“Nou wonder ek, is daar nie dalk iets soortgelyks met mense aan die gebeur nie? Skop ons gevaarinstinkte nie nou in nog voordat ons rasionele verstand dit kan verklaar nie? Is al die waarskuwings oor Planeet X en ’n groot asteroïde en sonstorms nie ’n manier waarop die kollektiewe onderbewussyn van die mensdom ons probeer waarsku dat die tyd aangebreek het om na hoër grond te vlug nie?”
Jakkals en Nick kyk my ’n oomblik fronsend aan, terwyl ek ’n bietjie laf voel oor dié vermoede wat ek nog nooit hardop uitgespreek het nie. Ek beskou myself as ’n rasionele mens, as iemand wat hom op wetenskaplike feite verlaat, maar geruime tyd reeds knaag dit aan my: Hoekom is almal nóú skielik so bekommerd?
Uiteindelik sug Jakkals. “Wat praat jy alles?”
“Wat praat jy alles?” herhaal Nick.
* * *
Aanvanklik lyk dit nog asof vorige stappers ’n roete deur die bos oopgetrap het, maar ná ’n uur of twee loop dié paadjie dood by ’n groot poel met ’n lang waterval en loodregte, skynbaar onbegaanbare kranse. Hier word Jakkals soos ’n aapmens. Hy swem met rugsak en al oor die water. Oorkant die poel gryp hy vas aan die wortels van bome wat teen die kranse groei en begin hom ophys. Ek en Nick moet agterna. Ná ’n lang, byna loodregte klim, kom mens by ’n volgende diep, ongerepte vallei waarlangs jy weer ’n ruk voetslaan. By tye kom jy op groot poele af wat die hele vallei versper en moet jy swem deur water wat gaandeweg al hoe kouer word. Soos wat die strook hemel tussen die kranse bokant jou dunner raak en die sonlig al minder, bestaan die plantegroei al meer uit varings en geelhoutbome. Soms dink jy dat jy ’n bobbejaan hoor blaf, maar meestal oordonder die gedruis van die rivier alles. Ná ’n halfdag se stap en klim, besef jy dat jy ’n gebied betree waar geen mens ooit kom nie.
“Welkom by my huis,” sê Jakkals en skarrel teen ’n steilte uit, sleep homself op aan ’n boom en klouter tot op ’n rotswand. Daar is ’n skeur wat mens van onder skaars kan sien, en dáár versteek Jakkals die proviand wat hy oor die laaste ses jaar na die grot opgedra het.
Teen die tyd dat ek my agterna gesleep kry, hoor ek Jakkals reeds vanuit sy grot kla – ’n rot het op sy voorrade afgekom, deur van die plastieksakke geknaag en op van sy blikeetgerei gemis. Hy pak alles uit. Daar is ’n bakkie koring (waarmee hy koringgras wou kweek, maar die rotte het deur die bak gekou en die inhoud het gevrot), sakkies met bruin basmati-rys, ’n pen, ’n waslap, ’n slypsteen, ’n tonteldoos, opblaasmatrasse, opblaaskussings, slaapsakke, batterye, twee rolle staaldraad, verbande, lym, ’n opslaangrafie, messe, vurke, lepels, ’n blikketel, knope, ’n naelknipper, ’n haartangetjie, ’n reënjas, tabak en ’n pyp, leerhandskoene, wasgoedpennetjies, ghries, moersleutels, tange, ’n saag, ’n sak vol warm serpe, sokkies en balaklawas, ’n potjiekospot, vier gashouers vir sy stofie, ’n medisynetas met onder meer Zam-Buk en antiseptiese room, kerse, grondseile, visvanggereedskap, maskeerband, ’n Olfa-mes, Zippo-brandstof en albasters.
“Waarvoor is die albasters?”
“Kettie.”
Nick tel ’n klein radio’tjie op wat tussen Jakkals se voorrade lê. Jakkals verduidelik die radio’tjie kan kortgolf opvang vir die dag wanneer dít die enigste oorblywende vorm van elektroniese kommunikasie sal wees. Nick draai die knoppie en kom op ’n radiostasie af. Dis RSG en die program is Loslip met Ian Wessels.
“As die wêreld môre eindig, kan jy darem nog na Loslip met Ian Wessels luister,” sê ek.
Terwyl Jakkals sy voorrade herrangskik, vra ek hom uit.
Waarmee gaan hy sy tande borsel hier bo?
“Ek het tandepasta iewers. Maar as mens gesond genoeg eet, het jy later nie meer tandepasta nodig nie.”
En as ’n slang hom pik?
“Dan moet jy maar sit en wag om te sterf.”
En as ’n 2 km hoë tsoenami uit die see opstaan en deur hierdie kloof spoel, soos party mense voorspel?
“Ek het ’n opblaasbootjie hier naby weggesteek.”
* * *
Daardie aand slaap ons in Jakkals se slaapsakke en maak beurte om wag te staan teen luiperds. Ons stap die volgende oggend verder. Ons eet spekboomblare. Ons swem onder nog watervalle.
Ek laat Jakkals en Nick voor my uit loop en gaan sit op ’n rots. Toe ons die beskawing verlaat het, was die radio en koerante vol van die nuus dat oudpresident Nelson Mandela in die hospitaal is. Nou het ons geen idee wat intussen gebeur het nie. Die hele wêreld kan in duie stort en ons sal dit nie weet nie. Mense kan in die strate van Johannesburg om die laaste bietjie blikkieskos veg en ons sal hier in die berge rustig slaap. Die gedagte kom meteens by my op: Daar is nie nog ’n mens op aarde nie. Daar is net ’n rivier wat rondom my borrel en bruis en spreeus wat veraf skree, die son wat flouerig in spatsels deur die boomtakke val. ’n Voël waarvan ek nie eens die naam ken nie, met die lyf van ’n tarentaal en ’n bloedrooi gesig, kom nader en kyk met sy kop skuins gedraai na my. Hy maak ’n geluid wat soos ’n Volksie se toeter klink. Woon hy hier in die kloof? Is ek die eerste mens wat hy nog ooit gesien het? Is ek die laaste mens wat hy ooit sal sien?
Terug by die grot maak Jakkals koffie. Hy hurk langs die gasstofie, rol ’n sigaret en gesels.
“Kyk, dit werk eintlik só: As een of ander katastrofe die aarde tref, selfs al weet ek dat ek gaan vrek, dan kom sit ek steeds eerder hier om dood te gaan as om in een of ander bunker vir die dood te wag. Daai ryk mense sal nog op hul laaste dag in hul bunker sit en blikkieskos eet, dan sit ek hier en eet spekboom.”
Hy trek aan sy sigaret en klap sy lippe van lekkerkry.
* * *
As mens deur geskiedenisboeke blaai, is dit opvallend dat mense nog altyd gedink het dat hulle in die skadu van die apokalips leef. In antieke Babilonië het mense in spykerskrif op kliptablette geskryf die einde kan nie meer ver wees nie. In die Middeleeue het predikers hulself dag en nag met swepe geslaan ter voorbereiding op die naderende wederkoms. In 1999 het IT-fundi’s gesidder dat die Y2K-gogga rekenaars so erg gaan omkrap dat kernmissiele hulself gaan lanseer en satelliete uit die lug gaan val.
Twee dinge val mens egter op oor die huidige eindtydfiksasie. Eerstens kom dié vrese oor ’n veel wyer spektrum van die samelewing voor. Wetenskaplikes, godsdienstige predikers, psigiese mediums en doodgewone mense voer almal redes (weliswaar uiteenlopend) aan hoekom die wêreld soos dit tans daar uitsien nie meer lank kan voortbestaan nie. En tweedens is dit baie moeilik om verby die objektiewe gegewens te kom wat daarop dui dat ons veel nader as ooit tevore aan ’n reële, konkrete natuurramp is wat die mensdom kan uitwis.
Iets snaaks gebeur met jou as jy jou in dié inligting verdiep. Ek stap in die aand deur ’n straat in Bloemfontein en sien skielik voor my geestesoog hoe een of ander verskrikking uit die hemel neerdaal, ’n lig soos dié van honderd sonne wat my verblind en al die stad se geboue soos strooihuisies wegwaai. Die beeld is so oorweldigend dat ek ’n oomblik moet stilstaan. By ’n ander geleentheid gesels ek met ’n vriendin en sy begin praat oor die hopeloosheid van die mensdom se bestaan, hoe ons planeet deur die ruimte al dieper die duisternis in tuimel op pad na een of ander verwoesting wat ons gaan uitwis. Die gesprek raak so neerdrukkend dat ons uiteindelik maar in stilte voor ons uitstaar; nie een van ons het troos vir die komende uitwissing wat al hoe meer onvermydelik lyk nie.
Dié boek gaan oor my pogings om uit te vind watter ramp die mensdom tot ’n einde kan bring en wat jy kan doen as jy, soos Jakkals, vasbeslote is om die einde van die wêreld te oorleef. Selfs al gebeur die heel ergste ding wat die heelal in ons rigting kan stuur, sê baie mense daar is tog hoop. Die aarde is al deur minstens vyf massa-uitwissings van lewe, en elke keer het ’n paar tawwe, slim wesens dit reggekry om heelhuids anderkant uit te kom. In die toekoms sal die oorlewendes heel moontlik dié wees wat konkrete stappe doen om hulle vir die Laaste Dae voor te berei. En om dít te kan doen, moet jy ingelig wees.
AFDELING 1
Die naderende einde
Net omdat die aarde binnekort