Vuvuzela
Skooluitgawe met leesgids
Engela van Rooyen
Tafelberg
Die bladsyverwysings in hierdie uitgawe verwys na die bladsye in die gedrukte boek.
Hierdie roman is voorgeskryf vir literatuurstudie in Afrikaans. Onderwysers moet deur middel van die onderrig van hierdie boek fokus op die verbetering en ontwikkeling van Afrikaans al word verskeie "township-tale" gebruik om die karakters geloofwaardig binne die konteks van die verhaal te laat optree. Hierdie roman moet dus hoofsaaklik dien as bron om woordeskat en vaardighede in AFRIKAANS te bevorder.
Inleiding
“Hierdie is die verhaal van Buti se liefde vir en versorging van sy jonger broer, Senke, en een van die hartroerendste (touching) verhale wat nog in ’n jeugboek vertel is. Elke kind moet hierdie boek oor die leefwêreld van die township lees.” So skryf ’n resensent (reviewer) oor Vuvuzela.
Hierdie leesgids sal jou help om dié pragtige verhaal makliker te lees en om letterkunde goed te kan slaag. Dit begin met inligting oor die skrywer van die boek en agtergrond oor dinge wat betrekking het op die verhaal. Dan volg die kenmerke van ’n roman waarna jy die roman sal lees en vrae oor die inhoud daarvan doen. Daar is nog ander aktiwiteite sodat jy ook deur Vuvuzela vaardig kan word in praat, luister, taal en skryf. Omdat jy kontekstuele vrae in die eksamen moet kan doen, bied die leesgids ook aan jou wenke om sulke vrae met gemak te doen. Aan die einde is daar ’n lys met verklarings van woorde wat vir jou vreemd (strange) mag wees, maar ons wil jou aanmoedig om ook self in ’n goeie woordeboek woorde na te slaan. Die glossarium van literêre begrippe gee vir jou al die letterkundige begrippe in ’n alfabetiese lys.
“Jy moet study dat jy results kan kry en jou papers vir Grade Twelve,” sê Buti. “Anders gaan jou lewe swaar wees” (bl.49).
Inligting oor die skrywer
Engela van Rooyen. . .
•het Vuvuzela oor die Sokkerbod vir die 2010 Sokker-Wêreldbeker geskryf.
•is gebore in 1939 op Kakamas naby die Oranjerivier.
•het op sestien al begin skryf.
•het aan die Universiteite van Stellenbosch en Potchefstroom studeer.
•ontvang die grade BA, BA Hons en MA.
•het as student vir tydskrifte en die radio geskryf.
•se eerste roman was Wenteltrap (1970).
•skryf 22 jeugverhale.
•het al meer as 100 boeke geskryf.
•skryf romans, radiodramas en outobiografieë.
•wen die Sanlam-prys vir jeuglektuur: silwer (2005) vir Vuvuzela.
•skryf ook onder die skuilname (pseudonyms) Engela Linde, Louisa du Toit en Barend Bornman.
•is getroud met ’n predikant. Die egpaar het vier kinders en ses kleinkinders.
•woon sedert haar man se aftrede in Pretoria.
•se laaste drie boeke is:
–Die duiwe van Batala (2003)
–Vuvuzela (2005)
–Vuur op die horison (2012).
Die basiese kenmerke (features) van die novelle/kort roman
Opsomming van die verhaal
Vuvuzela vertel die verhaal van die twaalfjarige Senke en sy ouer broer, Buti, wat in ’n shack in die plakkerskamp, Plastic View, woon. Die agtienjarige Buti werk by ’n bouer en sorg vir Senke wat skoolgaan. Hulle is weeskinders (orphans) vandat hul ma dood is aan vigs. Buti se droom is dat Senke graad twaalf moet slaag (pass). Buti is erg oor sokker, maar kan nie meer speel nie omdat hy van vroeg tot laat werk. Omdat Buti so goed vir hom sorg, wil Senke iets doen om vir hom dankie te sê. Op die dag van die Sokkerbod vir die 2010 Sokker-Wêreldbeker kuier hy en Buti saam met al die township se mense by Sis Kate se shebeen om te wag vir die uitslag (results). Dis hier waar hy besluit om vir Buti ’n kaartjie na een van 2010 se sokkerwedstryde te koop om vir hom dankie te sê. Hy noem die plan Tikiplani. Dit is sy geheime woord sodat Buti nie van sy planne kan uitvind nie. Dit moet ’n verrassing (surprise) wees. Buti het ook ’n vuvuzela opgetel wat hulle goud en swart geverf het om by Kaizer Chiefs se kleure te pas. Senke is baie erg oor die vuvuzela, maar laat die kinders toe om daarop te blaas (bl.34). Tydens Entrepreneursdag maak hy die eerste vyf rand en besluit om dit in ’n spaarrekening (savings account) te belê. Hy is opgewonde (excited) toe hy ’n fiets kry sodat Buti kan geld spaar met die vervoer (transport). Buti word gearresteer omdat dit ’n gesteelde fiets is en die eienaar van die fiets so aangerand is (attacked) dat hy byna dood is. Buti ontmoet sy stiefoupa in die tronk. Hy beloof (promise) die seuns om hulle na sy land toe te neem vir vakansie (holiday) en om van Mama se goed wat hy na die begrafnis (funeral) kom oplaai het, aan hulle terug te gee.
Die novelle is ’n kort prosaverhaal, langer as ’n kortverhaal, maar korter as ’n roman. Dit het al die basiese kenmerke van ’n roman, maar net minder intrige; daar gebeur minder dinge. Kom ons kyk na die eienskappe van die novelle/kort roman:
Titel
Die titel stel die roman aan die leser bekend (introduces) en is ’n belangrike leidraad (clue) om die inhoud te verstaan. Die vuvuzela of sokkerhoring is ’n moderne weergawe van die beeshoring wat tradisioneel in swart gemeenskappe gebruik is om belangrike nuus of boodskappe aan te kondig. Dit is die simbool van alles wat vir Senke die lewe aanmekaar bind: sy voorvaders, sy ma, die township-lewe, sokker en Buti. “Die vuvuzela was mooier as al die musiek van die township” (bl. 32). “Buti het die vuvuzela vir Senke gegee. As Buti graag iets wil hê, dan gee hy dit vir Senke” (bl. 34). “Kleintjies wat huil oor hulle ma’s wat werk of dood is, word gebring om daaraan te vat” (bl. 34). Senke slaap met die vuvuzela onder die kombers by hom (bl. 42).
Agtergrond en Tyd
Dit is die agtergrond (background/setting) waarteen die verhaal afspeel. Dit gee ook die raamwerk (framework) vir die plek en die tyd. Dit is waar die intrige (plot) plaasvind. Die leser moet dit weet om die storie te verstaan, want dit sê meer oor die houding (attitude) en waardes (values) waarin die storie geskryf is. Die leser leer dit ken deur na die direkte inligting (direct information) en die taalgebruik (language usage) te kyk. Dit is ook dikwels die sleutel (key) tot die tema en die karakters.
Buti en Senke bly in Plastic View, in ’n shack van plastiek en karton, met ’n nommer, maar sonder ’n adres. Dit is ’n plek waar daar snags op mense geskiet word, en wat die seuns al heelnag van vrees laat regop sit het. Daar is nie meubels (furniture) in hul shack nie, net ou verfblikke vir sit- en neersitplek, twee sponse op die grond vir beddens, ’n houtkis wat kan toesluit vir hul kos, ’n kombers en ’n primus, en groentekissies van Sis Kate vir hul losgoed. “Die winter is soos ’n hond wat aas tussen die skuilings (shelters)” (bl. 44). Plastic View is die armste deel van die township, maar hier betaal hulle nie belasting (tax) nie. Hulle het net ’n kraan. “Maar ’n shack is tog ook net ’n huis, dink Senke” (bl. 63). Voor hul mama se dood het hulle in Tin View in ’n netjiese sinkhuis met blomme in blikke gebly. Hulle het meubels gehad, ’n yskas, ’n gasstoof, ’n radio en ’n TV. Mama se werksplek was van klei en reg langs die huis (bl. 55).
Die tydsverloop (lapse of time) word in twee dele gemeet: Die vertelde tyd (How many days, months or years it takes to tell the story) en die verteltyd (How many pages in the book to tell the story). Die vertelde tyd dui aan oor hoeveel dae, weke, maande of jare die verhaal vertel word. Die verteltyd is die aantal bladsye van die boek waarin die verhaal vertel word. In Vuvuzela is die verteltyd 70 bladsye en die vertelde tyd ongeveer ses jaar, as die terugflitse (flashbacks) ook ingetel word. Mama het twee jaar siek gelê en is al vier jaar dood (bl. 36). Senke is in 2004, die jaar van die Sokkerbod, in graad ses (bl. 36) en Mama is toe al vier jaar oorlede (bl. 36). Senke het nog ses jaar om vir Buti se sokkerkaartjie te spaar (bl. 33). Die werklike gebeure speel oor ’n paar weke af, van die aand voor Entrepreneursdag totdat