Hy steek voor Deon vas en skree met sy vars, dranklose asem soos dié van ’n jong kalfie in sy gesig: “Julle suipgatte sit heeldag in die bar en nou skiet julle ’n mens se hoenders! Het julle nie respek vir ’n ander man se goed nie!” ’n Mens kan sien die man is heeltemal buite homself van woede.
Deon sê hy kon nie stry nie en haal toe maar ’n vyftigrandnoot uit sy hemp se bosak en klap dit in die hand waarmee die man besig is om vir hom onder die neus te beduie. Net toe verskyn Koos se geweerloop weer oor die dakkie se kap en toe die skoot klap – toe bars ’n hen oop. Deon sê niks en klap nog vyftig rand in die man se hand. Die man is nog hard aan die protesteer, toe klap die derde skoot en nog ’n hen spat aan flarde. Toe beland nog vyftig rand in die eienaar se hand. Nog ’n skoot, nog vyftig rand, nog ’n skoot, nog vyftig rand; en so gaan dit aan terwyl die eienaar net die besigheid staan en gadeslaan met ’n oop mond en ’n oop hand waarin die vyftigrande ná elke skoot beland.
Skielik is Koos se geweer stil en dit lyk of die eienaar dubbelspeltennis kyk, so vinnig kyk hy na Koos en bekommerd terug na die troppie oorblywende hoenders. Toe die laaste een om die huis se hoek verdwyn, kyk hy terug na Koos.
Die eienaar merk toe op: “Bly julle net hier teen die bakkie staan, dan keer ek weer die hoendertjies agter om die huis.” So gesê, so gemaak. Die hoenders, wat toe teruggejaag is, word een vir een geskiet, maar nou help Deon met die dertig-nul-ses. Die Plattelanders juig ná elke skoot as dit ’n netjiese skoot is. Selfs die polisie, wat later opdaag en die afwesigheid van enige vorm van misdaad dadelik op ’n polisiekundige wyse identifiseer, klap statig hande as dit byvoorbeeld ’n kolskoot in die hardloop is. Die eienaar is amper fanaties om al die henne in die skutters se skootvakke te kry, en toe een hen dit regkry om weg te hardloop, hol die eienaar haar in, duik haar plat, snou haar iets toe van selfsugtigheid en bring haar terug vir die teregstelling. Vooroorgebuk met oopgespreide arms probeer hy soos ’n swakgeleerde skaaphond die hoenders op ’n hoop hou. Deon moet hom later vra om die hoenders ’n meer sportiewe kans te gee. Dit veroorsaak ’n bekommerde trekkie op die man se gesig. Een of twee sal dalk wegkom.
Toe al die hoenders nie meer staan nie, maak Deon en die eienaar gou-gou boeke op. Die rooi vyftigrandnote uit sy bosak skyn mooi deur die eienaar se ligblou hempsak. Die eienaar gooi drie streepsakke sonder vergoeding op die transaksie in om te toon dat sy sakevernuf ondergeskik is aan sy morele norme. Hy laai met ’n baie breë glimlag die drie streepsakke hoenders agter op die bakkie.
Toe vertrek Deon en Koos huis toe. Dit is nie meer nodig om na Gert toe te gaan nie, want die prooi was reeds op die bakkie. Die eienaar, sy vrou en kinders en die gemoedelike bos Plattelanders op die stoep wuif hulle totsiens. Gert sal homself maar teen die tarentaalmonsters moet verdedig. Die Weskussers skree vir Deon hulle hoop nie hulle sien hom gou weer nie. Gert en die gevaar waarin hy verkeer, is totaal en al vergete.
So sewe-uur die aand gee ’n laggende, singende Deon en Koos baie tevrede die drie streepsakke vir Jennie en sê sy kan maar begin pluk. Hulle vertel haar hoe ’n uiters gelukkige vrou sy is, want hoender is baie lekkerder as tarentaal.
Deon sê hy lê nou agste by Jennie ná die kinders, die honde en die katte.
Die Engelse apteker
Arnold se pa het vir hom as klein seuntjie mooi verduidelik dat as ’n hond op sy agterwêreld gaan sit en homself met sy voorbene vorentoe sleep, die hond waarskynlik wurms het. Die wurms se nete gaan sit daar agter en veroorsaak ’n vreeslike gejeuk. As die hond hom dan so voortsleep, word die nete versprei, wagtend op ’n nuwe gasheer.
Arnold het in die jare vyftig in die Noordweste grootgeword waar vreemde mense en die Engelse taal uitheemse goed was. Hulle het nie mense geken wat Engels kon praat nie; eers ná skool het hy in die Engels Spes-klas met sulke mense te doen gekry in die vorm van lektrises en professore. Vreemdelinge was skelms wat hulle op die een of ander manier wou inloop.
Op universiteit het hy sy kwalifikasies verwerf en ’n goeie werk in Kaapstad in die Goue Akker gekry. Hy het elke dag ’n driestukpak en ’n das gedra. Sy ouers was trots op hom. Hy het trein gery vanaf die noordelike voorstede, sy koerant elke dag goed deurgelees en in die algemeen was hy op pad na ’n suksesvolle professionele loopbaan. Die Engels het ’n bietjie gepla, maar hy het tog mooi reggekom daarmee.
Alles was perfek. Hy het goeie geld verdien, ’n pragtige meisie gehad en selfs ’n huisie gekoop met sy behuisingsubsidie wat hy moes benut – tot die dag dat hy simptome ontwikkel het wat hom oortuig het hy het wurms.
Sy simptome was aanvanklik matig. ’n Knypie en ’n ligte regskuif op ’n stoel se sitplek het die gewenste uitwerking gehad. Later moes hy die stoel se rand opsoek en dan knypend regskuif. Nog later het hy altyd kastig per ongeluk op ’n highlighter gaan sit en gewoonlik gelyktydig met ’n knyp en ’n hoesie op die highlighter geskuif vir verligting. Uiteindelik moes hy met sy rug teen ’n muur gaan staan en met een hand byvoorbeeld koerant lees terwyl sy hoppende broekspype verklap wat die ander hand besig is om te doen. Dit het erger en erger geraak, dermate dat Arnold nie meer behoorlik op sy werk kon konsentreer nie en konstant mure gesoek het om teen te gaan staan. Hy het voortdurend ’n koel swembad gevisualiseer waarin hy heeltemal alleen is sodat hy na hartelus kon krap soos hy wil.
Arnold het besef hy moet iets daadwerkliks doen ten einde permanente verligting te kry, maar hy was te skaam om ’n dokter te gaan spreek of om met enigiemand daaroor te beraadslaag. Hy kon homself met weersin voorstel hoe die ondersoek by die dokter sou verloop. Hy was klaar selfbewus om sy tong uit te steek en aaaa! te sê en dis aan die bokant.
Hy was desperaat en bang dat hy later soos die honde sou moes maak. Hy was verneder dat so iets hom moes oorkom en kwaad vir sy hond op skool waarby hy sekerlik moes aangesteek het. Hy móét wurmpille in die hande kry; dit is al uitweg, het hy vas geglo.
Hy het ’n apteek in die noordelike voorstede geïdentifiseer en ongeërg op ’n baie besige oggend daar ingestap en kastig onbelangstellend na die ware op die rakke begin kyk. Hy het gewonder waar hy dit sou vind waarvoor hy soek.
Hy gaan na die heel onderste punt van die laaste rak, waar hy hoop dat die produkte waarvan die naam met ’n “w” begin sal wees. ’n Wurm in Engels begin gelukkig darem ook met ’n “w”. Daar kry hy niks nie en hy verskuif na die rak waar die produkte wat met “h” begin uitgestal is. Hy wonder of hy vir die Engelse ekwivalent na die “a”-rak sal moet gaan.
“May I help you, sir?” hoor hy ’n fyn stemmetjie vra. Dit is die fynste, pragtigste gesiggie op die perfekste lyfie wat hy nog ooit gesien het, iets soos in die blaaiboeke (hy het later gehoor stadsmense praat van “tydskrifte”) wat hulle soms in die dokter se spreekkamer in die Noordweste gesien het.
Net daar slaan Arnold heeltemal toe en sê: “Yes, perfume for my mother.”
’n Deernis ontsluit in Blaaiboekgesiggie se oë waarop sy hom na die parfuumtoonbank lei en sy die parfuums op haar pols begin spuit. Hy moet dan die sagte, leliewit, Engelse armpie beruik en ’n kort Engelse resensietjie gee van die betrokke parfuum terwyl hy deurentyd simptomaties baie deeglik aan sy wurm-toestand herinner word.
Die langste resensie was iets soos: “Mmmm, nice.”
Sy kan nie elke nuwe parfuummonster op dieselfde plek op haar arm spuit nie en doen dit elke keer ’n bietjie hoër teen die mooi armpie op. Dit spoor Arnold aan om die betrokke parfuum af te skiet met: “Not so nice.” Hy besef sy moet die een of ander tyd by haar kieliebakkies eindig, wat hom nogal op ’n snaakse manier interesseer, maar sy simptome raak al hoe erger sodat dit hom noop om elke keer dat sy haar rug draai om nog ’n monstertjie te gaan haal, teen een van die rakke sy broekspype te laat wip. Hy vergeet die rakke is nie solied nie. ’n Klein witkopdogtertjie fluister iets in haar mooi moeder se ore en dié lei die kind vinnig weg terwyl sy bly omkyk en iets prewel.