Dawid het onwillekeurig gesidder, agteroor gesit en gevoel hoe die spanning en emosie uit sy lyf syfer. Hy was moeg.
“Daar. Die duende.” Van Eva, wat hom met swart oë deurboor.
+ + +
Maar dit was een ding om die dramatiese emosies van die stiergeveg te ervaar. Dit was iets gans anders om te ervaar hoe Eva die duende probeer uitleef. Dit het gaandeweg geblyk dat sy veel meer erns daarmee het as wat hy aanvanklik kon raai, of mee gemaklik kon wees.
Hy het eers gedink dat haar manier van liefde maak – met absolute oorgawe en drif en soms met woede – maar eie aan haar is, of die gevolg van haar herkoms. Maar dit was deel van iets groters. Sy kon drink tot sy apoplekties word en hy haar by restaurante moes uithelp. Dan was sy op haar aggressiefste in die bed.
Sy het hom op ’n keer ’n blou oog gegee wat fyn voetwerk gekos het om vir Ingrid te verduidelik. Sy het op hom gesit en hom gery asof die duiwel agter haar was. Toe begin sy hom klap en krap. Hy het sy hande inderhaas van haar heupe afgehaal en probeer keer terwyl hy regop beur. Die volgende oomblik het sy hom met die vuis vol op die oog getref.
“Jissis, Eva!”
Maar sy was aan die kom, wild, luid, klaend, tot sy met fyn kermgeluidjies vooroor op hom geval het.
En sy het hom een aand genooi vir ete by kerslig in haar woonstel. Halfpad deur die ete het sy abrup opgestaan sodat haar stoel agteroor val. Sy het agteruit getree en vir ’n oomblik met haar kop effe skuins gestaan, asof sy iets hoor. Toe het sy haar hande bo haar kop gelig en hulle ritmies begin klap, ’n komplekse ritme wat geklink het soos twee mense wat beurtelings hande klap. En begin dans, op maat van ’n geluidlose musiek wat sy toe-oë hoor en maak en word. Sy het gaandeweg haar klere van haar lyf afgestroop terwyl sy dans, tot sy haar broekie met ’n vuishaal afgeskeur het. Haar hande en arms het slange geword, haar vingers kastanjette.
Dit het vir Dawid gelyk of haar lyf in besit geneem word. Haar woonstelletjie het ’n grot geword en sy ’n oervrou wat die gode roep as getuies van haar dans. En hy ’n voyeur wat besef dat hy, jags en beangs, onlosmaaklik deel is van dit waarna hy kyk.
Hy het aan Ferdi verduidelik: “Sy tree op asof sy geen vrees ken nie. Sy gaan stap snags stoksielsalig alleen. Lang ente. En slaan enige waarskuwing oor veiligheid in die wind.”
Hulle was op ’n Vrydagmiddag op Rust en Vrede se stoep onder die akkerbome aan die eet.
“En jy het gesien hoe sy fietsry. Weet nie hoe om ’n briek op ’n afdraand te trek nie. En dis nie asof sy so vaardig is nie – sy het al morsig geval. Maar sy kyk nie eens na haar seerplekke nie. Klim net weer op en ry verder.
“Maar dit pla my die meeste dat sy my heeltyd kontak. Ek sit nou die aand langs Ingrid op die bed en lees toe daar ’n WhatsApp van haar inkom. Ek het gesê géén WhatsApps nie, maar nee. Toe ek dit oopmaak, sit sy kaalgat agteroor op haar bed, met oopgespalkte bene. ‘Vir jou,’ sê sy.”
“Dit moes nogals ’n foto gewees het,” het Ferdi met ’n glimlag opgemerk.
“Jy kan dít weer sê!” het Dawid gelag. “Maar kan jy dink as Ingrid daarop afgekom het?”
Ferdi had nie raad vir hom nie. Hy was die tipiese pragmatiese materialis. Hy het geen oordeel gevel nie, net probeer vasstel wat sou werk. In hierdie geval was die enigste risiko dat Ingrid sou uitvind. En die enigste manier om dit te verhoed was om vir Eva te beheer of die verhouding te beëindig. Maar dit sou sy eie risiko’s inhou. Beter sielkundige manipulasie was dus al praktiese oplossing. Hoe, kon hy nie sê nie. Hy het nie dikwels met Eva te make gehad nie en haar nie goed geken nie. Dawid het buitendien uit ondervinding geweet dat Ferdi maar toondoof is as dit by mense kom. Hy was ’n man vir feite, simptome, diagnoses, probleemanalises, oplossings.
En so het daardie gesprek ook nie veel beteken nie.
Dawid het een Vrydagmiddag op ’n ingewing vir Barnabas gebel om ’n afspraak met hom te maak vir ’n dop. Maar Barnabas het die een of ander diens aangehad en kon hom eers die volgende dag sien vir middagete.
Teen die tyd dat Barnabas hom die Saterdagmiddag by Oude Werf ontmoet het, het Dawid geweet dat sy ingewing van die vorige middag nie ’n goeie een was nie. Tog het hy deurgedruk en die situasie vir Barnabas verduidelik, wat in stilte na hom sit en luister het, sy donker oë somber.
“Wat moet ek maak? Ek wil haar nie verloor nie. Maar ek wil ook nie my hele lewe opneuk nie.”
“Ek het nie vir jou ’n antwoord nie, Dawid.”
“Hoekom nie? Veroordeel jy my?”
Barnabas het afgekyk na sy hande, toe na sy halwe bord kos.
“Nee, natuurlik nie. Jy ken my hopelik beter as dit.”
“Nou hoekom wil jy my nie help nie?”
“Dis nie dat ek jou nie wil help nie. Ek kán jou nie help nie.”
“En hoekom nie?”
“Ek dink jy weet hoekom nie.”
“Nee. Ek weet nie. Ek vermoed jy wil nie omdat jy my veroordeel. En jy het nie die moed om dit vir my te sê nie.”
Maar Barnabas het hom reguit aangekyk.
“Nee, Dawid. Jy is besig met ’n buite-egtelike verhouding. Dis ’n verhouding wat op ’n leuen gebaseer is. Leuens is die wortels van ’n boom wat die dood as sy vrug het. Hoe kan ek jou help om voort te gaan daarmee?”
“So nou kom swaai jy tóg vinger vir my? Wie gee jou die reg?”
“Nee, Dawid. Ek swaai nie vir jou vinger nie. Sit net ’n oomblik terug en vra jouself af hoe jy vir ’n priester kan vra hoe om beter sonde te doen.” Met ’n glimlag waarmee hy die wind uit Dawid se seile gehaal het. Want dit was natuurlik waar dat hy sonde aan die pleeg was vanuit Barnabas se oogpunt. Jy mag nie egbreuk pleeg nie, en so aan. Hy kón seker nie van ’n priester verwag om hom daaroor raad te gee nie.
Hulle het die res van die ete oor koeitjies en kalfies gesels. Dit het Dawid laat besef hoe min koeitjies en kalfies daar in sy lewe oor was, hoe allesomvattend sy verhouding met Eva geword het. Wat dit des te belangriker gemaak het om plan te maak om dit te red en op vaste voet te plaas. Want hy het toenemend die indruk gekry dat hy in ’n warrelwind opgesuig word; dat daar in haar, en daarom in hulle verhouding, kragte aan die uitspeel was waaroor sy nie beheer het nie. En daarom ook nie hy nie.
+ + +
Ag, fok tog! Hoe meer my bloed loop, hoe meer rem hy.
Hoe nader ek en jy loop, hoe banger word hy. En tog is dit hy wat my loslaat en jou moontlik maak.
Vir die eerste keer in my lewe voel ek asof ek vry is om asem te haal, vry om te wees wie ek is, te word wie ek wil wees. Sy toewyding maak dit moontlik, en sy hulpelose verliefdheid en sy oorgawe. Ek dans soos iemand wat losgelaat is. Die musiek vloei deur my.
Maar gedurig die vrees, die versigtigheid, die verantwoordelikheidsin, asof die getroude geleerde psigiater ons afkeurend beloer, soos ’n foto van ’n voorvader in die gang.
Kan nie reg wees nie. As ek hom saam met my wil laat brand, sal ek die vuur hoër moet stook. Aanhoudend hoër.
Anders gaan hy my met sy pragtige hande versmoor.
+ + +
Hy