Kobie en die wonderkind. Stella Blakemore. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Stella Blakemore
Издательство: Ingram
Серия: Maasdorp
Жанр произведения: Учебная литература
Год издания: 0
isbn: 9780798159227
Скачать книгу
troos Terrie.

      “En ek het nie eens kans gekry om haar te groet nie,” sê Elsabe nors. “Dis ’n mooi manier om ’n kwartaal te begin.”

      Hannie Landsberg lag haar vriendelik toe.

      “Jy sal netnou genoeg kans kry,” fluister sy, want Matrone kyk hulle verwytend aan, “in die graadelf-klaskamer.”

      “Sy sal g’n woord praat nie!” spot Hilda Meintjies agter haar hand. “Net: ‘O, Juffrou! Dit spyt my tog so, Juffrou! Ek sal dit nie weer doen nie!’”

      “Hilda, jy kry ’n strafkruisie!” sê Matrone streng. “En Elsabe en Tokkie natuurlik ook. Julle weet goed julle mag nie praat terwyl ek die lyste uitlees nie. Wat makeer julle meisies? Die plek is altyd in rep en roer net wanneer julle inkom.”

      Dis iets ongewoons om die eerste dag al strafkruisies te kry, gevolglik is dit spoedig stil in die groot saal, sodat Matrone in vrede die slaapkamerlyste kan uitlees.

      “Dis al,” sê sy toe die laaste lys gelees is. “Gaan nou boontoe en pak uit. As julle te veel raas, word julle almal gestraf.” Sy kyk hulle streng oor haar bril aan, maar hulle is nie werklik bang vir haar nie.

      Die meisies storm nou met honderde vrae op haar af.

      “Matrone, hoekom is Susie Mentz se bed nie meer langs myne nie? Matrone het dan belowe!”

      “Hoekom weet ons nog nie wie die hoofmeisie is nie? Ons weet gewoonlik altyd dadelik.”

      “Wie is hoofmeisie? Weet Matrone?”

      Fienie Assman en Hattie Coetser lyk albei ’n bietjie selfbewus. Dit moet een van hulle wees.

      Fienie kon ’n mooi meisie gewees het, maar haar vel is vol puisies en sy lyk bleek en sieklik. Haar ligte hare is vetterig en dof. Niemand hou van haar nie en sy weet dit. Sy het ’n half parmantige uitdrukking op haar gesig, asof sy vir niemand omgee nie.

      Hattie Coetser is ’n mooi meisie met gladde bruin hare en ’n diep kuiltjie in haar ken, maar ’n mens kan sien dat sy nie ’n baie sterk persoonlikheid het nie. Sy bloos nou bloedrooi, want sy voel elke oog op haar rus.

      Ag, as ek maar ’n bietjie meer soos Vera kon wees! dink sy. Nou is sy en Ruth weg, en die hele verantwoordelikheid rus op my. Ek is seker hulle sal nie vir Fienie hoofmeisie maak nie en dit sal maar arme ek moet wees.

      Sy is nie die enigste een wat sulke gedagtes het nie.

      ’n Mens kan nie help om haar met Vera de Korte, wat verlede jaar in dieselfde plek gestaan het, te vergelyk nie. Vera was heeltemal seker van haar pligte en van haar eie bekwaamheid.

      “Hoofmeisie!” sug Marie Dempers, want langs Hannie staan. “Hattie lyk so! Vera sou al lankal met ons geraas het. Hattie staan net daar!”

      “Ek weet niks van hoofmeisies af nie,” sê Matrone. Sy bekommer haar ook oor die saak. “Gaan nou boontoe en pak julle goed uit, en bewaar die een wie se kas nie netjies is nie!”

      “Wee diegene …” mompel Elsabe. “Nou ja, kom ons gaan na juffrou Muller toe.”

      “Ek wed jou jy is bly ons gaan na haar toe, al gaan sy ons koppe afbyt,” sê Tokkie glad nie in haar skik nie. Niemand hou daarvan om onder juffrou Muller se tong deur te loop nie.

      “Kom ons gaan hang eers ons hoede op,” sê Elsabe. “En het jy ’n skoon sakdoek, Toks? Ek het my skoene met myne afgevee voor ons uit die trein geklim het en as ek huil, sal ek my hele gesig vuil smeer.”

      “O tyd! Jy gaan tog nie huil nie!”

      “Miskien, ek weet nie. Ek huil vreeslik maklik. Ek kan nie van die gewoonte ontslae raak nie.”

      “Ag, jy’s ’n esel! Dè, dis die enigste sakdoek wat ek by my het, maar vat dit. Ek sal dit sekerlik nie nodig kry nie.” Hulle klop aan die graadelfs se klaskamerdeur, maar niemand antwoord nie. Tokkie maak oop en loer in.

      “Niemand tuis nie. Kom ons gaan solank in. Ag,” sê sy ongeduldig, “sit die nare sakdoek weg! Bêre dit in jou mou of iewers. Jy gaan tog nie jou oë uit jou kop huil voor iemand nog ’n woord gesê het nie! Ek sal g’n huil nie! Sy kan hiervandaan tot op Barberton ry voor ek ’n traan oor haar sal stort.”

      Elsabe steek die sakdoek gehoorsaam weg en net op daardie oomblik kom juffrou Muller binne.

      Sy gaan agter die lessenaar sit en kyk die meisies baie ernstig aan.

      “Hoe jammer tog,” sê sy sag, “dat ons die nuwe skooljaar op so ’n manier moet begin.”

      Albei kyk haar verras aan.

      “Julle twee behoort ons juffrouens eerder te help. In plaas daarvan gedra julle julle soos twee kleuters. Het julle dan geen gevoel vir Maasdorp nie?”

      Die twee meisies is gewoond daaraan dat die ander onderwyseresse so praat, maar nie juffrou Muller nie. Dis miskien daarom dat haar woorde soveel indruk maak.

      Elsabe kyk haar verwonderd aan. In die jaar wat sy op Maasdorp is, het sy juffrou Muller taamlik goed leer ken. Dis nie haar gewone manier van optree nie. As sy jou slegsê, dan weet jy dat jy deurgeloop het. Haar woorde sny gewoonlik deur ’n mens.

      Tokkie, wat in al die jare wat sy op skool is die onderhoof nooit regtig leer ken het nie, luister aandagtig na die teer, byna smekende stem van juffrou Muller. Daar kom trane in haar oë, en sy het haar sakdoek uitgeleen! Sy kyk na Elsabe, maar dié sien haar nie eens raak nie.

      “Wat van julle ouers?” gaan juffrou Muller voort. “Dink julle nie julle stel hulle teleur nie? Hulle moet opoffer sodat julle hier kan skoolgaan en dis die dank wat hulle kry. Dink julle dis mooi?”

      Enige ander tyd sou juffrou Muller se woorde hulle nie so geraak het nie, maar vanaand, die eerste aand weg van die huis af … dis net te erg vir Tokkie. Sy bars in trane uit.

      Elsabe kyk haar verstom aan. Sy is eintlik meer verbaas as hartseer oor juffrou Muller se gesprek. Maar Tokkie lyk werklik in die nood en Elsabe het die enigste sakdoek. Sy haal dit uit haar mou en gee dit vir Tokkie wat dit dankbaar neem. Ook net betyds, want Tokkie snik asof haar hart wil breek. Juffrou Muller ken geen genade nie en gaan voort.

      Meteens besef Elsabe hoe snaaks die hele situasie is. Tokkie het haar mos so groot gehou – sý sou nooit huil nie! En nou huil sy soos ’n baba terwyl Elsabe self nog nooit in haar lewe verder daarvan was nie.

      Sonder enige waarskuwing en sonder om dit self te verwag, bars sy in ’n histeriese giggelbui uit. Sy skrik haar boeglam. Hoe meer sy probeer om op te hou, hoe hulpeloser lag sy tot die trane oor haar wange rol. Tokkie skrik so groot dat sy sommer ophou huil.

      Juffrou Muller sê niks. Sy kyk Elsabe net kalm aan. Maar toe die gelag eindelik ophou, sê sy kil: “Jy mag gaan, Elsabe.”

      Elsabe kan nie glo dat sy werklik gelag het nie en sê verskrik: “Juffrou, dit spyt my baie! Ek het nie gemeen …”

      ’n Koue stilte is die enigste antwoord. Elsabe kan dit nie verduur nie. Juffrou Muller dink seker sy het vir haar gelag. Onmoontlik en vreeslik! Wat kan sy doen?

      Haar stem bewe, maar nie van lag nie.

      “Juffrou, regtig. Asseblief, Juffrou, moenie dink ek wou parmantig wees nie.”

      “Ek stel hoegenaamd nie belang in wat jy te sê het nie. Ek het gesê jy kan loop.”

      Elsabe begin nou ook huil en Tokkie, wat in haar verwarring haar eie trane gesluk het, bied haar die nat sakdoek aan. Elsabe gryp dit.

      “Maar, Juffrou, ek kon dit nie help nie. Dit was net … ek het gelag oor …”

      Hoe kan sy sonder om Tokkie te verraai, sê waaroor sy gelag het?

      Juffrou Muller staan op en loop sonder ’n woord die kamer uit.

      “O, wat het ek aangevang!” steun Elsabe. “Sy dink ek het haar uitgelag en sy sal nooit weer met my praat nie!”

      “Maar