Chirurg van harte. Susan Pienaar. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Susan Pienaar
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Эротическая литература
Год издания: 0
isbn: 9780624083443
Скачать книгу
ion>

      

      Chirurg van harte

      Susan Pienaar

      Hartklop

      1

      Natasja sit steke in ’n wond. “Jy was damn gelukkig dat die koeël jou net rakelings getref het,” sê sy vir die man. “Net ’n paar sentimeters vorentoe en die slagaar in jou nek het uitgebloei.”

      Dit gaan weer dol. Die uitgehongerde mense wat netnou nog in rye vir inentings staan en wag het, baklei nou daar anderkant oor sakkies mieliemeel wat agter van ’n vragmotor af uitgedeel word.

      ’n Gelui van die foon werk op haar senuwees. “Antwoord asseblief daai foon!” roep sy bo die gedreun van donderweer en gietende reën uit. Ai tog, die ander verpleegsters en dokters is self tot oor hul ore toe besig. Laat sy maar gaan hoor.

      Sy sit die naald neer en sê: “Ek’s nou terug,” en stap gou foon toe. “Bhongweni-ongevalle. Dokter Engelin.”

      “Ons het ’n koeëlwond in bors,” breek ’n manstem stuk-stuk deur swak opvangs en vervolg: “Vroulik. Middeltwintigs. Pols honderd-en-vyftig. Bloeddruk vyf-en-sewentig oor veertig …”

      Ag, nee! Natasja het gedink sy is teen dié tyd lankal terug by die huis.

      Sy draai rusteloos om, raak dan meteens bewus van haar omgewing en sug verlig. Dankie tóg, sy lê al die tyd in haar eie bed. Wanneer gaan die teistering van drome tog end kry? Sy lig haar kop op en luister.

      Ja, dis haar deurklokkie wat skril, nie ’n foon nie. Sy kom orent en swaai haar bene van die bed af. Donderweer klap met ’n knal terwyl weerlig deur ’n skreef in die toegetrekte gordyne blits en die donker kamer sekondes lank verlig. Sy skakel haar bedliggie aan en vat haar wekker raak.

      Halfeen in die nag, dus reeds Maandag. Sy het miskien ’n halfuur geslaap. Wie op aarde sou dit wees?

      Sy het net twee dae rustyd en moet Woensdag weer aan diens wees.

      So in die verbygaan vat sy haar satynjapon agter die kamerdeur raak en trek dit sommer in die loop voordeur toe aan. Sy moes soos ’n dooie op haar een sy geslaap het, want die handdoek sit nog oor haar klam hare.

      Net eers die stoeplig aanskakel. Deur die loergaatjie sien sy die verwronge gesigte van twee mans. Ag nee! Oupa Gerrit moes weer uit die versorgingsoord weggeloop het. Die tweede keer in ’n maand.

      Die ander man moet ’n weldoener wees, bespiegel Natasja terwyl sy gou oopsluit.

      ’n Windvlaag ruk die deur uit haar hand, pluk haar japon se voorpante agtertoe en amper van haar lyf af. Die handdoek oor haar kop beland op die vloer, maar sy los dit en steek ’n hand uit na oupa Gerrit en trek hom binnetoe.

      Sy hand is yskoud en sy yl haartjies en klere sopnat.

      Blitsig raap sy die handdoek op. Sy moet Oupa se gesig en hare droog kry, dan vir hom droë klere aantrek … voorkom dat hy siek word. Gelukkig is hier nog klere in sy kas.

      “Tasjatjie, ek het ’n bietjie verdwaal,” sê Oupa met ’n bewerige stem.

      Sy gooi die handdoek oor sy nek en skouers. “Dis oukei, Oupa. Moenie vir Oupa bekommer nie. Bly staan net hier, die teëlvloer is nat, Oupa kan gly en val. Ek gaan kry gou droë handdoeke.” O, gats, in haar bekommernis oor haar oupa het sy totaal van die vreemdeling vergeet.

      Sy draai om, kyk na die man wat steeds in die deur bly staan, en haar woorde droog op.

      Ligbruin oë onder donker wenkbroue in ’n sterk gesig kyk haar vas en asof gehipnotiseerd aan. ’n Beeld van ’n man, moet sy erken. Hy kyk af, vee dan met ’n hand oor sy donker hare en nat gesig. Instinktief gly haar oë rakelings oor die wit kortmouhemp wat waternat klou aan ’n breë bors, gespierde arms en ’n sixpack-maag. Die ligblou ontwerperjeans is kol-kol nat en sy tekkies sopnat.

      Sy sluk swaar, kyk op na hom en vang sy deurdringende blik vas. Genade, die man laat haar skoon van goeie maniere vergeet.

      “Ag, jammer, meneer. Ek –”

      “Juffrou,” val hy haar fronsend in die rede, “jy sal plan moet maak. Kan jy nie beter na jou oupa kyk nie?”

      Oomblikke lank kan Natasja net sprakeloos na hom staar terwyl vernedering oor haar spoel. Sy soek na woorde: “Maar … ek doen my bes –”

      “In jou oupa se geval is jou beste nie genoeg nie. Hy het voor my motor ingeloop en kon noodlottig beseer gewees het as ek nie betyds gerem het nie. Dit is duidelik dat jy nie cope nie. Daar is instansies, plekke soos versorgingsoorde wat beter na hom sal omsien.”

      Natasja trek haar asem skerp in. Hoe durf hy! Die man ken haar nie en weet niks van haar hartseer en stryd die afgelope vier jaar met oupa se dementia nie. Wie gee hom die reg om vir haar voor te skryf en haar onbeholpe en verneder te laat voel? Hy is flippen voorbarig!

      Oupa gee ’n losserige hoesie: “Tasjatjie, ek dink ek moet nou in die bed klim.”

      Sy vat hom aan ’n arm, keer dat hy loop. “Oupa moet eers droog aantrek.” Of die man nou vermetel en ongeskik is of nie, sy sal hom moet bedank. Hy hét haar oupa darem opgelaai, nie net weggery soos die meeste mense sou nie. “Dankie, meneer, ek waardeer dit ongelooflik baie dat jy my oupa opgelaai het. Ek is jammer vir die ongerief, maar regtig, hy is in goeie hande. Dit was ’n eenmalige ding,” jok sy blatant. “Dit sal nie weer gebeur nie. En nou, as jy my sal verskoon, moet ek na my oupa omsien voor hy longontsteking kry.”

      Sy het nou skoon stokkerig geklink, maar die vent verdien dit. Hy kyk haar ’n paar tellings woordeloos, maar ook deurdringend aan voor hy omdraai.

      Natasja druk die deur toe, sluit dit en skakel die stoeplig af.

      Met ’n arm om haar oupa se lyf, stuur sy hom in die rigting van sy ou kamer waar sy ’n sagte, liggewig-sweetpak en onderklere uit ’n kas haal.

      “Daarsy Oupa, lê ’n rukkie en rus,” sê sy kalmerend toe hy aangetrek agteroor op die bed gaan lê. Sy trek ’n duvet oor hom. Siestog, hy lyk so moeg en maer en bleek …

      Haar foon lui en sy gaan antwoord. Dis matrone Brits van die versorgingsoord wat ontsteld vra of oupa Gerrit nie dalk by haar opgedaag het nie. Blykbaar het hy die voordeursleutel in die dienskamer gaan haal toe die verpleegster aan diens gou badkamer toe is.

      Natasja vertel van die vreemdeling wat Oupa opgelaai het en voeg by: “Ek was agttien uur aan diens by trauma en is doodmoeg, anders kon hy hier geslaap het. Ek gaan net vir ons tee maak, dan bring ek hom terug,” beloof sy en lui af.

      Tog snaaks hoe oupa Gerrit soms onthou waar hulle huis is. Dankie tóg die polisie se hulp was nie vanaand nodig nie.

      Sy loop skakel die ketel aan, gooi teesakkies in twee glasbekertjies en kyk hoe druppels reën teen die kombuis se ruit spat. Gelukkig is daar ’n verbindingsdeur na die motorhuis; Oupa sal droog bly. Sy voel soos ’n ondankbare hond wanneer sy Oupa by die oord gaan aflaai, veral wanneer hy by sy volle positiewe is.

      Oupa herken haar nie altyd wanneer sy gaan kuier nie – ander kere is hy weer helder en kan hulle darem gesels. Wat ’n aaklige en aftakelende siektetoestand vir enigiemand, maar veral vir iemand wat eens op ’n tyd ’n ingenieur was!

      Vandat sy kan onthou, weet sy Ouma kon nie kinders hê nie, toe het hulle haar pa as twee maande oue baba aangeneem.

      Maar toe Natasja besef wat Oupa makeer, wou sy nie kanse vat nie, sy wou vir seker weet of sy die dementia-geen het of nie, en het haar toe laat toets. Wat haar betref, was dit nodig. Sy het mos nie haar biologiese pa of ma of dié se familie geken nie. Wat ’n verligting was dit nie toe die uitslae kom en sy nie die dementia-geen het nie! Nie dat dit ’n waarborg of algehele vrywaring is nie.

      Natasja gooi water oor die sakkies. Hoe kan sy anders as om skuldig te voel dat sy nou alleen in die huis bly waar sy met liefde deur oupa Gerrit en ouma Lettie soos hul eie kind grootgemaak is? Oupa en Ouma was positiewe mense wat dit by haar tuisgebring het dat daar niks op hierdie aarde is wat sy nie kan doen of regkry nie.

      Hulle het haar ballet- en klavierlesse betaal, haar universiteit toe gestuur, toe