Vlug na Santorini. Malene Breytenbach. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Malene Breytenbach
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Эротическая литература
Год издания: 0
isbn: 9780624084587
Скачать книгу

      Vlug na Santorini

      Malene Breytenbach

      Satyn

      1

      Erika en haar vriendin Connie sit op die stoep en koffie drink.

      “Dis nou wragtig genoeg, Con!” sê Erika, kwaad en moedeloos. “Hy was wéér gisteraand dronk. Ek is nou tot hier toe keelvol vir Cas se dinge.”

      Sy trek haar vinger oor haar keel.

      Connie kyk simpatiek na haar. “Oukei, wat gaan jy doen om die probleem op te los? Die man klou soos ’n neet. Jy het mos goed geërf, nou wil hy op jou teer. Hy sal nie sommer uit dié lekker huis wil trek nie.”

      Erika vryf oor haar brandende oë. “Dis my eie skuld dat ek nou in so ’n gemors sit. Ek het dit te gemaklik gemaak vir hom, maar ek hét eentyd gedink hy is dié man in my lewe. Die liefde kan ’n mens tog so blind maak. Ek het hom jammer gekry toe hy sy werk verloor het en sy woonstel moes opgee. Ek het net bedoel hy kan hier kom bly tot hy weer regkom, maar hy maak geen aanstaltes om sy ry te kry nie.”

      Sy tuur oor die see, haar gemoed so rusteloos soos die inrollende golwe. Natuurlik bly Cas lekker hier. Haar huis hier in Clifton is teenaan die see. Haar pa het dit in die sewentigerjare aangeskaf en die eiendomspryse in dié gesogte deel van die Kaapse kus het oor die jare soveel gestyg dat die drieslaapkamerhuis nou ’n fortuin werd is. Haar ma wou so graag by die see woon, soos sy grootgeword het, op die eiland Santorini.

      Erika se pa het haar, die enigste kind, grootgemaak. Sy dood ’n jaar gelede in ’n motorongeluk op Kloofnek is nog vars en rou in haar geheue. Na haar pa se dood was sy so kwesbaar. Cas het sy kans waargeneem om kastig haar trooster en beskermer te wees. Terwyl hy self hulpbehoewend is. Sy het haar verbeel hulle ondersteun mekaar in tye van teenspoed.

      “Erika, ek vra: wat gaan jy omtrent daardie loser doen?” bring Connie haar terug uit haar mymering.

      Erika sug en stoot haar hande deur haar lang blonde hare, wat sy nog nie gekam het sedert sy opgestaan het nie. “Ek gaan sy goed inpak en dit by die deur uitsit. Vandag skop ek hom uit die huis. Gisteraand was die laaste keer wat ek sy dronk lyf na sy kamer moes help. Ek sal vir hom ’n sms stuur en sê hy moet sy goed kom haal en ek wil hom nooit weer sien nie.”

      Connie knik. “Kom bly ’n dag of twee by my, sodat hy sy goed kan kom haal sonder dat jy hom hoef te sien. Ek sal jou help om al die ou plunjes in te pak.”

      “Dankie.” Erika glimlag meewarig vir haar vriendin. Hulle albei weet hoe hard sy probeer het om Cas Cilliers af te sê, maar dan oortuig hy haar om versoen te raak, hy smeek en praat mooi en belowe dat hy die drank en dagga sal los en die reguit paadjie sal loop. En keer op keer raak hy maar weer die spoor byster. Hy kon nie sy werk behou by die reklamemaatskappy waar hy saam met Erika en Connie werk nie. Hy het gesweer dagga wakker sy kreatiwiteit aan, maar hulle baas het nie genade gehad vir sy insinkings nie.

      Erika het hom ingeneem toe hy nie meer die huur van sy woonstel kon bekostig nie, op voorwaarde dat hy in sy eie kamer bly. Toe begin hy plak en sy ware kleure vertoon. Haar huishulp het selfs begin kla dat hy morsig is.

      Wat het geword van die vonke tussen hulle? Hy was op ’n tyd vir haar so sexy en interessant, juis omdat hy so aweregs was. Waar is die aangetrokkenheid wat haar knieë so lam gemaak het? Dit het ontaard in jammerte en daarna versleg tot afsku.

      “Cas was nog altyd vreeslik besitlik en jaloers,” sê Connie. “Jy hou nie van konfrontasie nie, maar jy sal ongelukkig brutaal moet wees as jy hom wil afskud. Ek het nog altyd gewonder of hy nie gewelddadig sal word nie. Daar is iets omtrent hom wat my bang maak. Daardie mallerige geelbruin oë kan ’n mens so snaaks aankyk. Ek hoop nie hy het jou al ooit probeer klap of iets nie?”

      Erika frons toe sy iets onthou. “Dit het een keer gelyk of hy iets wou doen, maar ek het hom vinnig op sy plek gesit. Hy het nie weer probeer nie.”

      “Ag jirretog.” Connie kyk met afgryse na haar vriendin. “Die man is waarskynlik gevaarlik. Jy sal dalk ’n interdik teen hom moet kry.”

      Erika drink die laaste bietjie koue koffie uit haar beker. “Ek glo darem nie hy is só gevaarlik nie, Con. Ek kon hom nog altyd hanteer. Ek raak ook nie so maklik geïntimideer nie. Hy is net so … klouerig. Ek moet my losskeur van dié verhouding wat lankal nie meer vir my werk nie.”

      “Oukei, kom ons gaan ruim sy paar besittinkies op, terwyl hy nou vandag weg is. Waar is hy, terloops? Gaan hy lank wegbly?”

      “Hy’t glo ’n slag vir sy ma gaan kuier – wat hy selde doen. Hy behoort nie voor vanmiddag terug te kom nie. Goed, kom ons spring aan die werk.”

      Cas se kamer is deurmekaar en net so morsig soos die huishulp gesê het. Hy wil glo nie hê sy moet daar “lol” nie. Erika kyk vies na die leë koeldrank- en bierblikkies, die ou kosreste, die asbakkie op sy tafel wat oorloop van die stompies, die bed wat nie opgemaak is nie, die vuil klere wat op die bed, stoel en vloer rondlê.

      “Elke week was ek sy lakens, maar dit lyk asof hy weke lank daarop geslaap het,” kla sy.

      Connie hou haar neus vas. “Dit ruik vieslik. Jy sou wragtig nie ’n kamer met so ’n ploert kon gedeel het nie. Hier woon hy lekker in ’n huis langs die see in een van die gesogste woonbuurte in die land, maar sy kamer is haglik. Nee, hel, hy verdien dit nie. Hy moet summier uitgeskop word.”

      Erika gril behoorlik toe sy die klere in die kas saam met dié wat oral rondlê, in ’n reistas en swartsak begin stop. Connie vat ook vies-vies aan Cas se goed. Dit neem hulle ’n uur, toe is alles in sakke gepak en die kamer is leeg.

      “Gee my net kans om te stort en skoon aan te trek en ’n tassie te pak, dan stuur ek die sms,” sê Erika. “Daarna kan ons ry.”

      “Ek voel asof ek ook moet stort,” mor Connie. “Ek sal solank my hande goed was; ek sweer hulle is nou vol kieme. Jy het so moedeloos geklink dat ek hierheen gejaag het. Wel, nou is alles opgeruim en daai vabond kry sy marching orders. Ek hoop nie hy probeer wéér ’n comeback maak nie.” Sy kyk fronsend na Erika.

      “Nee, hierdie keer is daar vir hom geen genade of omdraaikans nie,” sê Erika beslis. “Daar is perke aan hoeveel ’n vrou kan verduur, soos my ma altyd gesê het.”

      ’n Halfuur later staan die reistas en swartsakke buite die deur, Erika is vars en skoon, sy het haar oornagtas en sy het gesorg dat al die deure en vensters dig toe is. Sy sluit die voordeur. Agnes kom nie vandag werk nie, so Cas sal nie toegang tot die huis kry nie. Al die vensters het diefwering en die deure is solied. Sy het nog nooit vir hom sy eie sleutel gegee nie, want sy was oortuig hy sou dit verloor. Sy het altyd vir hom ’n sleutel onder ’n potplant gelos.

      “Koebaai, Cas!” sê sy en loop saam met Connie by die trappe op na die parkeerterrein langs Victoriastraat waar hulle motors staan.

      “Ek sal graag daai lummel se gesig wil sien as hy sy karige besittings voor die deur aantref,” lag Connie. “Hy het seker nie gedink dié dag sal so gou aanbreek nie.”

      “Nee, hy gaan vir seker groot skrik.”

      Erika kan nie help om effens senuagtig te voel oor Cas se reaksie nie. Hy gaan woedend wees.

      Connie ry vooruit na haar dorpshuis in Oranjezicht. Erika volg in haar BMW. By die huis met sy hoë muur maak Connie die motorhek met die afstandbeheerder oop. Sy parkeer langs die motorhuis en beduie dat Erika daar moet intrek. Erika doen dit, haal haar bagasie uit en Connie maak die deur toe.

      “Ek sal nie verbaas wees as Cas jou hier kom soek nie,” sê Connie. “Dan moet hy nie jou kar sien staan nie.”

      Sy neem vir Erika na die mooi gemeubileerde spaarkamer met sy blou-en-rooi kleurskema. “Maak jou tuis. Ons kan later uitgaan vir brunch by Café Paradiso in Kloofstraat. Ons het die hele naweek voor.”

      “Ja, ons gaan lekker kuier,” glimlag Erika, maar eintlik bekommer sy haar oor hoe die ding met Cas gaan verloop. Sy kan nie dink dat hy sommer mak en in die bek geruk sy goed gaan vat en ander blyplek sal gaan soek sonder dat daar reperkussies is nie. Hy kan darem by sy ma in Pinelands gaan plak as hy regtig nie ander slaapplek kan kry nie.

      Die