Vir die voëls. François Bloemhof. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: François Bloemhof
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Короткие любовные романы
Год издания: 0
isbn: 9780624080473
Скачать книгу
>

      

      VIR DIE VOËLS

      Na die ware liefdesverhaal van

      Irma en Sampie de Klerk

      en ’n draaiboek deur Tina Kruger,

      Sean Robert Daniels en Quentin Krog

      Jasmyn

      VOORWOORD

      Dis ’n teken van die tyd dat as ’n mens na telefoontjie verwys, jy moet verduidelik dat jy nie noodwendig praat van ’n elektroniese ding waarop jy SMS’e en WhatsApps kan stuur nie.

      Met daardie ou speletjie fluister iemand iets in iemand anders se oor – en dié fluister dit vir die volgende persoon. En so aan en so aan. Wat jy gehoor het, moet jy aanstuur. En teen die tyd dat die laaste een die boodskap hardop sê, is dit bitter selde wat dit aan die begin was.

      “Daar is niks soos ware liefde,” het Groep Twee gesing in die era waarin hierdie verhaal afspeel. Daar is ook niks soos ’n storie oor ware liefde nie, en goeie stories verdien om meer as een keer vertel te word. ’n Klompie ander mense, en toe ek, het met Irma en Sampie de Klerk se storie telefoontjie gespeel.

      Huisgenoot, die grootste tydskrif in die land, is ’n volle honderd jaar oud. As deel van hulle eeufeesviering is ’n kompetisie uitgeskryf, en die wenner was Irma de Klerk van Newcastle met die stuk “Slim vang sy baas”, waarin sy haar en Sampie se ware liefdesverhaal vertel.

      Die kameras sou rol vir ’n filmverwerking daarvan, maar voor dít kon gebeur, moes destyds se gebeure in ’n draaiboek van minder as twee uur saamgevat word, wat vanselfsprekend baie aanpassings geverg het. Die eerste was dat die storie-Irma nie meer een van ses kinders is nie; sy is die enigste kind gemaak om sake meer gefokus te hou en die aantal karakters te verminder. Net so is haar beste vriendin en Sampie se suster nou een en dieselfde mens.

      Ek het op grond van Tina Kruger se eerste weergawe van die draaiboek ja gesê vir die projek. Dit het lekker gelees en sou ’n verskoning wees om te skryf in ’n genre waarvan ek hou, maar wat ek nie te dikwels kan aanpak sonder om lesers regtig te begin verwar nie.

      Ek het ook die geleentheid verwelkom om ’n storie te kan skryf wat in die 1960’s en 1970’s afspeel – nie net ’n ander tyd nie, maar ’n heel ander wêreld. Dit sou wel baie navorsing noodsaak, wat ek gewoonlik beperk omdat ons skrywers tog so sukkel om nie ál ons opgediepte pêrels uit te stal, ten koste van die verhaal se vaart nie. Aan die ander kant sou dit ’n nuutjie wees om ware gegewens as vertrekpunt te gebruik, maar na aanleiding van die draaiboek te werk met geselekteerde, herverbeelde gegewens en daaruit weer iets vars te skep wat die feite eggo én heeltemal op sy eie bene staan. En hopelik in die gees sou wees van wat daardie regte mense eenmaal beleef het.

      Teen die tyd dat daar begin is met die verfilming van die negende weergawe van die draaiboek, was daar nóg veranderinge, soos dat die gebeure vyf jaar vorentoe geskuif is.

      Toe kom myne. Ek het tonele ingevoeg, of uitgebrei, of saamgevoeg of geskuif. En ander gesny. Ek het die eerste helfte van die draaiboekstorie verleng, en die tweede helfte ingekort. Ek het besluit op ’n addisionele manlike perspektief vir balans en kontras, en omdat dit twee mense se storie is. Gevolglik sal hierdie boek se toonaard en selfs die genre soms heelwat verskil van die rolprent s’n.

      Van die grootste bates wat flieks kan hê, is treffende skote, ’n meesleurende klankbaan, goeie spelers en knap redigering. Maar ons woordmense kan weer werk met dinge wat onmoontlik is om te verfilm.

      Soos die karakters se gedagtes. Groot voordeel daardie! Maar in hierdie geval ook ’n groot verantwoordelikheid … Op die silwerdoek is daar die beveiliging dat die kyker bekende akteurs sien optree; dit is pal duidelik dat ’n verbeelde werklikheid aangebied word. In ’n boek kan lesers egter maklik glo ek wou die De Klerks uitbeeld presies soos wat hulle was, of steeds mag wees.

      Glad nie. Ek het gedagtes in die karakters se koppe geplaas wat die regte Irma en Sampie by tye ongemaklik kan stem. Hulle sal miskien wil uitroep: “Dis nie wat ek toe gedink het nie!” of: “Dit het nie so gebeur nie!” Dit moet ’n groter indringing van iemand se privaatheid wees om te lees wat jou gedagtes kwansuis was, veral in tye van krisis, as om iets op ’n doek te sien gebeur met iemand wat anders lyk as hoe jy destyds gelyk het, en waar dit tot dialoog beperk is.

      Ek moes getrou bly aan die karakters soos ek hulle beskou het, daarom het ek eers met Irma kontak gemaak toe die boek klaar was – om foto’s by haar te kry, asook inligting vir die tipe naskrif wat ek in gedagte gehad het. As ek halfpad deur alles met haar gepraat het en sy was so ’n ander tipe mens as wat ek my voorgestel het dat ek aan die karakter se manier van dink en doen sou wou torring, kon dit lei tot groot teenstrydighede. Nou was my taak afgehandel – ek het as ’t ware reeds opgestaan en die boodskap gesê, sodat dit ook nie meer ’n verskil sou maak as ek dalk nie by die ware Irma aanklank vind nie.

      Maar toe is sy die mens wat sy is, en deur haar oë sien ek Sampie vir die mens wat hý is.

      Dit was ’n voorreg om met julle storie vertrou te word!

      Elke mens is eintlik ’n hele ry mense. ’n Klomp wat agter jou aan tou: vooraan is die jy van hier en nou, en dan al die ander, jonger jye wat jou tot hier gebring het.

      Dít is wat sy gedink het toe sy vanoggend opstaan hier in Queenstown op 31 Desember 1978.

      Die onrustigheid van die vorige nag het nog oral gehang. Na die aantrek en regpluk was dit tyd om die deur te sluit van die plekkie waar die laaste fase van haar grootword, mensword, afgespeel het.

      Sy is Irma Humpel – maar nie vir veel langer nie – en sy is negentien.

      Sy, nou byna Irma-met-’n-ander-van, wonder hoe dit soms kon gevoel het of die tyd sleep, noudat sy besef al daardie jare is verby in ’n oogwenk. Iewers hier agter haar, maar vas aan haar, is weergawes van Irma Humpel wat gesweer het ’n dag soos dié sal nooit kom nie.

      ’n Dag waarop die klokke haar met ’n dong-dong-dong nader roep.

      Sy sluk benoud. ’n Deel van haar het ook daar in die woonstel agtergebly. Sy kan dit weer sien, die deurmekaar toestand waarin hulle dit agtergelaat het. In haar kamer (nee, nie meer haar kamer nie) was daar die kleurryke laslappie-ontploffing, met rafels, skêrtjies en bolletjies wol. Die langlyfspieël waarin sy haar gereed gemaak het vir hierdie oomblik …

      Of eerder mooi gemaak het hiervoor; altans, so in bedwang gekry het as wat haar halsstarrige rooi boskaas toelaat.

      “… dat jy haar in liefde sal eerbiedig en help, soos ’n Godvresende man?”

      Sy skrik. Sy het iewers ’n paar oomblikke van hierdie gebeure verloor, of meer as ’n paar, want hulle is klaar by die Groot Vraag!

      Darem nog net die een wat aan die persoon langs haar gestel word. Hy word mos eerste gevra, dis hoe dit werk, hy’s die man. Vrou kom altyd tweede in berekening – mag eerste by ’n deur ingaan, maar dis waar dit stop.

      “Ek beloof.”

      Irma kan die benoudheid in Sampie se stem hoor. Sy moenie vergeet dis vir hom net so ’n groot oomblik nie. Lewensveranderende oomblik. Dit blyk veral uit die sluk wat hy gee, die klankie wat sê hier is ’n man wat ook méns is, senuagtige mens.

      Sy voel of sy gehipnotiseer is, so stip staar sy na die dominee. Na netjiese hare wat mettertyd wit geword het, sy vel waarin die plooie jaar na jaar dieper kom lê het.

      En tussen hulle beweeg ’n beeld in van ’n jonger self.

      Sy was agt jaar oud en aan die slaap, en in die droom was sy selfs jonger, seker so vier jaar oud.

      “Kom, ek het jou …”

      Haar pa se stem, en hy het haar met dun, sterk arms vasgehou. Het haar opgehelp na die mik van die boom, waar die voëlnes