“Nee, ek is hier bo by Die Ateljee. Pragtige dorp waarin ons woon,” sê hy en kyk na Lexi se kant toe. Hy glimlag en ’n kepie vorm langs sy mond. Al is sy stem broos, is daar tog ’n beduidenis van iets sterker ook, besluit sy.
“A ja a,” sê Christine. “Mooi plek en gawe mense. Wil jy nie inkom vir ’n koppie tee nie?”
“Wens ek kon, maar ek moet ongelukkig twaalfuur by Die Ateljee wees.” Hy glimlag weer sy kuiltjie-glimlag. “Hopelik ’n volgende keer?”
“Wat van ’n vinnige wyntjie?” vra Lexi en druk haar hare agter haar ore in. Sy wil hom graag hier hou, besef sy. Sy is nie gewoonlik so voor op die wa nie.
“Dit klink goed, maar dit sal ook moet wag vir ’n volgende keer. Brenda gaan vies wees as ek laat is.”
Met ’n kopknik vir Christine en ’n klein-seuntjie-glimlag in Lexi se rigting draai hy om en stap weg. Lexi kyk hom agterna. Hy het smallerige heupe en lyk waarskynlik soos die Dawidbeeld wanneer hy sonder sy jeans is.
“Vanmôre se podcast het oor Donegal gehandel,” onderbreek Christine haar gedagtes.
“Ierland?”
Christine knik. “Ek glo nie ek het jou dit ooit gesê nie, maar ek het ’n kort affair met ’n Ier van daardie geweste gehad, voordat ek met Franco getroud is.” Sy leun met haar kop teen die bank en maak haar oë toe. “Hy kon tog so mooi dig. En dan lees hy die goed vir my voor,” mymer sy.
Lexi kyk terug na die man met die lyf wat nou amper by Die Ateljee is, strek dan haar nek na regs sodat sy nog vir oulaas na sy stappie kan kyk.
“En hy het net so goed in sy Aran-trui en jeans gelyk,” sê Christine.
Skuldig kyk Lexi vinnig na haar, maar Christine het haar reeds uitgevang; haar oë is oop en blink van plesier.
Sy staan op. “Ek kry vir ons iets om te drink,” sê sy en stap die huis binne met klingelende silwerarmbande en swaaiende romp. Dan draai sy om en kom loer by die deur uit. “Ek dink ek moet maar bly en matchmaker speel, so in die trant van Jane Austen.”
“Los maar die matchmaking vir storieboeke,” sê Lexi.
“Bangbroek!” lag Christine net en verdwyn in die huis.
Sy kom terug met ’n skinkbord met twee glase wyn. “Boeing is lankal oor,” sê sy en gee vir Lexi ’n glas aan. “ ’n Mens hoef in elk geval nie te wag om ’n lekker chardonnay te drink nie. Uys Krige het mos hoeka gesê wyn maak die lewe draaglik.”
Lexi teug aan die yskoue wyn en sit dit in die skadu van haar stoel neer om koel te bly. “Vertel my nog van die Ier,” sê sy en strek haar bene weer op die stoepmuurtjie uit.
“Later. Sê my nou eers: hoe voel jy oor ’n gastehuis, Alexandra?”
2
“Dis dan die einde van my lewe as ’n besigheidsvrou,” sê Lexi vir Michelle wat haar met groot oë sit en aanstaar. “Veroorsaak deur ’n kaartmannetjie met ’n slegte houding.”
“Small man syndrome,” beaam sy en druk Lexi se hand.
Michelle is glad nie ’n sentimentele tipe mens nie en vir haar is dit ’n baie simpatieke gebaar. Lexi waardeer dit.
Hulle sit op die sypaadjie in Melville se Mugg & Bean. Lexi skuif haar stoel ’n bietjie na regs onder die sambreel in en kyk straat se kant toe. Melville lyk soos altyd op ’n Maandagoggend voordat die skoonmakers en straatveërs die plek reggeruk het vir nog ’n dag se gekuier in die straatkafees. Plastieksakke dwarrel in die ligte windjie rond en bultende vullissakke wag op die asbliktrok.
’n Ou man kom in Vierde Laan op, op pad na Sewende Straat. Hy sukkel met ’n winkeltrollie vol hout en karton teen die effense bult uit. ’n Lang vrou in ’n donkerblou pakkie en onmoontlik hoë hakke drafstap voor hom uit. Toe sy ’n bus hoor aankom, kyk sy om en draf vinniger.
Lexi reik na haar handsak en maak dit oop, op soek na haar sonbril teen die fel vroeë winterson, maar dis nie daar nie. Sy het dit seker in haar motor laat lê. Sy knip die handsak toe en sug – vir die soveelste keer vanmôre.
Vandat sy twee maande gelede by Christine gekuier het, het dinge vir haar dramaties uitmekaargeval by Thinking Hat. Sy het nog gedink sy en Kurt Morar kon tot ’n ooreenkoms kom, maar niks wou uitwerk nie.
Lexi het nog nooit soveel aggressie in haarself beleef nie. Dit kan mos nie goed wees vir haar welstand nie? Die een oomblik voel dit asof sy ontroosbaar aan die huil kan gaan, die volgende oomblik is sy lus en loop Kurt storm en klap sy slu glimlag van sy gesig af. Sy geldlus en gebrek aan integriteit het al haar drome van finansiële selfstandigheid gekortwiek.
Hy het ’n klousule in die kontrak ingeglip wat bepaal dat die maatskappy, indien nodig, addisionele aandele beskikbaar kan stel vir aankoop deur die aandeelhouers. Dit beteken dat hy ’n spul aandele beskikbaar kan stel én kan koop, wel wetend dat Lexi en Daan dit nie kan bekostig nie.
“Wat gaan jy nou doen?” vra Michelle.
Sy draai haar stoel skuins, steek ’n sigaret aan en blaas die rook straat se kant toe. Vir die eerste keer in drie jaar is Lexi weer lus vir ’n sigaret.
Sy sal aan Michelle moet erken dat sy geen idee het nie. Sy kyk na die ander vroegoggend-kliënte in die winkel. Dis maar ’n stroewe spulletjie. Almal sit met koffie en ’n koerant voor hulle en lyk asof hulle probeer om wakker te word; die man in die hoek se hare is nog klam waar dit aan sy kraag raak. Niemand praat nie.
Lexi kyk terug na Michelle, wie se rooi hare in die môreson blink. “Ek weet nie wat ek gaan doen nie, maar ek weet ek gaan beslis nié vandag terug kantoor toe nie.”
“Ek bedoel nie vandag nie, ek bedoel wat gaan jy dóén? Ek praat van wérk!”
Lexi wil nie nou al daaraan dink nie, al weet sy baie goed sy moet. Dis asof sy nog nie heeltemal kan aanvaar dat sy aan die einde van haar pad by Thinking Hat gekom het nie.
“Ek sal begin uitkyk vir iets anders,” sê sy sonder entoesiasme. “Ek sal by die bank ook hoor.”
Michelle tik haar sigaretas in die blink asbakkie af. “Ek dink jy’s in denial.”
Lexi knik haar kop. Sy het geweet Michelle gaan dit sê.
“Jy het baie skills en tonne ondervinding, Lexi. Jy sal maklik iets anders kry.”
Lexi knik weer. In vergelyking met die klomp IT-bleeksiele om haar is sy stokoud. Op ses-en-dertig het sy ’n volle vyftien jaar ondervinding in die bedryf – baie in vergelyking met enige van hulle.
Sy weet sy sal maklik ’n ander werk kry, maar hoe gaan dit voel om weer vir ’n salaris te werk? Sy het haar geestelik voorberei op ’n direkteursaandeel in ’n dinamiese jong maatskappy – groot verantwoordelikhede maar ook groot voordele en ’n groot winsverdeling aan die einde van die jaar. Sy wil nie weer ’n gewone salaristrekker wees nie. Buitendien het haar “voorbereiding” onder andere die koop van ’n splinternuwe motor behels. Op skuld.
Die kelner met die gejelde hare red Lexi van ’n antwoord toe hy hulle borde roereiers en spek voor hulle neersit.
Michelle druk haar sigaret dood en begin haar roosterbrood smeer. “Miskien moet jy vir ’n paar dae laag lê. Rus ’n bietjie.”
“Ek het juis die afgelope maande so hard gewerk, alles vir die maatskappy gegee.” Lexi bedek die eiers onder ’n laag HP-sous.
“Ek weet. Ons het jou sedert Kersfees omtrent nooit gesien nie.”
Lexi het, saam met die jong jappies van ’n Sandtonse grafiese maatskappy, Thinking Hat se korporatiewe beeld help vestig. Sy het ’n metodologie vir opleiding ontwikkel, die opleidingsmateriaal self ontwerp én geskryf. Sy het die afgelope vyf maande omtrent vyf ure slaap per nag ingekry – en nou sit Kurt met haar intellektuele kapitaal.
Sy