My ouma in kaneel
Margaret Bakkes
Human & Rousseau
Vir my eerste kleinkind, Cara
Hoofstuk een
Magriet was elf jaar oud toe hulle terug is plaas toe. Maar eintlik begin Magriet se storie lank voor die terugkeer plaas toe. Magriet se storie begin saam met Magriet se onthou. En Magriet se onthou loop terug na die oggend toe hulle gehoor het dat hulle van die plaas af moet weggaan. Voor dit was dit nie van onthou dat Magriet dinge geweet het nie, maar van wat haar ma altyd vertel het.
Soos van die groot wit huis in die groot dorp by die see. Dis waar Magriet se ma grootgeword het. Vir Magriet was daar niks mooiers as haar ma se stories oor die lewe in die groot wit huis wat sommer klipgooi van die strand af was nie. Want haar ma was een van tien kinders en hulle was ’n gelukkige gesin, sodat daar altyd baie stories was om te vertel. Hulle pa, Magriet se oupa, was nou wel ’n streng en ’n kwaai man, wie se woord wet was, maar hy het goed vir sy kinders gesorg en hulle het groot respek vir hom gehad, het Magriet se ma altyd vertel. Magriet kon ure lank na haar ma luister as sy eers begin vertel.
“My ma was ’n sagte mens, Magrietjie, en ons kinders was baie lief vir haar. Weet jy, ek verlang nog steeds na haar. Dis tog jammer dat jy haar nooit geken het nie. Jy was nog baie klein toe sy dood is. En ná haar dood het die lewe in die wit huis ook maar sommer so vertoiing.”
Vir Magriet was die feit dat sy haar ander ouma nie geken het nie, nie rede tot hartseer nie. Want haar kleintyd was volkome gevul deur die ouma wat bly leef het, haar pa se ma. Ouma-van-die-plaas.
Magriet se ma was ’n dorpsmens en dit was nie vir haar maklik om ná haar troue op die plaas te kom bly nie. “Dit was so stil en alleen ná wat ek op die groot dorp by die see gewoond was, Magriet. Ek was gewoond aan mense en konserte en winkels. En aan ons groot gesin en aan die baie pret.”
“Nou maar hoekom het Mamma dan plaas toe gekom?”
“Maar my hene, Magriet, omdat ek met Pa getrou het.”
“Maar hoekom het Ma en Pa getrou as Ma nie op ’n plaas wou kom bly nie?”
Dan het haar ma nie dadelik geantwoord nie, maar so ver gekyk, met haar oë so half nou getrek, en in ’n anderste stem geantwoord: “Ek het met Pa getrou omdat ek met hom wou trou, Magriet. Omdat ek vir hom lief was.”
“Vertel my van Ma se troue,” wou Magriet oor en oor hoor.
“Die mense het lank gepraat oor dié troue, Magriet. Hulle het gesê dat so ’n mooi bruid en bruidegom selde op die dorp gesien is. Jy sien mos, jou pa is nou nog ’n mooi man, al verrinneweer hy homself so op die plaas. My rok was lank en van die mooiste gladde materiaal, soos pêrels. Ek wou nie ’n driekwartrok hê soos my suster Cora nie. Sy is kort voor my getroud en sy wou in die mode wees met haar driekwartrok vol krale en haar wit kouse en satynskoene. Nie dat sy nie ook mooi gelyk het nie. Dis mos op haar troue dat ek vir Pa ontmoet het. Hy was die strooijonker en ek die strooimeisie. My suster Cora was met Pa se neef getroud.”
Magriet het al geweet: as haar ma by dié deel van die storie kom, het haar mooi blou oë vol trane geword, want dan het sy onthou van haar suster Cora wat dood is toe haar babatjie gebore is. En van die babatjie wat ook dood is. En van tannie Cora se man wat nou nog oor haar treur. Magriet wou nie so graag dié deel van die storie hoor nie. Dit het haar te hartseer gemaak.
“Vertel van hoe Ma op Ma se eie troue gesing het.”
“Ag, kind, jy het dit mos al gehoor. Ek moes mos altyd vir mense sing, van my kleintyd af. En sowaar, op my troue kon dit nie hoër of laer nie. Ek moes vir die mense sing. En ek was bly én hartseer terwyl ek gesing het. Bly omdat ek met jou pa getrou het en hartseer omdat ek van my ma moes weggaan. My susters was teen dié tyd almal uit die huis. Dit was vir my ma swaar.”
En dan het Magriet gedink dat sy maar liewer nie eendag wil trou nie. Sy wil tog nie van haar ma weggaan nie. Want sy is verskriklik lief vir haar ma, verskriklik.
“En daarna, Ma?”
“Daarna het ons met Pa se Fordmotor vertrek na ’n hotel in die Katberg, en daar het ons vir ’n week lank wittebrood gehou. Ek was baie gelukkig daar in die Katberg.”
“En toe het Ma plaas toe gekom?”
“Ja, toe het ons plaas toe gegaan. Op die plaas was die splinternuwe huis klaar gebou, en die klavier en meubels wat Oupa en Ouma vir ons as trougeskenk gegee het, was reeds daar. Ouma en Oupa Plaas het toe dorp toe getrek en Pa het die boerdery oorgeneem. En ek moes leer om boervrou te word.”
“Wat moes Mamma alles doen?”
“Ek moes leer karring en bak en skaap slag. Ek moes van hoenders leer en van eende en van varke. Ek moes selfs leer kos kook. Want in ons huis het my ma ’n huishoudster gehad. Sy kon nie met tien kinders alleen regkom nie. Van huiswerk het ek dus nie veel geweet nie. Maar Pa het my met groot geduld geleer. En Ouma Plaas ook, as hulle soms naweke kom kuier het. Want Ouma Plaas was nie baie gelukkig op die dorp nie. Sy het verlang na die plaas. Dié dat hulle kort ná jou geboorte teruggetrek het plaas toe.”
“En wat nog?”
“O ja, ek het leer perdry ook. Pa het vir my ’n pragtige vosperd gegee. ’n Merrie en haar naam was Weerlig.”
“Was Ma lief vir haar?”
“Verskriklik. Sy was my maat. En op ’n dag het ek besluit om op die dorp te begin sangles gee. Ek sou twee keer per week met Weerlig inry. Só goed het ek leer perdry. Ek was so tuis op Weerlig se rug soos op ’n stoel. En gelukkig. Ek was op my gelukkigste as ek teen die sandbult uitry dorp toe, met die veld en die doringbome groen om my en die wind teen my lyf en die perd se gang gelyk op ’n galop. Maar die mense het baie geskinder. En Ouma Plaas was nie tevrede nie. Later het die mense ophou skinder, want dit was vir hulle lekker om sanglesse te neem, en almal het kom kyk na die konserte wat ons gehou het.”
“Watse konserte het Mamma gehou?”
“Met my sangleerlinge. Ons het gesing en klavier gespeel en daar was kore en eenkeer het ons selfs ’n gedeeltetjie uit ’n opera, Il Trovatore, opgevoer. Dit was vir die mense verskriklik mooi, want so iets het hulle nog nooit gesien nie, en dit was ’n lekker hartseer deel, sodat die vrouens almal gehuil het. Die mense het lank oor dié konsert gepraat.”
“En Pa?”
“Ag, Pa het soms met die verhoog gehelp. Pa is mos nie eintlik erg oor musiek nie.”
“Hy hou darem daarvan as Ma vir hom sing.”
“Die een wat die meeste van my singery gehou het, was Oupa Plaas. Hy wou altyd dat ek vir hom sing.”
“Was Mamma lief vir Oupa Plaas?”
“Ja, my kind. Hy was, soos my eie mamma, ’n sagte mens. Dis tog snaaks dat mense met teenoorgestelde geaardhede dikwels met mekaar trou.”
“En was Ouma Plaas ’n teenoorgestelde geaardheid?”
“Ja, en Pappa ook.”
Maar Magriet het nie mooi geweet wat ’n teenoorgestelde geaardheid is nie. Nie toe nie.
“Maar hoekom het Mamma-hulle toe dorp toe getrek?”
“Omdat Ouma nie op die dorp wou bly nie. Sy het verlang na die plaas en wou terug. Die ou huis was teen dié tyd verwaarloos en sy sou in die nuwe huis moes bly. En twee vroue onder een dak stryk nie.”
“Maar ek en Mamma is dan twee vrouens onder een dak. En ons stryk.”
Magriet het nie aldag verstaan hoe grootmense se koppe werk nie. Sy kon op daardie tydstip aan niks lekkerders dink as om saam met Ouma Plaas onder een dak te bly nie. Want die kere dat hulle by Ouma Plaas gekuier het ná hulle weggetrek het, was van die wonderlikste tye in Magriet se lewe. Ouma Plaas het saam met haar in die sandsloot gaan stap en vir haar gewys waar die weglêhenne hulle neste wegsteek. Hulle het saam die babakalkoentjies gevang en in die hok gesit. Saans het sy vir Oupa uit die dubbelbed geboer en knus op die bulsak agter Ouma se groot