Hartland. Deon Opperman. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Deon Opperman
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Сказки
Год издания: 0
isbn: 9780624056928
Скачать книгу
was ’n besonder begaafde speler. Die jaar toe hy nog as skolier deurgedring het tot die Suid-Afrikaanse skaakkampioenskappe wou ’n joernalis van hom weet of hy boeke oor die ou skaakmeesters lees en hul beroemde skuiwe memoriseer. Jan het die man verstom deur aan hom te verduidelik dat hy in terme van prentjies dink. Hy kan verslae lees oor Bobby Fischer, Kasparof en ander se grootste skaakprestasies, maar in plaas van die skuiwe een vir een te probeer onthou, het hy in sy gedagtes prentjies gevorm van hoe die spel ontvou. Dis baie soos musiek, het hy aan die joernalis verduidelik. ’n Klassieke pianis sal die musikale annotasie op bladmusiek lees, maar in sy gedagtes hoor hy die note opklink.

      Jan het hierdie naweek baie op dieselfde manier benader. Voor sy siekte het hy dikwels met Zweli gesels oor opvolgbeplanning. Tussen die twee van hulle koester hulle ’n spesiale band. Albei beskou Zweli se pa, Mabuzo, as hul mentor. Hy en Zweli dink dieselfde oor die maatskappy se toekoms omdat Mabuzo se visie nog vir hulle helder is. Maar soos Zweli aan Jan gesê het toe hy hoor dat Jan binnekort nie meer aan sy sy sal wees nie, is dit nou nodig dat Jan weer op sy skaakvernuf terugval.

      Hoe waar was Zweli se woorde nie! Jan begin vir oulaas voor die vergadering die prentjies optower soos hy moontlike wysigings en koersveranderings geantisipeer het. Hy moes voorsiening maak vir só baie gebeurlikhede. Hy weet mens kan aan natuurrampe en die hand van God niks doen om dit te verhinder nie, maar met die regte maatreëls ingestel, kan mens die ergste menslike maneuvers afweer of die hoof bied. Soos sy prokureur dié week nog vir hom gesê het toe hulle dokumente onderteken het: “Jan, die hand uit die graf is ’n ou Romeinse regsbeginsel. Waaragtig, jy hoort by die klassieke!”

      Prentjies.

      Vorm prentjies van hoe die mense wat nou hier om die tafel sit, kan skuif in hul verhoudinge. Hy maak netjiese raampies vir die mannetjies wat hy teken. Spanning, ondersteuning, ondergrawing. Die magte wat die mens se gedrag reguleer.

      Sommige van hulle kan van die skaakbord verdwyn. Hy is bedag daarop, daarom teken hy ook deure. Die mannetjies moet kan terugkeer.

      Jan ken sy kinders. Hy ken sy broer. En Zweli.

      Hy weet dat vir die prentjies wat hy in sy geestesoog sien om waar te word, hy die wiel vanmiddag aan die rol sal moet sit. Nie een van die mense om die tafel weet dit nou nie, maar dit gaan uiteindelik om oorlewing. Hulle sal ná vanmiddag gou genoeg agterkom.

      Jan laat sy blik rustig van persoon tot persoon beweeg, daar waar hulle sit. Hy glimlag wrang – African Queen Cosmetics is in ’n gebou in ’n kwasi-Romeinse styl in Arcadia gehuisves, maar die reusagtige geel-en-stinkhouttafel waarby hulle sit, is uit hierdie Afrika-bodem. Op hierdie skoon slagveld gaan vanmiddag die eerste skuiwe gemaak word.

      Links van hom sit Maria, langs haar Boetjan en dan Elna. Aan sy regterhand sit Zweli, langs hom Adriaan en dan Bertus.

      Jan staan op, skuif sy stoel tot teenaan die koppenent van die raadstafel.

      Jan haal diep asem en begin praat. “Ek wil jammer sê dat ek julle op hierdie dag ... ’n Sondag ... en my verjaarsdag ... bymekaar moes roep, maar omstandighede het my so ’n bietjie vooruitgeloop en ek wil die saak nou uitklaar voor daar op maniere bespiegel word wat later net twis kan veroorsaak.” Jan voel ’n onaangename krieweling in sy maag. Nie nou nie!

      Hy begin rustig dog doelgerig om die tafel loop tot hy aan die onderpunt staan. Verder weg van almal, maar steeds naby genoeg om die reaksies op hul gesigte dop te hou. Die beweging laat die pyn effens bedaar.

      “Ek het die vergadering hier belê omdat ek nou oor besigheid wil praat en ek neem nie graag besigheid huis toe nie. Soos julle weet, het ek my lewe gewy aan die bou van die besigheid wat ek en Zweli se pa gedurende die donker jare van apartheid gestig het. Ons het daarin geslaag om African Queen Cosmetics tot ’n stewige, winsgewende onderneming uit te bou – ek met my toegang as wit man tot navorsing en kapitaal, en Zweli se pa met sy toegang tot en kennis van die swart mark. My vyftig persent van hierdie besigheid is my nalatenskap. En as ek nou een laaste wens mag hê, dan is dit dat die beheer van my aandeel in die besigheid, ná my dood, in hierdie familie se hande bly.”

      Bertus is die eerste wat reageer. “Pa wil nie verkoop nie?”

      “Nee. Dit het ek en Zweli reeds bespreek. Ek het sy volle ondersteuning.”

      Almal kyk na Zweli. Hy knik net instemmend.

      “Adriaan, jy sal steeds jou pos as hoof van operasies behou. Wat my aandele betref: My plan was om hulle eweredig tussen Boetjan en Elna te verdeel ... vyf-en-twintig persent van die besigheid elk.”

      Terwyl hy praat, merk Jan hoe aandagtig Adriaan en Bertus luister, en hoe gespanne Elna lyk. Hy is onverwags erg bewus van hoe kaal hierdie vertrek eintlik is. Té kaal die mure. Vensters sou met mooier, voller gordyne kon doen.

      “En ek wil jou vra, Bertus, om, weer eens met Zweli se goedkeuring, die pos as hoof uitvoerende beampte oor te neem ...” Jan is nie verbaas oor die manier waarop Adriaan se kop omhoog ruk, of die fermheid waarmee Bertus na hom terugkyk nie, “... en om Boetjan in die raad aan te stel as nie-uitvoerende direkteur.”

      Adriaan is te geskok om iets te sê – hy kan nie glo wat hy nou hoor nie. Dit voel vir hom asof sy broer se stem diep uit ’n tonnel kom, veraf, en die stilte zoem om sy ore.

      Elna is bekommerd, haar gedagtes na binne gekeer. Jan vermoed – nee, wéét – sy het nog altyd ’n vlammetjie van hoop laat brand vir ’n terugkeer na Suid-Afrika. Vir sulke moontlikhede het hy ook prentjies geteken. Vir al wat hy weet, het sy nog altyd gehoop dat haar terugkeer met African Queen Cosmetics te make sou hê.

      Maar dis wanhoop wat Jan op sy dogter se gesig lees.

      Bertus sit strak en staar na die tafel voor hom. Jan besef, nie heeltemal tot sy verbasing nie, dat Bertus se swye, dié gestaar met versteende oë na die tafel, dat dít ook ’n antwoord is. Dat hy, wanneer hy sou praat, sal herhaal dat hy nie afsien van sy plan om permanent in Kanada te bly nie.

      Adriaan sê niks. Jan hoop dit bly so. Sy broer kan in elk geval nie dink sonder om Antoinette te raadpleeg nie.

      “Wat van Ma?” vra Elna.

      “Vir Ma, Ouma en my suster, Rika, het ek reeds in my testament gesorg. Waaroor ek nou praat, is die besit en die beheer van my aandele in die maatskappy.”

      Elna kyk na Bertus.

      Bertus ontwyk haar pleitende blik. In sy gedagtes begin Jan ’n paar van sy prentjies opskeur.

      “Nou ja,” gaan Jan voort, “dit was my plan, maar as julle seker is dat julle nie terugkom nie, Bertus – ’n besluit wat ek heeltemal sal verstaan en respekteer – dan gaan ek my plan wat Elna se aandeel betref, moet verander.”

      Elna kyk beangs van haar man na haar pa, na Boetjan, wat skielik begin praat.

      “Pa,” hy staan op, “ek weet julle het dit deur die jare heen al baie keer oorweeg om my as julle seun af te skryf ...”

      Maria, wat langs hom sit, steek haar hand na hom uit. Dit is ’n reaksie wat gisteroggend nie moontlik sou gewees het nie. Nou, ná die uitbarsting van die vorige aand en die lig wat daar skielik vir haar op ’n ou raaisel geskyn het, is haar gebaar veel meer as net vertroosting, dit is ook skulderkenning.

      “Dis nie waar nie,” probeer Jan nog.

      “Dit is, Pa, en ek sou verstaan het.” Boetjan se tongval is selfversekerd, trots – en sonder die wroeging wat hy só lank in sy binneste rondgedra het. Hy het die mannetjie te klein geteken, dink Jan. Met heelwat trots.

      Boetjan gaan voort: “Gevolglik, toe Elna en Bertus geëmigreer het, was dit asof julle nie meer kinders gehad het nie.”

      Jan merk op hoe dié woorde Elna ontstel. Haar onderlip begin bewe. Sy kyk, soos soveel kere in die verlede, na Jan vir ’n teken van onderskraging, van ’n besef hoe sy haar broer se woorde aanvoel – en nie na Bertus nie.

      “Maar ek wil sê dit sal vir my ’n voorreg wees om by die besigheid betrokke te wees,” gaan Boetjan voort. “Ek het nie