Zephany. Joanne Jowell. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Joanne Jowell
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Биографии и Мемуары
Год издания: 0
isbn: 9780624086444
Скачать книгу
n>

      

      Joanne Jowell

      Zephany

      Tafelberg

      MICHÉ SOLOMON:

      Ek dra hierdie boek op aan Lavona en Celeste.

      Ook aan die liefde. En hoop.

      En aan mense wat wil vergewe, maar nie kan nie.

      JOANNE JOWELL:

      Vir Feniks, wat steeds verrys:

      Jy is geen mite nie, maar beslis ’n legende.

      Met liefde en trots.

      Proloog

      Jy dink jy ken iemand. Veral jou eie ma. Jy weet wanneer sy kwaad of hartseer of platsak is, of ’n verrassingspartytjie beplan. Sy is so sleg met verrassings, jou ma. Jy weet dalk nie presies wat sy beoog nie, maar jy weet sy voer iets in die mou. Sy kan net nie haar eie opgewondenheid vir jou wegsteek nie. Dis nie asof daar ’n spiertjie in haar wang spring en of sy ’n geheime wegsteekplek vir geskenke het nie. Dis net omdat jy haar, ná al die jare, so deksels goed ken.

      Jy dink jy ken iemand. Tot jy hulle nie ken nie.

      Zephany Nurse het gedink sy ken haar ma. Tot dit geblyk het haar ma is nie haar ma nie.

      Om billik te wees, Zephany Nurse het ook nie geweet sy is Zephany Nurse nie tot die dag dat sy uitgevind het haar ma is nie haar ma nie, haar pa is nie haar pa nie, en sy – wat haarself altyd net as Miché Solomon geken het – is eintlik iemand heel­temal anders.

      Op 28 April 1997 word baba Zephany Nurse in Kaapstad se Groote Schuur-hospitaal gebore as eersteling van die ouerpaar Celeste en Morné Nurse.

      Op 30 April 1997 verdwyn Zephany uit die hospitaal. ’n Uit­geputte Celeste Nurse het ’n bietjie gedut. Toe sy wakker word, ontdek sy haar baba is weg, blykbaar gesteel deur ’n vrou wat haar voorgedoen het as ’n verpleegster. Celeste onthou sy het die vrou naby Zephany se wiegie sien staan net voor sy ingesluimer het.

      Vyf dae ná Zephany se geboorte verlaat Celeste en Morné die hospitaal sonder hul dogter. Hul soektog om haar op te spoor sou 17 jaar duur.

      Miché Solomon het grootgeword in ’n gelukkige huis as die enigste biologiese kind van Lavona en Michael Solomon van Retreat, Kaapstad. In 2015 begin sy as aantreklike tienermeisie haar matriekjaar aan die Hoërskool Zwaanswyk te midde van gerugte oor ’n nuwe leerling in graad agt wat soos haar dubbelganger lyk. Miché maak vriende met die jong Cassidy Nurse. Ook na háár mening lyk dié inderdaad na haar en sy geniet oënskynlik die ouer meisie se geselskap.

      Omdat sy nie gewoond was aan buitengewoon positiewe of negatiewe aandag by die skool nie, was Miché effens verbaas om op ’n doodgewone skoologgend na die hoof se kantoor ont­bied te word. Maar haar effense verbasing het in loutere skok verander toe Miché op daardie allesbehalwe gewone dag, reg daar in dié kantoor, ontdek dat haar hele lewe ’n leuen is. Lavona en Michael was nie haar regte ouers nie. Miché Solomon was nie haar regte naam nie, en sy sou nie daardie aand huis toe gaan nie.

      Jy dink jy ken iemand. Veral jou eie ma. Tot dit blyk dat sy jou ontvoerder is.

      Dis verwarrend genoeg vir my of jou wat van buite na die situasie kyk om te probeer sin maak van dit alles. Verbeel jou die verwarring vir die jong vrou in die hartjie van dié warboel.

      Miché is nie haar geboortenaam nie, hoewel dit die naam op haar geboortesertifikaat is.

      Miché is nie die naam wat deur buitestanders gebruik word nie, hoewel dit die een is wat gebruik word deur diegene in die binnekring wat dink hulle ken haar.

      Miché is nie die naam wat ons gebruik het om haar te identifiseer sedert die storie bekend geraak het nie, maar dis die een waarmee sy haarself identifiseer, en die naam wat sy gekies het om te behou.

      En dit is die naam wat sy hier bekend maak, nadat sy dit lank genoeg geheim gehou het.

      Met dié besluit van haar word ’n baanbrekende hofbevel tot niet gemaak – ’n bevel wat die identiteit van Miché Solomon beskerm het tydens die drie jaar sedert sy wetlik meerderjarig geword het. Die regsgeleerdes en maatskaplike werkers wat hulle daarvoor beywer het om hierdie beskermingsbevel so gou moontlik nadat haar wêreld ineengestort het vir haar te bekom, het meer vermag as om haar net teen die indringerige blik van die media te beskerm. Hulle het haar die ruimte en privaatheid geskenk om ’n krisis te bestuur wat selfs die mees ervare psigoanalis sou laat kopkrap. Suigelingskap, die peuterstadium, adolessensie, volwassenheid – geeneen van dié ontwikkelingsfases met hul gepaardgaande krisisse kan kers vashou by die psigo­sosiale katastrofe wat vermoedelik Miché se voorland was nie.

      ’n Mens kan met sekerheid sê dat ons almal op die een of ander punt in ons lewe voor ’n identiteitskrisis te staan kom, gewoonlik in ’n tyd van oorgang. Hoe suksesvol ons ons weg deur so ’n krisis vind, hang af van ons volwassenheid en die hanteringsmeganismes wat ons tot op daardie tydstip in ons lewe ontwikkel het. Dié strategieë is die blink sterre aan die sielkundige uitspansel: volharding, veerkragtigheid, kommuni­kasie, selfagting, bewustelikheid (“mindfulness”), bevestiging, geloof. Ek kan ’n bladsy vul met al die gonswoord-eienskappe wat ons nie eens weet ons het (of nie het nie) tot die geleentheid opduik waar ons hulle prakties uitleef.

      Hopelik was tienerpuisies, katterige skoolmeisies en graadnege-vakkeuses ’n goeie oefenlopie vir Miché as dit by krisisse kom, want hier is die uitklophou wat haar buitengewone identi­teitsdilemma betref: Dit het soos ’n donderslag uit ’n helder hemel op haar afgekom. Toe Miché Solomon vir Zephany Nurse ontmoet en ontdek hulle is dieselfde mens, wel … daar is beswaarlik ’n kategorie op die Richterskaal van skokke wat vir dié een voorsiening maak.

      Ek is nie van plan om oor die moderne sielkunde en die rele­vansie van Erik Erikson se teorie oor die fases van psigososiale ontwikkeling uit te brei nie, maar ’n mens vra jouself af: Hoe het Miché Solomon haar ware identiteit ontdek en oorleef son­der om die pad byster te raak? Kan ’n 17-jarige meisie, aan die begin van matriek en op die drumpel van volwassenheid, die sielkundige trauma van ’n foutiewe gesteelde veranderde misleide identiteit hoegenaamd verwerk? Van watter soort stoffasie moet sy gemaak wees om ooit weer enigiemand te vertrou? Sy moet tog seker die kluts kwytgeraak het, van lotjie getik geraak het, uitgehaak het? Sou jy nie ook nie, as jy moes uitvind jou ma het jou hele lewe lank oor jou identiteit gejok?

      As die alledaagse soort identiteitskrisis gaan oor verlies (van selfbegrip en wie jy nog altyd geglo het jy is) en verwarring (oor wie jy regtig is), dan is Miché se geval ’n woud. In een reuse-afkapping het sy haar ma, haar familie, haar herkoms, haar naam verloor. Sy het die fisieke én die eksistensiële verloor.

      Ek het iets interessants uitgevind oor Erik Erikson, die siel­kundige wat die konsep “identiteitskrisis” geskep en die agt ont­wikkelingstadia vanaf suigelingskap deur adolessensie tot by laat-volwassenheid uitgestippel het. Erikson is self grootgemaak deur ’n man wat geblyk het nie sy regte pa te wees nie; nes Miché het hy ’n deel van sy vormingsjare onwetend met vals aannames geleef. Sy ma het buite-egtelik swanger geraak, uit haar tuisdorp gevlug en nie die naam van Erikson se biologiese pa bekend gemaak nie. Sy is later getroud met Erikson se pediater, wat hom aangeneem en hom sy van gegee het: Hombur­ger. Erikson het eers laat in sy kinderjare die waarheid oor sy herkoms uitgevind en vir die res van sy lewe die letsels van hierdie wete gedra. Identiteitsontwikkeling het sy persoonlike sowel as sy professionele lewe oorheers. Sy dogter sou later opmerk dat hy sy “psigoanalitiese identiteit” eers gevestig het toe hy sy eie van geskep en aangeneem het: Erikson.

      Afgesien van die ooglopende ooreenkoms met Miché se storie van haar ontdekking van die waarheid oor haar herkoms, lei die Erikson-verhaal tot die prikkelende vraag wat soos ou kougom aan die onderkant van ’n skoolbank aan enige identiteitskrisis kleef: Wat beteken ’n naam?

      Zephany. Miché. Die twee name is nie heeltemal so verskillend of ver van mekaar as wat hulle klink nie.

      Zephany het sy wortels in Hebreeus en beteken “Die Here het verberg”.

      Miché