Die hart van 'n wenner. Pieter van Jaarsveld. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Pieter van Jaarsveld
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Религия: прочее
Год издания: 0
isbn: 9780796318756
Скачать книгу

      

      Die

      hart van ’n

       wenner

      Ontwikkel jou emosionele intelligensie

      Pieter van Jaarsveld

      Lux Verbi

      Opgedra aan Irene, Janke en Ilana,

       Pieter-Paul en Yolandi, Mark

      Inleiding

      By ’n kursus in leierskapontwikkeling wat ek aangebied het, het Stefan ingestap met ’n groen bandjie om sy pols waarop die letters F.R.O.G. prominent uitgestaan het. Hierdie bepaalde leierskapprogram is aangebied vir ’n organisasie waarvan die uitvoerende komitee nie bekend was as besonder godsdienstige mense nie. Een van hulle het in der waarheid openlik erken dat hy ’n ateïs was.

      Ek het natuurlik dadelik in Stefan belanggestel omdat die letters F.R.O.G. (soos jy waarskynlik weet) staan vir “Fully relying on God”. Dit was duidelik dat Stefan met dié bandjie sy geloof wou betuig as Christen wat in die volle glorie van God leef – Iemand wat altyd daar is as antwoord op al ons probleme. Dit was in elk geval my aanname!

      Gedurende die terugvoeringsessie ná die psigometriese toetsing van die kursus het ek besef dat daar baie pyn in Stefan se lewe was. Hy het wel sy F.R.O.G.-bandjie gedra sodat die wêreld dit kon sien, maar hy was diep ongelukkig!

      Sy pa het hulle verlaat om Amerika toe te gaan toe Stefan maar sewe jaar oud was. Sy pa was in elk geval altyd uiters krities teenoor Stefan en het nooit gewys dat hy iets vir sy kind voel nie. Stefan was baie bitter teenoor sy pa en die woede wat hy gevoel het, het hom in sy tienerjare tot dwelms gedryf.

      Die leierskaptoetsing het aangetoon dat Stefan ’n uiters talentvolle mens is, maar hy het terselfdertyd ’n baie lae selfdunk en selfagting gehad. Hy was deurtrek van woede en kon sy emosies nie maklik beheer nie. Hy was ook verskriklik pessimisties, en dikwels depressief. Soms was die stres wat hy ervaar het amper ondraaglik. Die droewigste van alles was dat Stefan ook baie negatief teenoor sy eie kinders sowel as sy vrou was, ten spyte daarvan dat hy hulle baie liefgehad het.

      Stefan het sy F.R.O.G.-bandjie gedra, maar sy lewe was een van algehele wanhoop! Waarom vertrou baie Christene op God, maar hul lewe is ’n totale gemors? Is dit werklik God se wil vir sy kinders?

      Geskape as ’n ambassadeur

      God het ons na sy beeld geskape (sien Genesis 1:26-27). Dit beteken dat ons sy verteenwoordigers en sy ambassadeurs is in die rol wat ons in die samelewing speel. As sy ambassadeur is jy die beelddraer van Christus – die beeld van iemand wat in beheer van sy lewe is, wat sy lewe ten volle uitleef tot eer van God, en wat in staat is om na ander om te sien en hulle te ondersteun (sien 2 Korintiërs 5:17-20).

      Ons moet die vrugte van die Gees dra: liefde, vreugde, vrede, verdraagsaamheid, goedheid, vriendelikheid, getrouheid, sagmoedigheid en selfbeheersing (sien Galasiërs 5:22-23a). God vereis van ons om ons liggaam en ons gees te beheer.

      Ons uiteindelike doel op aarde is dus om ’n ambassadeur vir Christus te wees.

      Die hedendaagse dilemma: seerkry, pyn, wanhoop

      As jy jou koerant oopmaak en lees van al die moorde, kindermishandeling, verkragting, padwoede, egskeiding, selfmoord, depressie, stres en selfs tieners wat wapens skool toe neem, kan ’n mens sien dat ons beslis nie meer ons lewe of ons emosies kan beheer nie.

      Dit is egter nie net van mense in die algemeen waar nie, maar ook van toepassing op baie Christene wat daarop aanspraak maak dat hulle God se ambassadeurs op aarde is. Tog is hulle nie in staat om hierdie rol te vervul nie weens tallose dinge wat sedert hul kinderjare gebeur en ’n uitwerking gehad het op hul vermoë om in die volste sin van die woord in God se glorie te leef.

      Baie Christene dra, om dit so uit te druk, ’n F.R.O.G.-armbandjie terwyl hul lewe in chaos is. Ons is nie geskape om op hierdie manier te ly nie en dit is dus belangrik dat ons veg om beheer oor ons lewe terug te kry.

      Emosionele intelligensie (EI) – hoe om jouself en jou verhoudings te hanteer – kan jou dalk as Christen help in jou pogings om ten volle ’n ambassadeur vir Christus in hierdie wêreld te word.

      Wat is emosionele intelligensie?

      Dink aan elkeen wat ’n belangrike invloed op jou of op jou lewe in die algemeen gehad het – toe jy ’n kind was, as tiener of selfs nou, as volwassene. Hierdie persoon het miskien selfs jou beroep op ’n manier beïnvloed. Wat is sy of haar eienskappe?

      In een van my werksessies oor emosionele intelligensie het mense op verskillende maniere op hierdie vraag gereageer. Ek deel graag die antwoorde van mense soos Sarah Gorin, Ansie Oberholzer, Mike Ndhlory, Frananda Venter, prof Van Leeuwen en Adéle Christian met jou:

      minsaam

      goeie luisteraar

      eerlik

      liefdevol

      bedagsaam

      vol selfvertroue

      eerbaar

      bemoedigend

      gesinsgeoriënteerd

      ontspanne

      vasberade

      met goeie doelwitte

      in staat om emosies te hanteer

      betroubaar

      stel opreg belang in ander se welsyn

      ’n sin vir humor

      geduldig

      gee om

      ’n houding van “kan alles doen”

      optimisties

      aanvaarding van self en ander

      As jy jou eie lys met hierdie een vergelyk, sal jy gou agterkom: Wat jou van ander mense beïndruk, is nie hul kennis, grade of diplomas, oftewel kognitiewe vermoëns, nie, maar wel hoe hulle hulself beheer en hul onderlinge verhouding met ander mense, oftewel emosionele bevoegdheid. Dit is die dimensies van emosionele intelligensie.

      Toe Daniel Goleman se boek, Emotional Intelligence: Why It Can Matter More than IQ, in 1995 gepubliseer is, het hy die sinsnede “die nuwe maatstaf vir sukses” gebruik. Dit het ’n ongelooflike hoeveelheid belangstelling gewek ten opsigte van die rol wat emosionele intelligensie in ons daaglikse lewe kan speel. Baie mense het gedink dit is maar net ’n nuwe gier!

      Dit was hoegenaamd nie ’n nuwe konsep nie, hoewel die term emosionele intelligensie eers in 1990 deur Peter Salovey en Jack Mayer in woorde vasgelê is. (Edward Thorndike het reeds in die 1920’s ’n soortgelyke konsep bedink.) Meer onlangse navorsing het duidelik bewys hoe belangrik emosionele intelligensie vir die sukses van ’n huwelik, verhouding(s), selfdissipline, fisieke welsyn, sosiale gewildheid en in die werkplek is.

      Definisie van emosionele intelligensie (EI)

      Daar bestaan talle definisies van emosionele intelligensie (EI), maar baie van hulle het geen navorsing om dit te rugsteun nie en is die onbewese sienswyse van die formuleerder daarvan.

      Goleman definieer emosionele intelligensie as: The capacity for recognising our own feelings and those of others, for motivating ourselves, and for managing emotions in ourselves, and in our relationships.(1)

      Self verkies ek die definisie van Reuven Bar-On. Nie net het hy sy navorsing in Grahamstad in 1985 begin nie, maar ook die assesseringsinstrument (EQi) ontwikkel wat in Augustus 1996 amptelik bekendgestel is. Dit het geblyk die beste evalueringsinstrument vir EI in Suid-Afrika te wees, en baie betroubare navorsing is tot dusver hierop gegrond: EI is ’n versameling niekognitiewe vermoëns, bekwaamhede en vaardighede wat ’n uitwerking het op ’n mens se vermoë om sukses te behaal in die hantering van omgewingseise en druk.(2)