Die Suid-Afrikaanse reg. François Smuts. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: François Smuts
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Юриспруденция, право
Год издания: 0
isbn: 9780624054399
Скачать книгу
ction>

      

      DIE SUID-AFRIKAANSE REG

      François Smuts

      Tafelberg

      Patri mei, qui et canebat in catenis sicut mare.

      INLEIDING

      Dié boek is nie vir regsgeleerdes geskryf nie. Hier gaan jy nie ’n stowwerige uiteensetting van die teoretiese beginsels oor ’n spesifieke onderwerp kry nie. En jy sal oplet dat die boek nie geskryf is in die kadawerstyl van regs­handboeke nie. Want my doel met die boek is nie om ’n naam te maak as akademikus nie. Ek sal nooit die agterstand inhaal van al die klasse wat ek op universiteit gebunk het nie. In elk geval het ek in my praktyk agtergekom dat verreweg die meeste regsprobleme van die man op straat nie gaan oor subtiele onderskeide of verwikkelde argumente nie. Dis hoekom die doel van hierdie boek is om aan gewone mense ’n basiese gereedskapkissie te gee wat hulle in staat sal stel om ’n ietsie meer van die binnewerk van die reg te verstaan, en selfs om eenvoudige voorkomende regswerk te doen. Die rede hiervoor is dat die meerderheid van die probleme wat ek in my praktyk sien, voorkom kon word deur ’n paar eenvoudige voorsorgmaatreëls. Soos om jou kontrak op skrif te stel, en te weet wat om daarin te sit. Of om te weet watter prosedure om te volg vóór jy jou werker afdank. Of om ná ’n ongeluk ’n paar foto’s op jou selfoon te neem.

      Dit is dus ’n boek vir gewone mense. Ek aanvaar wel dat jy darem ’n bietjie selfstandig kan dink, maar ek verwag nie dat jy ’n universiteitskwalifikasie in logika sal hê om die boek te kan verstaan nie. Ek verwys nie na hofsake nie, behalwe as dit ’n sappige storie is, of ’n belangrike punt illustreer. Latyn gebruik ek net vir die interessantheid (of as dit vir my baie mooi is), en dan sê ek elke keer in plein Afrikaans ook wat ek bedoel. Ek haal nie uit handboeke aan nie, hoewel ek aan die einde van die boek ’n lysie handboeke gee wat jy sou kon raadpleeg as jy meer sou wou weet as wat jy hier sal kry.

      Die boek probeer nie volledig of baie gedetailleerd wees nie. Hier is dus niks in oor die lugvaartreg, die reg oor myne, of iets soos die exceptio non adempleti contractus of die Turquand-reël nie. Nee, ek het eerder probeer om ’n oorsig te gee van daardie onderwerpe in die reg wat die gewone leser baie waarskynlik sal teëkom.

      Maar is dit nie gevaarlik om net ’n bietjie van die reg te weet nie? Wel, ja en nee. Ja, soos wat dit gevaarlik is om in jou kar se binnewerk te gaan krap as jy nie daarvoor gekwalifiseer is nie. Nee, soos wat dit nie gevaarlik is om te kyk of daar water in jou verkoeler, olie in die enjin en petrol in jou tenk is voordat jy die langpad vat nie. En waar lê die streep tussen die twee? Dis iets wat jy maar self moet besluit, maar ek hoop dié boek kan jou daarmee help.

      1

      DIE BASIESE GEREEDSKAP

      1.1 IS DIE REG REGTIG REG?

      Hoe oud is die reg? So oud soos die mens self. Daar is nie ’n geskiedenis van ’n volk wat nie ook ’n geskiedenis is van die reëls oor hoe mense met mekaar omgaan nie. Wat jy mag doen, en nie mag doen nie. Wat gaan gebeur as jy die reëls oortree.

      Die reg is nie net oud nie, dit strek ook so wyd soos die Heer se genade. Daar is nie ’n land sonder ’n regstelsel nie, en die regstelsel groei saam met die samelewing – hoe ingewikkelder die samelewing, hoe ingewikkelder die regstelsel. Vandag leef ons in ’n geweldig ingewikkelde samelewing wat met die res van die wêreld verweef is soos nooit tevore nie.

      Nou sou mens verwag dat die “reg” wat deel is van die woord“geregtigheid” sonder meer in die reg as stelsel moet geld, veral in ’n hoogs gesofistikeerde regstelsel soos ons s’n. Toe nie. Ek moet van tyd tot tyd aan verbaasde (en krapperige!) kliënte verduidelik dat jy dalk nie uit ’n regsoogpunt met ’n regter se uitspraak fout kan vind nie, maar dat dit nie daarom noodwendig regverdig is nie. Dis om ’n paar redes so.

      Die eerste rede is dat daar nie ’n volmaakte oorvleueling is tussen die algemeen aanvaarde opvatting in ’n bepaalde samelewing van wat regverdig is en wat daardie samelewing se regstelsel as regverdig voorhou nie. ’n Voor die hand liggende voorbeeld is die doodstraf. Die meerderheid Suid-Afrikaners sal die doodstraf wil behou as hulle kon kies. Die samelewing dink dus dis ’n regverdige ding om te doen. Maar toe die Konstitusionele Hof, wat veronderstel is om die samelewing se idees van regverdigheid te verteenwoordig, die kans kry om die saak te beoordeel, het hulle die doodstraf met groot regterlike gejuig getorpedeer. Hoekom? Omdat dit strydig is met die Grondwet en daarom onwettig is.

      Nou mag jy wonder waar die Grondwet sy morele gesag vandaan kry, en dis ’n gesprek vir ’n ander dag se glas wyn. Die punt is net dat die meerderheid van die samelewing se morele gevoel oor ’n onderwerp nie altyd sy pad vind na die howe se uitsprake nie.

      ’n Mens moet ook onthou dat die meeste uitsprake gegee word deur ’n enkele regsamptenaar wat self ’n stel idees het van wat regverdig is, en spesifiek wat regverdig is in ’n besondere situasie. Daardie idee stem nie noodwendig ooreen met myne of joune, of selfs met die meerderheid mense s’n nie. Ek onthou byvoorbeeld ’n landdros wat maar liggies gestraf het vir huisbraak, tot hulle by háár huis ingebreek het – toe straf sy dat die hare waai!

      Verder moet mens onthou dat ’n regstelsel se oorkoepelende doel nie die bereik van ’n regverdige uitslag in ’n spesifieke geval is nie. Nee, die doel van die regsproses is die beslissing oor geskille volgens die heersende regsbeginsels en -reëls van die samelewing op ’n spesifieke tydstip. Die ideaal is dat die korrekte toepassing van dié reëls ’n regverdige uitslag sal gee – of so naby aan ’n regverdige uitslag as wat moontlik is in ’n spesifieke geval. Maar dit kán nie altyd nie, omdat die instandhouding van die regsbeginsels en -reëls dikwels belangriker is as die regverdigheid van ’n spesifieke geval. Jy kan byvoorbeeld nie getuienis teen ’n beskuldigde in ’n strafsaak gebruik wat verkry is deur hom te martel nie. Sou sulke getuienis gebruik word om ’n skuldige persoon skuldig te bevind, sal die uitspraak in appèl tot een van onskuldig verander word. Dit sal ’n onregverdige uitspraak in die spesifieke geval beteken (’n skuldige sal onskuldig bevind word), maar aan die ander kant sal die regverdigheid van die regstelsel in sy geheel in stand gehou word.

      Ten slotte is daar een regsreël wat meer as enige ander sorg dat ons idee van geregtigheid nie geskied nie: audi alteram partem. Dit het met ’n Audi se alternator se parte niks te maak nie. Dis ’n idee wat die Rooms-Katolieke kerkvader Augustinus uitgedink het, en daar is ’n diep stuk lewenswysheid daarin vervat. Letterlik vertaal beteken dit dat die ander kant ook gehoor moet word. In Afrikaans sou ons sê dat ’n storie twee kante het. Laat ek verduidelik.

      Mense kom meesal by my kantoor in met ’n vaste idee van wie die skurk in die verhaal is, en dit is selde hulleself. Dikwels praat hulle van “die skuldige”, asof die teenparty ’n misdaad begaan het, selfs al gaan dit bloot oor ’n kontrak. ’n Mens kry selfs regsgeleerdes wat hulle kliënte se storie met huidjie en muidjie sluk en verdedig asof dit hulle eie saak is. Maar die meeste regsgeleerdes wat al ’n slag of wat in die hof was, weet dat mense altyd verskillende perspektiewe op dieselfde feite het en dat hulle kliënt nie altyd die regte perspektief beethet nie. Die regter wat na die saak luister, kan dikwels op geen manier vasstel wat “die ware storie” is nie. Bowendien moet hy ’n weergawe kies tussen twee stories wat dikwels heeltemal teenstrydig is: Was die lig rooi of groen? Is die kontrak op die ou end aangegaan of nie? Hy span dan die waarskynlikheid van die onderskeie weergawes in om te besluit watter een hy gaan aanvaar. Hy word gedwing om dit te doen omdat dit meesal eenvoudig nie moontlik is om sonder meer te sê dat die een party lieg en die ander party die waarheid praat nie.

      In ’n saak wat byvoorbeeld oor ’n misdaad gaan, is die toets dat die Staat sy saak “bo redelike twyfel” moet bewys. Dit beteken dat die regter nie “redelike twyfel” mag hê of die beskuldigde se storie waar is nie. Bevind die regter dus teen die beskuldigde, beteken dit dat daar nie ’n redelike moontlikheid is dat sy storie waar is nie. Is daar wel ’n redelike moontlikheid dat sy storie waar is, moet die storie aanvaar word, en dit beteken gewoonlik dat hy vrygespreek word.

      Het geregtigheid in so ’n geval geskied? Dikwels nie. Maar die reël word gebruik om te voorkom dat ’n onskuldige persoon skuldig bevind word net omdat hy ’n onwaarskynlike storie het oor wat gebeur het. Nou het ek al