Kavod Adonai. Marzanne Leroux-Van der Boon. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Marzanne Leroux-Van der Boon
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Религия: прочее
Год издания: 0
isbn: 9780796316240
Скачать книгу
uitvoer, sukkel ’n mens om jou asem terug te kry. Ek moes nog my man help om die skerms voor die vensters af te trek en die ysterdeur toe te maak. Die slot het nog nie geklik nie of ons hoor die ontploffing. ’n Mens voel die fondamente onder jou sidder.”

      “En julle ook,” sê Rivkah sag.

      “Vir seker. Die kinders was natuurlik toe almal wakker. Hulle het van skok gehuil. ‘Waarom het jy my uit my bed gehaal?’ huil my meisiekind. Die baba het verward rondom hom gekyk. Ons het hulle styf vasgehou, hulle tot bedaring gebring. Dit het lank geduur voordat ons almal weer terug in ons beddens was, die kinders weer aan die slaap geraak het. En wie weet hoe lank nog voor ek weer kon slaap.”

      “En julle het al twee jaar hiervan.”

      “Ken. Mense dink ons moet dit nou al gewoond wees, maar jy raak nie daaraan gewoond nie. Hulle skiet na my, na my kinders. Hierdie oorlog gaan om ons onbeskermde sagte kant, dis gemik op ma’s wat uitgeput is van die somervakansie se bloedige dae.”

      Sy skud haar kop moedeloos. “Ek het uiteindelik gepraat en vertel hoe dit is. Want in Tel Aviv is alles stil en rustig. Nuus in die media is so ver as wat hulle die moeite doen om ingelig te word. Dis nou ás hulle hoegenaamd lees. Die verkeersknope op die Ajalon-hoofweg en die prys van maaskaas ontstel hulle meer. Ek verstaan nie die politiek nie. Ek’s bloot ’n ma van drie. ’n Ma wat stokflou is ná die lang somervakansie. ’n Ma met twee hande en drie kinders en ’n paar sekondes om elke twee of drie dae ’n verskriklike besluit te neem.”

      Rivkah skink vars tee en stoot die bord met sjokoladekoek nader aan Esti. Sy tel die koppie ingedagte met albei hande op, maar sy drink nie.

      “Ek het die Arutz Sheva-verslaggewer gevra: En jy? Het jy geweet wat hier aangaan voordat jy gelees het wat ek geskrywe het? Daar’s ’n oorlog hier, maar die kassams word nie op soldate geskiet of op die IDF se leër nie, hulle is op my gerig.” Sy drink ’n slukkie tee. “Hy moet my nog antwoord.”

      Erev Shabbat 9 September 2011

      Kort voor die aanvang van die Shabbat word dit rugbaar dat honderde Egiptiese betogers die Israelse ambassade in Kaïro aangeval het. ’n Veiligheidsmuur wat ná vorige onluste voor die ambassade aangebring is, is in die loop van die middag verwoes.

      Associated Press berig dat die Egiptiese veiligheidsmag niks gedoen het om tussenbeide te kom toe die skare oor die ambassade se veiligheidsmuur klim, dit met smidshamers stukkend slaan en groot gedeeltes van die versperring afbreek nie.

      Volgens Israel se Channel 10 News het die betogers nie net die muur afgebreek nie, hulle het ook deur die streng veiligheid gedring rondom die 21-verdiepinggebou waar die Israelse ambassade gehuisves is. Die woedende massa het selfs daarin geslaag om tot by die verdieping te klim waar die ambassade is.

      Net voor middernag berig Associated Press dat ’n groep betogers ’n vertrek op een van die ambassade se laer verdiepings bereik het en dokumente in Hebreeus deur die vensters gooi. ’n Israeli-beampte bevestig hulle het by die ambassade ingebreek en ’n wagkamer bereik. Ten tyde van die inbraak was geen ambassadepersoneel in die gebou nie. Die Israelse vlag is afgeruk en aan die brand gesteek.

      Channel 10 berig ook dat die Egiptiese veiligheidsmag die betogers toegelaat het om hul gang te gaan nadat hulle met klippe bestook is toe hulle hulle wou keer.

      Luidens die berig bevat van die dokumente wat deur die ambassade se vensters gegooi is, geklassifiseerde inligting.

      Die betogers het van die Tahrir-plein na die ambassade opgeruk, waar duisende meer demonstrante Vrydag betoog het teen die Egiptiese militêre maghebbers se stadige pas van hervorming.

      Dieselfde dag doen ’n geestelike van die Moslem-broederskap ’n beroep op Egiptenare om al die Israeli’s in die land te vermoor.

      Die Amerikaanse ambassadeur Anne Patterson het in opdrag van president Barack Obama en die minister van buitelandse sake, Hillary Clinton, alles in die werk gestel om die lewe van die ambassade se personeel te red. Die ambassadeur Yitzhak Levanon, sy gesin en 180 personeellede van die ambassade is by hul huise opgelaai en na Kaïro se lughawe gebring, van waar hulle in twee Israelse militêre vliegtuie huis toe gevlieg is. Ses Israeli-veiligheidspersoneellede het egter in die ambassade agtergebly.

      Gedurende dié onstuimige Shabbat-nag hou baie Israeli’s hul radio’s aan om te hoor wat aangaan. Kort nadat Marc, Rivkah en die kinders die volgende oggend teruggekeer het van die Messiaanse shul, gelei deur Marc se oom Ofer, bel Re’uven.

      “Shabbat shalom!” groet hy. Marc is verbaas dat sy swaer in dié omstandighede nogal opgewek klink. Die verduideliking kom spoedig. “Ek het sowaar goeie nuus.”

      “Ja?”

      “Jy weet van die ses veiligheidspersoneellede wat in die ambassade agtergebly het?”

      “Ken.”

      “Wel, hulle is hier. Maar jy moet hoor hoe dit gebeur het! Bibi was die hele nag met die regering in Egipte aan die gang. Uiteindelik het Obama ingegryp en hulle oorgehaal. Vanoggend is ingestem om kommando’s in te stuur om die ses veiligheidswagte te probeer uitbring. Daar was veertig duisend oproermakers rondom die ambassade wat geplunder en brand gestig het, sonder dat die plaaslike polisie iets gedoen het. So, jy kan jou voorstel dat die Egiptiese kommando’s geen maklike taak kon hê nie.”

      “Die veiligheid-ouens was in daardie stadium seker in gevaar om gelynch te word.”

      “Korrek. Hulle was in lewensgevaar met die fanatiese massa daar. Ek haal my hoed af vir die manier waarop die kommando’s dit gedoen het. Hulle het van hul uniforms ontslae geraak en met die skare gemeng. Maar toe hulle uiteindelik die geslote ysterdeur bereik waaragter die veiligheidsmanne verskans was, kon hulle dit nie oopkry nie.”

      “Oy vey.”

      “Die hoof van die Egiptiese eenheid moes Yoram Cohen van Shin Bet (Israelse veiligheidsdiens) opspoor om die kode in die hande te kry. Hy was in die situasiekamer in ’n dringende vergadering met Bibi en van die ministers. Maar nou ja, hy het dit uiteindelik gekry en hulle kon die deur oopkry en die manne uitbring.”

      “Maar hoe op aarde het hulle hulle deur die oproeriges buite gekry?”

      Re’uven grinnik. “Hulle het hulle eers soos tipiese Egiptenare aangetrek en toe so vinnig moontlik deur die maniakke buite, wat om niks anders as Israeli-bloed geroep het nie, na veiligheid gebring. En daarna met pantsermotors na die lughawe.”

      “Dis nogal ’n storie!”

      “Inderdaad, swaer. Luister vanaand ná Shabbat, Bibi gaan die volk toespreek.”

      Nadat die Havdalah-ritueel met sononder afgehandel is, skakel Marc die TV weer aan. Kort daarna kom die eerste minister aan die woord. Marc het die seuns nader geroep, want noudat alles in bedwang gebring is, wil hy hê hulle moet hoor wat gebeur het.

      “Shavuah tov!” begin die eerste minister sy boodskap met die tradisionele groet aan die begin van die nuwe week ná die Shabbat.

      “Vroeg vanoggend, omtrent vyfuur, is personeellede van die Israelse ambassade in Kaïro in ’n ingewikkelde reddingsoperasie bevry. Vanuit die situasiekamer het ek sy aan sy met die minister van buitelandse sake, die minister van verdediging, die hoof van Shabak (Israelse veiligheidsagentskap), die hoof van Mossad (Israelse veiligheidsdiens) en die IDF-stafhoof en hul personeel gewerk. Een oorheersende sending het voor ons gelê – die veiligheid en welsyn van Israel se afgesante. Ons het op ’n verantwoordelike wyse saamgewerk om te verseker dat die situasie op die bes moontlike manier besleg kon word.

      “Aan die begin van die voorval het ek onmiddellik beveel dat die ambassadepersoneel en hul gesinne in Kaïro op ’n vliegtuig gesit en na Israel teruggebring word. Terselfdertyd het ons saam met Egipte en die Amerikaanse regering gewerk om te verseker dat die oorblywende ambassadepersoneel sonder letsel