Bruidzilla. Marion Erskine. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Marion Erskine
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Контркультура
Год издания: 0
isbn: 9780795802300
Скачать книгу

      

      BRUIDZILLA

      Marion Erskine

      Queillerie

      Opgedra aan Dalene Kruger – een van my grootste fans.

      Dit is mense soos jy wat my aanspoor om elke keer

      weer ’n pen op te tel.

      1

      Die groot nood

      Melville kriewel van honger mae tydens lunchtyd. Dis ’n besonder koue dag vir Junie en mense kom soek warm kos.

      Tillie storm in vanaf die kombuis met ’n skinkbord in haar hand en vleg tussen die tafels deur in die rigting van die ou tannie in die hoek. Die bakkie met gazpacho klou vir lewe en dood en dis ’n wonder dat sy die bloedrooi sop met ’n glimlag voor die tannie kan neersit sonder dat ’n druppel gemors het. Sy wikkel terug kombuis toe.

      “Juffroutjie,” vra ’n ouerige oom, “kan ons asseblief menu’s kry?”

      “Nou daar, meneer,” roep Tillie terwyl haar selfoon in haar jeans se gatsak vir die sesde keer gedurende die laaste vyf minute vibreer.

      “Waar is ons paella?” vra die man by tafel vier.

      “Op pad,” sing Tillie.

      “Excuse me!” roep ’n vrou in haar sakegewaad naby die kombuisdeur. “I’d like the bill, please!”

      “Nou daar,” glimlag Tillie en storm by die kombuis in. Waar de hel is Phatiswa? Sy moes al ’n uur terug hier gewees het!

      “Die paella word koud!” roep Alejandro van agter die stoof en vee met sy blou handdoekie die sweet van sy wange af.

      “Ek sal nou vat, Alejandro,” sug Tillie en spoel haar gesig by een van die krane af.

      “As die kospolisie jou sien, gaan ons ’n fine kry!” raas die stewige kok en swaai sy vinger in die lug. Alejandro is in Spanje gebore, maar het op driejarige ouderdom saam met sy ouers hier aangekom. Hy verstaan en praat ook Afrikaans, al is sy aksent geheel en al uniek. Hy is ’n goeie ou. Die twee en veertigjarige bachelor se hart is net so groot soos sy lyf, en hy en Tillie werk al oor die agt jaar saam. Die eienaar is Alejandro se oom, maar jy sien vir Fernando net wanneer hy voel hy wil gesig wys. Dit pas Tillie en die res van die werknemers heel goed, want hy kan by kampioenskappe goud wen vir moan. Sy lewe is altyd swaarder as almal anders s’n en dus voel hy beter wanneer hy hulle lewens moeiliker as syne maak. Tillie se ouma het altyd gesê: “Ag, hoe bitter is die kelk,” en haar baas is ’n lewende voorbeeld daarvan.

      “Dis blykbaar net ek en jy in El Horno vandag,” sê sy. “Waar is Phatiswa?”

      “Al weer laat.” Alejandro pluk ’n pan van die stoofplaat af. “Haar latest excuse is loadshedding. Asof net sy daardeur geraak word.”

      “Dan kan sy ons ten minste bel!” sê Tillie vies, gryp die garnaal-paella en sit weer af na tafel vier.

      “Excuse me!” roep die sakevrou wat haar rekening soek by tafel twaalf.

      “Menu’s?” roep die oom van tafel vyf.

      “Dame!” roep die tannie, wat kennelik onbeïndruk die gazpacho opsy geskuif het. “Kom asseblief hier.”

      Die foon vibreer nóg ’n keer in Tillie se sak. Miskien is dit Phatiswa om te sê sy kom glad nie vandag in nie. Dit sal ’n bleddie disaster wees! Maar dit sal ook al die hoeveelste keer wees dat dit gebeur.

      “Ek’s nou daar, mevrou,” roep Tillie, hol na die kasregister se toonbank en kry twee spyskaarte en die kaartmasjien. Sy gaan plak die spyskaarte op die oom se tafel neer en maak dat sy by die kwaai vrou by tafel twaalf kom. Dié se wenkbroue lyk behoorlik soos twee kappie-leestekens.

      “I’ll have you know that I’ve written many reviews on Hellopeter,” rol die vrou haar oë terwyl sy die Exclusive Gold-lidmaatskapkaart aangee, haar naels rooi en lank.

      “Ek’s jammer. We’re understaffed.”

      “Julle het ’n besigheid. Bestuur dit soos ’n besigheid,” kom dit met ’n sterk aksent.

      “Ons maak so,” antwoord Tillie en poog ’n verskonende glimlag. Die foon vibreer al weer in haar sak. Hemel tog. En haar skof is eers sesuur verby. Hoe erg gaan hierdie dag nóg raak?

      “Dame?” sing-roep die skril gazpacho-tannie. “Ek wag!”

      Tillie word deur die langnael-vrou ingelig: “I’m not going to tip you. This wasn’t service.”

      “Ek’s jammer u voel so,” sê sy so vriendelik moontlik. Die vrou is reg. Sy het ingekom vir ’n ete en nie die diens gekry waarvoor sy gehoop het nie. “Jammer weereens.”

      Sy skeur die strokie af, gee dit aan, plak die kaartmasjien op ’n leë tafel neer en draf terug na die ou tannie.

      “Mevrou?” vra sy uitasem en vee haar hande aan haar voorskoot af.

      “Die sop is koud,” antwoord die ou tannie met die styfgespuite kapsel.

      “Dis gazpacho, mevrou.”

      Die tannie wikkel haar kop soos ’n kobra wat wil spoeg. “Ek weet wat sóp is, juffroutjie. Ek sê jou sop is koud!”

      “Gazpacho is ’n koue sop, mevrou,” verduidelik Tillie en wens sy kan die vibrerende selfoon wat haar aanhou pla doodslaan soos ’n bleddie muskiet.

      “Sedert wanneer?” roep die tannie ontsteld uit.

      “Sedert Spanje se bestaan,” antwoord Tillie, en sy kan voel haar glimlag-ghries is opgebruik vir die dag. Sy weet ’n kelnerin se job is nooit maklik nie, maar dis hierdie soort goed wat haar tot raserny dryf. Vir wat kom jy na ’n Meksi-Spaanse restaurant en maak asof jy die disse beter ken as die Spanjaard wat dit maak?

      “Maak dit asseblief warm, of ek loop summier hier uit sonder om te betaal,” dreig die tannie en punt met haar pienk rosyntjielippe na die sop.

      Tillie knik, tel die bakkie op en mik vir die kombuis.

      “Juffrou, kan ons asseblief twee bieftor … til … las kry?” vra die oom by tafel vyf.

      “Twee bieftortillas,” sê Tillie en glimlag weer. Die ou oom is al een wat nog nie met haar ongeskik was vandag nie.

      “Hoekom sê jy die woord so snaaks?” Die duidelik dat die oom met die dik snor geselskap soek omdat sy vrou tot nou toe nog nie ’n woord gesê het waarvan Tillie weet nie.

      Sy staan vir ’n oomblik stil by sy tafel. “Die Spanjaarde spreek twee l’e as ’n j-klank uit, meneer.”

      “Dis nou interessant!” sê die oom. “Tor-tie-ja! Is jy van Spanje af?”

      “Nee, ek’s hier uit Johannesburg. Soek meneer en mevrou iets om te drink saam met die tortillas?”

      “My so-oooop!” roep die suurpruim-tannie.

      Tillie draai om en glimlag. “Ek vat dit nou kombuis toe, mevrou.”

      Dis nie asof die sop nóg bleddie kouer gaan word nie, dink sy wrewelrig.

      “Net ’n groot bottel water,” vra die oom. “Koud, asseblief. Terloops, weet jy wat is ‘water’ in Spaans?”

      Tillie knik. “Dit word ‘agua’ genoem, meneer.”

      “Dit klink amper soos ‘aqua’!” verklaar die oom opgewonde.

      “Dis reg.”

      “Hoor jy, Vytjie?” sê die oom hard vir sy vrou, wat blykbaar nie goed kan hoor nie. “Water is ‘a-gua’ in Spaans!”

      “Twee bieftortillas en ’n groot bottel agua,” bevestig Tillie en stap weg. “Koud.”

      “Ek wag steeds!” gil die tannie voordat Tillie by die kombuisdeur in verdwyn.

      “Alejandro, die tannie soek haar sop warm,” sê Tillie en plak die gazpacho voor hom neer. “En twee bieftortillas vir tafel vyf.”

      “Warm gazpacho?” wil Alejandro een oktaaf hoër as gewoonlik weet. “Ek weier!”

      “Sy