Op soek na Tretchikoff. Anita du Preez. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Anita du Preez
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Контркультура
Год издания: 0
isbn: 9780795802270
Скачать книгу

      ANITA DU PREEZ

      Op soek na

      Queillerie

      1

      Die lewe is ’n bliksem. Maak nie onderskeid nie. Die enigste verskil is dat party van ons tot die dag van ons dood glo ons is spesiaal, en ander vroeg-vroeg uitvind hulle is nie. En tussenin is daar dié wat vir ewig daaroor twyfel. Soos ek.

      En hulle sê as ’n mens tot onder gedaal het, soos in rock bottom, dan bly daar net een pad oor, en dis boontoe.

      Dit is wat ek vir myself sê terwyl ek die voordeur van my geleende tuiste met sy krom sleutel oopsluit. Hulle sê ook as die kalf onder in die put lê, mag ’n mens hom uithaal, selfs al is dit Sondag. Wat hulle nié sê nie, is hoe de joos jy moet maak as dit jý is wat onder in die put lê.

      “Boggher hulle,” sê ek vir niemand in besonder nie en plak die apteekpakkie op die kombuistafel neer. Veral dié wat my alewig aankyk asof ek snaaks is.

      Ek moes al weer hardop gedink het, want Naas se geveerde koppie wip so entoesiasties op en af dat die klokkies aan sy hok se deur klingel. Kompleet soos een wat saamstem.

      “Har-har-har,” sê hy en fladder sy vlerkies.

      “Nee, Naas, nie ha-ha-snaaks nie, dis …”

      Naas rig een swart kraletjie-oog so stip op my dat, papegaai ofte not, ek genoop voel om te verduidelik.

      “Goed, dit ook, maar eintlik die ander soort snaaks. Die klap-van-die-windmeul-soort. Wat tot vervelens toe aan mense voorgestel word met die wysvinger draaiend teen die slaap, of met lippe wat geluidloos ‘Kunstenaarstipe’, of in uiterste gevalle ‘Siestog, bietjie koekoes’ uitspel.”

      Ek vis twee Panado’s uit die botteltjie en sluk dit met kraanwater af.

      “Asof húlle so danig oor akkers vol gesonde verstand beskik.”

      Naas kyk my met soveel begrip aan terwyl ek my mond met die vadoek afvee, dat ek verder uitvaar.

      “Ja! En dan kom daai sameswerende laggie vir hul eie spitsvondigheid mos. Jy weet wat ek bedoel?”

      “Liewe vaderland,” tjirp Naas perfek on cue.

      “Presies! Soos die twee anties vanmiddag in die apteek. Oor ek kaalvoet was en in my verf-jean.”

      En net daar draai Naas summier sy rug op my. Sê niks, stryk nonchalant sy agterste stertveertjies glad. Kompleet asof my outfit ook teen sý fashion sense indruis.

      “Oukei, oukei! Ek kon seker my skoonste kaftan oorgegooi het en my sloffies aangetrek het, maar dis my af middag … en … ek … e …”

      Ek stop net daar. Reality check, Lilian Beekman. Gesprekke met jouself is deel van hierdie hele crazy kunstenaarspakket, nè, maar diskoers met ’n voël? Veral as hy dalk ’n punt beet het oor jou kleredrag. Mense wat verf-jeans dra, vérf. Iets wat ek nie gou weer beplan om te doen nie.

      Ek tel dus liewer Naas se slaaplappie op en gooi sy hok toe. Alles is onmiddellik stil, maar my gedagtes laat hulle nie so maklik op hok slaan nie.

      Toemaar wat, troos ek myself en skakel die ketel aan. Laat hulle sê en dink wat hulle bleddiewil lus is. Want dalk is hulle reg. Dat kunstenaars van lotjie getik is.

      Buitendien, dink ek terwyl die ketel in die vroegskemer kombuis begin sing, soms kom dit wel handig te pas. Soos wanneer jy eerder op jou eie ou episodes van Big Bang Theory wil kyk as om ooievaarspartytjies by te woon vir mense van wie jy nie eens hóú nie. Of kostuum-verrassingspartytjies vir mense wat eintlik lankal nie meer wil verjaar nie. Of wanneer jy weet die hemel gaan nie op jou val as jy net Vrydae skottelgoed was, of in noodgevalle onpaar sokkies dra of net Tretchikoffs teen jou mure wil hang nie.

      Of om goed weg te steek waaroor jy nie wil praat nie.

      Gewoonlik pla dit my nie. Dis net wanneer die enigste twee oorblywende pelle wat my hele storie ken – of, wel, nie alles nie, daar is dele waaroor ek self soms wonder – steeds met so ’n “Siestog, sy het hulp nodig, sy’s mos maar bietjie kunstig”-houding kom. Dis dan dat dit nog die blou dinges uit my irriteer. Asof net hulle so danig ongeskonde tot hier deur die lewe gekom het.

      Soos nou die dag weer. Met Moira.

      Ek skink mors-mors kookwater oor die teesakkie in my koppie.

      Moira wat toetentaal en al nie wil kleinkry dat ek so mal was om ’n man soos Eric Beekman, “én julle paleis in Constantia vol hi-tech appliances, dure meubels, topsekuriteit en egte kunswerke” net so te los nie. (Dit gaan meer oor die man, wat Moira graag self sou wou gehad het, as oor die meubels, het ek nog altyd in die stilligheid geweet.) Maar sy gaan veral tekere omdat ek so “stapelgek” was om saam met ’n bedorwe papegaai te kom bly in hierdie “stowwerige ou huisie” wat ek vir oom Heydenrych oppas vandat hy ouetehuis toe is. En oor ek niks wil verander aan die “afgryslike boerebarok-meubels” of die “smaaklose kunskeuses” van die oom se geliefde Russiese bruid nie.

      Oor die feit dat ek my job as kurator van die gesogte Galerie Zeitgeist ook net so gelos het en deesdae by Exotic Tattoos hier in Vishoek moet uithelp om te oorleef, sprak sy liefs g’n sprook nie. Ek ook nie. Dalk is dit vir my ook te erg om te glo.

      Ek vis die teesakkie uit my koppie en laat val dit soos ’n verdrinkte muis in die ampervol vullisdrom.

      Ja. Die liewe Moira. Sien, voordat sy die pos by die reisagentskap gekry het, het sy mos eers huishoudkunde op Stellenbosch geswot. Bid jou aan. Ek bedoel, dis nie haar skuld nie, Moira is die goedheid self, maar die joos weet. Huishoudkunde? Ek sal graag wil weet watter besnorde patriarge aan die verkeerde kant van die politieke draad dié kursus uitgedink het.

      Wat presies wóú die manne kweek? Flashbacks uit die fifties? Koeksister-tannies wat weet van home decorating? Wat bedags afstof en nuwe broccoli-gereggies uitdink en saans met fishnets en pom-poms vir manlief by die voordeur wag? Ewe bedrewe in die bed as voor die stoof. Soos wat Eric gedog het hy kry. Toe kry hy vir my. Foutief in albei afdelings. Shame. As ek hy was, sou ek die kwitansie gaan soek en die produk terstond teruggevat het. Of omgeruil het. Vir iemand soos Moira.

      Sulke goed gaan my verstand heeltemal te bowe. Soos Eric my gereeld diep gegrief ingelig het, het ek nie ’n clue hoe dinge veronderstel is om te werk nie, want ek is mos verdomp kunstig. So? Now I live with it. Op my eie. Met niemand wat in my nek blaas terwyl ek met my pantoffels staan en kook nie. Of kla omdat ek ’n leefhuis verkies waarin alles wat daarin is op één vaste beginsel berus nie – dat ék net so daarvan hou. Dis immers elke lewende wese se demokratiese reg, dan nie?

      Ek hou daarvan so deurmekaar. Dis my plek en min mense verstaan (Eric glad nie) waarom dit my dadelik onrustig maak as ek van iewers af inloop en iemand het iets rondgeskuif. Dis mý deurmekaar en ek weet presies waar alles is. So moenie jy hier met my goed kom lol nie. Maar dis ook nie ’n verdomde museum waar iemand die strooikussings oppof die oomblik as jy net gou opgestaan het om te gaan koffie maak nie.

      So ja. Ek colour code darem nog nie die onderklere in my kas nie, maar ek is obsessief genoeg dat elke ding van my staan presies waar dit moet. Hang waar dit moet. Niks skeef nie. Soos ’n volmaakte komposisie. Ek sou byvoorbeeld regtigwaar nie klasse in binneversiering kon verduur nie.

      Moira het wel. En sy spog graag daarmee. Sy het Claerhouts teen haar beige mure en even iets wat dalk ’n Pierneef is. Moira dink sy is ’n dissipel van minimalisme en sy maak geen geheim daarvan dat sy haar doodgril vir kitsch nie. Sy kry weekliks papelellekoors oor ek Tretchikoff se stowwerige The Dying Swan bokant oom Heydenrych en sy Olga se huweliksbed (waarin ek nou vir die eerste maal in jare snags deurslaap) opgehang het.

      Sy wil nie verstaan dat dit die verbleikte reghoek mooitjies toemaak waar die prent van Liewe Jesus met die kindertjies gehang het voor dit saam met oom Heydenrych ouetehuis toe is nie. Sy weet ook nie van die los baksteen en die vars kraak in die muur ágter die Tretchikoff, omdat ek nie goed is daarmee om spykers te vervang nie. Nou wil sy alewig weet of ek dit nie ten minste “behoorlik” kan laat raam nie. Of verkieslik kan vervang met “ietsie