia hou hom dop tot hy tussen die struike verdwyn en dan sien sy hom weer ’n klein entjie van haar af in die flou lig van die maan. Hy kom met sy rug teen ’n boom staan, skynbaar heeltemal onbewus van sy omgewing.

      Haar hart bons wild. As ek hom nou vermoor, sal niemand weet wie dit gedoen het nie. Ek kan hom vir ewig uitwis en ’n einde aan alles maak. Ek sal weer vry wees.

      Haar hande is klam van die sweet toe sy die mes uit haar gordel haal. Haar hart maak beswaar, maar sy wil nie luister nie. Hy is vir haar verteenwoordigend van al die Lantini’s van die wêreld, van al die slawehandelaars en kopers van slawe.

      Hy lig sy kop toe sy nader kom, maar kyk nie in haar rigting nie. Dalk voel hy aan dat alles nie pluis is nie, dink sy. Vanaand gaan ek my wreek op die mense wat ons ver van ons tuistes af in kettings dwing.

      Sy is skaars vyf tree van hom af en sy kan nie misgooi nie. Net ’n oomblik lank kyk sy na sy aantreklike gesig, die oë wat nou in swart skaduwees gehul is, sy hande wat liggies op sy heupe rus. Sy dwing die klaende stem van haar hart op die agtergrond. Sy sal nooit weer so ’n geleentheid kry om ’n einde aan alles te maak nie.

      Leia lig haar hand versigtig. Die beweging vang sy oog en hy ruk sy kop om na haar. Net ’n sekonde lank staar hulle in doodse stilte na mekaar. Dan byt Leia op haar tande en gooi die mes met al die krag wat sy in haar skraal liggaam het.

      5

      In die breuk van ’n sekonde waarin sy die mes gooi, ruk Leia se verstand tot helderheid. Net ’n klein, skaars merkbare beweging van haar gewrig verander die rigting van die mes en dit steek trillend vas in die skurwe stam van die boom, duime van die graaf se kop af.

      Hy het nie ’n fraksie geroer van die oomblik dat hy haar gesien het nie. Hy het nie sy kop weggeruk nie en ook nou bly hy nog roerloos na haar staan en kyk.

      Haar hele liggaam bewe van angs toe sy besef wat sy gedoen het. Sy sak op haar knieë neer en verberg haar gesig in haar hande. Maak my dood, pleit sy stom. Moenie hierdie marteling langer uitrek nie. Maak net ’n einde aan alles.

      Jacques de la Fontaine kyk af na die meisie wat ’n paar treë van hom af op die dounat gras hurk. Daar is geen manier waarop ek kan bewys dat ek haar geen kwaad wil aandoen nie, dink hy. Sy sal aanhou om my te haat omdat ons mekaar nooit werklik kan begryp nie. Sy kan nie hierdie nuwe lewe van haar aanvaar of verwerk nie.