DEON MEYER
JAGVELD
en ander draaiboeke
Human & Rousseau
Voorwoord
Hoe lyk ’n draaiboek?
Hoe skryf ’n mens ’n draaiboek? Hoe skryf jy ’n briljante draaiboek wat miljoene rande by die loket sal verdien?
Waarom skryf jy enigsins rolprente?
Waar kan ek leer oor draaiboeke? Wat is die verskil in skryfbenadering tussen ’n draaiboek en ’n roman? Waar kan ek een van jou draaiboeke in die hande kry? Ons het die fliek gesien, nou wil ons die boek lees – waar kan ons dit koop? Gaan jy ’n boek skryf oor dié fliek? Gaan jy ’n fliek maak oor dié boek?
Dit is van die draaiboek-vrae wat byna daagliks in my e-pos se in-mandjie beland, om nie eens te praat van Facebook-boodskappe nie. Kort nadat ’n fliek in die teater gedraai het, word soortgelyke vrae ’n konstante stroom wat weke lank kan aanhou.
Hierdie boek is in die eerste plek bedoel om vier stories as alternatiewe lekkerlees-ervarings aan te bied – veral omdat hulle nie in die gewone roman-formaat beskikbaar gaan wees nie. Maar dit is ook ’n poging om die grootste meerderheid van daardie vrae te beantwoord.
Dit bevat vier draaiboeke van flieks wat reeds gemaak en algemeen beskikbaar is. Een is volledig op ’n kortverhaal gebaseer – Die ballade van Robbie de Wee. Twee is minstens breedweg geïnspireer deur van my kortverhale: Jakhalsdans deur “Bottervisse in die jêm” en Die laaste tango deur “Verslag oor ’n verdwyning”.
En Jagveld is ’n oorspronklike draaiboek wat nie op enige vorige skryfwerk gebaseer is nie.
Ek hoop jy sal die boek (en die flieks) geniet, selfs al het jy nie ’n enkele vraag oor draaiboeke of flieks nie.
So, dit is hoe ’n draaiboek moet lyk?
Nee, nie heeltemal nie. As ons die filmtekste in hul presiese oorspronklike formatering moes dupliseer, sou hierdie boek onfatsoenlik en onbekostigbaar dik en duur gewees het – en dalk so ’n titsel minder leesvriendelik ook.
Daar is baie bronne op die internet beskikbaar wat vir jou presies gaan illustreer hoe elke element van die draaiboek op die bladsy moet lyk. Gaan google gerus. Dié formaat en voorkoms is redelik universeel; wat in die VSA werk, geld ook in Suid-Afrika.
Maar bowenal is ’n filmdraaiboek eenvoudig ’n reeks tonele wat ’n storie van begin tot einde vertel. Elke toneel begin met ’n verwysing na ruimte (binne of buite), spesifieke plek (’n kamer, ’n motor, ’n woud …) en tyd (dag, nag, oggend, middag …). Die toneel self bestaan uit beskrywings van die plek en tyd, uit dit wat die karakters doen (die aksie) en dit wat hulle sê (die dialoog).
Maar storie is veel belangriker as formaat. As jy ’n asembenemende storie het om te vertel, kan die formaat maar gebrekkig wees, iemand sál jou fliek wil maak.
Terloops, jy kan ’n draaiboek in enige woordverwerkingsapplikasie skep om by hierdie voorkoms uit te kom, maar die groot meerderheid draaiboek-skrywers gebruik Final Draft (www.finaldraft.com). Dié program doen baie van die formateringswerk vinnig en doeltreffend vir jou, dit onthou karakters se name en die plekke waar jou storie afspeel, en bespaar hope tyd, sodat jy jou feitlik uitsluitlik oor die storie kan bekommer.
Hoe skryf jy ’n briljante draaiboek wat miljoene rande by die loket sal verdien?
Daar is baie boeke wat beloof om hierdie tergende raaisel op te los. Trouens, daar het al meer boeke verskyn oor hoe om ’n verkoopbare draaiboek op te tower as oor enige ander hoe-om-te-skryf-onderwerp.
In dié verband glo ek egter in waarskynlik die beroemdste stelling van William Goldman. Hy is na my mening een van die grootste draaiboekskrywers ooit. Hy het twee Oscars agter sy naam en het onder meer legendariese flieks soos Butch Cassidy and the Sundance Kid, All the President’s Men en Marathon Man geskep.
Goldman het ’n paar heerlike, leesbare boeke oor sy wedervaringe in Hollywood geskryf, onder meer die beroemde Adventures in the Screen Trade: A Personal View of Hollywood and Screenwriting – ’n boek wat jy gerus kan lees as jy enigsins in film belangstel. Hierin sê Goldman hy gaan net twee groot stellings maak. Die eerste, as dit kom by watter fliek ’n sukses gaan wees, is “Nobody knows anything”. Niemand in die ganse bedryf kan met sekerheid voorspel dat ’n film geld gaan maak nie. Dit is, sê hy, elke keer ’n raaiskoot.
Omdat ek heelhartig met Goldman saamstem, moet ek ongelukkig hier beken dat die lees van hierdie boek jou nie veel nader gaan bring aan die kennis van ’n treffer-rolprent se skepping nie. Maar ek beveel graag ’n paar boeke aan waarby ek groot baat gevind het toe ek die basiese beginsels van filmskryfwerk wou leer: Screenplay: The Foundations of Screenwriting deur Syd Field, Writing Screenplays That Sell deur Michael Hauge en Robert McKee se Story: Substance, Structure, Style and the Principles of Screenwriting.
Wat is die groot verskil tussen boeke en rolprente skryf?
Die tweede groot stelling wat William Goldman in sy boek Adventures in the Screen Trade maak, is “Screenplays are structure, and that’s all they are”.
Hy sê: “The quality of writing – which is crucial in almost every other form of literature – is not what makes a screenplay work. Structure isn’t anything else but telling the story, starting as late as possible, starting each scene as late as possible. You don’t want to begin with ‘Once upon a time’, because the audience gets antsy …”
Ek is nie seker ek stem heeltemal met hom saam nie. Ek moes al draaiboeke lees van hoopvolle skrywers waarvan die taal só swak was dat ek dit nie kon klaarmaak nie. Maar daar is heelwat waarheid in sy siening.
As Goldman ’n (Suid-) Afrikaanse draaiboekskrywer was, sou hy ongetwyfeld ’n derde groot stelling gemaak het: Draaiboeke word bepaal deur die film se begroting.
Want dit is myns insiens die grootste enkele verskil tussen die skryf van ’n boek en ’n rolprent. Om ’n toneel te skep waarin daar tagtigduisend mense in ’n rugbystadion sit, kos in ’n roman nie ’n sent nie, maar om dit vir ’n fliek te laat werk, gaan duur wees. Selfs net ’n restauranttoneel kan jou fliekbegroting kwaai deurmekaar krap.
Maar ’n rolprent is ’n visuele medium en jy moet ook daarna streef om jou storie met prentjies te vertel, terwyl jy in ’n boek net woorde het.
Die ander groot verskil is dat jy in ’n fliek meestal net jou karakers se dialoog en aksie kan gebruik om die storie te vertel, terwyl ’n boek hom makliker met die dinkwêreld van karakters besig kan hou sonder om probleme te veroorsaak.
Dit is alles natuurlik net breë beginsels, en hulle is almal al met groot sukses verbreek.
Waarom skryf jy enigsins rolprente?
Ondanks die feit dat daar so baie romansiers is wat ook films skryf of geskryf het, bly dit vir baie mense onverstaanbaar dat ’n mens al twee wil doen.
Vir my is die antwoord eenvoudig: Sekere stories is van meet af aan geskik vir boeke, ander vir kortverhale, sommige is net perfek vir ’n fliek, en ’n klompie vir film én boek of kortverhaal.
Ek dink nie aan ’n moontlike fliek wanneer ek ’n boek of kortverhaal skryf nie, net soos wat ek nie daaraan dink om ’n film in ’n ander medium te verwerk nie. Ek skryf soos die storie my lei. En ek geniet dit om flieks te skryf, want dit is nie so ’n marathon soos ’n boek nie, en die skryfuitdagings is soveel anders.
Boonop is die skryf van ’n boek in wese ’n baie eensame ervaring, terwyl ’n fliek weer ’n samewerkende, sosiale proses is waarin ’n mens die geleentheid kry om die ervaring met talentvolle, kreatiewe en interessante mense te deel.
Waarom verskil die draaiboek en die fliek?
Sou jy hierdie draaiboeke lees en dan ook na die film kyk wat daaruit gespruit het, sal jy heelwat verskille opmerk – soms subtiele wysigings in dialoog, maar ook moontlik hele tonele wat weggelaat is.
Dit is juis die samewerkende aard van rolprente maak wat grootliks hiervoor verantwoordelik is, want ’n fliek is die somtotaal van ’n hele span mense se