Die plaas was nie ver van die stad nie. Voor Magriet nog kon vaak word van die gedreun van die motor, het hulle afgedraai en deur ’n hoë laning bome gery tot voor ’n groot huis met ’n houtstoep rondom. Om die huis was die gras groen en daar was baie bome en bosse. Magriet het uit die motor geklim en doodstil na alles om haar staan en kyk. Sy het gedink as die huil dik word in haar keel, gaan sy sleg hier bly. Maar die huil het weggebly. Sy het ’n voël bokant haar hoor fluit, en van agter ’n bos uit het twee katte aangestap gekom asof hulle die mense wou welkom heet. Dit het vir haar gelyk soos ’n ma-kat en haar kind. Die katte het tot by haar gekom en die ma-kat het haar lyf om Magriet se bene gekrul en haar katmasjientjie aangesit. En Magriet het geweet: dit gaan ’n lekker plek wees dié, met voëls en katte en baie speelplek. Die huis se vensters het geblink en die stoep was koel en wyd.
“Montrose,” het haar ma saggies gesê. “Montrose. Tog ’n mooi naam, al is dit Engels. En ek hou van die huis. Ons gaan gelukkig hier wees, ek weet dit. Eindelik gelukkig.”
“Mevrou Macmurray sal môre uitkom, dan kan julle alles bepraat. Sy sal bly wees dat daar uiteindelik weer iemand in die huis en op die plaas is. Ná haar man se dood kon sy nie lank so alleen bly en die groot melkery behartig nie. Dié dat sy maar met haar seun stad toe getrek het. Eendag, as hy groot is, sal hy dalk oorneem.”
“Dankie dat jy my aanbeveel het, ou swaer. Dis ten minste ’n begin.”
Magriet was bly dat haar ma en haar pa so gelukkig geklink het. Sy het agterna gedrentel toe hulle die huis instap.
“My klavier!” het haar ma skielik uitgeroep. “Hier staan my klavier! Nou is ek werklik tuis.”
Haar pa het gelag. “Ek het gereël dat dit op die stasie gehaal en afgelaai word. Ek weet mos hoe is jy oor jou klavier.”
Haar ma het haar arms om haar pa geslaan en sy het gelag en gehuil, sommerso deurmekaar.
“Baie dankie, baie dankie, my liefste man. Ek sal dit nooit vergeet nie. Dis soos ’n goeie voorteken.”
Sy het voor die klavier gaan sit en die deksel oopgeslaan. Ná sy die rooi klavierlap afgehaal het, het sy haar hande ’n oomblik op die blink wit note laat rus. Toe het sy begin speel en die note was vir Magriet net so mooi soos die voël se fluit buite in die hoë boom. Haar ma het begin sing, eers saggies en toe sterker en harder totdat haar stem die hele vertrek vol gemaak het. Almal het doodstil staan en luister. “Prys den Heer” het Magriet se ma gesing en “O goedheid Gods”. En toe het die klanke vrolik en lig geword en haar ma het “O die liewe Martatjie” en “She’ll be coming down the mountain” gesing en hulle het almal saamgesing en gelag. Magriet sou haar lewe lank na “Prys den Heer” en “O goedheid Gods” en “O die liewe Martatjie” en “She’ll be coming down the mountain” luister met die gelukkige, warm gevoel wat sy die eerste oggend op Montrose in die verre Transvaal in haar binneste gehad het.
Hoofstuk drie
Die eerste warm, gelukkige gevoel het lank in Magriet se binneste bly vassit. En omdat dit haar binneste so vol gesit het, was daar min plek oor vir huil en hartseer. Sy het soms na haar ouma en na die plaas verlang, maar die verlange het nooit lank gehou nie. Daar was te veel lekker dinge op Montrose. Byna elke dag was daar ’n ander lekker ding.
Daar was mevrou Macmurray en haar seun, Bimbo, wat byna elke naweek van die stad af gekom het om in hulle kothuis agter die groot huis te bly. Mevrou Macmurray het altyd vir haar lekkers gebring, en Bimbo het haar leer donkiery. Daar was die katte en die speelplekke oral op die plaas; onder in die tuin, agter die huis in die dennebos, in haar groot speelkamer as dit die dag slegte weer is en soms in die kombuis waar haar ma werk.
Een van die eerste lekker dinge wat gebeur het, was Magriet se verjaardag, kort nadat hulle ingetrek het. Haar pa het met die plaasmotor stad toe gery en teruggekom met ’n vrag presente. Sy het gesien dat haar ma ontevrede was.
“Ons kan dit nie bekostig nie.”
“Maar vrou, dis die eerste keer dat ek ’n bietjie geld het om vir ons ou dogtertjie ordentlike verjaardagpresente te koop.”
“Dis oorbodig. Ek het geld nodig vir die baba se klere.”
“Dié kry ons volgende maand. Daar is mos nog tyd. Kom ons geniet nou Grietjie se verjaardag terwyl sy nog al enetjie is.”
Daar was wonderlike presente. Die mooiste van alles was ’n poptafeltjie met geskilderde patroontjies in rooi en goud en swart. Haar pa het beduie dat dit in Rusland gemaak is, ’n land ver oor die see, waar dit in die winter wit was van die sneeu en baie koud. Daar was boeke ook, die eerste van baie wat Magriet se pa nog deur haar lewe vir haar sou koop. Tien Kaalkopmannetjies was vir haar die mooiste, en haar ma moes elke aand vir haar daaruit lees: van tien kaalkopmannetjies wat ’n huis bou op Vergelege. Die sware tafel val op Dafel, toe bly daar maar net nege. En so aan tot daar nie meer een kaalkopmannetjie oor was nie. ’n Ander present was ’n swart kat van karton, vol toffies. Die dag ná haar verjaardag het sy in die dennebos agter die huis al die toffies opgeëet en toe die kat self ook begin eet, tot sy so naar en siek was dat sy die huis beswaarlik gehaal het. Haar ma het baie geraas en haar beveel om haar vinger in haar keel te druk. Daarna moes sy kasterolie sluk en bed toe gaan.
Van al die presente was die wonderlikste egter die nuwe baaikostuum. Haar ou baaikostuum was vir haar ’n verskriklike verleentheid, want dit was sonder bostuk, met net twee bandjies oor die skouers wat die broekie bo gehou het, sodat sy die hele tyd met haar arms oor haar bors geloop het. Die nefies het altyd met haar baaikostuum gespot.
Haar pa het nie vir haar die baaikostuum saam met die ander presente gegee nie. “Luister, Magriet, daar is nog een present. Maar dié moet jy self loop haal. Onder die groot klip in die dennebos het die maankoningin vir jou iets weggesteek. As dit weer volmaan is, moet jy die aand alleen gaan en dit gaan haal. As jy bang is, sal die maankoningin dit self weer gaan haal en vir ’n ander dogtertjie gee.”
“Ek is nie bang nie, Pa. Wanneer is dit weer volmaan?”
“Oormôre, dink ek.”
“Dan sal ek gaan.”
“Jy is verspot, my man. Die kind is mos nog klein.”
“Sy moet nou al leer om vrees te bowe te kom. Veral as iets belangriks op die spel is.”
Haar pa en haar ma het in die verligte kombuisdeur bly staan toe sy die aand alleen die bos in loop. Die maan het helder deur die lang, donker bome geskyn en êrens, hoog in ’n boom, het ’n uil bly roep. Magriet se rug was hol en haar wange was yskoud, maar sy het bly loop, deur die donker bome heen, met die suising van die nagwind soms harder as die uil se roep. By die groot klip, wat in die donker nog groter gelyk het en vreemd, het sy gebuk en met haar hande begin soek. Sy het die pakkie raak gevat en soos blits omgespring. Die takke het haar vasgegryp en die klippe het haar voete gesteek, maar sy het niks gevoel nie. Sy het net een doel gehad, om uit die donker weg te kom tot in die helder lig by haar pa en ma waar dit veilig was. Sy het haar in haar ma se wagtende arms gewerp.
Haar pa het gelag. “My dapper dogter. Jy het jou present verdien. Maak oop dat ons kyk.”
Sy het haar asem teruggekry en die bruin papier losgewoel. In haar hande was ’n regte, egte swembroek. Sy kon haar oë nie glo nie. Dit sou nooit weer nodig wees om daardie simpel broek te dra nie. Dit sou nooit weer nodig wees om haar arms oor haar bors te vou nie. Daarby was die swembroek ’n maankoningin-swembroek: dit was net so goudgeel soos die maanstrale wat deur die donker dennebome geval het toe sy netnou in die bos was. Sy het haar arms om haar pa se nek geslaan en hom styf vasgehou, en haar ma het kakao gemaak en hulle het saam in die warm geel lig van die kombuis gesit, en binne-in haar was dit lig en warm soos geel maanlig en soos die geel baaikostuum.
Haar oom en haar tannie en die nefies het baie kom kuier en dit was deel van die lekker van Montrose. Haar pa en ma het baie meer gelag, veral as haar oom en tannie kom kuier. Sy het selfs later van haar nefies begin hou. As hulle op die plaas was, is daar piekniek gehou en geswem en donkiegery. Die swem was ook nou baie lekkerder met die nuwe geel swembroek.
Op