Ena Murray Keur 9. Ena Murray. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Ena Murray
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Эротическая литература
Год издания: 0
isbn: 9780624076780
Скачать книгу

      ENA MURRAY

      KEUR 9

      Waters van Silóa • Rabbedoe van Rietkuil • En die verlange bly

      Jasmyn

Waters van Silóa

      1

      “Dankie, suster.”

      Sy stem is saaklik terwyl hy die groen masker van sy gesig trek en wegdraai van die operasietafel. Maar toe sy langs hom in die skropkamer verskyn, glimlag hy af na haar. “En hoe gaan dit met my geliefkoosde suster?”

      Haar masker is nog aan, maar die oë blink van louter geluk. “Fantasties, dokter.”

      Sy hou haar stem ook streng formeel, maar dit verdiep net sy glimlag, en toe sy haar masker ook afhaal, buk hy vinnig vooroor en gee haar ’n kort, ferm soen wat die bloed na haar wange laat styg en ’n halfhartige protes na haar lippe bring.

      “Dokter! Sulke onprofessionele gedrag word nie in mý teater toegelaat nie!”

      As antwoord gee hy haar nog ’n stewige drukkie voordat hy laggend uit die skropkamer stap, en toe suster Petra Prinsloo oor die wasbak buk om die handskoene uit te trek en vir die volgende operasie te begin skrop, sien sy hulle bewe liggies.

      Ek kan dit nog nie glo nie! dink sy terwyl haar hande met vlugtige akkuraatheid hul taak verrig. Dat iemand, ’n man, haar kon liefkry! En dat daardie man juis Eugene is, dokter Eugene Minnaar, gaan haar verstand te bowe.

      Maar dit ís so! vertel haar wild kloppende hart haar terwyl sy die krane met nat elmboë toestoot en omdraai om ’n paar nuwe operasiehandskoene aan te trek. Gisteraand was ’n werklikheid – ’n heerlike werklikheid! Hy hét haar vertel dat hy haar liefhet en hy hét haar gevra om met hom te trou! Hierdie keer was dit geen verbeeldingspel van haar verlangende hart nie. Hierdie keer is dit die volle, heerlike waarheid. Eugene Minnaar behoort van gisteraand af volkome aan haar, soos sy aan hom.

      Die vraende blik van die junior verpleegstertjie tref haar oog en sy ruk haar terug tot die werklikheid. Dis nie nou die tyd vir ’n operasiesuster om te staan en droom nie. Maar dis so heerlik, so wonderlik om te weet hierdie keer droom sy nie vergeefse drome nie. Hierdie keer gaan die drome waar word …

      Toe sy ’n ruk later van diens af gaan, is dit of sy alles om haar met nuwe oë raaksien. Nog nooit in die vier-en-twintig jaar van haar bestaan was sy só intens bewus van die lewe in en om haar as vanoggend nie. Tog, diep binne-in haar, weet sy, is ’n onrusplekkie. Dis te goed om waar te wees, waarsku ’n stemmetjie.

      Haar oë versomber en verloor iets van die vreugdegloed terwyl sy werktuiglik deur die verkeer vleg. Sy probeer haar bes om die rigting te verander waarin haar gedagtes beweeg, maar gee dan die stryd gewonne. Die rede vir hierdie vae onrus in haar en die oorsaak daarvan ken sy, en dit spel een woord: Paula.

      Vandat sy kan onthou, was Paula deel van haar lewe. En hoe dan ook anders, want sy en Paula is tweelingsusters. Maar dis die enigste ooreenkoms tussen hulle – dat hulle op dieselfde dag deur dieselfde vrou in die wêreld gebring is. Die res van die feite verskil soos dag en nag.

      Paula was die blonde babatjie met die hemelsblou ogies, die enetjie wat altyd gelag en soos ’n engeltjie in haar wiegie vertoon het. Petra was die donker baba met die steil, swart haartjies, die oorpyn en ontydige maagaandoenings.

      Later, toe hulle meer méns geword het, was Paula die een met die dierbare lyfie wat elke besoeker net wou vasdruk en liefkoos, en haar tweelingsuster die effens te plomp dogtertjie om sulke toenaderings te ontlok. Só het hulle saam opgegroei sonder om ooit werklik deel van mekaar te wees, want tot hul geaardhede was so uiters verskillend. Op hoërskool het die verskil tussen hulle al hoe opvallender geword.

      Paula was die blonde krulkopbakvissie wat van elke hoërskoolseun se hart ’n voetbank gemaak het. Sy was die gewilde, die begeerlike met haar volmaakte lyfie, pragtige gesig en sprankelende geaardheid. Petra was die stille, die introvert wat alles van ver af gadegeslaan het, vasgevang deur haar minderwaardigheidsgevoel. Die enkele kere dat sy wel aandag van seuns ontvang het, het sy geweet sy was maar die middel tot die doel. Hulle het maar net aandag aan haar gegee om by haar begeerlike sussie uit te kom.

      Net in een opsig het sy haar suster oorskadu – akademies was sy altyd haar meerdere. Maar dit het ook niks beteken nie. Want sy, en so ook die onderwysers, het geweet Paula het haar redelik gemiddelde punte net met haar verstand behaal sonder om regtig te studeer. Petra was die ware student. Sy het immers genoeg tyd gehad om te studeer, terwyl haar sussie van die een afspraak na die ander, die een onthaal na die ander, die een sportveld na die ander gedartel het.

      Paula het uitgeblink in sport, maar haar plomp suster wat maar net nie die babavet kon afskud nie, het die sportterrein vermy, liefs in haar kamer gesit en lees en vergeefse drome gedroom terwyl haar suster die werklikheid daarvan ten volle geniet het.

      Dit was beslis nie maklik om Paula Prinsloo se tweelingsuster te wees nie. Dikwels het sy openlike bejammering in mense se oë gesien wanneer sy en haar suster langs mekaar staan. Dan het sy ineengekrimp. Sy het dieselfde blik ook in haar ouers se oë gesien, en dit het nog seerder gemaak. En wanneer hulle dan so ekstra goed is vir haar, haar pa met ’n onverwagse geskenkie net vir háár huis toe kom, haar ma so spog voor die ander mense met haar slim en vlytige dogter, kon sy gerus sterf. Want dit was bejammering, iets wat sy verafsku het.

      Terwyl sy haar puisiegesiggie mismoedig en meedoënloos met mediese seep behandel het, was Paula gewoonlik baie bedrewe met die grimeerkwassies besig om haar te tooi vir ’n partytjie. Maar sy kon dit nooit regkry om haar pragtige sussie te haat nie, want Paula was net daardie soort meisie wat, al doen sy ook verkeerd, nie kwalik geneem kon word nie.

      Nou, agterna beskou, moet Petra erken: Paula was nooit snaaks met haar nie. Sy het haar bes gedoen om haar tweelingsuster saam te sleep, maar dit was sy, Petra, wat verkies het om op die agtergrond te bly.

      Petra het ’n heimlike sug van verligting geslaak toe hulle die einde van hul skooljare bereik het. Haar en Paula se paaie sou skei. Natuurlik wou haar ouers graag hê albei hul dogters moet universiteit toe gaan, maar Petra het haar verset. Tot nou toe het sy in haar suster se skaduwee geleef. Nie langer nie.

      Paula is universiteit toe, en dit was eintlik vanselfsprekend dat sy as joolkoningin gekies sou word. Petra het haar by die groot stadshospitaal ingeskryf as leerlingverpleegster en haar met hart en siel aan haar beroep gewy.

      Maar hierdie nuwe lewe, weg van Paula, het nie heeltemal aan al haar verwagtinge voldoen nie. Sy het nooit geleer hoe om met mense te kommunikeer nie. Te lank was sy gewoond om in haar dop gekruip te wees. Tussen haar pasiënte was sy ’n ander mens, maar sodra iemand van die teenoorgestelde geslag belangstelling in haar getoon het, het sy maar weer met die ou vrese geworstel. Dit het lank geduur om te glo mense kan ook in haar as mens in eie reg belangstel.

      Steeds was sy pynlik bewus daarvan dat sy geensins mooi was nie. Sy het nie besef sy vergelyk haar elke keer met haar beeldskone suster en dat dit ’n onregverdige vergelyking was nie. Teen Paula sou meer as die helfte van die vroulike geslag bedroë daarvan afkom.

      Sy is weliswaar geen skoonheid in vergelyking met haar suster nie. Maar afgryslik lelik, soos sy haarself wysgemaak het, is sy beslis ook nie. Haar kort, steil donker hare het sy in ’n gemaklike kort kapsel gedra. Sy het baie min grimering gebruik, haarself ingeprent dat grimering tog nie ’n lelike gesig mooi kan maak nie. Haar lyf was nog ietwat aan die mollige kant, beslis nie dié van haar suster nie. Die ongelukkige oë wat haar in die spieël betrag het, het net al die tekortkominge raakgesien en nooit opgelet dat sy werklik mooi grys oë het en dat haar mond sag en weerloos vertoon nie. Sy het nooit raakgesien dat daar in die eenvoudige gesiggie tog skoonheid skuil nie.

      Paula het, soos op skool, soos ’n vlinder deur haar universiteitsjare gedartel, ’n paar keer gedruip, ’n paar keer van kursus verander, en niemand was kwaad daaroor nie.

      Petra het haar met oorgawe toegewy aan haar kursus en dit met vlieënde vaandels geslaag, toe ’n betrekking as suster aanvaar en veral as operasiesuster begin uitblink. Want daar was sy op haar gelukkigste; daar waar sy die grootste deel van die dag haar eenvoudige gesiggie agter ’n groen masker kon wegsteek en haar