Klaprose teen die wind. Marzanne Leroux-Van der Boon. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Marzanne Leroux-Van der Boon
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Контркультура
Год издания: 0
isbn: 9780624058823
Скачать книгу
jongen, niemand verwag immers dat jy die hele tyd by jou grootmoeder bly sit nie!”

      “Dit weet ek ook, maar ek vind dit nogtans lekker om ’n daggie hier by u te bly.”

      Sy raak teen sy gesig. “Dis goed dan?”

      “U laat my by tye heel veel aan Pappa dink.”

      Haar oë versag. “Oor hom wil ek soveel nog met jou praat, Marc.”

      “Ek ook.”

      “Maar nou moet jy voorlopig na bed. Môre is nog ’n dag.”

      In die bed vind hy dat die slaap hom ontwyk. ’n Kaleidoskoop van Amsterdamse beelde draai rasendsnel deur sy vermoeide ge­dagtes. Kom telkens weer by die meisie op die brug tereg. Hy draai hom op sy rug om en sien haar weer voor hom. Die vol borste, die arrogante mond. Hy draai hom terug op sy sy en dink dat hy moes gebly het om alles te sien. Waarom het hy eintlik so gou weggegaan? Voordat hy tog eindelik aan die slaap raak, dink hy nog: Ek gaan terug Amsterdam toe, elke keer weer, tot niks my meer te vroeg laat terugdraai nie!

      Die weer bly so guur dat drie dae verbygaan voor hy weer die tog daarheen aanpak. Selfs toe val daar nog ’n grou reëntjie en is hy tot aan sy neus toegewoel. Hy het voorlopig geen erg aan museums en kuns­galerye nie. Hy dwaal deur die stad, half suf van ’n depressie wat hy nie kan plaas nie. Die sambreel wat Oma saamgegee het, het hy op die bus al vergeet. Nou trek hy maar die wolserp stywer om sy nek en laat die reën toe om algaande sy hare te deurweek.

      Ek is eensaam, erken hy naderhand die oorsaak van sy ellende. Ek mis iemand met wie ek kan praat oor wat ek sien. Hy dink aan die Suid-Afrikaner wat hy in die kafeetjie leer ken het. En daar is ook die adres van ’n familievriend in sy binnesak. Maar motivering om die een of ander rigting in te slaan, ontbreek hom. Dis eerder sy voete as sy hoof wat hom uiteindelik na die rooiligbuurt neem. Hy het tevore uit soveel monde soveel beskrywings daarvan gehoor dat hy nie onvoorbereid daarop afkom nie. Tog skok dit hom toe hy langs die raampies met uitgestalde snolle dwaal. Dit val hom op hoe min van hulle nog werklik jonk en mooi is. Ontroer hom. Hy wens hy het met sy sketsboek daar kom staan om tydsaam die uitdrukkings op hul gesigte vas te lê. Die desperaatheid in hul liggame. Maar hy besef tegelyk hoe onvanpas dié gedagte is. Hy word van alle kante met aanbiedinge oorval. Vir seks, vir seksvertonings of -films, vir dwelms en elke ander perversie. Hy loop ten slotte sat daarvandaan.

      Deurnat gaan hy later ’n rokerige restaurantjie binne en oor ’n bier en nog een en nog een, teken hy die rooiligvroue agterop die kaart­boek van die stad wat hy oral met hom saamdra.

      Die swart depressie waarvoor hy uit Suid-Afrika ook gevlug het, het opnuut soos ’n uil op sy skouer kom steun.

      Net omdat ek alleen is? wonder hy deur sy bierbeneweling. Hoe­kom ís ek alleen? Met sy voorvinger vee hy potloodskaduwees om die byna naak figure in. Sy potlood is tot op die hout stomp. Ek is alleen in Nederland en ek was alleen in Suid-Afrika. Ek was my lewe deur hoofsaaklik alleen. Hy skud sy kop langsaam. Die potlood kras steeds oor die papier.

      Hy skrik toe hy ’n hand op sy skouer voel. Die eienaar het agter hom kom staan. “Jongen,” sê hy gemoedelik, “ek vind dat jy so nodig wat te ete moet neem. Of nie?”

      Marc kyk hom beneweld aan: “Hoe so?”

      “Nou, dit skyn my dat jy behoorlik aan ’t dronk word is.”

      “Dit kan bes wees,” stem Marc toe.

      “Eerste maal in Amsterdam?” vra die kafeebaas en kyk belang­stellend na die tekeninge voor Marc op die tafel. Dit het tot op ’n papier­servet uitgebrei.

      Marc kyk saam met hom daarna. “Góéd ook, as jy reken dat dit uit my hoof is.”

      Die man lag. “Ja seker. Ek vind dit geweldig.”

      “Dis die tweede maal.”

      “Wat?” vra die ander onseker.

      “Dat ek hier kom.”

      “Waar kom jy vandaan?”

      “Van ver,” sê hy moedswillig.

      Die man trek sy skouers op. “Ja hoor, stom van my om te vra.”

      “Ek kom uit Suid-Afrika,” sê Marc toe met dronk erns. “Uit die Boererepubliek. Regime van alle ongeregtigheid en diskriminasie. Heilige plek van rassisme. Waar die profeet pas uit die gevangenis opgestaan het. Kameraad Mandela. Kom ek na die Nederlande waar­van ek verneem dat alle geregtigheid te alle tye aan alle mense bewys word. Heilige plek van die groot toleransie.”

      “Nou …” Die kafeebaas is half onkant. “Dit hang natuurlik alle­maal daarvan af hoe jy dit bekyk …”

      “Maak nie uit nie.” Marc wuif hom stil. Hy hou die laaste tekening effens verder van hom af om perspektief te kry en vryf toe nog ’n skaduwee met sy duim in. “ … hóé jy dit ook al bekyk.”

      “Geweldig!” sê die man weer goedkeurend van die skets of van die opmerking of van verleentheid. Marc weet nie en vanweë die oor­maat bier en sigaretrook gee hy ook nie om nie.

      “Wat het jy vir my om te eet?”

      “Wat wil jy?”

      “Ek wil ’n hamburger en chips hê. Kan dit hier?”

      “Alles kan hier.”

      “Goddank …”

      Die man bring dit en skink koffie op koffie met ’n deernis soos vir ’n eie verlore seun in ’n vreemde land. Marc verorber alles gulsig, dankbaar, en namate hy nugter word, verleë. Tog voel hy getroos.

      Voor hy weer in die reën uitstap, frommel hy die papiertjie met Jurgen de Villiers se adres daarop uit ’n binnesak. Dit maak vir hom absoluut geen sin nie. Maar ook hierin kom die kafeebaas hom te hulp. Hy verduidelik tot in die fynste besonderhede. Skryf dit self alles sorgvuldig vir die steeds half bedwelmde Marc op ’n vel papier neer.

      Maar Marc gaan eers terug na die Walletjes. Dat dit die tweede maal is en dat hy alkoholversterk is, maak dit alles selfs makliker. Hy bly lank voor ’n venster staan waar ’n donker Jamaikaanse vrou met groot borste en uitdagende oë sit. Hy ignoreer die obsene gebare wat sy maak toe sy opstaan, bly haar net aankyk tot sy dit laat vaar en weer gaan sit en later met hom glimlag. Dis asof hy nou eers besef sy is ’n gewone mens ook. Nie net ’n snol in ’n uitstalvenster nie. Tog, toe haar gesig en haar liggaam so versag dat sy onbeskryflik begeerlik vir hom word, draai hy hom weg. Sy hart begin onbedaarlik jaag. Wanneer hy oor die tralies langs die grag gaan hang, sien hy weer in die water haar harde swart tepels.

      Daarvandaan loop hy die eerste die beste lokaal binne waar ’n seksfilm vertoon word en sit die volle veertig minute daar, doodstil geskok, met ’n verskriklike ereksie. Toe hy uitkom, doen ’n donkervel­man hom ’n hasjisj-aanbod. Hy slaan dit houterig van hom af. Die sneeureën sif in koue, grys flarde oor die straat en die grou geboue.

      Twee

      Sonder veel verwagting stuur hy af op Jurgen de Villiers se adres in Le Clerqstraat, binne loopafstand van die Dam waarvandaan die kafeebaas hom beduie het. Hy vind dit makliker as wat hy verwag het. ’n Deur langs ’n smal geskenkwinkeltjie op straatvlak. Op die haas onleesbaar verbleikte naamkaartjie maak hy tog dié naam uit. Hy huiwer ’n oomblik voor hy die klokkie daarnaas druk. Toe die deur­knop ’n paar oomblikke later klik, skrik hy so hewig dat hy duise­lig voel. Hy bly die deur besluiteloos aankyk. Onseker wat van hom ver­wag word. Eers toe ’n stem bo uit ’n raam roep: “Kom op!” be­sef hy dat die slot oopgespring het en dat daar van hom verwag word om self in te gaan.

      Hy stoot die deur behoedsaam oop en bevind homself in ’n ske­mer portaaltjie waaruit ’n smal trap die donker inskiet. Toe hy begin klim, kraak dit beswaard onder hom, en ’n muwwe, klam reuk slaan om hom op. Eers toe hy byna bo is, gewaar hy Jurgen se gestalte wat in die halflig oor die trapleuning buig.

      “O, Marc van Suid-Afrika,” sê hy, “ek kon nie lekker deur die venster sien wie dit is nie. Kom op!”