Human & Rousseau
Blydskap is eenvoudig, maar eenvoud is baie moeilik.
– Rabindranath Tagore
DEEL 1
WAT IS DIT OM BLY TE WEES?
OM WERKLIK TUIS TE KOM
In ’n sekere sin het my vriend Bosko se lewe eintlik begin die dag toe hulle hom in die kop geskiet het.
Toe die Geheime Polisie daardie oggend voor sonsopkoms die deur van sy woonstel afskop, was hy nie verbaas nie. Hy het geweet dit sou een of ander tyd gebeur.
Hulle het ’n sak oor sy kop getrek en hom by die stukkende deur uitgesleep.
Het die inwoners van ander woonstelle by hul skrefiesdeure uitgeloer om te sien waar die geraas vandaan kom? Waarskynlik nie. Dit was oorlog. Bomme het bedags op die stad neergereën. As die Geheime Polisie op sulke nagte jou buurman met ’n sak oor sy kop in ’n paneelwa buite jul woonstelgebou ingeboender het, het jy jou gordyne dig toegetrek en baie stil in jou bed gebly.
Hy sou geen manier hê om te weet hoe lank hulle gery het nie. Dit het soos dae gevoel, maar waarskynlik was dit net ’n paar uur. Toe hulle stilhou en die sak van sy kop verwyder, was dit helder oordag en hulle was op die platteland, iewers naby die grens. Hulle het die paneelwa se deure oopgepluk en hom uitgesleep.
Bosko het geweet wat gaan gebeur. Hy het gehuil. Sy vyfjarige seun kan nie sonder hom oorleef nie, het hy gepleit.
“Jy moes vroeër daaraan gedink het,” het een man geblaf.
Hulle het hom op sy knieë gedwing.
“Niemand sal jou kom soek nie,” het een in sy oor gefluister.
“Ek hoop nie dié een beskyt homself soos die vorige een nie,” het hy ’n ander man hoor sê.
Hy het die koue staal van ’n pistool teen sy skedel gevoel. Reg teen sy slaap.
My kind … het Bosko gedink.
En toe trek hulle die sneller.
In later jare sou Bosko dié oomblik as sy “satori” beskryf.
Satori is ’n Japanse woord wat mens sou kon vertaal met die frase “die oomblik toe ek tot my sinne gekom het”. Of “die oomblik toe ek ontwaak het”.
Bosko gebruik ook ’n ander frase om dié oomblik te beskryf:
“Ek het werklik tuisgekom.”
Nie te lank gelede nie is ek in Thailand vir ’n kongres oor mindfulness en meditasie. Dié soort kongresse lok gewoonlik al wat ’n monnik, non of vrome mens is uit Japan, Korea en soortgelyke plekke, so ek het verwag om meestal met Oosterse Zen-meesters te gesels.
Maar op die bussie vanaf die lughawe in Bangkok beland ek langs ’n vreemdeling uit Serwië.
Vermoedelik het baie min mense wat hier lees al ooit die Suidoos-Europese land Serwië besoek of selfs al daaraan gedink om daar ’n draai te maak. As mens die naam Serwië hoor, dink jy waarskynlik aan afgryslike nuusberigte uit die negentigerjare, stories oor die ingewikkelde Balkan-oorloë waar mens nooit presies geweet het wie baklei nou eintlik teen wie en waaroor nie, maar waar jy gereeld gelees het van volksmoorde, massagrafte en sluipskutters wat burgerlikes in die strate afmaai.
Dit was die eerste keer dat ek ’n Serwiër ontmoet het. Nugter weet wat ek verwag het – dalk ’n oorlogsmisdadiger vol tatoeëermerke met ’n wrede kyk in sy oë. Maar my reisgenoot was ’n saggeaarde jong man wat met my ’n geselsie oor die waarde van omgee en deernis aangeknoop het. Binne ’n paar minute het ons so lekker gesels dat ons soos ou vriende gevoel het.
Mediteerders ruil soms snaakse stories oor en weer uit.
Het ek geweet daar bestaan in Thailand mense wat so baie mediteer dat hulle net tyd kry vir een maaltyd per dag, meestal bestaande uit goggas in visolie, het hy my gevra.
Het hy geweet daar is in Tibet mense wat tot drie jaar en drie maande op ’n slag roerloos in ’n boks sit en mediteer, het ek hom gevra.
Dis toe dat hy my onkant betrap: Het ek geweet daar is in Serwië ’n mediteerder wat in die kop geskiet is en vandag as ’n vredesaktivis werk?
Gits, nee. Die laaste een, moes ek bieg, was ’n storie waarvan ek nog nie gehoor het nie.
My nuwe Serwiese vriend vertel my toe van die merkwaardige Bosko Cirkovic en hoe meer die storie gevorder het, hoe meer het dit my joernalistieke nuuskierigheid geprikkel. Dít was nou iemand wat ek sou wou ontmoet.
Selfs nadat die kongres verby was, het ek aangehou om oor Bosko te wonder. Uit die artikels waarop ek aanlyn afgekom het, het ek vasgestel Bosko is iets in die 50 jaar oud, woon in Belgrado en werk as ’n wiskundeonderwyser aan ’n hoërskool. Wat Bosko veral interessant gemaak het (behalwe natuurlik dat hy in die kop geskiet is), was dat hy die Serwiese verteenwoordiger van ’n organisasie genaamd die Stille Vredemakers was.
Die Stille Vredemakers is ’n internasionale organisasie wat meditasie gebruik om mense van onreg op aarde bewus te maak. Hulle bied meditasiekursusse aan in die Nazi-uitwissingskampe in Pole of in skuilings vir haweloses in die VSA. Die Stille Vredemakers se beleid is dat mediteerders nie net leunstoelpatats moet wees wat heeldag hul asem dophou nie; hulle moet die wêreld se swaarkry in die oë kyk en planne maak om dit te help genees.
In Serwië is daar baie geleenthede om die monsters van die verlede in die oë te kyk.
Toe die destydse Joego-Slawië in die vroeë negentigerjare in ’n klomp kleiner lande verbrokkel het, het ’n regs-nasionalistiese regering in Serwië, die grootste van dié state, aan die bewind gekom en ’n veldtog begin waarin hulle die een massamoord en oorlogsmisdaad ná die ander in hul buurlande soos Bosnië, Kroasië en Kosovo gepleeg het.
Een voorbeeld: Die Serwiërs het ’n ruk lank die stad Sarajevo in Bosnië en Herzegowina op ’n besonder wrede manier getreiter. Hulle het die stad beleër en skerpskutters aangestel om burgerlikes dood te skiet as hulle uit die stad probeer vlug het. Die inwoners was later so honger dat hulle boombas en gras gekook het om hul mae vol te maak. Hulle het hul dooie kinders in die openbare parke en sokkervelde begrawe.
Bosko reël deesdae onder meer meditasiekursusse in Sarajevo, asook by Srebrenica (waar die Serwiese weermag destyds derduisende Bosniërs in ’n volksmoord om die lewe gebring het).
Ek het gemeen ek sou by Bosko kon leer hoe mens iets soortgelyks in ’n land soos Suid-Afrika kon doen, hier waar die wrede geskiedenis ook nog by ons spook.
Ek het besluit om by hom te gaan kuier.
Dis ’n sonnige Junie-dag, somer in die Noordelike Halfrond.
Ek staan voor die beroemde Moskva-hotel, in die hartjie van Belgrado, die Serwiese hoofstad. Ek weet nie presies wat ek verwag om by Bosko te hoor nie, maar ek meen ons sal oor oorlog en doodslag gesels, eerder as blydskap en vreugde.
Sy hare is deurmekaar en sy gesig vol plooie wanneer ek hom uiteindelik gewaar. Hy het ’n skor stem, vloek ’n bietjie te gereeld en word in gesprekke soms so meegevoer dat hy hardop begin raas.
Ek kan nie anders as om dadelik van hom te hou nie.
Die Moskva-hotel in Belgrado is ’n berugte plek. As mens daar sit, voel jy ’n bietjie soos ’n karakter uit ’n John le Carré-spioenasieriller. Die hotel is ’n statige Russiese gebou wat dateer uit die jare voor die Eerste Wêreldoorlog.