Christine le Roux Omnibus 6. Christine le Roux. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Christine le Roux
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Короткие любовные романы
Год издания: 0
isbn: 9780798166119
Скачать книгу

      

      Christine le Roux

      Omnibus 6

      Die glasappel

      Die blou uur

      Die groen maan

      HUMAN & ROUSSEAU

Die glasappel

      Hoofstuk 1

      Theo Senekal staan verveeld teen ’n tafel geleun terwyl sy oë oor die vol kamer gly. Hy is nie ’n liefhebber van partytjies nie – behalwe dat dit ’n nimmereindigende fontein van mooi meisies is. Sy huidige gunsteling, ’n blonde sekskatjie, gegiet in ’n swart leerbroek en goue jakkie, staan teen ’n boekrak gevlei, haar hand op die bors van ’n krulkopman wat nie sy oë van haar kan afhou nie. Theo merk geamuseerd op dat die man se sigaretas sentimeters lank is en enige oomblik op die mat gaan val.

      Hy gee nie om nie, hy gaan al drie maande met Alfrieda uit en alhoewel sy altyd sorg dat almal se koppe in sy rigting draai en hy die afguns in ander mans se oë kan lees, verveel sy hom. Alfrieda se geselskap bestaan uit alles wat sy in modetydskrifte lees. Sy weet watter sjampoe die beste is vir haar gebleikte blonde hare, watter salon die beste plastieknaels kan opplak, wanneer enige winkel ’n uitverkoping het. Sy wil nooit ’n aand by die huis bly nie; haar idee van ’n verhouding is ’n aand uit waar ander mense haar kan sien en sy hulle klere kan bestudeer.

      Hy laat gly sy oë verder. Die rooikop wie se hare kort op haar skedel afgeskeer is, is Lorina. Hy kan nie meer presies onthou hoe lank hulle uitgegaan het nie. Hy verbeel hom amper dit was langer as die gemiddelde tydperk vir hom – vyf maande? Sy was darem naelskraap slimmer as Alfrieda, maar soos haar rietskraal lyf bewys, was sy geobsedeer met diëte. Daar is geen dieet waarvan hy nie weet nie.

      Drie weke lank moes hy – teen groot koste en met baie moeite – druiwe by die kassie vol koop omdat sy net druiwe geëet het. Dit suiwer die gestel, het sy gesê en teleurgesteld na hom gekyk as hy vleis en aartappels eet. Daarna was dit geen suiwelprodukte nie.

      Hy byt sy lip nadenkend. Die week toe sy net sjokolade mag eet, was nogal lekker, maar sy het vinnig begin kla. Sy voel naar, het sy gesê, en hom weggedruk as hy haar wou soen. Toe sy een aand ’n halwe bottel witwyn drink ná sy ’n hele blok sjokolade geëet het, was sy so siek dat hy haar amper Ongevalle toe moes neem.

      Hy kyk verby ’n paar geselsende mense om te sien wat sy vanaand op haar bordjie het. Dit lyk nogal normaal, moet hy erken. Koue vleis, slaai en ’n stapeltjie rooi kersietamaties. Die man by haar is Sias, ’n instrukteur by ’n gimnasium. Selfs deur sy hemp kan Theo die spiere sien bult.

      Hy sug. Hyself probeer twee keer per week gim toe gaan, maar dis bloot om fiks te bly; hy het geen ambisie om Meneer Heelal te word nie. Lorina voel ooglopend nie dieselfde nie, haar oë gly bewonderend oor Sias se gespierde nek en breë skouers. Hy is seker haar nuwe afrigter, dink Theo, maar hy moet erken: om fiks te wees, is dalk beter vir Lorina as om al haar belaglike diëte te volg.

      Hy steek sy hand uit en tel sy glas wyn op.

      “Hallo, mooi ding,” sê ’n meisie en kom staan voor hom.

      Theo staan regopper en kyk af op haar. Sandra; haar swart hare is in ’n ongelooflike krullebol opgeklop soos eierwit as sy ma skuimpies gemaak het.

      “Sandra,” sê hy en glimlag. “Wat het jy met jou hare gedoen?”

      Sy lag en druk die gekrulde massa nog hoër. “Hou jy daarvan? Ek was lus vir ’n verandering.”

      “Dis mooi,” jok hy. “Jou neus is ook nie meer wat dit was nie.”

      Sy draai skuins sodat hy haar profiel kan bewonder. “Hou jy daarvan? Dit was my ma se Kerspresent verlede jaar. Sy voel, soos ek, dat mens nie jou lewe lank met die Besterneus hoef te loop nie.”

      “Baie pikant,” stem hy saam. As argitek het hy ’n goed ontwikkelde sin vir die estetiese en die fyn wipneusie wat sy nou tussen haar oë het, is inderdaad ’n groot verbetering op die neus waarmee sy gebore is. Hy is nie so seker hy keur die silwerring goed wat deur een geskulptuurde neusvleuel hang nie. “En die ring?”

      Sy lag. “Dis mos nou mode.” Sy leun vertroulik nader. “Jy moet erken, dit lei die aandag na my nuwe neus. Mense kyk na die ring en moet terselfdertyd my nuwe neus raak sien.”

      Hy lag. Hy en Sandra het nie lank uitgegaan nie. Net twee maande as hy reg onthou.

      Toe hy haar ontmoet het, het sy net herstel van ’n borsreduksie. Sy het hom al die foto’s gewys van hoe sy eers gelyk het en hy kon eerlikwaar nie sien waaroor sy so ongelukkig was nie. Foto’s is nie altyd betroubaar nie, weet hy, maar haar ou figuur was vir hom heeltemal aanvaarbaar. Buitendien het dit beteken dat hy haar nooit ordentlik kon vasdruk nie, sy was te bang iets kry seer.

      “Met wie gaan jy nou uit?” vra hy.

      “Ek dink nie jy ken hom nie. Riaan Smit. Ons is verloof.”

      “Baie geluk.”

      Sy straal. “Ons het al ’n ruk uitgegaan en hy het my wonderlik bygestaan tydens die operasie. Jy moet weet, mens lyk maar oes as jy wakker word. Asof iemand jou met ’n knuppel beetgehad het. Oë potblou geswel, maar Riaan was heeltyd by. So ’n man is goud werd.”

      “Dis so,” stem hy saam en wonder of sy hom verwyt omdat hy nooit simpatiek genoeg was nie.

      “Saam met wie is jy hier?” vra sy.

      “Alfrieda.” Hy draai sy kop en sien dat die man nou sy arm om Alfrieda se skouers het en sy sigaret doodgedruk het. “Maar ek dink dis verlede tyd, soos jy kan sien.”

      Haar oë vernou effens. “Jy gee kennelik nie om nie.”

      “Nee,” erken hy verveeld. “Ons was . . . dit het nie regtig uitgewerk nie.”

      Sy skud haar kop. “Theo, hoe oud is jy nou al?”

      “Vyf en dertig. Hoekom?”

      “Dis tyd dat jy trou. Jou beste jare gaan verby.”

      Hy lag. “Jy klink nou nes my ma.”

      “Maar dis waar. Ek sweer daar is nie ’n meisie in die stad met wie jy nog nie uitgegaan het nie.”

      “Dis waar,” sê hy.

      “Jy is verwaand,” sê sy vriendelik, asof dit eintlik ’n kompliment is. “En arrogant. Jy weet jy is so verdeksels aantreklik dat jy net ’n vinger lig en die volgende meisie kom aangehardloop.”

      “Dis darem nie só erg nie,” protesteer hy.

      Sy tik hom speels teen die wang en draai weg. “Die kos is in die kombuis uitgesit,” sê sy oor haar skouer. “Het jy al vir jou gaan inskep?”

      Hy gee sy posisie prys en loop na die kombuis, waar dit so druk is dat hy nie naby die tafel kan kom nie. Almal is blykbaar nou honger en hy moet geduldig wag tot hy vorentoe kan leun en ’n bord vat, maar iemand anders vat na dieselfde bord en hy kyk af.

      Dis ’n meisie wat hy nog nie vantevore gesien het nie. Sy het lang, gladde donker hare en dra ’n groot bril wat byna van haar neus val toe sy verskrik eenkant staan en haar greep op die bord prysgee.

      “Jammer,” stamel sy.

      “Asseblief,” sê hy galant en wys sy moet die bord vat.

      “Nee, nee.” Sy het reeds die volgende bord wat sy teen haar bors vasdruk asof iemand dit met geweld van haar gaan afneem.

      Hy wil nog beduie dat sy eers moet inskep, maar toe hy weer kyk, het sy tussen die mense verdwyn en glimlag ’n ander blonde meisiekind vir hom.

      “Ek is Jenny,” sê sy. “Het ons al ontmoet?”

      “Nee,” sê hy, sy belangstelling dadelik geprikkel. As sy glimlag, duik twee van die verleidelikste kuiltjies wat hy nog gesien het in haar wange. “Ek is Theo Senekal. Aangename kennis.”

      Sy het ook ’n bord in haar hand en begin inskep terwyl sy oor haar skouer met hom gesels. Daar is nog steeds nie veel ruimte in die beknopte kombuis nie, maar waar hy agter haar staan, sien hy ’n paar mooi bene in ’n minirokkie so kort