Annelize Morgan Omnibus 2. Annelize Morgan. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Annelize Morgan
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Короткие любовные романы
Год издания: 0
isbn: 9780624053712
Скачать книгу
die oop deur staan Louis de la Roque en sy seun, Emile.

      “Ek mag seker na ’n geselligheid in my eie huis kom,” sê die pa met ’n onaangename laggie.

      Celèste weet nie wat om te sê nie. Sy het geen reg om hom die deur te wys nie, maar sy weet ook dat hulle teenwoordigheid die graaf baie sal omkrap.

      Sy dink vinnig. Dit sal beter wees as sy hierdie man nie die harnas injaag nie. Hy kan die wêreld vir die graaf baie onaangenaam maak.

      “Volg my, asseblief,” sê sy na ’n kort stilte. “Ek sal u na die comte De Bordeaux neem.”

      Met die twee mans kort op haar hakke, stap sy terug na die danssaal waar die orkes pas begin speel het. Die graaf De Bordeaux en Madeleine Tredoux open die dansvloer en Celèste en die twee onwelkome besoekers is verplig om ’n paar minute te wag voordat die graaf beskikbaar is.

      Sy maak haarself haastig uit die voete toe die twee mans na die graaf koers kies.

      Toe sy later terugkeer met haar skinkbord vol wyn, sien sy tot haar verbasing hoe Emile de la Roque en Madeleine dans terwyl die graaf skynbaar heeltemal op sy gemak met Louis de la Roque en twee ander vriende staan en gesels.

      Sy haal haar skouers liggies op. Sy sal ryk mense ook nooit regtig begryp nie.

      Net voordat die gaste na die eetkamer gaan, draf Celèste na haar kamer om net weer haar hare te gaan kam en ’n skoon voorskoot aan te sit.

      Daar is geen lig in die smal gangetjie nie, maar sy het ook nie lig nodig nie. Sy ken die gang so goed soos die palm van haar hand. Halfpad na die kamerdeur loop sy haar vas ’n in donker gestalte. Sy ruk haar asem skerp in en staan agteruit.

      “Wat maak jy hier?” wil sy weet toe sy gedeeltelik van haar skrik herstel het.

      Die persoon antwoord nie, maar skuur by haar verby en verdwyn om die draai in die gang voordat Celèste tot verhaal kan kom.

      ’n Oomblik lank staar sy hom onbegrypend agterna en dan onthou sy die leersak in haar kamer. Haar hart ruk in haar keel. Die geheimsinnige besoeker kon net op soek na die leersak gewees het.

      Sy aarsel nie ’n oomblik langer nie, maar swaai om en hardloop na haar kamerdeur. Dan ruk sy dit oop en staar na die deurmekaarspul. Haar vermoede was reg. Daardie besoeker was op soek na die leersak. Haar blik val op die laaikassie wat ’n ent van die muur af weggetrek is en haar hart bons wild in haar binneste. Hy móés die sak gesien het, dink sy paniekerig. Sy moet al haar moed bymekaarskraap om na die laaikas te loop.

      Daar is geen sak agter die laaikassie nie en haar keel trek toe. Sou die man dit ontdek het? Daar is geen ander verklaring vir die verdwyning van die leersak nie.

      Fyn sweetdruppels pêrel op haar voorkop. Wat gaan sy aan die graaf De Bordeaux sê? Hy het haar met die leersak vertrou en nou het sy hom in die steek gelaat.

      Sy steek haar bewende hand in die opening asof sy deur te voel dubbel seker wil maak dat die sak werklik nie meer daar is nie. Haar hart slaan ’n slag oor toe sy die gevoel van leer onder haar vingers kry. Met ’n wild kloppende hart steek sy haar hand dieper in die donker opening en spring byna op van vreugde toe sy die sak raak vat. Dit sit vas en sy kan dit nie uitkry nie. Dadelik besef sy wat moes gebeur het.

      Die besoeker het eers die laai opgetrek en toe het die handvatsel van die sak vasgehaak en is dit saam met die laai uitgesleep. As hy die laai toegestoot het, sou hy die leersak ontdek het. Met ’n bietjie gesukkel haal sy die kosbare sak uit.

      Sy kan dit onmoontlik weer op dieselfde plek versteek, besluit sy. Hierdie keer was sy gelukkig, maar dalk word dit ’n volgende keer ontdek. Haar kamer is klein en eenvoudig en daar is nie veel plek waar sy so ’n sak kan versteek nie.

      Stelselmatig begin sy die kamer deursoek en ontdek dan ’n los plank op die vensterbank. Dis die ideale wegsteekplek! Die muur is effens hol en nadat Celèste die los klippies en sand verwyder het, pas die leersak netjies in die holte. Met die plank terug op sy plek, sal geen mens kan raai wat daaronder versteek is nie.

      Teen hierdie tyd is sy al baie lank in haar kamer en is die gaste lankal in die eetkamer en wag om bedien te word. Celèste kam haar hare vinnig en sit haastig ’n skoon voorskoot aan. Dan hardloop sy terug na die kombuis waar Jeanne haar met ’n ongeduldige frons in die werk steek.

      “Hoekom draai jy so wanneer daar baie werk is?” brom sy.

      “Daar was iemand by ons kamers,” sê Celèste. “Ek het nie kans gehad om na joune te gaan kyk nie, maar myne was van hoek tot kant omgekeer.”

      Jeanne ruk orent. “Dan is hulle vanaand dalk hier op die onthaal. Maar dan is dit mos iemand wat die graaf ken! Wie op aarde is so vermetel om reg onder sy neus in sy huis te snuffel?”

      “Ons kan monsieur le comte later daarvan sê. Ons moet hom nie nou gaan staan en omkrap nie.”

      Jeanne trek ’n gesig. “Dis nie nodig nie. Hy is klaar omgekrap oor daardie twee De la Roques wat ongenooid hier aangesit gekom het. Netnou nog is hy studeerkamer toe met die pa en ek sê jou, die atmosfeer was soos ys tussen hulle toe hulle daar uitkom. Garcon sê dat dié monsieur De la Roque die graaf se neef is. Hy is die volgende aanspraakmaker op die titel.”

      Celèste frons. “Wel, hy tree reeds op asof die landgoed aan hom behoort … so asof ons monsieur dan nie eens ’n reg op sy erflating het nie.”

      Jeanne haal haar skouers op. “Ons sal seker die een of ander tyd die hele storie hoor. Intussen wag die gaste, en monsieur De Bordeaux gaan jou afskil as jy hom in die skande steek deur die gaste te lank te laat wag. Neem solank die voorgereg in.”

      Celèste tel die silwerskinkbord op en stap vinnig na die eetkamer. Daar begin sy die gaste een vir een bedien terwyl sy hulle onderlangs noukeurig bekyk. Een van hulle was netnou daar in die gang, maar dit was eenvoudig te donker om die persoon te kon eien.

      Afgesien van die twee De la Roques, is ook Madeleine Tredoux en haar ouers teenwoordig. Daar is ook ’n paar bekende landhere van buurplase met hulle dogters en hier en daar ook ’n jong man. Daar is ’n hele paar gaste wat Celèste nog maar weinig gesien het en ander wat sy van geen kant af ken nie. Maar hoe sy hulle ook al beskou, die identiteit van die man in die gang bly vir haar onbekend.

      Toe sy die vis begin bedien, hou die graaf haar ’n oomblik terug.

      “Daar is ’n paar bottels spesiale wyn wat op my lessenaar in die studeerkamer staan. Bring dit hierheen, asseblief.”

      Celèste maak ’n kniebuiging en drafstap weg om haar werkgewer se bevel te gehoorsaam. Sy neem ’n lantern saam na die studeerkamer.

      Toe sy die vertrek binnestap, gaan sy botstil staan. Die man wat haar kamer omgekeer het, was beslis ook hier. Die graaf se muurkassie se deur is afgebreek, die lessenaarlaaie hang oop en die inhoud daarvan is in die vertrek rondgestrooi.

      Hier is baie deeglik gesoek, dink Celèste. In haar eie kamer is daar amper net bolangs gekyk, asof die besoeker nie werklik gedink het dat hy iets daar sou vind nie.

      Op die lessenaar staan die klompie bottels nog ongedeerd. Daar is nie nou tyd om te wonder oor die plunderaar nie. Dit moet tot later wag. Sy moet die bottels eers na die kombuis neem, waar sy hulle moet afstof, en dan moet sy teruggaan na die eetkamer.

      Dis geen wonder niemand het die lawaai in die studeerkamer gehoor nie, dink Celèste met ’n ligte frons toe sy na die kombuis terugstap met ’n paar van die bottels wyn in haar arms. Die klomp raas en gesels daar in die eetkamer dat hoor en sien vergaan en dan speel die orkes ook nog om die lawaai af te rond.

      Sy vertel Jeanne wat sy in die studeerkamer gevind het. Daar is egter nie tyd om hulle daaroor te bekommer nie. Dis al klaar tyd dat die hoofgereg bedien word. Die een of ander tyd sal hulle die graaf wel eenkant kry en aan hom kan vertel wat in die huis aangegaan het.

      “Dalk het Garcon of Ernest iets gesien,” meen Celèste toe sy eindelik die hoofgereg bedien het. “Hulle is die hele aand nog by die stal. Miskien het hulle lig deur die vensters gesien of dalk iemand sien rondsluip.”