Liefde onder die sterre
Susan Pienaar
Satyn
1
Dis vroegoggend en Lisa Jordaan sit by haar lessenaar en blaai deur die nuwe seisoen se ontwerpeboek wat sy pas van die plaaslike ontwerper Angelo ontvang het. Haar twee boetieks spog altyd met die heel nuutste skeppings van die land se vooraanstaande ontwerpers, en dis aankopetyd. Langbroeke, jeans en bloese sal altyd gewild bly, maar sy hoor ál meer vroue in haar winkels kla dat mooi rokke vir die dag skaars is. Aandrokke is nooit ’n probleem nie. Angelo het gelukkig ’n aantal pragtige rokke wat kantoorgereed is.
Sy blaai terug na bladsy sewe. Die dagrokke word deur die wêreldbekende plaaslike model Tanya vertoon. Lisa kyk fyn om sekuur te kan bestel. Sy moet koelkop besluit: Die rokke moet de laaste een verkoop, en geen vrou wil ’n replika van haar uitrusting aan iemand anders se lyf sien nie. Rustig maak sy aantekeninge in die oop spasie rondom die foto’s, tik dan haar bestelling en stuur die e-pos vir Angelo se sekretaresse.
Dan sit Lisa agteroor en bestudeer die model Tanya se gesig. Net ’n jaar gelede was sy nog onbekend, maar deesdae pryk haar gesig op al wat glanstydskrif is se voorblad. Tillie dink Tanya is beeldskoon; Lisa is nie so versot op haar nie. Die verlange na Tillie spoel oor Lisa en sy laat sak die boek.
Lisa het die grootste deel van haar lewe by Tillie en dié se tannie Lien gebly, nes haar ouers dit voor hul dood in hul testament bepaal het. Talien is oorlede toe Lisa en Tillie eerstejaars op universiteit was. En nou is Tillie, wat soos Lisa se eie suster is, sowaar met ’n Karooboer getroud!
Dis ná maande steeds vir Lisa heeltemal onbegryplik dat Tillie hul pragtige Jakarandastad vir die dorre, vaal Karoo verruil het. Tillie en Nico het mekaar op Boer soek ’n vrou ontmoet, en ná ’n warrelwindromanse van ’n skamele paar weke is hulle sommer daar in die Karoo getroud, in ’n landdroskantoor, Tillie sonder trourok of sluier. Lisa kon darem betyds ’n mooi uitrusting na haar laat koerier.
Tillie en Nico is skaars vyf maande getroud en reeds is Tillie swanger. “Nie dat ons dit so beplan het nie,” het sy oor die foon gegiggel, “maar natuurlik wil ons die baba baie graag hê.”
Lisa het Nico al ontmoet toe die pasgetroudes Pretoria toe gekom het om Tillie se sake af te handel. Nico is aantreklik op ’n gewone manier, goedgemanierd, joviaal en ooglopend baie lief vir Tillie. Dis alles dinge wat in sy guns tel, maar die feit bly staan dat hy ’n Karooboer is wat Tillie duisende kilometers ver weggeneem het. Na ’n dorre, snikhete wêreld …
Lisa sal haar enigste reis deur die Karoo nooit vergeet nie. Sy was agt jaar oud toe sy alleen met die trein af Kaap toe is om by haar ouers, wat reeds met vakansie was, aan te sluit. Hitte-uitputting het haar soos ’n dooie laat lê terwyl die sweet haar behoorlik afgetap het. Sy het gesmag na ’n swembad, maar selfs die drinkwater op die trein was badwaterwarm. En al wat sy gesien het, ure lank, was droë grond, klein gevrekte bossies, windpompe en ’n paar verdwaalde volstruise. Aaklige plek!
Lisa skrik ligweg toe die foon langs haar lui. “Mona Lisa Boetiek, Lisa Jordaan.”
“Haai, Lisa!”
“Tillie! Dit moet telepatie wees. Ek dink nou net aan jou.” En toe die stilte vreemd rek: “Hoe gaan dit vandag met die pienkvoet-mamma?”
“Nie so goed nie, Lisa … ek …” Tillie sluk ’n klein snik weg.
“Tillie! Wat is fout, jong?”
“Ag … daar’s probleme … met die baba.”
Lisa haal diep asem. “Hoe erg? Was jy by die dokter?”
Tillie snuif en vertel dan met rukke en stote. “Ek het begin bloei … ons was gister by my ginekoloog in Kaapstad. Hy’t bloed getrek en ’n sonar gedoen en als, hy sê die fetus is nog oukei. Maar ek moet my baie, baie stil hou.”
“Ag hemel, en nou? Arme jy! Het jy pyn?”
“Nee, geen pyn nie, en die dokter sê dis ’n goeie teken. Ligte bloeding kom glo algemeen in die eerste trimester voor, glo in tien persent van swangerskappe.”
“Jy het my groot laat skrik, jong. So dan is dit seker nie nodig om te huil nie?”
“Ek is net skielik so ’n bietjie emosioneel. En die ding is, ek is verveeld en allenig. Nico boer, hy kan nie heeldag om my kloek en gesels nie. Dis … anders hier.”
“Ek kan dink.” Lisa het voorspel Tillie gaan vinnig eensaam raak op die plaas, maar sy probeer om nie te klink asof sy wil sê “ek het jou mos gesê” nie. Haar hart bloei vir Tillie.
“Eintlik bel ek om te hoor … uhm, jy’t belowe jy kom kuier, onthou jy? Wil jy nie sommer nou kom nie? Noudat ek meestal moet rus.”
“Hoe ken jy my, Tillie? Natuurlik maak ek ’n plan. Ek moes in elk geval lankal daar uitgekom het. Ek mis jou so!”
Bets, die boetiek se bestuurderes, steek in die kantoordeur vas toe sy sien Lisa is besig, maar Lisa wink haar nader. “Laat ek net gou met Bets gesels en hoor wanneer ek sal kan wegkom. Ek bel jou sodra ek weet, oukei?”
“Probeer tog om baie gou te kom. Seblief, Lisa.”
“Jy weet mos ek sal.”
Lisa sien Bets lyk vaagweg verontrus waar sy hier voor haar staan.
“Jammer, ek het gehoor jy gesels met Tillie. Gaan dit goed met haar?”
“Sy’t bietjie probleme met die swangerskap.”
Bets klik haar tong. “Ai, ek’s jammer om dit te hoor!”
“Ek moet by haar uitkom, sy’t my nou nodig. Sal julle als kan hanteer as ek vir ’n week of wat weg is?”
Bets knik dadelik. “Natuurlik, en jy’t boonop vanjaar nog niks gerus nie. Jy kort vakansie.”
“Maar dis November … ons is so besig met die feestyd op hande.”
“Nee wat, die twee temps begin môre.” Bets knik selfversekerd. “Ons sal regkom, regtig, Lisa.”
Bets is haar gewig in goud werd. Lisa dink hardop. “Die salarisse is reeds inbetaal. En soos jy sê, daar’s die temps. Gelukkig gaan ek nie landuit nie. Ek sal net twee vliegure en ’n bietjie ver wees, as julle my regtig nodig kry.”
Bets glimlag, knik en draai om. Sy’s byna by die deur uit toe Lisa onthou: “O, waaroor wou jy my sien?”
“Gits, ja. Ek wou hoor van die bestellings en –”
“Wag, laat ek eers net kyk of ek ’n plek op ’n vliegtuig kan kry, dan bespreek ons alles wat nodig is. Ek’s nou sommer haastig om weg te wees.”
“Als reg, dit kan wag.”
Lisa skakel Tillie se nommer. “Haai, maar jy’s vinnig! Ek hoop jy’t baie goeie nuus?”
“Hou vas aan ’n kussing: As ek plek op ’n vlug kry, kom kuier ek sommer môre al!”
“Jislaaik, dis fantasties! Baie dankie, Lisa!”
“Ek het gesê ás ek plek kry. Dis glad nie ’n uitgemaakte saak nie. Ek bel jou wanneer ek weet.”
“Oukei. Ek sal solank vir Kallie waarsku dat hy jou op die lughawe moet kom haal.”
Lisa frons. “Wie?”
“Kallie, Nico se neef. Hy boer hier langsaan op Arendsfontein.”
“Ai, Tillie.” Lisa sug, effens vies vir haar vriendin. “Ek weet nog nie eens of ek plek gaan kry nie. Hang tog net aan. En jy wéét ek haat gunste van vreemdelinge.”
“Kallie is mos nie ’n vreemdeling nie! Hy’s familie, ek sien hom gedurig. Anyway, ek vra hom liewer vroeër as later.”
“As hy familie is en jy sien hom so baie, hoekom hoor ek nóú eers van hom?”
“Ag, dis ’n lang storie, ek vertel jou anderdag. Kallie het ’n vliegtuigie, dis hoekom ek hom gaan vra om jou te kom haal.”
“Jy vra die man níks nie! Ek huur ’n motor op die lughawe, soos enigiemand anders.”