God se pad van vryheid. Engela Linde. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Engela Linde
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Религия: прочее
Год издания: 0
isbn: 9780796313096
Скачать книгу
materie versamel, wat hitte vrystel. Indien die aarde hierdeur ’n liggewende ster geword het, sou die lig reeds van die son gekom het, maar verskans deur ’n “gewelf” of lugspasie tussen water en wolke. Soos die planeet afkoel, kondenseer vog op die aardoppervlak en die wolklaag verdun. Dat die aarde met water bedek was, klop met geologiese gegewens. Die magte van inkrimping laat nou droë grond uitstoot. Plantegroei volg, anders sou die suurstof met die rotse en metaal verbind en die atmosfeer uitput (plante as basiese dierevoedsel sou voor dierelewe kom). “God het die twee groot ligte gemaak.” Hiervolgens klink dit of die son ná die plantegroei gekom het, terwyl plante tog van die son afhanklik is. Volgens sekere vertalings het God egter in dié stadium die son in werking gestel (“made to function”), deur die wolkelaag oop te skuif. Die aarde beskik nog oor heelwat interne hitte, wat die vog in die lug hou vir ’n kweekhuistoestand. Nou kom die visse, deur navorsing geplaas in die Ordovekiaanse tydperk. Dan die voëls, vanuit die Jurassiese of daaropvolgende tydperk. Die diere kom, volgens argeologiese gegewens, ná die voëls. Die mens ontstaan in die laaste of Kwartêre tydperk.

      “Dit dan is die geskiedenis van die hemel en aarde toe hulle geskep is” (Gen 2:4). En dit is hoeveel ons hoef te weet. Aquinas het gesê: “Die finale menslike wete van God is om te weet dat ons nie weet nie.”

      GEBED: Indien ons alles van U verstaan het, Here, was U nie groot genoeg om God te wees nie. Ek wil liewer vrae met U hê as antwoorde sonder U.

      4 Januarie Genesis 3:12-23

      TWEE MENSE, EEN BOTSING

      Die vrou wat U my gegee het om my by te staan, sy het vir my van die boom se vrugte gegee, en ek het geëet (Gen 3:12).

      Eendag het daar iets merkwaardigs plaasgevind op Lambaréné, die wêreldbekende sendingstasie op die riviereiland in huidige Gaboen, gestig deur die gevierde dr Albert Schweitzer. Daar was ’n motorbotsing. Nie groot nuus nie? Ons is immers gewoond, veral in Suid-Afrika, aan die mees grusame botsings wat jaarliks duisende menselewens eis.

      Ja, maar … daar was net twee motors.

      Dít herinner ons aan die paradysverhaal. God skep twee mense, net twee, en heel gou vind daar ’n botsing plaas. Hierop volg beskuldigings, wantroue, blaam: “Dis nie ek nie.” Sedertdien is die mens se dilemma om met mekaar klaar te kom. Bowendien raak die daaglikse twispunte net al hoe meer. Kyk maar na die polemieke, ook en veral oor godsdiens, in dagblaaie. Die vol hofrolle. Die persentasie mislukte huwelike. Om nie te praat van webkletsery in al sy vorme nie, dikwels ’n geval van “spoeg en spog”. Dit geld ook die doodgewone teksboodskap of SMS. ’n Meisie wil een aan haar broer stuur oor hoe onbillik haar baas is … maar stuur dit per ongeluk aan die baas, wie se naam naby haar broer s’n op haar adreslys verskyn. Sy het probeer bely en versoen, maar was haar werk kwyt. Hoe kom mens oor so iets? Soms voel dit inderdaad of mens stukkend geslaan word op die rotse van saambestaan.

      Genadiglik is daar die keersy. “Yster slyp yster, so slyp die een mens die persoon van die ander,” verklaar Salomo (Spr 27:17 OAV). Albert Schweitzer skryf in sy jeugherinneringe: “Gewoonlik is alle goeie gedagtes soos brandstof in mense aanwesig, maar dikwels begin dit eers werklik brand as ’n vlammetjie van iemand anders dit in hom aansteek. Soms dreig ons lig om dood te gaan maar dan word dit deur ’n ervaring met iemand anders opnuut aangeskakel.” En “… verdra mekaar in liefde”, maan Paulus die Efesiërs (4:2).

      GEBED: U alleen weet, Here, hoe voos ek soms is van probeer vrede hou of herstel. Ek bid dat ek nie aanleiding tot misverstand sal gee en self nie te liggeraak sal wees nie.

      5 Januarie Genesis 6:9-22

      NOAG EN DIE SONDVLOED

      Ek gaan ’n oorstroming oor die aarde laat kom … (Gen 6:17).

      ’n Grootrivier-kind vind die arkgebeure nie vreemd nie. Hoe dikwels het gesinne tydens hoogwater per skuit van oorstroomde eilande af gevlug. Maar dit daar gelaat …

      Ander Mesopotamiese volke het ook hulle vloedverhale, soos in die Gilgamesj-epos. Daar was dus ’n vloed. Die Bybelse weergawe getuig egter van ’n lewende God teenoor ’n mitiese halfgod. Daar is vele berigte oor reste van die ark op Ararat, en ewe veel sinici. Gewoonlik hoon hulle die gedagte dat die diere so mak sou aanstap. Vereers was diere nog nie so wild vir die mens, latere uitroeier van die eersgeskapenes nie. Die mens het allengs vleiseter geword; hy was eers vegetariër (Gen 1:29). Daarbenewens is daar volop bewyse dat diere voor ’n natuurramp na hoë plekke vlug. In die Krugerwildtuin het dit in Januarie 2012 op land gewemel van waterskilpaaie. ’n Vorige waarneming van die verskynsel was tydens die tsoenami van 2004 in Indonesië. Met die aardbewing op 20 Februarie 1835 aan die Chileense kus het groot swerms seevoëls om 10:00 land-in begin vlieg, en die honde het na die heuwels gevlug (daar word gesê ’n goeie soldaat beweeg ook na hoë grond wanneer hy twyfel). Dié aardbewing het teen 11:40 begin, gevolg deur drie tsoenamis. Voor die aardbewing in San Francisco op 18 April 1906, was die stalperde uitermate onrustig.

      Noag sou op ’n hoogte bou, en hierheen sou die diere swerm, al die soorte van die omgewing so ver as wat die vloed sou tref. Maat by maat (indien paarseisoen), op soek na veiligheid en na kos, wat hulle van anderkant die plankbrug ruik. In Sleigh se Afstande (Tafelberg, 2010) wil ’n Griekse bokwagter saam met Xenophon se leër trek om Ararat te sien, en dalk die ark. Die generaal antwoord: “Ons wyk nie van die pad af nie. Jy sal in jou hart moet bly glo tot jy eendag hierheen kan terugkom.”

      GEBED: Here, soos die bokwagter wil ek in my hart bly glo totdat U eendag alles aan ons openbaar. Die getuienis van u almag is immers oorweldigend groot in en om ons.

      6 Januarie Genesis 12:1-9

      DIE ROEPING VAN ABRAM, WAT ABRAHAM WORD

      Die Here het vir Abram gesê: “Trek uit jou land uit … na die land toe wat Ek vir jou sal aanwys” (Gen 12:1).

      Die aantal Joodse en Oosterse legendes oor Abraham verraai dat hierdie merkwaardige man ’n bekende historiese figuur moet gewees het. Een legende lui dat hy as kind die son oor die woestyn sien opkom het. Hy sê toe: “Dit moet die Skeppergod wees. Ek sal kniel en hom aanbid.” Maar die son gaan weg, en die maan verskyn. Hy sê: “Dit moet die Skeppergod wees, vir wie ek sal aanbid.” Maar toe verdwyn die maan en die son kom weer op, en Abraham sê: “Sekerlik gehoorsaam hulle net skeppingswette. Ek sal Hom aanbid wat die wette gemaak het.”

      Inderdaad roep God vir Abram uit die veelgodedom van sy vader. Tera, nasaat van Sem, het in Ur van die Galdeërs (Babilonië) gewoon. Eendag vat hy sy getroude seun Abram en sy wees-kleinseun Lot, en vertrek Kanaän toe. Met ’n ompad (dalk om die Siriese woestyn te vermy?) kom hy 1 000 km verder aan in Paddan-Aram, waar hy hom in Haran vestig. Het Tera dalk reeds God se roepstem gehoor, maar te vas gewees aan sy gode? Josua 24:2-4 gee ’n aanduiding hiervan. Dalk begin die bejaarde Tera hier ’n nuwe gesin, want Abram trek weg van sy familie af (Gen 12:1) toe God hom Kanaän toe roep.

      Volgens sekere Skrifverwysings gebeur dit omstreeks 2090 vC. Die kaart teenoor Genesis 1 (NAV) wys hoe Abram in ’n omgekeerde “U” opbeweeg het van Ur oor Haran na Kanaän, waar God hom belowe: “Aan jou nageslag gee Ek hierdie land.” Abram het toe nog geglo hy sal kinderloos sterwe (Gen 15:2-3). Min kon hy raai dat sy nageslag (by name kleinseun Jakob) eers sou wegtrek Egipte toe, om eeue later ná slawerny en ontbering terug te keer en Kanaän in besit te neem – hier waar Abram, herdoop tot Abraham, nou as vreemdeling vertoef (Gen 17:8). God se plan werk ver vooruit, en bereken die ompaaie van mensekeuse.

      GEBED: Ek dank U vir die wete, Here, dat U ook ons lewensplan in u hand hou, watter uitweë en ompaaie ons ook al bedink.

      7 Januarie Genesis 18:16-33

      DIE VERWOESTING VAN SODOM

      Sal U die plek werklik vernietig? (Gen 18:24).

      Abraham pleit vir God af tot by tien regverdiges. God skyn minder as tien te vind, en lei hulle eerder betyds na veiligheid. Die ondergang van Sodom weerklink deur die hele Skrif, sodat Jesus ook vir Kapernaum berispe: “As in Sodom die wonderdade plaasgevind het wat in jou plaasgevind het, sou hy