Mia. Mariska Robberts. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Mariska Robberts
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Религия: прочее
Год издания: 0
isbn: 9780796322319
Скачать книгу
ion>

      

      ’n Ma se storie van

      verlies en hoop

      Mariska Robberts

      Soos vertel aan Colette du Plessis

      Lux Verbi

      ’n Kind wat as baba sterf, is soos die eerste bladsy van ’n storieboek wat iemand uitskeur en vir jou gee om te lees. Jy sal nooit weet wat in die res van die storie kon gebeur het nie.

      – Marita van der Vyver, uit Wreed en mooi is die dood, saamgestel deur Tobie Wiese

      Voorwoord

      _______________

      Ons almal het ’n storie. Die karakters verskil, die omgewing is anders, maar op die ou end is daar drama, humor, gebrokenheid en hoop in almal se storie. Op ’n manier wat aan ons onbekend is, weef God, die ewige Skrywer, ons stories in sy storie saam. Ons lewe verteenwoordig een ongelooflike paragraaf van die magtige en kragtige God se skryfstuk wat sy heerlikheid besing.

      Ek het die voorreg om deel te wees van Mariska se storie. Wanneer jy saam met iemand aan hulle lewensverhaal skryf, deel jy oomblikke van geluk en blydskap, maar ook oomblikke van trauma en teleurstelling. Uiteindelik deel jy ook in die hoop.

      Hoop en geloof is twee woorde wat uitstaan in hierdie storie – in hierdie gesin se lewe. Dit was deel van Mia se doel op aarde: om hoop aan mense te bring.

      Vind ons maklik hoop in hooplose situasies? Glad nie. Maar God is getrou en Hy het reeds die saad van hoop op die onwaarskynlikste plekke gesaai. Dit sal op die regte tyd vrug voortbring.

      Hierdie boek is deel van die vrug van hoop wat Mariska in God se hande ontdek het. Dit is ’n ongelooflike storie, met ongelooflike emosies en ongelooflike mense … en vir seker die (on)gelooflike God.

      Ek is so dankbaar dat hierdie storie neergeskryf en gepubliseer is. Ek en jy kan hoop vind in die bladsye van hierdie boek.

      Sterkte ook met jou storie. Weet altyd, God skryf saam met jou.

      Erika van der Merwe

      Januarie 2019

      Colorado Springs, VSA

      hoop s.nw. 1. Verwagting; vooruitsig. 2. Dit waarvan ’n mens iets goeds verwag; vertroue dat jou verlange, verwagting ’n werklikheid sal word.

      – uit Die Handwoordeboek van die Afrikaanse Taal

      Die speling van lig

      _______________

      Dit is amper April, maar in die Boland voel dit nog soos somer. Herfs is aan die kom.

      Terwyl die Robberts-gesin en Pauline, al ses van hulle, van hulle gasteplaas in Klapmuts wegry, swiep wingerde en boorde by hulle verby. Op die plase langs die pad werk die trekkers. Maar die Robberts-gesin is met vakansie. Al drie dae lank. Op vandag se lys van lekker dinge om te doen is pottebakkery en ’n ete-afspraak in Stellenbosch.

      Op die Delvera-wynplaas draai die pottebakkerswiel om en om. Ma Mariska vorm ’n potjie op die wiel, Stéfan en Morné verf potte, pa Franché waag ook sy hand aan ’n pot en klein Mia maak ’n masker. Die kunswerke uit klei is allermins perfek, maar die doel is bereik: Die vyf Robbertse was saam. En hulle het saam gespeel en gelag.

      Die opwinding van die oggend hang in die Mercedes-bussie op pad terug na die gasteplaas, skaars 10 km van die wynplaas af. Net vir hierdie een rit mag Mia voor op haar ma se skoot sit. Andersins is sy altyd stewig vasgegordel.

      Soos ’n herfsblaar, so lig is sy.

      Later dwarrel sy lig deur die wind, op pad na ’n nuwe bestemming.

      Toe die rooi trekker en die grys bussie bots, is die speling van lig nie sigbaar vir die insittendes nie.

      “Sy is weg,” sê Franché.

      Die speling van lig begin. Maar nog net die groot Pottebakker weet dit.

      Colette du Plessis

      April 2018

      Wetenskaplikes bespiegel dikwels waarom die mens so ’n groot verskeidenheid kleure kan onderskei aangesien die vermoë om kleur te sien nie noodwendig nodig is vir oorlewing nie. Miskien moet ons die vermoë om soveel kleure te sien as ’n gawe beskou? ’n Blyk van liefde van die Skepper om die lewe te geniet.

      Blou I

      _______________

      Blou is die kleur van die hemel.

      Die begin

      Sy was ’n week by die huis, toe moes sy terug hospitaal toe. Sy het ligte longontsteking opgedoen, waarskynlik as gevolg van ’n oormaat soene van haar twee ouer boeties. Maar tog was 2009 ’n goeie jaar. Mia Ananja Robberts was die eerste Robberts wat nie direk ná haar geboorte na die neonatale eenheid gehaas is nie. Sy kon soos ander gesonde babas ’n hospitaalkamer met haar ma deel en saam met haar ma huis toe gaan.

      Mia moes wel in die eerste paar weke van haar lewe chirurgie kry vir ’n dermobstruksie. Sy het destyds die rekord behaal vir die jongste blindedermlose baba by ’n bekende Bloemfonteinse hospitaal.

      Skaars ’n maand oud en reeds ’n rekordbreker.

      Binne-in my het iets daardie dag egter ook gebreek. Die gewag voor die teaterdeur het soos ’n ewigheid gevoel. In die eerste 24 uur mag ek haar glad nie opgetel het nie. Sy het verskriklik gehuil. Die dokters wou nie vir haar te veel pynmedikasie gee nie. Deels omdat sy nog so klein was. Intussen wou my borste bars van al die melk en die geskree van my suigeling.

      Ná die operasie het dit gelyk of haar magie met ’n naaldwerkmasjien toegestik is. Daar was ’n duidelike sig-sag-patroon van bykans 5 cm oor haar buik. Weke daarna het ek nog gevoel die snit op haar magie wil nie volkome heg nie. Daar was ’n gaatjie waarin my vinger kon pas.

      Ek is weer na die pediater toe, en hy het bevestig sy het ’n breuk ontwikkel. Ons moes weer opereer. Maar ek het vir hom gesê ek gaan hierdie gaatjie toebid. Hy het gelag en gesê ek moet maar eers met vakansie gaan en dan terugkom na hom toe.

      Ek was vasbeslote om Mia nie weer onder die mes te laat beland nie. In die dae wat op die diagnose van die breuk gevolg het, het ek aanhoudend vir ’n wonderwerk gebid. Ek was oortuig die gaatjie word kleiner. Ná die vakansie van bid en swem in die see, is ons weer dokter toe. Die chirurg het bevestig dat daar wel ’n gaatjie was. Sy wou egter eers wag voordat sy weer opereer. Die gaatjie het binne ’n paar weke heeltemal verdwyn.

      So het die vreugde van ’n gesonde babadogtertjie uiteindelik ’n werklikheid geword. Dit was werklik anders as my twee seuns. Nie lekkerder nie, net anders. Dit was soos popspeel. Ek kon vir haar mooi klere aantrek; ek kon my poppie bad en room aan haar smeer; ek kon haar doeke ruil en haar voer. Ek was ’n dogtertjie-mamma en ons almal was dolgelukkig.

      Die jare het aangestap. Namate Mia groter geword het, het ons aanvaar dat sy nie ’n stil en stemmige dogtertjie sou wees nie. Mia was uitbundig. Sy het oopbek gelag. Sy kon briesend kwaad word. Sy het alles in oormaat gedoen. En ons was oormatig lief vir haar.

      Dis net ’n piepie

      In die laaste paar weke van die eerste kwartaal van 2013 was Mia moeilik en huilerig. Sy was ook meer klouerig as gewoonlik. Sy wou altyd by my wees.

      Ek het geweet