DIE VOLK VESTIG IN DIE BELOOFDE LAND
Die Here het aan Israel die hele land gegee … Hulle het dit in besit geneem en daar gaan woon (Jos 21:43).
Israel se trek was lank, maar die doel haalbaar; hulle kon swerf en wag tot hulle nie net geestelik ryp was nie, maar die politiek rondom ook rustig. Stukke land is al ontwikkel (dagstukkie 4 Mrt), maar nou kry elke stam sy deel. Waar ander nomade volgens water en weiding kom en gaan, sien die Kanaäniete met verbasing en groeiende kommer hoe hierdie merkwaardige volk hulle permanent ingrawe.
Dit geskied nie sommerso nie, en Josua het sy hande vol. Die Jode was egter nog altyd ’n taai, vindingryke volk. Hulle kap bosse uit (Jos 17:15), lê boorde en landerye aan, bou hulle veestapel. Hulle verruil tent vir kleihut of rig ruïnes in as woonplek, maak meubels van rouhout. Hulle sou tabernakels vir Jahwe bou, trou en vermeerder, nuwemaanfees hou, ’n kultuur vestig wat nooit weer uitgewis sou word nie.
Daar is voorlopig alle kante toe vrede (Jos 21:44). Later sou ou en nuwe vyande soos die Filistyne weer te voorskyn kom. Maar tans is hulle vry mense, ongebonde, en elkeen doen soos hy wil en goeddink … helaas, soms tot ander uiterstes, van bloedvergieting en afgodsdiens (Rig 17:6; dagstukkie 13 Mrt). As hulle maar gehou het by hulle familielewe, godsdiens, landbou en opbouwerk.
Is dit nie die verhaal van elke nasie, familie, gesin en enkeling nie? As hulle tog maar … Dikwels is daar betyds besinning, inkeer, versoening. Ander kere gaan alles te ver, en die vryheidspad eindig in ’n geestelike en emosionele wag-ʼn-biejiebos. Rus en stilte is nie teen die natuur nie. Moenie roei en stoei om dit te vernietig nie. “Ek weet wat Ek vir julle beplan, sê die Here: voorspoed en nie teenspoed nie; Ek wil vir julle ’n toekoms gee,’n verwagting!” (Jer 29:11). En as lewenstorms sonder jou wil en keuse oor jou kom, reik uit na die helpende hand van God.
GEBED: Help ons, Here, om ook en veral ten tye van vrede en rustigheid te bou en te behou, nie in ledigheid grense oor te steek waarvandaan daar geen terugkeer is nie.
6 Maart Josua 24:14-24
JOSUA NEEM STANDPUNT IN
“Wat my en my familie betref, ons sal die Here dien” (Jos 24:15).
In ’n benarde situasie glo jy dat dit nooit sal oorgaan nie. Menigmaal was die volk in gevaar en sonder water, maar nou het hulle tuisgekom. Slegs Josua en Kaleb van die ou geslag is oor (dus van die weerbare manne, Deut 2:14-16). Die nuwe geslag trek Kanaän geleidelik binne (dagstukkie 5 Mrt). En dit was nie sonder bloedige oorloë teen die omringende volkere nie. Toe Jerigo val, word alle lewe, mens (behalwe Ragab en haar mense) en dier vernietig (Jos 6:21). Dié refrein word herhaal. Die lot van die vyf Amoritiese konings wat in ’n grot gestop word totdat met hulle afgereken kan word, is bloedstollend (Jos 10). Van die redes wat al deur mense aangevoer is vir hulle afkeer van godsdiens, is dié tipe bloedvergieting. Josua voer egter oorlog volgens die wette van daardie tyd: oog om oog (“lex talianus”). Dit was die wet totdat Christus se genadewet gekom het (Joh 1:16-17).
Dat God geweld afkeur, blyk telkemale (Gen 6:13; 2 Kon 21:16, 24:4; Jes 1:15; dagstukkie 23 Mei). Dit, en afgodsdiens, was die hoofredes waarom God die twee katastrofes oor sy volk bring: die skeuring (1 Kron 10), en die wegvoering (2 Kron 28, 36). Om egter tot Josua terug te keer: Hy het nie net verdelg nie, maar ook opgebou. Hy was ’n kragtige leier, lank onder die menstorskap van Moses. Josua weet van reëls en orde, van lei sowel as volg. Hy tree reeds jonk op as raadgewer en dienaar van Moses (Eks 17:8-14). Dis nie verbasend dat hy opvolger word nie.
Dit was vir die Israeliete moeilik om as landbouers te vestig ná ’n geslag van nomadiese lewenswyse (dagstukkie 5 Mrt). Sterk leiding was nodig, en Josua doen moeite om die verbond met die Here meermale te herbevestig. Vandaar sy uitspraak wat vandag nog weerklink,veral wanneer die doop bedien word: “… ek en my huis, ons sal die Here dien” (Jos 24:15 OAV).
GEBED: Here, ek wil die beste uit die geskiedenis van Josua haal en onderneem om U in my huis te dien. My eie maatstaf is ontoereikend. Ek het u hoër, suiwerder maatstaf nodig.
7 Maart Rigters 5:1-10
DEBORA, PROFETES ONDER DIE PALMBOOM
“Ek sing tot eer van die Here, ek prys die Here die God van Israel met my lied” (Rig 5:3).
Tussen die twaalf rigters van Otniël tot Simson is Debora die merkwaardige vrederegter onder die palmboom (Rig 4:4-5). Saam met Barak durf sy die nege honderd strydwaens van Sisera aan. Met die berg Tabor as uitkykpunt sien sy die reën aankom wat Sisera daar onder nie kan sien nie. Sisera se leër word “baie bang”. Met rede, want die gedruis is een van die berugte blitsvloede wat die ysterwaens meesleur (Rig 5:21) en die voetsoldate blootstel.
Hierop volg die lied van Debora, een wat allerweë as oeroud erken word. Dis rou en bloedwarm en aangrypend, van die skoonste letterkunde in die Bybel. Met trom, fluit, simbaal en tamboeryn moet dit ’n volkse opera onder die maan gewees het. Singend word diegene verwyt wat in gebreke gebly het: Ruben, Gilead, Dan en Aser. Selfs die gruwelike sluipmoord van die vrou Jael op die vlugtende Sisera word besing.
Jael se daad laat mens dink aan Toon van den Heever se verhaal Die huis teen Koppie Alleen, waar die Engelse plaasmeisie die jong Boereverkenner herberg. Sy maak hom teer aan die slaap … maar slaan hom dan, net voor hy insluimer, met die horssweep se koperknop katswink. Later jaag sy te perd snikkend oor die nagveld weg, sy geheime dokumente voor in haar bloes gedruk. Ry sy na die Boere- of die Britse laer toe? Die skrywer verklap nie, en die leser sal nooit weet nie.
Duideliker kom Debora en Jael se keuses uit die ink. Jael se daad was wreed, maar die lot van die volk het daarvan afgehang. Rigters 17:6 en 21:25 werp lig op die geweld van die tyd: “In daardie tyd was daar nog nie ’n koning in Israel nie. Elkeen het gedoen wat reg is in sy oë.” Dit sou kon lui: “… nog nie ’n Messias nie …” Eers Hy sou die leer van vrede vergestalt.
GEBED: Here, dankie dat die keuses wat ek daagliks moet doen, in die lig van u vredeleer kan wees. Waar dit dreig om met stryd en wrok gepaard te gaan, laat my twee keer dink.
8 Maart Rigters 6:1-14
DIE GIDEONSBENDE
“Gaan met die krag wat jy het … Toe, Ek stuur jou!” (Rig 6:14).
Ná Moses se tyd volg twee eeue van wetteloosheid. Gebeure soos dié in Rigters 17-18 is tekenend hiervan (terloops, dis ’n ander Miga as die latere profeet). Die volk steur hulle skaars aan die rigters. Slegs Debora word ook “profetes” genoem, en ná haar optrede is daar veertig jaar vrede (Rig 5:31), waartydens die volk weer totaal verval en hulle hierdeur blootstel aan die Midianiete (Rig 6:1). Dis sewe harde jare, want sodra die oes gereed is, kom die Midianiete dit stroop. Later begin die Israeliete uit vrees in spelonke en slote wegkruip.
Weer roep die volk om hulp tot God, en weer ontferm Hy Hom en roep ’n leier in die persoon van Gideon. Gideon is vol vrae en verskonings, soos Moses en Jeremia ook was. Hy hou sy familie se armoede en sy gebrek aan aansien voor (Rig 6:15), maar kry die antwoord: “Gaan met die krag wat jy het …” (Rig 6:14). God gee altyd die toerusting saam met die opdrag (Jes 49:5; Matt 28:20). “… my krag word in swakheid volbring”, hoor ook Paulus, toe hy God vra om die doring uit sy vlees te verwyder (2 Kor 12:9 OAV). Gideon is ’n formidabele rigter … solank hy volhard het, kan mens sê. Ná sy kragvertoning teen Midian sak hy skromelik terug. Hy smee uit goue oorlogsbuit ’n efodsbeeld, ’n valstrik vir hom en sy mense (Rig 8:27).
Solank Gideon God op sy woord glo, was sy beperkte krag genoeg om Midian te verdryf, nie met ’n groot mag nie maar ’n uitgesoekte keurbende (Rig 7:8), die spreekwoordelike “Gideonsbende”. As Gideon maar aangehou het soos hy begin het. Die jongman sonder aansien was ’n kragtige instrument om sy volk te verlos. Maar sukses en applous het sy fokus aangetas. Hoe baie sulke wrakke lê daar langs die lewenspad …
GEBED: Voeg by ons gewilligheid ook volharding, Here. Vanself gly ons maklik agteruit, maar u Hand van bewaring kan ons op koers hou.
9 Maart Rigters 8:1-9