Sy laai ons voor die kerksaal af. Die wêreld wemel van die honde en hulle eienaars.
“Willem, jy beter jou gedra!” waarsku ek hom. Ek ken my hond – hy het ’n meerderwaardige houding teenoor ander brakke en is oortuig daarvan dat hy die slimste en die sterkste hond in die wêreld is.
Wel, miskien is hy. Hy ís immers ’n opgeleide internasionale speurhond én hy ken karate.
“Dit sal nie deug as jy nou in ’n bakleiery beland nie,” sê ek toe hy in die verbygaan ’n Jack Russell iets leliks toesnou in hondetaal. Die Jack Russell gaan dadelik aan die kef.
“Toemaar, ek het maar net vir hom gesê die dobermann hier agter reken sy ma is ’n chihuahua.”
Skielik ruk die Jack Russell los en storm op die dobermann af.
’n Kabaal bars los. Die Jack Russell is nie onnosel nie. Hy skuil onder die lang bene van die dobermann en gaffel hom van onder af, hier by die sagte liesvleisies langs. Die dobermann probeer hom bykom, maar die Jackie is net te rats.
“Beheer julle honde!” bulder ’n ronde man in ’n swart pak. Hy kom afgestorm op die koek bakleiende honde, want ’n paar ander het ook dadelik tot die geveg toegetree. ’n Weimaraner, ’n labrador en ’n krulhaar-foksterriër word met moeite uit die bondel gesleep. Halsbande knoop, tannies gil en iemand roep: “Spuit hulle nat!”
Ek en Willem maak dat ons wegkom.
“Julle is almal gediskwalifiseer!” roep die ronde man boos uit. Hy is skoon rooi in die gesig van woede.
“Mooi so!” grinnik Willem. “Daardie dobermann was die gunsteling, almal het gereken dat hy sou wen!”
“Willem, het jy dit met opset gedoen?”
Maar botter kan nie in my hond se mond smelt nie.
“Kom, roer jou, ek moet my plek kry voor die beoordeling begin!”
Willem is inskrywing nommer nege-en-dertig. Oral in die kerksaal is tafels gerangskik waarop afskortings van ogiesdraad en karton aangebring is om elke hond sy eie uitstalruimte te gee. Trotse eienaars is besig met die laaste optofwerk aan hulle brakke. Sterte word gekrul, snorre word gewaks en kuiwe gespuit met klein botteltjies spesiale stileermiddel. Daar is pommers met waaiersterte, mopshondjies met uitpeuloë en halfmeter-lange worshonde. Ek het nog nooit so baie brakke bymekaar gesien nie. Mense lag en gesels, honde blaf en grom, en die lug gons van opwinding.
“Willem, hoe het jy dit reggekry?” onthou ek skielik om te vra.
“Wat reggekry?” wil hy weet.
“Om jouself in te skryf!”
“Wel, op die internet, natuurlik,” verduidelik hy.
Dit is jammer dit verwerf nie vir hom ekstra punte nie, dink ek. ’n Hond wat homself op die internet vir ’n hondeskou kan inskryf, verdien ’n paar bonuspunte. As ek so rondom my kyk na al die pragtige, opreggeteelde honde in die ander uitstalhokkies, sak my moed in my skoene. Ek kan nie dink dat my gespikkelde spanjoel enigsins ’n kans staan nie.
“Wie is daardie man?” vra ek toe ek weer die dikkerige ou in die swart pak opmerk.
“Dit is Sibelius Sprok,” fluister Willem. Hy is versigtig dat die ander mense hom nie hoor praat nie. Hierdie is ’n kompetisie vir gewone honde, nie pratende speurhonde met ’n gedugte reputasie onder die voorste boewe op aarde nie. “Hy is die hoofbeoordelaar.”
Sprok beweeg stadig van een uitstalhok na die ander. Hy het ’n knyperbord waarop hy sorgvuldige aantekeninge maak. Sy horingraambrilletjie balanseer op die punt van sy aartappelneus, en hy wikkel sy ruie wenkbroue vir die eienaar van die yorkshireterriër wat hy besig is om te beoordeel. “Hoeveel weeg jou hond?” vra hy streng.
“Wel, duisend sewehonderd drie-en-vyftig gram!” stamel die eienaar senuweeagtig.
“Dit is drie gram meer as wat toelaatbaar is vir ’n wyfie in hierdie kategorie!” brom Sprok aan een van die onderbeoordelaars, ’n vet dame in ’n geblomde rok. Dit is duidelik dat sy aan elke woord van die grote Sprok hang en hard probeer om hom te beïndruk met alles wat sy sê en doen.
Die yorkie se eienaar lyk moedeloos. “Maar sy is ’n perfekte voorbeeld van haar ras!” protesteer sy. “Kyk na die afstand tussen haar ogies, en die verhouding van haar stert met haar ruggie en agterpote …”
Maar die grote Sprok het reeds belangstelling verloor in die wollerige hondjie.
Hoe langer ek die beoordelaarspaneel dophou, hoe meer senuweeagtig raak ek. Dit is duidelik dat meneer Sprok daarop uit is om fout te vind met elke hond. Die ander beoordelaars val oor hulle voete om alles wat hy sê te beaam en rooi kruise op die vorms op hul knyperborde te maak.
Duidelik is geen hond goed genoeg vir hulle nie!
“Ag nee, Willem!” sê ek vies. “Ons kan net sowel loop. Jy het nie nodig om so afgekraak te word nie!”
Ek vertrou nie die vrede nie. Wat sal Willem doen as Sprok sy dik vinger so in sy maag druk?
Maar Willem sit doodstil en staar vasberade voor hom uit.
Uiteindelik is dit ons beurt.
“Wat is jou hond se naam, ou seun?” vra Sprok vir my. Dit voel of my keel vol watte gestop is, so senuweeagtig is ek vir my hond se onthalwe.
“Willem. Willem Senekal!” stamel ek.
“O, so?” vra Sprok en dit lyk sowaar asof hy in hierdie inligting belangstel. Hy krabbel iets op sy knyperbord neer en loer dan skuinsweg op na Willem. Verbeel ek my, of knipoog die twee stilletjies vir mekaar?
“Let op hierdie hond se merkwaardige ore!” sê Sprok dan aan die dame met die geblomde rok.
“Merkwaardig, ja, sowaar!” beaam sy, en kyk ietwat verbaas na Willem se lang ore met die swart krulhaartjies.
“’n Uitstekende voorbeeld van sy soort!” gaan die ronde Sprok voort.
“Wat sy soort ook al mag wees!” brom ’n skraal mannetjie met ’n knyperbord. Die hoofbeoordelaar gluur hom boos aan. Die skraal mannetjie verskrompel skoon onder daardie kwaai blik. Die res van die dag sal hy sekerlik sy tong stewig vasgeknoop hou!
Ek haal weer asem. Sowaar, Sprok het iets positiefs gesê! Ek staan so effens regopper langs my hond.
“Hierdie honde word natuurlik gebruik vir jag, in Engeland veral,” gaan Sprok voort met sy lesing. “Dit is dus normaal dat hulle so ’n bietjie meer gewig saamdra as beskerming teen die kouer toestande in die veld.” Die skraal mannetjie kruip steeds weg agter die tannie met die geblomde rok. Hy frons en kou sy potlood. Net oomblikke vantevore het Sprok uitgevaar teenoor ’n labrador wat volgens hom oorgewig was. Daardie labrador was heelwat maerder as hierdie vet swart-en-wit spanjoel. Is labradors dan nie ook jaghonde nie? Hy sal nog so baie moet leer voor hy kan kers vashou by ’n beroemde hondebeoordelaar soos meneer Sprok! Die kêrel krabbel senuweeagtig nog ’n paar aantekeninge in sy notaboek.
Van waar ek staan, kan ek sien wat hy skryf: Dit is aanvaarbaar vir wit-en-swart gespikkelde spanjoele om vetter te wees as ander honde.
Ek hoop net nie Willem sien dit raak nie. Ek sal nooit die einde daarvan hoor nie!
Voor ek weet, is ons beoordelingsbeurt verby, en dit sonder ’n enkele negatiewe opmerking van die sarkastiese vet beoordelaar en sy span.
“Dit lyk of Willem nie te sleg gevaar het nie!” sê iemand langs my. Dit is Sandra. Haar blonde hare is vanoggend in ’n Franse vlegsel gekam en sy lyk baie mooi.
“Wil jy saam met my ’n worsbroodjie gaan eet?” vra ek op die ingewing van die oomblik. Ek weet nie waar ek die moed vandaan gekry het nie!
“Dit sal lekker wees,