Wilna Adriaanse
Omnibus 1
’n Ongewone belegging
Alleenvlug
Die reuk van verlange
Jasmyn
1
Georgina Walters kyk na die stadskom onder haar. Die mooiste Kaap, inderdaad. Die Oktoberwind is sterk genoeg om wit kabbels op die see te maak, maar waar sy op die breë stoep sit, is sy beskut teen die Suidooster wat agter haar rug teen die berg aftuimel. In die verte verdwyn Robbeneiland in die windnewels en ’n paar groot skepe ploeg moeisaam deur die deinings buite die hawemuur. Sy strek haar bene en vou haar hande agter haar kop.
“Sjoe, nou is ek dood van die dors!” ’n Donkerkopvrou kom met ’n skinkbord uit die huis en sit dit op die tafel tussen hulle neer.
“As ek weg is, mis ek gewoonlik eerste dié stoep en dié uitsig.”
Magriet kyk na haar suster se stil gelaat. “Moet dan nie weggaan nie.”
Georgina sit stilswyend na die skepe onder in die hawe en kyk. En dan skuif haar blik na die grysblou horison. “As dit maar so eenvoudig was, Griet.”
“Georgie?” Magriet wag tot die jonger meisie opkyk. “Jy kan nie vir ewig so swerf nie. Jy word nie jonger nie. Êrens moet ’n mens wortels hê. Jy is soos ’n tolbos in die Karoo. Met elke wind wat opkom, waai jy in ’n ander rigting. Raak jy nie moeg van so ’n onbestendige bestaan nie?”
Dit raak stil tussen die twee vroue en die enigste geluid is die veraf gedreun van die stad wat op die wind na hulle aangedra word. Georgina neem klein slukkies tee, haar blik daar waar die blougrys lug en see een word. Dit is eers as sy haar koppie op die skinkbord neersit dat sy na Magriet draai en haar skouers ophaal.
“Soms het ’n mens nie ’n keuse nie.”
“Jy het soveel drome gehad – wat het daarvan geword?”
“Jy bedoel, wil ek nie hê wat jy het nie? Jy is baie gelukkig, Griet, ek hoop jy besef dit. En drome is maar net nagvlugte wat verdwyn as die son opkom.”
“Ek weet ek is gelukkig, Georgie, maar dit kom nie vanself nie. ’n Mens werk maar deur die minder goeie tye en glo dat die goeie tye weer sal aanbreek. Maar ons doen dit saam. ’n Mens kan nie so ellendig alleen deur die lewe gaan nie!”
“Ek is nie ongelukkig nie en ek is ook nie alleen nie. Ek verkies dit so. Ek hoef niemand in ag te neem nie en …” Haar stem verstil.
Magriet steek haar hand uit en neem haar suster se skraal hand in hare. “… en daar is niemand om jou seer te maak nie. Dis eintlik waarvoor jy bang is, nè? Dis waarom jy soos ’n nomade swerf. Nooit lank genoeg op ’n plek om bande te smee nie. Ai, Georgie, wanneer sal jy kan vergeet?”
Georgina swaai haar voete van die muurtjie af en staan op. ’n Spotlaggie plooi om haar lippe. “Hoe de duiwel het ons op hierdie onderwerp gekom?” spotlag sy. “Dit moet die Suidooster wees. Kom, jou kinders is byna hier en jy het nog nie kos gemaak nie.” En sonder ’n verdere woord dra sy die skinkbord na binne.
’n Paar minute later klink twee seunstemme by die voordeur op.
“Georgie! Jis, ek is bly jy is hier. Ek het ’n vreeslike moeilike prent wat ek moet teken en dit móét môre klaar wees.” Die elfjarige Albert gooi sy skooltas neer en buk om ’n boek uit te haal.
“Albert, kom eet nou eers. Georgie gaan nie weg nie, julle het die hele middag tyd.”
Gedweë maak hy weer die tas toe en sak langs die kombuistafel neer. Hy kyk na Georgina en met sy kop beduie hy na sy ma wat by die yskas staan. “Het jy haar kwaad gemaak?”
“Niemand het my kwaad gemaak nie. Eet jou kos,” antwoord Magriet met haar rug na hom toe.
Georgina lag en gaan sit langs hom en die veertienjarige Gerrit by die tafel. “Hoe was julle dag by die skool?”
Tussen monde vol kos deur vertel hulle opgewonde, maar die oomblik toe Albert sy bord in die wasbak neersit, haal hy dadelik ’n boek uit sy tas en kyk na Georgina. “Asseblief, dit móét môre klaar wees.”
Sy knik laggend en volg hom na sy kamer. ’n Seer warmte lê meteens onder haar ribbes.
“Jy kan haar nie die hele middag besig hou nie,” protesteer Gerrit. “Sy het belowe ons kan winkel toe gaan. Ek het dringend ’n broek en hemp vir Vrydagaand se partytjie nodig.”
Halfsewe kom roep Gerrit vir Georgina vir ete. Toe hulle in die kombuis kom, is Leon, Magriet se man, besig om sy das los te knoop en drie glase wyn te skink.
“Gee sy jou nie eers vanaand tyd om van die pak ontslae te raak nie?” spot Georgina.
Die blonde man kyk veelseggend na sy vrou en skud sy kop. “Nee, dit lyk my die duiwel is vanaand los.” Dan staan hy haastig opsy as Magriet ’n hou na hom mik.
Na ’n gesellige ete beduie Magriet na die sitkamer. “Gaan sit julle twee daar binne. Ek bring koffie. Miskien moet jy solank vir ons likeur ook skink,” voeg sy oor haar skouer by.
In die ruim sitkamer haal Leon laggend drie kelkies uit die kas. “As my vrou op ’n Dinsdagaand lus het vir likeur, het sy óf ’n baie moeilike dag gehad, óf sy wil my iets vertel. Watter een van die twee is dit?”
Georgina skud haar kop. “Ek weet nie.” Sy het ’n idee wat Magriet op die oomblik ontstel, maar wil nie daaraan dink nie. Sy het die afgelope vier maande baie hard probeer om rustig te word. Die woonstelletjie aan hulle huis is die naaste aan ’n tuiste wat sy het, maar dit het weer tyd geword om te vertrek; haar tasse te pak en ’n naamlose reisiger te word.
“Georgie is al weer op pad.” Magriet sit die skinkbord met koffie op die koffietafel neer en neem die kelkie wat Leon na haar uithou.
Hy kyk na Georgina, maar sy trek haar skouers verskonend op. “Daar het jy seker jou antwoord.”
“Is ons nederige tuiste nou nie meer goed genoeg vir jou nie?” Die spotlaggie weerspreek die kommer in sy oë.
“Moenie sulke goed sê nie.” ’n Hartseer kom lê in haar stem.
“Maar …”
Georgina neem ’n slukkie likeur en trek dan haar skouers op. “Wanderlust.”
Leon skink die drie glasies weer vol. “Jy is nie miskien lus om vir twee maande drie kinders in Amerika te gaan oppas nie? Sakke vol geld.” Dan kyk hy na sy vrou wat steeds fronsend na haar suster sit en kyk. “Terloops, Chris stuur groete.”
Magriet se oë knip terwyl sy ingedagte na haar man draai. “Wanneer het jy met hom gepraat?”
“Vandag. Hy het gebel. Ek moet vir hom inligting oor ’n Suid-Afrikaanse maatskappy in die hande kry.”
“Hoe gaan dit met hom?”
“Baie goed. Besig soos altyd, maar hy sê dit gaan goed. Met die kinders ook. Hy soek net dringend iemand om hulle vir twee maande te gaan oppas. Hulle onderwyseres het blykbaar gaan trou en die nuwe een begin eers in Februarie.”
Georgina kyk gemaak-verontwaardig na die man oorkant haar. “Lyk ek vir jou soos die non in The Sound of Music?”
“Glo my, as jy hoor wat hy betaal, sal jy nie omgee om vir twee maande na tien kinders ook te kyk nie.”
Georgina skud laggend haar kop. “Nee, dankie, swaer Leon. Ek was eerder skottelgoed in restaurante of sit en teken prentjies op straat.”
“Wat betaal hy? Ek weet van iemand wie se dogter dringend ’n werk oorsee soek.” Magriet buk by die koffietafel om die koffie te skink.
Hy noem ’n bedrag en sug. “Ek het dit oorweeg om te sê ek sal die kinders gaan oppas!”
“Genugtig! Met die huidige wisselkoers is dit byna vyftigduisend rand per maand! Die man is besonder vrygewig!” Georgina kyk met ongeloof na haar swaer.
Leon skud sy kop. “A, maar jy moet hoor wat die werksvereistes en die ure is. Sy