Ena Murray Omnibus 38. Ena Murray. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Ena Murray
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Короткие любовные романы
Год издания: 0
isbn: 9780624057888
Скачать книгу

      Omnibus 38

      En die klippe sal uitroep

      Die tonnel

      Keerkring van die hart

      Jasmyn

En die klippe sal uitroep

      1

      “Nee, jy gaan nou nêrens heen nie. Jy kom sit. Ek wil met jou praat.”

      “Ma, asseblief.”

      “Sit, Emile!”

      Haar stemtoon laat hom geen keuse nie. Hy moet gehoorsaam, maar laat darem hoor: “Tog asseblief net nie weer een van Ma se preeksessies nie! Ek is haastig. Ek moet goed by die Koöperasie kry en …”

      “En by Monica en by Louise en by Sonja en by wie weet hoeveel ander ook nog ’n draai maak. Ek weet, Emile.”

      Sy oë flits ergerlik. “Daar begin Ma al weer! Kan Ma om liefdeswil nie maar vir my en my meisies uitlos nie? Kragtie, ek is dertig, nie dertien nie!”

      “Dis juis die punt. Wanneer gaan jy jou soos ’n dertig­jarige man begin gedra? En soos die toekomstige baas van La Rhône? Jy behoort lankal getroud te gewees het, opgeskote erfgenaam en al. Nou flenter jy van die een mooi popgesig na die volgende mooi lyf rond.”

      Hy spring gefrustreerd op, laat amper bars hoor: “Is dit mý skuld dat ek nog nie getroud is nie? Met elke liewe vroumens met wie ek al hier aangekom het, het julle fout gevind. Nie een was goed genoeg om die toekomstige vrou van La Rhône te word nie. Nou word ék verwyt dat ek nog nie getroud is nie!”

      “Jy weet so goed soos ons, Emile, dat hulle absoluut onvanpas was.”

      “Julle oordeel net op die uiterlike. Omdat almal mooi meisies is wat modern aantrek en grimeer, is hulle taboe. In julle oë is hulle leë poppe wat net daarop uit is om die vrou van La Rhône te word vir die aansien en die status en natuurlik die geld. Maar van hulle was uitsoekmeisies van goeie agtergrond – en boonop met ’n graad of meer agter hul naam. Ag, Ma, waarom praat ons weer oor hierdie dinge? Dis al holrug gery en ek is siek en sat daarvan. Ek gaan nie langer luister …”

      “Jy beter luister, Emile, want jou hele toekoms is op die spel.”

      Hy draai in sy spore om, frons skerp. “Wat bedoel Ma?”

      “Kom sit, Emile,” sug sy ma. “Ons moet ernstig praat.”

      Hy sak op die stoel neer en kyk haar ondersoekend aan. Iets in die uitdrukking op haar gesig vertel hom dat dit nie maar net weer een van haar sedepreke dié is nie. Vandag steek daar iets meer agter.

      “Emile, jou pa het gisteraand lank met my gepraat … oor jou.”

      “Dit aanvaar ek. Ek weet ek is een van jul geliefkoosde onderwerpe,” sê hy droog, maar sy oë flikker waaksaam.

      Sy ma se oë flits. “Staak dit, Emile! Ek het verlede nag omtrent nie ’n oog toegemaak nie!”

      “Goed, Ma. Wat is dit? Uit daarmee.”

      “Jou pa sê as jy jou nie gaan regruk en ’n bestendiger lewe gaan lei nie, sal hy jou onterf.”

      “Onterf?” Hy spreek die woord uit asof hy dit vir die eerste keer in sy lewe hoor.

      “Ja. Jy moet verstaan, Emile, La Rhône lê baie na aan sy hart. Dit is ’n modelplaas, dié plaas van die distrik. Maar dit het nie vanself gebeur nie. Dit het bloedsweet, fyn berekening en die grootste deel van sy lewe geverg om dit te kry soos dit vandag lyk. Hy wil die versekering hê dat die twee mense wat hier oorneem, dit werd sal wees, dit sal oppas en liefhê. Net die gedagte dat La Rhône in die verkeerde hande kan beland …”

      “Dink Ma-hulle werklik so min van my?” Sy stem is laag van skok en ongeloof. Sy pa dink daaraan om hom te onterf!

      “Boetie …” Vir die eerste keer in jare spreek sy hom weer aan soos toe hy nog klein was, “. . . dis nie dat ons min of sleg van jou dink nie. Ons is net onrustig oor jou! Ons weet jy is nie lui nie. Ons weet en sien jy werk hard op La Rhône. Ons grootste vrees is nie om jóú nie, maar om die lewensmaat wat jy gaan kies. Emile, ’n vrou kan ’n man maak of breek. Hoeveel keer in ons lewens het ons dit nie al gesien nie. Kyk wat het met Serfaas Myburgh gebeur. Onthou jy nog? ’n Klompie jare gelede? Sy tweede huwelik was ’n volslae mislukking en hy was ’n geruïneerde man. Hy is uit sy plaas, uit alles. Hy sit vandag in die stad by sy kinders, ’n verwese man. En hy was op sy dag ’n sterk boer.”

      “En Pa dink dieselfde gaan met my gebeur.” Sy stem is so besadig soos wat sy ma dit nog selde gehoor het.

      “Hy ís bang, my seun. As gevolg van die soort meisies wat jy hier aanbring. Hulle herinner jou pa baie aan Serfaas se tweede vrou.”

      “En julle dink nie daaraan dat julle miskien bitter onregverdig teenoor hierdie meisies is nie?”

      “Miskien is ons; miskien nie. O, Emile, moet dit nie in die verkeerde lig beskou nie, asseblief! Dis ouerliefde wat so maak. Dis kommer oor jou kind en sy toekoms en sy geluk!”

      “Dit gaan om La Rhône, Ma, nie om my nie,” sê hy bitter. “Pa het ’n afgod van La Rhône gemaak.”

      “Dis nie waar nie, Emile. Pa is hartstogtelik lief vir die plaas, maar hy het my gisteraand gesê hy sal môre van die plaas af padgee as hy weet jy en die regte vrou is hier om die leisels oor te neem.” Sy sien die ongeloof in sy oë. “Dis waar. Hy het dit gesê. Jou pa sê hy voel ons moet aftree. Ons moet êrens gaan bly, by die see of waar ook al, en ’n rustiger oudag geniet. Maar soos dinge nou is, kan hy nie. Hy moet eers gerustheid oor jou kry.”

      Dis stil. Hy strengel en ontstrengel sy vingers. “As ek net kan weet hoe die vrou moet lyk en hoe sy moet wees met wie julle tevrede sal wees, trou ek môre met haar.”

      “Moenie verspot wees nie. Ons wil nie hê jy moet ’n vrou trou ter wille van ons nie. Natuurlik wil ons hê jy moet uit liefde trou. Jou geluk is hoofsaak by ons, al sal jy dit nie nou glo nie. Maar jou geluk en La Rhône se toekoms is so ineengestrengel … Hoe sy moet lyk, is nie ter sprake nie. Dis hoe sy ís wat van belang is. Ek en jou pa wil weet dat jy én La Rhône veilig by haar sal wees.”

      “Maar in hemelsnaam, Ma, vir wie moet ek dan op die uitkyk wees? Kom, sê my!” roep hy ongeduldig uit. Hy voel in ’n hoek gekeer. La Rhône mag hy nie verloor nie! Sy pa kan dit nie aan hom doen nie! Natuurlik is hy hartstogtelik lief vir hierdie plaas. Dis sy geboortegrond. Hy het hier grootgeword. Hier lê ook bloedsweet van hom. Hy steek nie lyf weg nie. Hy speel baie hard, maar hy werk ook baie hard. Hy ontmoet sy ma se oë en hy pleit nou amper. “Kom, vertel my. Beskryf haar vir my.”

      Laura de Jongh skud haar kop. “Ek … weet nie presies nie. Wanneer sy voor my staan, sal ek weet dis sý.”

      “Maar Ma moet darem tog ’n idee hê! Waarna soek ek? Waarna kyk ek?”

      Hoe kan sy aan hom verduidelik dat ’n ouer net instinktief wéét of haar kind die regte lewensmaat kies of nie? Dis ’n intuïsie wat nie verklaar kan word nie. Jy weet net intuïtief of jou kind se geluk by daardie persoon veilig is of nie. Maar hy wag op ’n antwoord …

      “Wel, iemand … iemand soos Miempie. Jy het haar tog al gesien.”

      “Ek ken geen meisie met die naam Miempie nie.” Hy spreek die naam met onverbloemde minagting uit.

      “Sy kom al die afgelope jaar gereeld hier op die plaas. Ek praat van Miempie Rust, daardie oulike verpleegsuster.”

      Hy staar haar aan asof sy die kluts kwyt is, en sy laat ietwat selfbewus, verdedigend hoor: “Miempie is ’n baie dierbare kind. Ek het haar die afgelope tyd goed leer ken. Wanneer sy klaar is by die werkers, kom sy altyd hier aan en dan drink ons ’n koppie tee voordat sy verder gaan.”

      “En sy is volgens Ma die ideale vrou vir La Rhône?”

      “Ek het dit nie gesê nie, Emile! Ek het gesê iemand sóós sy.”

      Hy pers sy lippe saam, probeer sy humeur beteuel. Natuurlik weet hy van die distriksmunisipaliteit