Jürgen Banscherus
Speurder Kwaaikofski
Soene en sirkusse
Vertaal deur Kobus Geldenhuys
Met illustrasies deur Ralf Butschkow
Human & Rousseau
HOOFSTUK 1
As iemand op die oomblik ’n privaatspeurder soek, moet hulle van my vergeet.
Ek is nou al vir ’n week lank siek. Ek hoes my longe uit en nies dat die mure skud.
Selfs my Carpenters kougom smaak nie meer lekker nie. Ek lewe net van vars volroom melk en die walglike medisyne wat ons dokter vir my gegee het.
“Jy het kwaai griep, Kwaaikofski,” het hy gesê nadat my ma hom in die middel van die nag uit die bed gejaag het. “Jy kan nie skool toe gaan nie.”
Ek mis die skool glad nie. Maar sê nou iemand kry ’n superspeurder nodig? Ek wil liewer nie daaraan dink nie, anders word ek weer van voor af koorsig!
Ek het griep gekry terwyl ek aan my vorige saak gewerk het. Dis wat gebeur het:
’n Week gelede klop iemand aan die deur en my ma bring ’n ou na my kamer toe.
“Hy wil met jou praat,” sê sy. “Met die beroemde privaatspeurder Kwaaikofski.”
Sy rek die woord “beroemde” so lank soos ’n stuk kougom uit sodat selfs die domste mens sal weet sy skeer die gek met my.
Ek ken darem my ma. So ek sê net: “Baie snaaks, Ma,” en bekyk my besoeker.
Die ou is korter as ek, maar hy lyk baie sterker. Sterk genoeg om my net aan sy een arm by die venster te laat uithang. Hy dra ’n kortbroek en ’n T-hemp waarop daar ZAMPANO se SIRKUS staan.
“Laat waai!” sê ek vir die ou nadat my ma by die kamer uit is.
Hy trek sy vingers senuagtig deur sy swart hare. “Oukei … eh … Ek het jou hulp nodig,” begin hy huiwerig.
Ek wys na die stoel by my lessenaar. “Sit. Wil jy van my kougom hê?”
Hy skud sy kop en gaan sit.
Toe val hy weg: “My naam is Pedro en ek werk by Zampano se sirkus. Ons tree vir ’n week hier op. Miskien het jy ons plakkate gesien?”
Ek knik.
Die plakkate is oral. Op al wat ’n winkelvenster en vullisdrom is.
“Daar’s iets verkeerd by ons sirkus,” gaan Pedro verder. “Ek moet uitvind wat aangaan, Kwaaikofski. Voor dit te laat is.”
Hy haal twee kaartjies uit sy broeksak en gee dit vir my. “Kom na vanaand se vertoning toe. Bring iemand saam met jou.”
“Stadig, stadig,” keer ek en sit die kaartjies langs my ou platespeler neer. “Sê my eers wat’s verkeerd en waarvoor ek moet uitkyk.”
“Hou alles en almal dop,” sê Pedro.
Alles en almal? Ek skrik my sokkies uit my skoene.
“Moenie mal wees nie!” roep ek. “’n Speurder kan nie so werk nie!”
Pedro trek sy skouers op. “Ek het gehoor jy’s die beste.”
“By wie het jy dit gehoor?”
“’n Ou wat pizzas aflewer,” antwoord Pedro. “Hy’t gisteraand vir ons pizzas gebring. Met sy fiets.”
Aha. Fritz het vir hom my naam gegee.
Fritz is ’n gawe ou. Ek het hom ’n ruk terug gehelp toe sy rolskaatse weggeraak het.
“So wat sê jy, Kwaaikofski?” wil Pedro weet. “Gaan jy my help of nie?”
Gewoonlik werk ek nie op sake as ek nie ten minste weet wat verkeerd is nie. Geen speurder doen dit nie.
Maar wie sê nee dankie vir twee sirkuskaartjies wat jou nie ’n sent kos nie?
“Oukei. As ek die saak oplos, betaal jy my vyf pakkies Carpenters kougom. Dis die beste wat daar is en jy kan dit by Olga se kiosk gaan koop.”
“Reg so, Kwaaikofski. Tot vanaand dan.”
Pedro loop en ek bekyk die kaartjies.
Waarvoor het ek my ingelaat?
Tot nou het ek nog altyd geweet waaroor ’n saak gaan: kougom of rolskaatse wat voete gekry het, elektriese kabels wat beskadig is of ’n gekroek met sokkerwedstryde. Ek kon dit alles oplos.
Maar nou sê Pedro ek moet alles en almal dophou. Dis te veel gevra. Of is dit?
My ma steek haar kop by my kamer in. “En toe? Het jy ’n nuwe saak?” vra sy nuuskierig.
Ek knik. “Wil Ma vanaand saam met my sirkus toe gaan? Ek het twee kaartjies verniet gekry.”
Sy streel my hare. “Ek werk ongelukkig nagskof by die hospitaal. Jammer, ek sou graag wou saamgaan.”
“Maar ek moet vanaand al gaan,” sê ek.
“Nooi dan vir Olga,” stel my ma voor.
Shucks, Sherlock! Ek kan nie glo wat ek hoor nie. My ma het nou die dag nog vir my gepreek oor hoe belangrik dit is dat ’n skoolkind genoeg slaap moet kry.
Maar wie’s ek om te stry? Ek sê: “Goeie idee, Ma!” en soen haar en hardloop vinnig na Olga se kiosk toe.
Ek sien al van ver af daar is fout met Olga se neus: dis rooi en dit gloei.
“Haai, Olga. Wat gaan aan?” vra ek. “Speel jy jy’s ’n verkeerslig?”
“Baie snaaks,” brom sy en blaas haar neus kliphard met ’n groot geblomde sakdoek. “Ek is siek, Kwaaikofski. Ek dink regtig dis ernstig.”
“Toemaar, Olga. Niemand is nog dood van ’n verkoue nie,” sê ek en waai die twee kaartjies voor haar rooi neus. “Jy moet vanaand saam met my sirkus toe gaan.”
Olga sit ’n glas koeldrank voor my neer. “Jammer, skat, maar ek kan ongelukkig nie. Wanneer ek hier sluit, gaan ek reguit bed toe.”
Flippit! Ek kan alleen sirkus toe gaan, maar vier oë is beter as twee, veral as ’n mens nie weet waarvoor jy moet uitkyk nie.
Daar is net een manier om Olga van plan te laat verander. Ek is niks lus daarvoor nie, maar partykeer moet jy iets doen wat jou laat gril as jy ’n saak wil oplos.
Ek leun oor die toonbank en soen Olga op haar wang.
“Groot asseblief,” sê ek. “Dis ’n nuwe saak. En jy’s al een wat slim genoeg is om my te help.”
Dis die eerste keer dat ek Olga soen en dit verrig wondere. (Dis ook natuurlik hier waar ek die griepkiem kry.)
“Goed dan, jou rakker,” sê Olga en knyp my wang. “Jy het my omgepraat.”
Ons spreek af om mekaar sewe-uur by die kiosk te ontmoet. Terwyl ek huis toe loop, hoor ek iets wat soos ’n mishoring klink. Dis Olga wat haar neus blaas en blaas …
Конец ознакомительного фрагмента.
Текст