Die Meisies van Maasdorp. Stella Blakemore. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Stella Blakemore
Издательство: Ingram
Серия: Maasdorp
Жанр произведения: Учебная литература
Год издания: 0
isbn: 9780798159197
Скачать книгу
kwartaal veel strenger oor netheid wees. Elkeen wat meer as ’n sekere getal kruisies kry, word gestraf.”

      Die ultimatum val nie in die meisies se smaak nie. Toe die matrone eindelik uitstap, het almal veel te sê.

      Elsabe het in haar lewe nog nie so ’n geraas gehoor nie. Sy staan verstom en luister na ’n gepraat wat vir haar byna soos vreemde tale klink.

      Kobie en haar kring maats is glad nie tevrede oor die nuwe reëling van strafkruisies vir slordigheid nie.

      “Ek wed julle,” sê Hannie, “teen die end van ’n week sal ek nie plek vir al my kruisies hê nie. Dis ’n gemene idee!”

      “Vrot!” sê Terrie. Sy neem Kobie se arm. “Komaan! Laat ons maar na die slaapkamer toe gaan.”

      Dit lyk of die tweehonderd-en-vyftig meisies dieselfde plan het en daar is ’n uittog uit die saal na bo. Na ’n paar oomblikke is almal weg en Elsabe het tyd om die twaalf ander nuwe meisies te bekyk. Hulle is almal mooi aangetrek in sulke kort rokkies dat tant Alida haar hande van skrik sou saamslaan.

      Tant Alida is die goeie voog wat Elsabe en haar broer sedert die dood van hulle ma versorg. Sy het streng beginsels oor die maniere en kleding van meisies wat op haar eie jongdae vyftig jaar gelede gebaseer is, en dié beginsels is so vas soos die wet van Moses.

      Die kantoor van die hoof is ’n mooi ligte kamer. Elsabe is die laaste van die nuwe meisies om voorgestel te word.

      “Hoe gaan dit?” vra ’n sagte stem.

      Elsabe sien ’n paar grys oë in ’n jong gesig en ’n gestalte in ’n kort rok en trui gekleed. Die oë lyk baie vriendelik, maar wat sal tant Alida van so ’n rok sê?

      “Ek is heel wel; dank u vir u belangstelling.”

      Juffrou Van der Westhuizen is ’n oomblik verstom. Elsabe is nie die soort meisie waaraan sy gewoond is nie.

      “Is u,” vra die angstige stem, “is u die hoofonderwyseres?”

      “Ja, ja!” antwoord die hoof sonder ’n glimlag.

      “Dan moet ek – my tante het my beveel om aan u haar komplimente oor te bring en ook haar beste groete.” Elsabe kan sien dat Vera en ’n ander meisie wat by die venster staan, probeer om hulle lag te hou, maar sy hou dapper aan met haar boodskap. “Sy hoop en vertrou dat ek ’n goeie leerder van die inrigting sal wees, en dat ek u en almal eer sal aandoen.”

      “Ek hoop dit ook,” sê juffrou Van der Westhuizen.

      Sy kyk die twee ouer meisies skerp aan, sodat hulle hul glimlaggies gou insluk. Al het sy self vroeër lus gehad om oor die briewe van die nuwe leerder se tante te lag, het sy nie iemand wat so erg ouderwets is, verwag nie. Maar die onrustigheid in die angstige gesiggie kan sy goed lees.

      “Hoe oud is jy, Elsabe?” vra sy.

      “Veertien, as u blief.”

      “Nou ja, jy is in graad nege, as ek my nie misgis nie. Ek hoop jy sal gelukkig wees by ons.”

      Sy knik na Vera om vorentoe te kom.

      “Dit is Elsabe van den Heever,” sê sy ernstig, “en Elsabe, dit is Vera de Korte. Vera is die hoofmeisie van die skool en sy sal jou help as jy in enige moeilikheid is. Ruth daar is onderhoofmeisie, en jy mag na haar of na een van die ander prefekte gaan as Vera nie te vind is nie. Verder,” voeg sy met ’n vriendelike glimlag by, “as daar enige probleme is, kom maar na my toe. Marie Dempers is kaptein van jou klas.”

      Elsabe sien vir die eerste maal ’n meisie van omtrent haar eie ouderdom.

      “Sy sal jou die slaapkamer wys en jou alles vertel wat jy moet weet.”

      Marie lyk nie baie in haar skik daarmee nie.

      “Ja, juffrou Van der Westhuizen,” sê sy gehoorsaam.

      Juffrou Van der Westhuizen sug toe die deur agter die twee toegaan.

      “Kyk wat jy vir haar kan doen, Vera. Ek vrees sy sal nie ’n maklike tyd deurmaak nie.”

      “Ek sal my bes doen, Juffrou, maar ek dink nie ek sal haar baie met graad nege kan help nie.”

      “Nou ja, hou maar ’n oog oor haar. Hoe gaan dit met jou? Is jy bly om hoofmeisie te wees?”

      “Ek weet nie, Juffrou. Dit het met Barbara se weggaan ’n bietjie skielik gekom, maar ek sal my bes doen.”

      “Niemand kan meer doen nie; ek weet Ruth sal ’n goeie luitenant wees. Het jy jou twee stout sussies veilig teruggebring, Ruth?”

      “Ja, Juffrou.”

      Ruth sug.

      “Moenie so treurig lyk nie! Hulle sal eendag ouer en wyser word. Dis al. Julle kan nou jul eie goed gaan uitpak.”

      Buite in die saal haak Vera by Ruth in. “Dié Kobie en Heloise is ’n vreeslike paar kinders!” sê sy. “Dink net dat ek hulle ’n strafkruisie moes gee voor die skool vyf minute aan die gang was!”

      “Hulle is lastig,” gee hul suster toe. “Maar ek hoop Kobie sal haar dié kwartaal beter gedra. My ma het oor haar laaste skoolrapport so ’n lawaai gemaak dat sy teruggekom het met allerhande planne om haar bes te doen.”

      3

      _____________

      Die klas

      Elsabe loop deur honderde gange – soos dit haar voorkom – agter Marie aan. Haar leier is erg ontevrede oor die plig wat die hoof op haar gelê het en sy probeer gou om Elsabe te laat voel hoeveel sy in die pad is. Eindelik kom hulle by ’n ry deure. Een daarvan is oop en daar lei Marie haar in.

      Die graadnege-slaapkamer is ’n lang saal, afgeskort in dele, met baie groot vensters wat op die speelterrein uitkyk. Elke afdeling het ’n bed, klerekas, wastafel, spieëltafel en stoel en die dekens en gordyne is blou. Dit is alles mooi netjies maar op Elsabe maak dit ’n indruk van onvriendelike koudheid en die groot aantal meisies is vir haar soos ’n slegte droom.

      Al is sy veertien jaar oud, ken sy g’n meisies van haar eie ouderdom nie, want daar is nie jongmense op haar tante se eensame plaas nie. In die vreemde omgewing van die skool, tussen mense wat vir haar soos wesens van ’n ander planeet optree, is sy heeltemal verward.

      “Laat ons sien waar jou afdeling is,” sê Marie, haastig om van haar plig ontslae te wees.

      Sy lees gou deur die lys op die deur.

      “Marie Dempers, Gertruida Nel, Johanna Landsberg, Teresa Karelsen, Elsabe van den Heever. O, dis jy. Nommer vyf.” Sy wys na ’n afdeling. “Nou kan jy self regkom.”

      In haar angs laat Elsabe haar stem die eerste maal hoor. “O, as u blief!”

      “Wat makeer?”

      “Wat … wat staan my nou te doen?”

      “My tyd! Gebruik jou oë en kyk wat die ander doen. Ons wag vir ons trommels om op te kom en dan gaan ons uitpak.” Marie wil nie eintlik wreed wees nie, maar die nuwe meisie is so vreemd dat sy nie te veel met haar te doen wil hê nie. Sonder om eenmaal om te kyk, spring sy weg na haar eie afdeling en laat Elsabe alleen by haar bed staan.

      Die afdeling regs van Elsabe behoort aan Hannie, wat met iemand oorkant ’n gesprek voer. Links sit Kobie met haar wange rooi van plesier, onveilig op die rug van ’n stoel, maar hoog in haar skik. Naby is Terrie en iemand anders besig om een van die nuwe meisies alles van die skoollewe te vertel.

      “Ons het vanaand g’n studie-uur nie,” sê Terrie. “Ons het natuurlik g’n lesse om te leer nie en dus maak ons maar wat ons wil.”

      “Ons sou dit nooit op ’n ander aand gewaag het om so in die groot saal te raas nie,” sê haar maat.

      “Sou ons nie?”

      “Sekerlik nie! Daarop kan jy wed!”

      “Wat