Jacolet van den Berg
Eva se appel
Satyn
1
“Because I like how it feels!” basuin die radio in die kombuis dit uit. “Because I like how it feels!” Haar stem lig byna die dak toe sy uit volle bors inval. Nie heeltemal op dieselfde noot as Enrique Iglesias nie. Goed, sy klink soos ’n gans wat by die vrolike getjirp van ’n kanarie probeer kers vashou, maar wie gee om? Nie sý, Leah Louw, nie.
Sy is gelukkig en sy hou van die lewe. Sy wil dit uitskreeu sodat die Duitse suurknol van langsaan en die misterieuse nuwe intrekker aan die ander kant haar kan hoor. Ag wat, vir al wat sy omgee, kan die hele Melville haar hoor. Sy het ’n deurbraak gemaak. Nie sommer só ’n deurbraak nie, ’n deurbraak wat haar lewe gaan verander. Die stadsraad van Johannesburg het háár gevra om deel te neem aan ’n uitstalling en ’n reeks beelde vir die Nelson Mandela-plein in Sandton te maak. Haar vingers jeuk by voorbaat. Sy het ander projekte wat klaargemaak moet word, maar dit behoort nie ’n probleem te wees om alles gedoen te kry nie. Lang dae en laat nagte is haar voorland, maar dis in elk geval hoe sy funksioneer wanneer sy met ’n projek besig is.
Dis eenvoudig ongelooflik dat sy die geleentheid gekry het. ’n Hengse kompliment, al moet sy dit nou self sê.
Weer swaai sy haar lyf. Haar heupe was nog altyd los. Dalk ingebore of dalk juis van al die gedans soggens in haar ateljee. Haar ma se heupe is ook los. Die arme vrou is ’n hippie, vasgevang in die voorstedelike wêreld van ’n middelklasegpaar, terwyl haar pa die “middel” in middelklas definieer. Hy is een van daardie mense wat altyd die regte, gemiddelde ding probeer doen. Bestendige, eentonige werk. Elke dag getrou op sy pos in sy bruin broek en strepieshemp. Ouderling by die kerk, nooit ’n agterstallige rekening nie en nooit as te nimmer nie sal hy die gras sonder sy hemp sny waar ander mense hom kan sien.
Maar Martie Louw is ’n ander saak. Leah was nog op laerskool toe haar ma die spoor byster geraak het. En dit was nie maar net ’n veertigerkrisis nie – dít het Leah reeds besef toe sy veertien was. Die jaar tevore het sy gedink haar ma se jogaklasse is funky; toe die belly dancing volg, was sy selektief oor wie sy daarvan vertel. En uiteindelik het sy niemand van die paaldansery vertel nie. Dit was asof haar ma haarself probeer herontdek het en begin soek het na iets wat sy nie by haar huis gekry het nie. Die makeover het almal opgemerk, en daar was niks wat Leah en haar ousus, Mari, daaraan kon doen nie. Almal kon sien haar ma het die lank verlore blommekind in haar, en dalk ook haar seksualiteit, ontdek.
Miskien het haar ma vasgekeer gevoel in ’n wêreld waar sy nie gehoort het nie en was dit rebellie teen die eentonigheid van haar lewe. Dis toe dat Leah al besluit het sy gaan nooit in haar lewe settle en beslis nie vir enigiets eentonigs nie. Nie vir ’n man of beroep of blyplek nie. Om koers te verloor in haar middeljare oor verkeerde besluite is eenvoudig nie vir haar ’n opsie nie, daarvoor het sy haar as tiener genoeg geskaam.
Een laaste keer sing sy dat die ewige hadida buite op die gras sy vlerke sprei en met ’n beskuldigende gekras oor die dak verdwyn. “Because I like how it feels!”
Die laaste klanke sterf weg, en Leah leun byna uitgeput van opwinding teen die kombuistoonbank. Sy sit haar hande voor haar gesig. Hierdie geleentheid is net ongelooflik!
Die telefoon op die toonbank lui, en sy gryp haastig daarna terwyl sy die radio in dieselfde beweging sagter draai.
“Hallo? Is dit jy, Leah? Wat klink jy so uitasem? Is jy al weer besig om daai swaar sakke sement self rond te skuif?” Mari se stemtoon is betigtend, alte veel soos ’n ousus wat ma speel.
“Mari! Nee, ek skuif niks. Ek het gedans. Jy sal nie glo . . .”
“Gedans? Ag nee, man. Ek hoop jy is al aangetrek en opgedollie, want ek is oor tien minute by jou. Ek het jou gesê ek wil nie alleen na hierdie kinderpartytjie toe gaan nie. En lyk asseblief net ordentlik. Jy klim nie in my kar as jy nog ’n oorpak aanhet nie.”
“Ontspan, ontspan, Sus. Ek is gereed. Ek dans omdat ek op hierdie Vrydagmiddag pas die beste nuus in my hele loopbaan gekry het, en jy gee my sowaar nie kans om jou te vertel nie.”
Met ’n sug sak Leah op die mat in die sitvertrek neer. Op die naat van haar rug glimlag sy vir die dak.
“Nou vertel!”
“Ek gaan werk vir die stadsraad doen. ’n Hengse projek. Ses beelde. Grotes. Om op die Nelson Mandela-plein uit te stal. Dit moet die voetspore wat Nelson Mandela getrap het, simboliseer en verewig. Iemand met invloed het my laaste uitstalling by Tukkies gesien.”
“Dit klink groot. Baie geluk, jong. Maar vertel my die besonderhede wanneer ek jou oplaai, ek moet nou op die pad konsentreer en gaan net met ’n halwe oor luister. Ek is amper by jou.”
“Ek wag buite vir julle.”
Sommer vanaand nog begin sy beplan en voorberei, besluit Leah. Môre wil sy aan die werk spring. Ses beelde. Die uitdaging gaan al haar energie verg. Haar kop begin klaar draai van al die planne. Haar hande jeuk om met die klei te begin werk, maar eers sal sy rustig moet word sodat sy die beelde of ten minste ’n sweem van hulle in haar geestesoog kan sien. Dan sal sy moet begin skets en vertroud raak met die onderwerp. Nee, dit help nie om nou haastig te wees nie, sy sal deur die hele proses moet werk. Dis hoekom haar werk van so ’n hoë standaard is.
Buite die hek gaan sit Leah op die sypaadjie. Haar lyf kriewel van opwinding. Nou, ná die oproep van die stadsraad, verwens sy haar dat sy ingestem het om saam met Mari na die lah-di-dah kinderpartytjie te gaan. Sy verstaan nie hoekom mense sulke oordadige partytjies vir vyfjariges hou nie. Nog minder begryp sy hoekom Mari deur dié mense geïntimideer word. Dis vreemd, want Mari is nie die tipe wat maklik geïntimideer word nie. Geld het haar suster nog nooit beïndruk nie.
Miskien lê Mari se onsekerheid dieper as die materiële en eerder op die sentimentele vlak. Dalk het die feit dat haar kinders nie ’n pa het nie, iets daarmee te doen. Boonop het sy ook nie ’n hartseer storie wat almal se verbeelding sal aangryp nie. By die skool ervaar Mari die druk as enkelma, Leah weet dit, daarom help sy haar ousus waar sy kan. Dit moet ’n bitter pil wees om te sluk as die pa van jou kinders nie met jou wou trou nie en toe tog iemand anders sy wettige vrou maak. Gelukkig is hy en sy Duitse vrou nou ver in Duitsland. Sy hoop maar dis waar dat uit die oog, uit die hart beteken. Mari het gehoop haar eerste kind sal haar finaal aan die swakkeling bind. Ja, Leah besef sy behoort nie so aan die oulike Lika se pa te dink nie, maar sy sê dit darem nie hardop nie. Die tweede baba was ’n glips. In haar enigheid is Leah nog altyd bly die twee se paaie het uiteindelik geskei. Mari en die kinders verdien beter. Hulle verdien om gekoester en liefgehê te word. Watter pa teken sy kinders ewe groothartig weg en verdwyn landuit voor iemand hom tot verantwoording kan roep? ’n Slapgat. Die kras gedagte laat Leah skaam kry, maar dis omdat die onregverdigheid teenoor die kinders haar hart breek.
Nog ’n rede hoekom sy eerder al haar tyd aan haar werk sal bestee: Verhoudings is nooit volmaak nie. Verhoudings kan ook nooit volmaak wees nie, want mense verskil te veel. Daarom is daar altyd iemand wat seerkry. As dit nie die geliefdes is nie, is dit die kinders. Kyk nou maar na haar eie ouers. Verhoudings sal haar dus nooit aanstaan nie. Nooit sal sý haar so uitlewer aan die genade van iemand wat volgens die wet van die natuur sy eie belange voorop stel nie, want dis wat mense doen. Sy verkies ’n stuk klei omdat sy beheer daaroor het en boonop haar emosies kan uitleef.
Sy onthou nog goed hoe sy as tiener haar liefde vir klei ontdek het. In hul tienerjare was sy en Mari op mekaar aangewese nadat hul ma besluit het sy is van ’n ander planeet. En die jaar toe Mari universiteit toe is, het Leah die eerste keer gevoel hoe dit voel om alleen te wees. Sy was in standerd nege en emosioneel taamlik broos. Hul destydse buurvrou moes agtergekom het hoe eensaam sy was, want sy het haar uit die bloute gevra om haar in haar pottebakkersateljee te kom help. Dit was nie lank nie of Leah het in haar eie skeppings verlore geraak. Tog het sy en Mari nooit voeling met mekaar verloor nie, al het hul paaie tydelik geskei toe sy in die kunste gaan studeer het terwyl Mari aan die einde van haar onderwysstudie was.
Dis hoekom Leah nou na die verdomde kinderparty gaan. Gedress in haar mooiste en enigste somerrok. As Mari haar sin kon kry, sou sy seker een of