Geliefde heler. Malene Breytenbach. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Malene Breytenbach
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Эротическая литература
Год издания: 0
isbn: 9780624083412
Скачать книгу

      

      Geliefde heler

      Malene Breytenbach

      Hartklop

      Opgedra aan Tina Viljoen

      1

      Naomi is skoon ongedurig. Waarom trek sy haar tog die koms van tant Merel se familie so aan? Hulle is mos blote besoekers. Sy kan meesal haar eie gang gaan terwyl hulle in die huis bly. Sy het haar afsonderlike woonstel en ateljee; hulle gaan in die hoofhuis tuis.

      Met ’n sug los sy die skildery waaraan sy graag wil werk en maak die kwas skoon. Sy trek haar jassie vol verfkolle uit en kyk in die spieël wat teen die een muur gemonteer is. Haar wit rok is gekreukel. Ag, wat maak dit saak? Sy gaan staan by die venster. Hulle behoort nou enige oomblik op te daag, dan moet sy hulle verwelkom en tuismaak. Sy het aangebied om hulle met tant Merel se Mercedes by die lughawe te gaan haal, maar hulle huur liewer hul eie voertuig, het tant Merel gesê.

      Tant Merel, by wie sy haar woonstel en ateljee huur, het haar in kennis gestel dat sy ’n maand of langer Nederland toe wil gaan. “My broerskind, Geert, ’n briljante chirurg, kom in dokter Lood Smal se praktyk by die Medihelp locum,” het tant Merel verduidelik. “Hy bring sy ouers saam. As ons huise ruil, kan my broer en sy vrou gerieflik in Stellenbosch vakansie hou terwyl Geert werk. Ek bly dan in my broer-hulle se huis in Amsterdam. Dit gee my kans om weer ’n slag ander familie te sien. Ek was drie jaar laas Nederland toe en dis nou hoog tyd dat ek weer my gesig gaan wys. Ek verlang na my niggies.”

      Die dokter het op Suid-Afrika verlief geraak, het tant Merel gesê, toe hy twee jaar tevore drie maande lank as uitruildokter by Tygerberg Hospitaal kom werk het terwyl sy vriend, Lood Smal, in sy plek in Amsterdam gaan werk het voordat hy ’n praktyk in Stellenbosch geopen het.

      Haar ongedurigheid en opsien na hulle koms is ook te wyte aan tant Merel se waarskuwing dat haar broer ’n ryk nyweraar is en dat die Bouwmans net aan die beste gewoond is. Niks mag verkeerd gaan nie, want hulle is baie puntenerig. Die mense se koms is ’n uitdaging – nie iets om na uit te sien nie.

      Nou is alles in beroering. Die sjef, Dwayne, sal moet uithaal en wys, want die Nederlanders is blykbaar lekkerbekke. Hy kan nie met verlof gaan nie, al is dit byna Kersfees.

      As Noekie, wat al jare lank as huishoudster by tant Merel werk, nie alleen die mas kan opkom nie, moet hulle Cathy’s Chars se hulp inkry, het tant Merel gesê. Die ou Kaaps-Hollandse huis in Dorpstraat wat uit die negentiende eeu dateer, is so groot dat Cathy’s Chars elke nou en dan help vensters was, silwer poleer, kristalkandelare skoonmaak, Persiese matte en tapisserieë skoonmaak en swaar houtmeubels poleer.

      Naomi kyk hoe Faan, die tuinman, met die net de laaste vuiligheidjie uit die groot swembad skep. Hy moet die swembad kristalhelder hou, het tant Merel gesê. Die Nederlanders sal wil swem en hier in die son lê met hulle wit Europese velle. Naomi kan al sien hoe kook hulle rooi soos krewe en kry blase. Die Desemberson brand fel en die mense kom nou uit die Europese winter. Sy vermoed hulle is die blonde, blouoog-soort, soos tant Merel: wit-en-goud beeldskoon in haar jeug en uiters versigtig vir die Afrikason.

      Faan sou die gazebo ook skoongemaak het sodat daar geen vallende blare of ongewenste insekte is nie. Daar sit mens lekker in die koelte as dit warm is. Luister na die geritsel van diertjies en insekte in die gras en blomme; na die gesing van die baie voëls wat die tuin so vrolik maak. Die gaste sal natuurlik daar in Naomi se gunstelingplek ook wil gaan sit.

      “Die Bouwmans behoort jou nie te steur nie,” het tant Merel beweer. “Die huis is mos groot. Met mense in die huis sal jy veiliger voel. Al het ons sekuriteit, is daar deesdae te veel inbrekers wat almal uitoorlê en dit nogtans regkry om in te kom.”

      In tant Merel se naaldwerkkamer, waar sy haar borduurlappe en -garings hou, en waar sy dink niemand dit sal verwag nie, is ’n groot kluis met juwele en ander kosbaarhede, hoewel die duurste juwele in ’n bankkluis gehou word. ’n Groot stuk borduurwerk steek dit weg. Die wete dat dit daar is, maak Naomi ongemaklik. Tant Merel het vir haar die kode gegee om die kluis oop te maak. “Ingeval ek iets oorkom en jy belangrike dokumente en dinge daaruit moet haal.”

      Duisberghuis lê diep in die groot erf met sy geil tuin, tussen ’n blok woonstelle en ’n uiters gewilde restourant. Daar is ’n hoë muur om die erf en ’n hek met ’n interkom. Dit lyk veilig, maar Naomi weet ’n mens kan deesdae nooit te gerus wees nie.

      Sy gaan ondertoe en spits haar ore vir die hekklokkie. Sy verwag die mense vieruur, mits hulle betyds is. Daar kan oponthoude by die lughawe wees.

      Watter soort mens is dié Geert Bouwman met wie sy tante spog asof hy die slimste chirurg op aarde is? In haar werk as teatersuster het sy al met baie dokters te doen gehad: slim en kundig, sommige ongeduldig en arrogant, ander plat op die aarde en gaaf, met goeie mensvaardighede. Sy wonder watter soort hy is.

      Vir dokters, veral aantreklike dokters, is sy uiters versigtig nadat haar verhouding met Charl so pynlik gesneuwel het. Nadat sy hom dwarsdeur sy mediese studies bygestaan het, het hy sowaar op ’n mooi, ryk pasiënt gaan verlief raak. En daar los hy Naomi soos ’n klaargeëte bord kos. Die seer en ontnugtering het nog nie heeltemal uit haar hart geloog nie. Hy het nie net haar vertroue geskok nie, maar dit ook vir haar moeilik gemaak om weer enigeen te vertrou.

      Naomi wens sy kon eerder verlof geneem het, maar sy moet werk en tant Merel het die huis en haar twee Persiese katte, haar liefling-“kinders”, aan haar sorg toevertrou.

      Suzy Wong kom met haar swanger lyfie ingesluip, wolstert in die lug. Sy is spierwit skoon na ’n onlangse besoek aan Pet Groomers. Haar plat gesig lyk nors en befoeterd, maar eintlik is sy en haar maat, Ching Wong, liefdevolle katte.

      “Miaau,” kom sag uit die bekkie. Sy spring op Naomi se skoot en Naomi streel die sysagte pels en bultende magie. “Waar was jy heeloggend? In jou swanger toestand moet jy rustig wees en nie kleinwild in die tuin probeer jag nie. Julle katte moet soet wees as die mense hier is, hoor.”

      Suzy Wong vly haar kop teen Naomi se arm en kyk knip-knip op asof botter nie in haar mond sal smelt nie. Naomi het haar en die mannetjieskat, Ching Wong, se bedmandjies in haar ateljee ingerig. Hulle slaap gewoonlik by tant Merel. Sou die gaste enigsins van katte hou?

      Die hekklokkie lui. Sy antwoord die interkom.

      “Die Bouwmans is hier,” sê ’n diep manstem kortaf.

      “Ek maak oop. Ry asseblief tot voor die voorstoep. Dit is makliker om julle bagasie daar af te laai.”

      Sy kyk by die kombuis in waar sjef Dwayne ’n melktert uit die oond haal. Noekie staan by hom en drink ’n koppie tee.

      “Die mense is hier.”

      “Righty-ho,” sê Dwayne. “Die gaste moet seker tee en iets te ete kry nadat hulle so ver gevlieg en gery het.”

      Naomi snuif in die lug. “Dit ruik heerlik, Dwayne. Kom, Noekie, ons gaan help die mense met hulle bagasie.”

      Sy maak die groot voordeur oop. ’n Silwer BMW X5 hou voor die trappe stil. ’n Middeljarige gryskopman in ’n donkerblou pak klere klim by die voorste passasiersdeur uit en maak die agterste passasiersdeur vir ’n vrou oop. Sy is ook grys van haar, nogal geset, maar deftig geklee in ’n grys pakkie en polvye. Hulle het natuurlik eerste klas gevlieg en kom nie so voos en verkreukel by hul bestemming aan soos die plebs van ekonomiese klas nie.

      Die bestuurder klim uit en loop om na agter die voertuig, waar hy die kattebak oopmaak. Naomi se eerste indruk is dat hy ’n lang man is. Jinne, daar is sowaar baie bagasie in die motor. Die tasse en sakke is op mekaar gestapel tot teen die dak.

      Sy huiwer op die trappe. Die bestuurder, wat dokter Geert Bouwman moet wees, kyk in haar rigting en kom nader. Sy voorkoms is so oorweldigend dat sy verbluf na hom staar. Hy is besonder lank, met breë skouers en dra denims en ’n blou-en-wit geruite langmouhemp. Sy hare is goudblond, sy gesig is hoekig, die neus reguit en skraal, die mond volmaak gevorm bo ’n sterk ken. Hoe nader hy kom, hoe duideliker sien sy dat sy oë so blou soos lapis lazuli is.

      So ’n macho man het sy nie verwag nie. Waarom het sy haar verbeel hy gaan korter en skraal wees, soos tant Merel?