Brandwaterkom
Alexander Strachan
Tafelberg
Opgedra aan Roy Herman Vermaak
HOOFSTUK 1
S.G. Vilonel steek die hempspante versigtig in sy broek en maak die knope vas. Die skoongewaste klere voel lekker teen sy vel. Elke kledingstuk is ná die was met water uit ’n ander emmer uitgespoel en lank in die son gehang. Hy wikkel sy skouers onder die materiaal en asem die vars reuk in. Net vaagweg die aanduiding van seep, glad nie hinderlik nie. Hy gaan sit op die kampstoeltjie om sy stewels aan te trek – dié het hy gisteraand al poleer. Hy trek die veters vas. Vilonel staan op en loop tot voor die spieël. Hy vat-vat eers aan die sakhorlosie se ketting wat aan sy onderbaadjie vas is. Heel laaste sit hy sy helmet op.
Die oggend van 29 Julie 1900 ry die burgers van Marthinus Prinsloo drupsgewys na die Britse laer toe. Soos hulle die hoogte naby Fouriesburg nader, word hulle beveel om vier-vier te ry. Die doel is om geweer, perd, saal, toom en al die patrone in hul besit aan die vyand te oorhandig.
Sowat 200 tree van die Engelse kamp wag ’n kordon gewapende soldate hulle in. Toe hulle die kordon binnegaan, moet hulle twee-twee ry en links en regs hul geweers aan die Britse offisiers oorhandig. Hierna sluit hulle weer by mekaar aan en ry die kamp vier-vier in.
“Halt!” roep die Engelse offisier toe die agterhoede die kamp binnekom. Die geweerlose burgers word beveel om ’n ry te vorm, af te styg en met hul bondeltjies voor hul perde te gaan staan. As hulle wil sit, is dit ook maar reg; niemand gaan op hierdie oomblik eksepsie aanteken nie.
Twee offisiers met hul manskappe kom na die burgers toe aangestap. Hulle loop van perd tot perd, maak die bek oop en bekyk goed hoe oud die perd is en hoe sterk hy gebou is. As hy na hul oordeel goed is, word daar gesê “Good for service” en as hy minder goed is, “Good for transport”.
Dan word die perd uit die ry getrek en met saal, toom en al weggelei. Met groot geduld word die perde op hierdie wyse deurgegaan totdat al die diere buite sig agter die tente verdwyn het. Nadat die perd van sy ruiter af weggeneem is en niemand die diere meer kon sien nie, merk ’n jong burger, Japie Krynauw, op: “Ons lyk nou soos ’n klomp aasvoëls wat op ’n murasie sit en rondkyk waar die aas is.” Die enigste besittings wat die burgers ná al die maande in die veld oorhou, is die klein bondeltjies met hul persoonlike goed.
Al is dit nog Julie, het die Augustuswinde reeds begin waai. Dik stofwolke meng met die rook van die grasbrande teen die hange van die Rooiberge. Dit keer die son weg van die duisende waens, rytuie, beeste en skape wat in die Brandwaterkom langs die pad saamgehok is. In beheer hiervan staan Marthinus Prinsloo wat nou met 4 300 man aan generaal Hunter oorgee.
“Almal het so verslae en verlore daar uitgesien,” vertel Japie Krynauw later. Dit was vir hom kompleet soos ’n leeu wat hom boeglam in die slagyster gespook het en nou die stryd opgegee het soos ’n lam gelei ter slagting – die knieë en hande het slap geword.
HOOFSTUK 2
Die Vrystaatse dorpie, Senekal, was die plek waar ek die duidelikste spoor van S.G. Vilonel sou kry. Dit het ek al met my verhuising na die Brandwaterkom toe besef. Al het die navorsingspook my toe nog nie so erg as later beetgehad nie.
Ek was van ánder dinge bewus. “Ek gaan Bloemfontein mis,” het ek my buurvrou in die woonstelblok gegroet. “Dit tref mens seker nie dadelik nie, maar jy raak tog afhanklik van die geselskap in die stad.”
“Hou kontak, Esther.”
Ek het op die punt gestaan om ’n gebied te betree wat vir my nog heeltemal vreemd was. Om my in te grawe, het ek vooraf heelwat nagelees oor die Brandwaterkom. In die proses het name waarvan ek nooit bewus was nie, ’n lêplek in my kop gekry.
Die bergkom het sy eie voorvaders en afstammelinge gehad. Lank terug was dit die tuiste van mense met kleurryke name: Leeuboud van Niekerk, Ryk Lewies Fourie en Catharina Venter van die holkrans.
Met my vertrek uit Bloemfontein het my lippe en tong “Brandwaterkom” al so baie gevorm dat dit met my aankoms gemaklik in my mond gelê het. Byna asof dit nog altyd deel van my woordeskat was – die bergkom waar S.G. Vilonel sy grootste skuif gemaak het, was nou mý tuiste.
Toe ek hier opdaag, was ek nog net in die voorlopige stadium van my navorsing. Dit was nie naastenby so intens as wat dit mettertyd sou raak nie. As ek terugdink, was dié man se teenwoordigheid in die gebied sekerlik die grootste aansporing om die doseerpos in die berge te aanvaar.
Destyds het ek die Brandwaterkom deur Naauwpoortnek binnegekom. Ek het die ruit laat sak om die omgewing te kan ruik. Eers net die een, toe die ander een ook sodat die wind regdeur die kajuit waai. Aan die een kant was ’n rotswand; aan die ander kant die steil berghang. Dit was juis die alledaagsheid van my betreding wat my sou bybly. Daardie smal toegangsnek waarop Boer én Brit ’n eeu gelede ten alle koste beslag wou lê.
Dit was my heel eerste besoek aan die kom. Was dit ’n beskermde hawe of ’n vangkuil? Ten spyte van al die afwagting het ek geen besondere opwelling van gevoel ervaar toe ek dit binnery nie. Dit het net gebeur. Voor ek mooi kon besef, was ek binne-in die bergkom.
Die dorpie voor my in die laagte het my aan Switserland laat dink – soos die brosjure voorspel het. Dalk was dít my ervaring, die boheemse gevoel dat ek skielik nie heeltemal deel van Suid-Afrika was nie.
Clarens was die dorpie waar my departementshoof voorgestel het ek vir my ’n blyplek moes vind. Hiervandaan kon ek dan daagliks met die slingerpaadjie deur die berge na die Qwaqwa-kampus pendel. Maar ek het eers my eie waarnemings gemaak voor ek ’n besluit geneem het.
Die omgewing self sou vir die duur van my studie enigmaties bly. Almal in die kom was omsingel deur berge en op ’n manier vasgevang. Tog het dit nooit gelyk of iemand ’n gevoel van ingehoktheid ervaar nie.
Was dit juis dít wat die bergkom bedrieglik gemaak het?
Ek het dikwels deur my verkyker oor die vallei gekyk. Het mens vryheid ervaar omdat die dimensies so onpeilbaar was? Oral uit die berghange het daar tentakels na jou toe aangekruip gekom. Lang arms waarop die mos geil groei. Of harige spinnekoppote wat stadig vorentoe stoot? As my skouers lam geword het, het ek op ’n sandsteenrots gaan sit met my elmboë op my knieë gestut. Elke keer ’n nuwe kloof of oorhangkrans wat die vorige een wou herhaal.
’n Lewende, vroulike organisme, het ek besluit. ’n Oerkrag wat haarself om elke onverwagte draai bly voortplant het totdat selfs die kleinste holkrans uiteindelik haar eie vingerafdruk gekry het.
J.J.F. Steyn en Julia Venter se vertellings het my ingelei in die vroeëre generasies wat die vallei bewoon het. Partykeer het ek wel nog na die kaart van die Brandwaterkom gekyk wat ek voor my koms so in besonderhede bestudeer het. Daardie laaste week in Bloemfontein het ek die bergreeks met potlood ingekleur sodat dit uitstaan. Ek het dit oor en oor met my vinger nagetrek. ’n Kom ingehok deur die Rooiberge, Witteberge en Caledonrivier.
Selfs as ek my oë toemaak, kon ek my naderhand die vorm daarvan verbeel. Nie iets waarvan jy die lyne sonder meer kon vaslê nie. Soos ’n skulp, of ’n holte wat jy in jou hand sou probeer toevou. Dalk die gevoelige oor van ’n wildsbok? Iets wat na willekeur van vorm kon verander. Lewend, maar stadig en tydloos soos ’n amoeba. By my lessenaar het my vinger oor die instulping tot in die hart van die kom beweeg. Dan het dit meer soos ’n baarmoeder gelyk.
Daar was beslis ’n stilte in die kom. Maar wat presies het mens in die stilte gehoor? Dis waarop my oor ingestel was. Wat wou die kom vir my sê? Net ’n veraf geruis, ’n ligte wind of dalk die fluistering van verraad?
HOOFSTUK 3
Om helder te kan sien, moet jy fyn in die verlede in kan kyk en jou oog skerp op die toekoms instel. Dis hoe ek wat Catharina Venter is, nog altoos sê.
Neem nou maar hierdie jongvrou van Bloemfontein. Sy stap oral hier in die klowe rond en staan en krap in die as van ons grotvure. Dis wat sy hier kry wat vir haar die pad vorentoe wys, elke keer. En waarheen is dit? Druipstert na daardie prokureur Vilonel toe. Baie keer as ek haar so op ’n afstand